Nuutste bydraes

GEDAGTES VIR ELKE DAG

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Vergifnis is nie maar net om te vergeet of jou gedrag te verskoon nie. Vergifnis is 'n klein wonderwerk, 'n nuwe begin, 'n geleentheid om voor te begin. As jy dit nie kan regkry om iemand te vergewe nie, sal jyself die slegste daaraan afkom.

DIE WIT HORISON (10)

EERSTE SA ANTARTIKA-EKSPEDISIE

                                DESEMBER 1959 - JANUARIE 1961

             Gebeure neergepen deur dr André le R vd Merwe wat as dokter die reis meegemaak het

Lees reeks by Die Wit Horison - 1e SA Antartika-ekspedisie 1960

Die Eerste Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Ekspedisie (SANAE 1) het uit die volgende 10 lede bestaan waarvan drie nog leef en tans (2017) in hul tagtigerjare is:

Hannes la Grange – Leier - Oorlede
Marten du Preez - O/leier en Radio-ingenieur  (Tans woonagtig in Waverley, Pta)
Dr Andre v d Merwe – Dokter - Oorlede
Victor von Brunn  - Geoloog - Oorlede
Dick Bonnema - Senior weerkundige - op 27/02/2017 oorlede
Theo van Wyk
Weerkundige (Tans woonagtig in Birchleigh, Kemptonpark)
George Strauss – Weerkundige - Oorlede
Blackie de Swardt – Weerkundige - Oorlede
Chris de Weerdt - Dieselwerktuigkundige (Tans woonagtig in Silwerlakes, Pta)
Niek Erasmus- Radio-operateur - Oorlede

Die leser sal met verdrag ook lees van ander Suid-Afrikaners wat slegs as waarnemers die volle reis meegemaak het asook van 'n hele aantal Noorweërs teenwoordig.

NESSKOP – VREEMDE TONELE

Ek, Theo en George het met Suikerbossie gery. Ons het die kiste met mediese voorrade op die voorste slee en die kos en sakke klere op die tweede slee gelaai. Theo het op die voorste gaan sit en George het vir hom lêplek op die sakke klere geskop. Ten spyte van die hobbelrigheid deur die sastrugi (ysriwwe) veroorsaak, het George gou aan die slaap geraak. ’n Mens raak gou gewoond om, met die rug na die wind en jagsneeu, op enigiets te slaap. Lewenswaardes verander vinnig en jy pas jou ongemerk by die eise van die omgewing en sy growwe behandeling aan.

Die slee naaste aan die trekker is die stowwerigste om op te ry, want die kruipers van die trekker skop sneeustof op soos die wiele van ’n motor stof op ’n grondpad. Kort na ons begin het, het die oostewind opgekom. Hy het sterker en sterker gewaai en die sigbaarheid het minder en minder geword, tot ons skaars ’n halwe kilometer ver kon sien. Waar die konkas eers net elke kilometer van mekaar die pad aangedui het, was daar gelukkig nou ook drie paaltjies van agt voet hoog met vlaggies bo-aan tussen elke twee konkas gesteek. Die jagsneeu het hoër en hoër gestoot, en hoewel ek regop op die trekker gestaan en bestuur het, kon ek selfs nie die vlaggies sien nie. Wanneer die jagsneeu met rukke laer as die oë was, het ek bo-oor net die vlaggies sonder stele gesien asof hulle in ’n wolk deur niks vasgehou word. Wanneer daar geen merkers sigbaar was nie, was daar miskien weer ’n kliphard veryste spoor van ’n onlangse trekker of een van ’n week gelede dof sigbaar. Wanneer die spoor onder sneeupoeier en nuwe sastrugi verdwyn het, was daar toevallig en betyds weer ’n konka of ’n vlaggie in ’n helder kol in die wit walm om te wys dat jy nog nie jou rigting byster geraak het nie. Jy het probeer om in ou spore te ry, want daar was die sneeu vasgetrap en het jy vinniger gevorder. Maar selfs dit was nie altyd waar nie. Dikwels moes jy met een rusperwiel in en een buite die spore ry. Hierdie konsentrasie om op die regte pad te bly en so vinnig moontlik te vorder, het enige kans om verveeld te raak, laat verdwyn. Van kompas gebruik, was daar geen sprake nie, aangesien die metaal van die trekker die naald in enige rigting laat afwyk het.

Suikerbossie was baie swakker, stadiger en harder geveer as die muskeg. Die ys het gebondel en versteen in sy ysterkruipers en oorverdowend onder die kajuit geslaan, en hom met elke hou laat ruk en bokspring. Die sastrugi het hom laat rammel soos ’n skotskar oor ’n veldpad. Die slee het minder geskud, want hulle het die platgetrapte spoor gevolg. Net wanneer hulle oor ’n groot dwarswal gegaan het, het hulle anderkant afgeval dat jy so hik.

Waar ons op helder dae die meteorologiese toring kon sien vyftig minute voor ons by die basis sou aankom, was die jagsneeu die dag so dig en die lug so dynserig dat die toring net dertig minute voor die tyd uit die witheid verskyn het. Om twaalfuur het ons die werf binnegestoom.

