Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer gelowige ouers se kinders as volwassenes hulle rug op die Here draai nadat hulle deur hulle ouers aan die voete van Jesus geleer is, kan die ouers nie verantwoordelik gehou word vir hulle dwaling nie – maar ouers bly verantwoordelik om volwasse kinders te blý vermaan oor hulle dwaling!
AS GODSDIENS ONTAARD
Ds A.E. van den Berg
“Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën” (Judas vers 4).
Godsdiens gaan net voor die verskyning van die Antichris ingrypend van vorm verander. Paulus noem dit “die afval”: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom.....” (2 Thess.2:4). Kerke gaan openlik leuens verkondig: “ ...want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim.4:3,4).
Paulus skryf nie hier oor uitsonderlike gevalle nie maar van ʼn komende godsdiens-tendens. Kerke gaan mense mislei om leuens te glo. Hoe gebeur dit? Kerke wat die suiwere prediking van die Bybel vir karikature onder die vaandel van vernuwing verlaat. Eredienste word konserte, vreemde liturgieë word aanvaar en gruwels ontsondig.
Judas, ʼn half-broer van Jesus, skryf teen 75 nC ʼn algemene brief oor die dwaalleer wat toe alreeds in die kerk aanwesig was en die geloofslewe skadeberokken het. In vers een skryf hy dat God gelowiges roep om die Evangelie van verlossing te verkondig: “..... aan die wat geroep, in God die Vader geheilig en vir Jesus Christus bewaar is” en in die tweede vers dat hulle ʼn eiesoortige vrede smaak: “Mag barmhartigheid en vrede en liefde vir julle vermenigvuldig word!” Hierdie vrede is slegs vir gelowiges beskore. Ongelowiges ervaar dit glad nie.
In Judas se tyd het baie mense weens dwaalleer van die ware geloof afvallig geword. Daarom waarsku hy sy lesers om by die Bybelse leer te bly. “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (vers 3).
Judas se waarskuwings klink modern. Omdat talle kerke saam met die wêreld-mening swem, gooi hulle sommige Bybelse waarhede oorboord. Bybelse waarhede is glo oudmodies en is met wêreldse menings vervang. Skrifgetroue kerkmusiek raak uitgedien en met moderne musiek en woorde vervang. Dit gaan nie meer oor sonde, bekering en heiligmaking nie, maar oor godsdiensvermaak.
In die tyd van Judas het sekere mense onder valse voorwendsels by die kerk aangesluit. Sommige van hulle het selfs voorgegee om leraars te wees. Hulle was egter in diens van Satan om die kerk van krag te ontneem. Hoe het hulle dan ingesluip? Die wagters op die kerk-mure was nie op hul pos en het nie alarm gemaak nie. “Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën” (vers 4).
Judas skryf dat hierdie indringers lank tevore al opgeskryf is. Hulle het nie toevallig opgedaag nie, hulle is deur Satan geplant om die gemeenskap van die gelowiges te ontwrig. In Mat.7:15 waarsku Jesus teen wolwe in skaapsklere. Paulus skryf: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete” (1 Tim.4:1,2).
Die kerkgeskiedenis leer dat kerke selde van buite, maar eerder van binne af aangeval word. Satan gebruik sy gesante om kerke subtiel binne te dring. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke (2 Kor.11:14,15).
Hierdie gesante is welsprekend en gebruik verskeie sielkundige metodes om mense te beïnvloed. Hulle boodskappe dra egter geen gewig nie. Daarom maak hulle baie van onvanpaslike musiek en emosionele opsweping gebruik om mense te beïndruk. Desondanks verkondig hulle dat hulle God liefhet. Dis ʼn leuen! Wie God liefhet, het sy Woord lief: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Joh.14:15).
Dit maak hulle nie anders as die Satan wat ʼn derde van die engele mislei het om teen God in opstand te kom. In vers 6 skryf Judas dat hierdie engele hul eie beginsel nie bewaar het nie. Hulle het volle kennis van God gehad, maar nogtans teen Hom in opstand gekom en die oordeel oor hulself gehaal. In vers 7 verwys Judas ook na Sodom en Gomorra wat uit vrye wil verkeerd geleef en gestraf is.
