Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Al voel dit ook vir jou asof die lewe jou breek om nooit weer op te staan nie, moet jy weet dat God in staat is om jou bokant al jou ellendes te laat uitstyg.
WYSHEIDSTORIES (9)
Skerp Waarnemer
Lees reeks by Wysheidstories
Soek elke storie se les
en omskep dit in dade
KLERE OF VRIENDSKAP?
Daar was een aand 'n feesmaal in die huis van die ryk man van die dorp. Een van sy goeie vriende is ook genooi, maar hy het die hele dag op kantoor gewerk om 'n probleem op te los en dit was al sononder toe hy hom huis toe haas.
"Jy is laat," roep sy vriende toe hy verbydraf. "Die fees het al begin." Dan moet ek maar reguit daarheen gaan, dink die man. Dit is wel my kantoorklere, maar dit is netjies en skoon en ek het 'n das aan, want dit sal nie goeie maniere wees om laat op te daag nie.
Maar by die huis van die ryk man wil die deurwagte hom nie inlaat nie omdat hy vir die geleentheid nie deftig genoeg aangetrek is nie. Op sy protes antwoord hulle net dat hulle van die ryk man opdrag gekry het om net gaste wat in 'n aandpak geklee is, toe te laat.
Die man gaan toe huis toe en pak sy beste aandpak, hemp, strikdas, nuwe skoene en sokkies in 'n naweektas. Bo-in die tas plaas hy 'n nota. Hy stuur toe die tas aan die gasheer met die versoek dat hy dit dadelik moet oopmaak.
Die nota in die tas lui: "Jy het my klere vir ete genooi, nie vir my nie! Hopelik sal jy my klere help om die maaltyd te geniet. Toe ek met goeie rede met my gewone klere hier aankom, was ek nie welkom in jou huis nie. Dus was my afleiding dat jy eerder my deftige klere as vriend wil hê en nie vir my nie."
Die genooide vriend het die voordele van die ryk man se invloed verbeur en tien teen een sy gramskap op die hals gehaal, maar het sy eie beginsels en onafhanklike trots uitgeleef.
Let op na jou eie oordeel. Dit is die persoon en sy goeie bedoelings wat tel, nie hoe deftig hy aangetrek is nie, ook nie wat jy kan wen as jy sy skoothondjie word nie. Moedswillige slordigheid is egter onaanvaarbaar.
DIE REDDINGSTASIE
Iewers in 'n land langs 'n gevaarlike stuk onbewoonde kuslyn waar skeepsrampe dikwels plaasgevind het, was daar 'n eenvoudige klein reddingstasie. Sommer net 'n hutjie, met een bootjie. 'n Paar getroue helpers het voortdurend die see dopgehou en dag of nag, wanneer dit nodig was, uitgegaan en na drenkelinge gesoek. Baie lewens is gered deur die wonderlike klein reddingstasie, sodat sy roem ver versprei het.
Baie mense wou later graag by die stasie help. Hulle het geen tyd of moeite ontsien om die reddingswerk te ondersteun nie. Nuwe bote is gekoop en nuwe reddingspanne is opgelei. Die klein ou stasietjie het gegroei. Sommige helpers was beswaard omdat die gebou so eenvoudig en swak toegerus was. Hulle wou 'n meer gerieflike ruimte skep as eerste toevlug vir die drenkelinge. Geld is van die regering gevra. Die noodbedjies is vervang, die gebou is vergroot en met beter geriewe toegerus. Die reddingstasie het 'n gewilde bymekaarkomplek vir die nuwe "redders" geword. Hulle het dit pragtig versier en uitstekend begin toerus, byna soos 'n soort vakansie-oord.
Min van die nuwe helpers het self uitgegaan om reddingpogings te doen. Hulle wou eerder in die roem van die reddingstasie deel en het meer lewensredders aangestel en hulle betaal, waarvoor die drenkelinge moes opdok. Kostes het die hoogte ingeskiet. Lewensredding was steeds belangrik in hulle versierings, en hulle het selfs 'n pragtige groot model van 'n reddingsboot aangekoop.
Min of meer die tyd het 'n groot skip in die omgewing gestrand. Die gehuurde spanne het bote vol verkluimde, nat, half-verdrinkte mense ingebring. Hulle was vuil en siek. Die pragtige nuwe oord was in chaos, want die nuwe helpers het gemaklik in die gebou geleef omdat dit aansien verleen het. Die werklike lewensredders het in die gure weer geswoeg.
Die nuwe bestuur, ryk en vername mense, het kort hierna storte buite laat aanbring, waar halfverkluimdes van toekomstige skeepsrampe eers skoon en ordentlik gemaak kon word voor hulle in die beskutting van die mooi gebou sou inkom.
Sommer gou was daar egter skeuring tussen die lede. Die nuwe lede wou summier alle reddingspogings beëindig omdat dit tot onaangenaamhede gelei het en 'n hindernis was vir die normale lekker lewe. Die ou lede het egter daarop aangedring dat lewensredding die belangrikste rede vir hulle bestaan was. Uiteindelik is hulle egter uitgestem. As die beswaardes nog wou voortgaan om die lewens te red van die mense wat in skeepsrampe beland het, moes hulle hul eie eenvoudige reddingstasie verder aan langs die kus begin. Wat presies is wat hulle gedoen het, want veel geld het hulle nie gehad nie.
Die mense wat lekker by die oorspronklike reddingstasie gebly het, het niks meer gedoen om lewens te red nie. Hulle het net lekker gekuier. Later het hulle met 'n groot plesierboot op die see gaan vaar. 'n Storm het opgekom en die boot het omgeslaan en gesink. Die paar mense wat nog steeds doelgerig voortgegaan het om mense te red, moes hulle red anders het almal verdrink.
Hou jou oog op jou doelwit sodat jy dit kan bereik. Dit is selfsugtig om in weelde te leef terwyl jou hulp dringend nodig is waar jy nie aansien geniet nie.