Die twaalf poolhonde wat naby die voet van die toring vasgebind was, het in ekstase oor ons aankoms geraak. Hulle het geblaf, gespring en aan hulle op-lyn-slaan-kettings gebeur. Vir hulle ook was dit op Antarktiese sneeu vreemd, want hulle of hulle ouers het van noordelike lande gekom. Hier was geen bome of pilare nie, daarom dat enigiets nuuts, veral as dit beweeg, hulle in verrukking gebring het. Ook het hul verbeelding vir die gebrek aan pilare vergoed - deur ’n been teen die lang skaduwee van ’n ysknoets te lig!

Ons tien het ons intrek in die ondersneeuse huis geneem. Dit was ’n unieke bewuswording dat dit die eerste keer was dat ons tien alleen bymekaar was. Na soveel weke het ons groep vorm aangeneem, en van nou af sou die geselskap altyd dieselfde wees. Die sosiale kring het gesluit en sou vir minstens een jaar so bly. Dieselfde manier van lewe, dieselfde kos en selfs dieselfde kleredrag. Wanneer saaiheid die persoon wou aftakel, kon net hy homself met sy gedagtes, sy herinneringe, sy ervarings en sy belangstellings hernu en verfris. Alleenheid sou sy waarde toon vir die een wat genoeg selfstandigheid en selfvertroue gehad het waarna hy toevlug kon neem en waaruit hy besieling kon put. Sommige gedagtes en geheime sou hy vir homself kon hou, maar die meeste sou op die gesig gelees kon word. Daaglikse omgang kweek vertroulikheid, en onbewus lei dit tot ontbloting. Hoedanighede wat getuig van selfvertroue sou die ander opbeur en hom en hulle sonder stremming kon laat lewe om so werklik nuttige bydraes tot die gees en doel van die groep te lewer.

Ons ouderdomme het gewissel tussen twintig en drie-en-veertig jaar - Blackie de Swardt die jongste en ek die oudste.

Blackie en George Strauss, amper ewe oud, was assistent-weerkundiges. Blackie openhartig en George geslote. Blackie het van Mosselbaai gekom. Hy was fris gebou en het teen hierdie tyd al ’n welige bos dik, swart baard en hare gehad, net soos George. George het van Bultfontein in die Vrystaat gekom.

Blackie kon in ekstase raak oor die fatsoenlikheid en verstandigheid van sy nooi. Sy het die mooiste briewe op aarde geskrywe en was die gaafste meisie op aarde, en het ’n Volkswagen besit, en was nie sommerso se vryerige soort nie.

"Nee, regtig waar, dokkie, sy is nie soos die gewone meisies nie. Ek het al baie van haar geleer. Ek word so vies as die ander manne dink dat ek net om die Volkswagen van haar hou.” Sy erns en eerlikheid het ek van sy beskrywing van haar afgelei. Hy was ook baie liggelowig. Oor die briewe wat hy en ons almal ontvang het, was daar geskerts. Almal se handskrif het eenders gelyk omdat Niek dit in Morse-skrif ontvang het en dan uitgeskrywe het. Dikwels het jy die aanmerking gehoor, wanneer ’n ander kamtig jou brief oor jou skouer lees, dat hy ook van daardie nooi met dieselfde handskrif ’n brief ontvang het. Blackie is summier vir ’n uilskuiken gevang. Vir ’n oomblik het hy jou verleë en verbysterd aangestaar, totdat hy skielik ontploffend uitskater van die lag en sê: "Haai, jy lieg mos.” Hy was so liggelowig en tegemoetkomend dat hy dit sterk oorweeg het om sy brief van die week aan iemand te leen wat nie daardie week ’n brief ontvang het nie. Maar elke keer, na lange oorweging, het hy daarteen besluit.

Dick Bonnema was aan die hoof van die weerkundige afdeling. Hy was van geboorte ’n Hollander met nog ’n sterk Hollandse uitspraak in sy Afrikaans, en wanneer hy opgewonde of onthuts geraak het, het hy sulke Hollandse Afrikaans gepraat dat geen duiwel hom kon volg nie. Wanneer hy nog driftiger geword het, het hy ook Engels bygegooi - ’n brabbelende, borrelende potpourri. Hy was, volgens wat ’n landgenoot-haarkapper in Pretoria aan Hannes gesê het, "een flinke jonge man, maar niet geschikt voor het huwelik”. Seker omdat hy lewenslustige oppervlakkigheid in die gewone geselskap en met die eerste ontmoeting geopenbaar het, maar wanneer jy eers ’n bottel wyn saam met hom gedrink het, het jy die diepheid en vastigheid van sy lewensbeskouinge en sy belesenheid in klassieke werke opgemerk.

Per abuis het geen weerballonne vir sy waarnemings by die basis aangekom nie, sodat hy uit die oorskot wat die Nore agtergelaat het, net genoeg vir een maand se gereelde opstygings gehad het. Hy is baie geterg oor sy Hollandse grammofoonplaat met ’n ballonnetjie-tema wat hy saamgebring het en dikwels gespeel het. Die "ballonnetjieman” met die ballonnetjieplaat sonder ballonnetjies in Antarktika - net hy kon die tergery verduur en oorlewe. Hy was reguit, intiem in sy vriendskap, besonder skerpsinnig, met rukke neerslagtig en nukkerig, nie omdat hy buierig was nie, maar omdat die yselemente die meganismes van sy veelvuldige apparate dikwels in die war gestuur het en sy waarnemings onderbreek het. Sy ballonloosheid het hom later daardie jaar laat besluit om nog ’n jaar in Antarktika agter te bly sodat hy op latere leeftyd darem nie aan Antarktika net as ’n "flinke” avontuur hoef terug te dink nie.