Baie dwaalleraars het in Protestantse kerke groot geword, die waarheid geken maar nogtans die rug daarop gedraai en die leuen gevolg. Judas het dieselfde probleem gehad; mense uit die vroeë kerk wat teen alle verwagting ontspoor het: “Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens” (vers 8).
In vers 5-7 waarsku Judas teen die gevolge daarvan en in vers 8 van God se deurlopende straf op ongehoorsaamheid. Die King James vertaling van die Bybel noem hierdie dwaalgeeste “filthy dreamers”. Die Griekse woord hiervoor dui op verwarde verbeeldings wat bose gedagtes huisves en uitvoer.
Paulus beskryf hulle treffend: “...omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ’n verganklike mens.....” (Rom.1:21-23).
Dwaalleraars is blind vir hul oortredings: “Wee julle, blinde leiers, julle wat sê: Elkeen wat sweer by die tempel — dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die goud van die tempel, hy is gebonde.... Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk” (Mat.23:16,24). Judas skryf egter dat daar ʼn tyd gaan aanbreek waarin hul verdorwe harte aan die lig gaan kom.
Talle dwaalleraars gee voor om interkerklik te wees en gevolglik nie aan Bybelse dogma gebonde nie. Hierdie benaming is niks anders as ʼn eufemisme vir “buite Skriftelik” te wees nie. Dwaalleraars betoon selde eerbied vir mense wat hul wel aan die dogma van die Skrif gebonde ag. Judas wys in vers 9 daarop dat die aartsengel Migael die Satan juis oor sulke oneerbiedigheid teengestaan het.
Daarbenewens het talle van hulle nie deeglike Bybelkennis of voldoende teologiese opleiding nie. Gevolglik verstaan hulle maar min van die Bybelse waarhede maar beskou hulself nogtans as gesaghebbendes. Die ergste is dat hulle nie besef dat hulle niks weet nie! Judas skets dit in vers 10: “Maar hierdie mense belaster alles wat hulle nie ken nie; en alles wat hulle, soos die redelose diere, op natuurlike wyse verstaan, daardeur gaan hulle te gronde “.
Petrus skryf iets dergliks: “Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan” (2 Pet.2:12).
Beide die apostels verwys na dwaalleraars as redelose diere. Hulle word deur hul natuur beheer. Hulle wil net hul mae vul en aan drange toegee; vleeslike versadiging. Judas en Petrus se woorde klink hard. Dit was egter nodig om gelowiges op die misleiers se modus operandi te wys. Hulle moet uitgeken en vermy word.
Dis nodig om dwaalleraars skerp aan te spreek. Paulus het: “Maar Élimas .... het hulle teëgestaan en het probeer om die goewerneur afkerig te maak van die geloof. Maar ... Paulus, vervul met die Heilige Gees, het die oë op hom gehou en gesê: Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie” (Hand.13:8-10).
Judas het dit in sy brief veral teen ketters – mense wat dwaalleer aanhang, maar nie die gemeente verlaat nie en sodoende die gemeenskap van die gelowiges besoedel. Hy noem hulle skandvlekke. “Hulle is skandvlekke in julle liefdemaaltye, wat sonder vrees saam fees hou en hulleself voer, waterlose wolke deur winde rondgedrywe, bome in die nasomer, wat sonder vrugte is, twee maal gestorwe, ontworteld; woeste golwe van die see wat hulle eie skandes laat opskuim, dwaalsterre vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word” (vers 12,13).
Judas noem hulle ook waterlose wolke wat geen reën bring en bome wat geen vrugte dra nie. Hulle is binne en buite dood en vir 'n oordeel bestem. Jesus sê: “ ..... Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word” (Mat.15:13).
Gelukkig sluit Judas sy brief nie met vers 16 af nie want dit sou die gedagte kon laat dat Satan aan die wenkant is en gelowiges sodoende ontmoedig. Judas vestig wel gelowiges se aandag op die waarskuwing dat dwaalleer aan die einde van die tyd skerp gaan toeneem en verbete teengestaan moet word.
Ter afsluiting van sy brief gee Judas aan gelowiges gerusstellende troos dat Satan gelowiges nie kan laat val nie. Diegene wat wel val, was nooit werklik gelowig nie. Dit was alles skyn. Gelowiges moet getrou aan die waarheid bly en krag uit God se beloftes put.
Die waarskuwing en versekering wat Jesus aan Smirna gee, geld vir alle gelowiges: “Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word ...... Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openb.2:10).