Theo van Wyk het die stralingsintensiteit gemeet, en was andersins behulpsaam met die drie-uurlikse weerkundige waarnemings wat dag en nag gedoen is. Aangesien die ekspedisie egter in alle haas saamgestel is, was daar geen kans om betyds voor ons vertrek standaardapparate vir sy werk in die hande te kry nie. Dit was ’n plesier om te sien met watter vernuf hy die fynste apparaat kon opbou. Dit sal moeilik wees om die getroue replika van die muskeg wat hy vir Chris met sy verjaardag gemaak het, te vergeet. Akkuraat in alle opsigte het dit getuig van sy oplettendheid en sy sin vir detail. Hy was ongetroud, sowat 25 jaar oud, en het die gawe besit om groot pannekoeke op smaaklike manier te bak. Buitendien was hy in alle opsigte ’n uitmuntende kok, een na wie se kookbeurt ons almal uitgesien het.

Vic von Brunn was die geoloog, en het ook die geomagnetiese waarnemings gedoen. Sowat tweehonderd tree suid van die woonkwartiere was die hut waar die geomagnetograaf diep onder die ys in ’n ysgrot versteek was om nie die trillings van die trekkers te voel nie, maar liewer die aardskuddings van verre lande te registreer. Hy moes die fyn apparaat met kaal vingers instel en aangesien hy ’n dun, donker tipe vel gehad het, het hy soveel makliker eerstegraadse vriesbrand van die vingerpunte ontwikkel. Ten spyte van pynlike vingertoppe het hy onverpoos met sy menigvuldige en uiteenlopende pligte aangegaan. Hy was ook bedrewe in die gebruik van die optiese teodoliet en het van tyd tot tyd die posisie van paaltjies en konkas gemeet wat om die basis op bepaalde plekke geplant was om die beweging van die ysbank te bepaal. Die akkumulasie van sneeu het hy bepaal deur die afnemende hoogte van paaltjies wat radiaal in vyf rigtings van die basis af elke kilometer ingeplant was, ná sneeustorms te meet. Toe hy teen die einde van die verblyf vir vyf weke na die berge is om geologiese monsters te versamel, het hierdie taak op my geval, en ek het gou besef watter voordeel hy gehad het om bene te hê wat so te sê twee keer myne se lengte was om die lang afstande van paaltjie tot paaltjie vinnig af te stap. Hy was saggesproke, ultra versigtig, akkuraat en tydsaam, en wanneer jy enige apparaat van hom wou aanraak om jou nuuskierigheid te bevredig, het hy, nog voordat jy daaraan geraak het, gemaan: "Uiters versigtig.”

Chris de Weerdt het Vic met ’n halfduim in lengte geklop. Dis sy lengte van ses voet drie en ’n half duim wat hom op die boot nie laat seesiek word het nie, maar net naar. Sy werksaamhede as dieselwerktuigkundige het goed by sy lengte aangepas. Wanneer die kragontwikkelaars onverwags in die nag wou gaan staan, het hy met een haal van sy slaaphok af die motor bereik en blitsvinnig die hulpmasjien aangeskakel. In Antarktika was daar geen motorhawe om die draai waar jy onderdele kon kry nie. Chris het dit in

groot mate nie nodig gehad nie, want buiten werktuigkundige was hy ook kunstenaar met metaal. Met die beperkte gereedskap wat hy tot sy beskikking gehad het, het hy enige noodsaaklike onderdeel gemaak, al was party nie dooddoeltreffend nie. Sy vernuf het daarvoor gesorg dat ons nooit emstige gebrek aan elektriese krag gehad het nie. Hy het ’n badkamer in ’n ysgrot gebou, en saam met Marten het hy die eerste Antarktiese sneeuwarmwatertoestel uit ’n brandstofkonka vervaardig. In die konka het hulle twee gemodifiseerde elektriese elemente aangebring wat binne twee dae warm water van sneeu gelewer het, genoeg vir bad en wasgoed. As erkenning vir sy vuil werk, wat hom gedurig met ’n oliereuk en aanpaksel omhul het, het hy die reg gekry om twee keer vir elk van ons een keer te bad. Weens sy weldaad kon elkeen van ons elke drie weke ’n bad kry. Sy hande was ook fyn geslyp vir die delikaatste herstelwerk aan kameras. Veral het hierdie vernuf hom laat geld toe Niek se kamera se beligtingsmeganisme uit orde geraak het en myne se fokus omdat dit na ’n vasys buite uit my onkunde geforseer was. Hulpvaardigheid was sy kenmerk, as dit nie met reparasies was nie, dan met onderrig hoe om wit en swart fotografiese afdrukke van hoë gehalte te maak of om ons saam met Theo op musiek te vergas.

Marten du Preez was die radiotegnikus, die tweede oudste van die groep en ook die tweede kortste. Hy het my met ’n kwartduim gewen, en op hierdie voorsprong was hy baie trots. Dit het met die tyd en na gelang van omstandighede al langer geword, soos ’n visserman se vis. Kort na ons aankoms is hy as onderleier aangestel. Hy was by uitnemendheid ’n radio-amateur oor die lug, en vir my, wat niks van die tegniese aspekte van die radio geweet het nie, was hy ’n genie om die besonder ingewikkelde apparate te herstel. Weens die lae temperatuur het die apparate kwale ontwikkel wat heeltemal ongehoord in ons eie land was. By ons aankoms het die radioteodoliet nie gewerk nie. Hierdie apparaat het die vermoë besit om deur ’n kruislugdraad seine van die radiosonde op te vang en van die verskil in sterkte van die seine op sy vier bene kon dan bereken word in watter rigting en teen watter snelheid die ballon in die nag waai, wanneer die optiese teodoliet hom natuurlik nie kon waarneem nie. Na wekelange bepeinsing het Marten daarin geslaag om dit weer suiwer en akkuraat te laat werk.

Kwinkslae het by hom nie ontbreek nie. Ek hoor nog die stem soggens deur die slaaphokke weerklink wanneer hy sy kookbeurt-koffie in die slaaphokke uitdeel, en skree: "Ontwaak, die Filistyne val aan!”

Sy radio-amateurskap het hom elke laatmiddag en aand in verbinding met sy vrou en broer in Suid-Afrika gebring, sodat ons altyd op hoogte van die jongste nuus was, en ook hy van die nuutste resepte om groentesousies te maak. Geen wonder dat sy etes van die windmakerigste was wat ooit in Antarktika opgedis is nie.

Niek Erasmus was die marconis. Hy het die besondere gawe besit om gebeurtenisse te vergroot op so ’n manier dat jy dikwels meer behae in sy manier van vertel geskep het as in die werklike storie self. As Blackie gereeld elke week ’n brief ontvang en George net een maal per maand, sou hy maklik sê dat Blackie duisende briewe ontvang teen die niks van George. Dan het hy vir Blackie laat verstaan dat dit nie regverdig is nie en dat hy darem party van sy briewe aan George ook moet gee. Uit die aard van sy werk het hy natuurlik al die wel en weë van elke lid geken, maar dit nooit verklik nie. Wanneer iemand neerslagtig was, sou hy onbeskroomd ’n opbeurende brief aanmekaartommel en dit so eg opstel dat jy nooit sou agterkom dat dit nie werklik van oorsee gekom het nie. In die Morsekuns was hy besonder bedrewe. Ek het my verwonder hoe hy weerkundige gegewens uit die duisende kolletjies en strepies vanaf Argentinië kon ontsyfer terwyl hy besig was om ’n boek te lees.

Hannes la Grange was 33 jaar oud en die leier. Hy het vanaf 1955 tot 1957 aan die voorbereidingswerk en uiteindelik die transAntarktiese ekspedisie van sir Vivian Fuchs van die Weddellsee af na McMurdobaai deelgeneem. Sy trek met sir Vivian het hom ’n grondige kennis van toestande en gevare op die ysvelde gegee. Sy gedurige studie van Antarktiese toestande, geologie, weerkunde en verwante wetenskappe en daarbenewens sy besonder fyn waarnemingsvermoë en goeie geheue van selfs die kleinste besonderheidjie het hom by uitnemendheid voorberei as leier van die eerste ekspedisie wat Suid-Afrika op eie houtjie na Antarktika gestuur het. Sy organisasievermoë het alles volgens plan laat verloop. Hy het bereken dat die aanry van voorrade van die opslagplek af, selfs in geval van sneeustorms, teen die einde van Februarie afgehandel moes wees. In werklikheid is die laaste vrag op die 20ste van daardie maand gehaal. Hy het soms ’n voorgenome plan verander sonder om die persoon wat dit moes uitvoer, vroegtydig daarvan te verwittig. Dit kon irriterend wees, maar aan die ander kant vanselfsprekend nodig as in aanmerking geneem word dat dit die eerste ekspedisie was, hy die jongste persoon was aan wie ooit so ’n leierskap ten laste geval het, en daarbenewens dat die elemente nie kennis gegee het van voorgenome verandering van bui nie.

Almal het aan die werk gespring om sy en ander se werkplekke in werkende orde te bring en om nuwe apparate uit te pak. Al kon die apparate, weens die drukte van die aanry van voorrade en die huisskoonmaak, nie dadelik geïnstalleer word nie, moes elkeen kyk of dit aangekom het sodat hy, altans in sy gedagte, sy navorsingsprogram kon aanpas en verder beplan. Die wat buite beskadig kon word, is in een van die vertrekke gebêre waar die temperatuur bo vriespunt was.

Die naaimasjienkamer by die weerkundige kantoor is vir 'n spreekkamer skoongemaak. Ekstra rakke is ingesit, want voortaan sou dit nie net as spreekkamer, maar ook as tandheelkundige kliniek en laboratorium dien. Ek en Hannes het die afskorting tussen die slaaphok en die gang regoor my slaaphok uitgesaag om genoeg ruimte vir die nuwe hospitaalbed te kry. Rakke is gemaak en teen die muur, van die vloer af tot teen die sewe voet hoë plafon, vasgespyker. Selfs ek, wat maar net vyf voet nege duim lank was in my mukluks, kon die plafon raak sonder om op my tone te staan. Daar was net genoeg ruimte vir een persoon om tussen die rakke en die bed te beweeg, en ek het gebid dat dit nie nodig sou word om ’n werklik siek pasient daar te verpleeg nie. As dit egter moes gebeur, sou ons die eetkamer ontruim en die bed daarheen verskuiwe. Gelukkig was dit nooit nodig nie.

Die mediese apparate is op die menigvuldige rakke in die spreekkamer en die res op die rakke in die hospitaalkamer uitgestal. Rakke in elke moontlike hoekie en opening het baie pakplek selfs in so ’n beknopte kamer gegee. Apparate wat nie dikwels gebruik sou word nie, is in kiste onder die bed en die skryftafel ingestoot. Die bottels, waarvan die inhoud kon vries en die bottels laat bars, is op die heel boonste rakke gepak, want op die vloer was daar dikwels ys.

Heel laaste is die boormasjien vir tandevul aan die plafon gehang. Toe ek hom uittoets, gelukkig teen die agterkant van my hand, het hy ’n kwaai skok gegee. Ek was bly dat dit uitgevind is voor die slagoffer die punt van ’n boor in ’n tandholte gehad het, want die plafon was nie hoog genoeg vir die pasient om behoorlik te spring nie. Daar was geen vaste aarde om so ’n apparaat aan te grond nie, en daarom het Marten toe ’n draad na die ontwikkelaar terug gelei, waardeur die statiese krag doeltreffend afgelei is.

’n Metabolator is saamgebring om elke maand die basale suur- stofverbruik van elke lid te bepaal. Chris het hom ingebring en versigtig uitgepak. ’n Abnormaal groot silinder suurstof, wat oorspronklik vir sweiswerk bedoel was, is met die hyskraan van die muskeg in die skag afgelaat en in die hospitaalkamer in ere herstel om die apparaat van die nodige suurstof te voorsien. Die kleiner silinders suurstof wat spesifiek hiervoor saamgebring is, het by die opslagplek soek geraak. Hul gewig en swart kleur het daartoe bygedra dat hulle vinniger en dieper as die ander voorrade buite bereik gesink het. Chris het gelukkig die voorsorg getref om mediese suurstof vir sy sweiswerk aan te vra, sodat daar in geval van nood genoeg vir mediese doeleindes sou wees. Sy sweiskoppe het ook nie opgedaag nie, sodat daar by my nooit enige vrees was dat die suurstof sou opraak nie.

Toe ek die masjien vir die eerste keer aangeskakel het, het hy diep in sy ingewande gegorrel. In die waaierbak het Marten stukke ys en water gevind. Na dit verwyder is, het die masjien so stil soos ’n droom geloop, en net ’n paar keer gedurende die res van die jaar was dit nodig om hom weer oop en droog te maak.

Wanneer die weer dit toegelaat het en die wind nie sterker as sowat twaalf knope gewaai het nie, was ons buite besig om kiste van die slee te laai en in die skag te laat afsak. Een span het die kiste onder aangevat en moes onderdeur die lae dak, al vlegtend tussen die stutpale deur met knieë geboë, selfs die swaarste kis soos ’n skinkbord voor hom na die gang dra. Geen wonder dat elmboë en rue geknak het nie. Die kiste is in die leë "muurkaste” in die ysgang uitgepak, apparate in die kantore, en die bottels asyn, tamatiesous en allerhande soorte blatjang in drie ongebruikte slaaphokke, sodat hulle nie kon vries en die bottels laat bars nie. Kiste met blikkies bier, whisky, brandewyn en vaatjies wyn is buite op die sneeu gestapel en die rye met vlagpaaltjies afgemerk. Die hele wêreld was jou spens en geen pestilensies het rondgeloop nie.

Met die eerste jagsneeustorm het die kiste toegewaai. As die rye nie met vlaggies afgemerk was nie, sou ons hulle nooit weer kon opspoor nie. Wanneer jy iets buite wou hê, het jy ’n graaf, die aanwysingskaart en die handslee geneem, bereken waar die gesogte artikel was, en ’n paar duim of ’n paar voet diep gegrawe. So ’n delwery kon ’n paar minute of ’n paar uur duur. Wanneer jy gekry het wat jy soek, het jy dit op die slee gelaai en die vlaggie weer ingesteek waar jy opgehou het met delf sodat jy volgende keer nie onnodig ver begin te grawe nie. Die vonds is op die handslee gelaai, wat die doel van kruiwa gedien het, en al singend "It’s nice to be in the Service” het jy na die skag gestap.

Whisky en brandewyn het buite selfs by temperature van minus dertig tot veertig nie gevries nie. Die vuur van die vuurwater het dit warm gehou. Die wyn en bier het soos klippe in die blikkies en balies geklonk wanneer jy hulle oor die ysriffies aansleep. Maar jy het vooruit beplan. ’n Paar dae voor ’n feesdag is hulle binnegehaal en in een van die kamers gepak om te ontdooi. As die lus te groot was, is die blikkies bier sommer bo-op die deksel van ’n kokende kastrol gepak of in lou water gedoop, en kort-kort geskud om te hoor of daar nog ys in is. Dan was dit ’n prestasie om die blikkies so oop te maak dat dit nie in ’n langafstandprojektiel verander nie.

Leë kiste is windaf sowat ’n myl van die basis gepak. Die wind het sneeu opgehoop aan die lykant van enigiets wat buite gelê het. Aangesien die heersende wind van suid-suidoos gekom het, is die stapels wes van die basis gemaak, sodat hulle nie ophoping by die basis self bevorder het nie. Die vullisblikke is langsaan leeggemaak. Al het die hoop ook hoe swart en morsig gelyk, was dit nooit onwelriekend of lank onooglik nie. Vullis het yshard versteen, hitte geabsorbeer en in die sneeu weggesak. Die jagsneeuwind het die stuk wat nog bo wou uitsteek, verder bedek. Selfs papier het om hierdie rede sy eie gaatjie in die sneeu ingesmelt.

Rondom voorwerpe waarvan die hoogte meer as die deursnee was, het die wind eers ’n sirkelmoot met styl kante gewaai, soos die van ’n tregter, maar mettertyd is hulle ook bedek. Om hierdie rede is die brandstofkonkas twee-twee opmekaar gestapel. Na ’n paar storms het hulle op eilandjies binne die windtregters gestaan, en die bak van die son aan die noordekant het die voetstuk aan daardie kant in harde ys laat verkrimp, sodat hulle omgetuimel het. Hulle is dan weer opgelig en langs die ou tregter herstapel.

Selfs die sneeuwerf het gedurig aandag geverg. Hy het mens nie kans gegee om op jou louere te rus nie. Dit moes gereeld aan die kant gemaak word, nie soseer om netheidsontwil nie, want daar het die jagsneeu gehelp, maar om te verseker dat dinge nie onbereikbaar diep toe dryf nie. Dit was die dinge wat behalwe wetenskaplike werk tyd in beslag geneem het. Saam met die huishoudelike pligte het dit gesorg dat daar geen ledige oomblik was nie. Op mooiweerdae het hierdie herstapeling plaasgevind, en op winderige dae kon ons ons aandag voltyds aan die binnenshuise werksaamhede en elkeen aan sy spesifieke vak wy.

Buite het die anorak die wind van die vel geweer. Terwyl jy beweeg het, het jy nie koud gekry nie, inteendeel, jy het tot jukkens toe warm, klam en sweterig geword. Wasem wat jy uit jou longe uitgeasem het, het jy nie weer teruggetrek nie. Dit het bevrore in die koue lug agtergebly. Die slymvliese van neus en keel het droog geword en is deur die lug geprikkel, sodat jy deur die mond moes asemhaal. Weens die prikkeling het die neuse gedurig geloop, wat behalwe die vogverlies deur die uitaseming van waterdamp ’n verdere verlies van maklik een tot twee pinte per uur veroorsaak het. Hierdie tonne (a la Niek!) waterige uitskeidings uit die neus het ysbergies op snorre en klein Antarktikas op bokbaarde gevorm. As gevolg hiervan het welige bokbaarde aan die krae van anorakke vasgeys en is nekke gekniehalter sodat hulle nie na links of regs of na bo kon kyk sonder om die lyf te draai of agteroor te buig nie. Kop onderstebo het hulle dan na binnegekom en gelyk soos ‘n bok wat wil kopslaan. Gaan sit hulle dan om aantekenings oor hul waarnemings te maak, begin die ys ontdooi en volg ’n stortvloed van reën en stukke hael op die papier. Dit was net een keer nodig om ’n stuk van George se baard met ’n sker af te kou om hom van sy foltering te verlig.

Met drie paar handskoene aan was dit onmoontlik om ’n sakdoek uit die broeksak, wat onder anorak en oorbroek versteek was, te kry. Daarom het almal buite maar gesnuif en laat loop, en niemand het omgegee of tereggewys nie, want potte kon nie ketels verwyt nie.

Ook was dit buite nie ’n plesier om ’n sigaret te rook nie. Jy het die eerste paar trekke geniet, maar dan het die wasem uit jou neus die kool geblus en jy het met ’n papnat ding tussen jou lippe gestaan en hom maar liewers uitgespoeg. Pyp rook was net so onmoontlik, maar die pyprokers het gou net soveel plesier daaruit geput om aan ’n leë pyp, asof dit ’n fopspeentjie was, te suig.

Om die beurt het elkeen vier dae lank gekook. Marten was kwartiermeester en het die aand voor die aanvang van elke kookbeurt die rantsoene van blikkieskos en melkpoeier uitgedeel. Dit is aan die verbeelding van die kok oorgelaat hoe hy daardie kos gaan benut en die samestellings gaan varieer om die geregte anders te laat voorkom as die vorige kok s’n. Hoewel die rantsoene vir elke vier dae weinig gewissel het, het die vindingrykheid of die mislukking van die kok vir afwisseling gesorg.

Marten het die bal aan die rol gesit. Ek het hom opgevolg. Hy het hom so goed van sy taak gekwyt dat ek met huiwering in sy skoene gestap het. Tot dusver het ek net geweet om wors langs ’n rivier of langs die branders van Benghazi te braai en ’n oopgevlekte vis op die warm as te laat sis. Alles het darem goed gegaan totdat ek met die laaste ete van my eerste kookbeurt met ’n uiterse poging gekom het. Ek het ’n spesiale gereg van kerrievis probeer maak. Ek het egter nie vooraf geweet dat die soutvis wat uit die Noorse balies kom, in onhebbelike sterk pekel gelê het en droog soos biltong was nie. Toe dit op tafel kom, het almal geprobeer om dit te eet, maar dit gou-gou beleef opsy geskuiwe. Toe ek dit later die aand vir die honde gaan voorsit, het hulle net daarna gekyk. Hulle het nie eers daaraan geruik nie.

Dick was die outoriteit op biefstuk. Rou biefstuk het hy Dutch steak genoem, en gaar biefstuk het ons Boerebiefstuk genoem. Weens die baie Hollandse bloed in sy are, het hy Dutch steak verkies en subtiel gepropageer. Die biefstuk was altyd lekker. Die een het van Dutch steak en die ander van Boerebiefstuk gehou. Dit is volgens keuse deur die kok voorberei en direk uit die pan in die bord geskep - souserig in hotter gebraai. Hierdie hotter was in blikkies verseel en drie jaar vantevore deur die Nore na die basis gebring - ’n bietjie galsterig, maar heeltemal geskik vir braaidoeleindes. Terwyl Dick die laaste krieseltjie in jou bord uitgekrap het, het hy ter aanmoediging vir die maagsappe gesê: "Lekker, ne!” Hy het dit met ontwaterde spinasie, in melk gekook, opgedis. Die spinasie het die nadeel gehad om aan die binnekant van die kastrolle vas te kleef, en die kombuisklong van die dag het steen en been oor die moeilike skoonmaak daarvan gekla. Toe het iemand die ingewing gekry om die spinasie saam met ontwaterde groenboontjies te kook. Hierdie toepassing van meganika en wetenskaplike beginsels het skoon kastrolle tot gevolg gehad en die opregte dank van die potskuurders vir die duur van die onderneming.

In die begin het Chris ’n "verloskundige” probleem opgelewer. Hy het nie van kerriekos gehou nie, en die kombuisreuke het hom naar gemaak. Dit was werklik pateties om hom deur ’n kookbeurt te sien worstel. Hy wou met alle geweld daar uit, en het selfs aangebied om vir die hele duur van die onderneming al die vuil werk te doen. Maar nadat Hannes verduidelik het dat geen uitsondering gemaak kon word nie, het hy met woeste vlyt volhard. Teen die einde van sy beurt het hy vaal en ontwater gelyk. Hy het beweer dat hy voel soos ’n vrou wat ’n baba verwag, sommer proppers seesiek soos daardie tyd op die Polarbjorn deur die stormgrade. Toe George eendag daaraan dink dat ons basis op die ysbank geleë was en die ysbank enige oomblik kon afbreek en ons dan wegdrywe, sê hy, toe Chris op sy slegste voel: "Hemel, Chris, jy is seesiek, man, nie verwagtend nie. Ons het losgebreek van die vasteland en dryf nou weg.”

In elk geval, of ons losgebreek het of nie, Chris het in die kombuis geakklimatiseer. Aangesien sy hande deur sy werk as werktuigkundige met olie en ghries deurtrek was, en hy meer gewoond aan ’n tang as ’n vadoek was, het hy, ook om higieniese redes, die potte en panne met ’n tang gehanteer. Hy het gaandeweg ’n grondige studie van resepte in ’n kookboek gemaak, gewoonlik die aantreklikste kleurprent uitgesoek en dan daardie pastei gemaak. Algaande het hy ’n deskundige op die gebied van pasteie geword en die resultaat was altyd beter as die vorige. Hy het so verlief op kerriekos geword dat hy selfs smaaklike kerriepasteie gemaak het.

Benewens die verpligte kookbeurt was daar ook om die beurt vir elke lid ’n eendaagse "skiewieplig”. Hy moes dan die kok van die dag met skottelgoed help en die kamers uitvee. Skottelgoedwas was nie juis onaangenaam nie, maar tydrowend. Dit was die geleentheid wanneer jou hande en arms goed skoon in die warm water kon kom. Die vetterige messe en vurke is in skroeiend warm water met ’n spaan en ’n eierklitser gemanipuleer om nie jou vingers te verbrand nie, en om daarna die water so warm moontlik in die sneeu te laat uitloop. Die water het mettertyd sy eie gat onder die huis dieper en dieper deur die sneeu geboor. Uiteindelik sou die rioolgat seker onder in die seewater uitkom. Blackie het stellig gemeen dat die dag sou aanbreek wanneer jy jou vars vis vir ontbyt deur die uitlaatpyp van die wasbak sou kon vang.

Daar was altyd aanmoediging vir die kok. Elkeen het na ete die kok bedank al was hy ook hoe huigelagtig daaroor. Al het jy as kok die fariseërspel geken, het jy gelukkig gevoel: die wat bedank, kan nie later kla nie.

Elke Sondagoggend is die vloere van die kombuis en die eetkamer geskrop. Twee was om die beurt spesiaal vir daardie dag se taak aangewys, Hulle moes vroeg die warm water maak. Twee emmers, met vloerlappe daarin verys, is uit die gang gehaal, die warm water is daarin gegooi, en dan het die lappe los gekom en die skroppery het begin. Die lappe is opsetlik in die emmers vasgeys, anders het hulle te maklik weggeraak. Almal het gewedywer om die vloere skoner as die vorige te skrop. Dit het jou ’n aangename gevoel van tevredenheid gegee om die geel plankvloer onder die swart smeersel te sien ontluik. Antarktika is die skoonste plek op aarde met die swartste vuilgoed wat jy jou ooit kan voorstel. Die roet van die dieselkragontwikkelaars koel af sodra dit by die skoorstene uitkom en val dan saam met die koue lug, wat vir ventilasie nodig is, terug in die huis. Die roet en die olie-aanpaksel aan Chris se skoene was die oorsaak van hierdie gereelde skrop. Na so ’n skrop het jy gevoel soos ’n man wat hoë lewenstandaarde handhaaf. Die volgende paar dae het jy as onlangse skropper haantjie oor die kombuisklong gekraai en hom herinner om skoon te vee en nie die pragstuk van ’n vloer onder die okkerneutdoppe, vuurhoutjies en sigaretstompies en -as te bedek nie. Jy het jou vrou se vermanings by die huis beter verstaan en goeie voornemens gemaak.

In Maart bly dit saans nog laat lig. Wanneer jy dan moeg van die dag se werk of kook was, het jy teen sewe-uur ekstra klere en handskoene aangetrek en jou kamera, ligmeter en verkyker oor jou skouer gehang en buite gaan stap om die bedompigheid van die ondersneeuse huis te ontvlug en vars lug deur jou longe te laat spoel. Teen daardie tyd van die dag was die temperatuur minus 15 tot 20 grade. Die sneeu was hard bevries en dit het stap vergemaklik. Sneeudrifsels het bergagtige ophopings agter die buite- apparate gemaak, elkeen met sy eie vorm en onegaligheid. Die stellasie wat eers op die gelykte gestaan het, het oos van ’n diepgekloofde rand gestaan. Party van die konkapoye het skuins getrek en gedreig om hulle af te gooi. Die breër stellasie het nog regop gestaan, maar soos die toring van Pisa, en so ook die twee-twee brandstofkonkas waarvan sommige reeds omgeval het.

Een so ’n aand het ek na die noodhut geslap. Dit was ’n hoë, vierkantige houtgebou waar die nodige uitrusting en kos weggepak was ingeval die hoofkwartiere sou afbrand. Weens sy hoogte het dit ’n groot en wye windtregter om hom gehad. Ek het ’n oomblik lank my in die idee verlustig om bo-op die sneeuoppervlakte daarin te woon om die sonlig deur die deur te sien skyn en die sneeustorms oor die velde te sien speel terwyl ek warm binne uit die wind sit. Toe ek daar aankom, het ek ou spore gesien. Ek het gedink aan die wolhaarstories wat die admiraal omtrent verstekelinge op die boot en by die basis opgedis het en naderhand werklik self geglo het. Ek het aarselend die grendel opgelig en die deur stadig oopgestoot. Maar daar was geen verstekeling nie. Hoe welkom sou hy nie gewees het nie! Ek sou sy geheim bewaar en skelmpies vir hom gaan kuier het. Maar binne-in was net stapels koskiste en laaghout, ’n stoof en sakke klere.

Toe het ek weer omgedraai en reg suid na die huis begin stap. Die sneeu het blou in die koue gelê en skoon geglinster. Die lug was helder soos glas. Sjampanjewolke het op die suidelike horison gehang, en by hul westelike punt het die lugspieëling van Depotberg blinkwit getroon. Regs van die skimbeeld het skielik nog ’n swart punt dwarsdeur die wolke gesteek. Kort na agt het die son ondergegaan. In die onbewolkte gewelf het hy die kleure van die reënboog in alle vorms in die dun en dikgevlieste wolkrangskikkings vertoon. Reg bo my het ’n perlemoenagtige wolk deurskynend karmosyn, groen en geel verskyn. Die groen het met die blou gemeng, die sjampanje met die sjerrie. Die sonskyf is deur die refraksie van die lig in talle gedaantes misvorm. Sy kleur het van oomblik tot oomblik in verspotte skakerings en draperings verander. Hy het dronk in sy harlekyndrag geknipoog, en kort daama agter die horison verdwyn net nadat hy ’n laaste speelse ligvinger uitgeskiet het wat die lugspieëling van die berge gestreel het. Ek het gewonder of hy dit sou gedoen het as hy geweet het dat die lugspieëling die berge onderstebo voorgestel het.

Die sneeu het soos drifsels sand gelê. Hier en daar het die wind die sagte sneeu onder ’n drifsel uitgewaai en ’n stywe rakkie ys laat staan. ’n Bietjie verder het ’n piramidetjie pers in die aandskemer geglimmer met talle diamante wat daarin flonker. Almal het hul laaste skaduwees van die dag skuins en dwars oor die velde gegooi. Dit was die tyd van die dag wanneer die velde gelewe het en dit die moeite werd was om in Antarktika te wees.

Ek het by die honde verbygestap. Hulle was mal van blydskap om weer iemand te sien. Net toe het Dick en Marten met die “skiewieslee” by hulle aangekom om hulle die afvalkos van die kombuis as nagereg te gee.

Normaalweg het hulle net al om die ander dag ’n stuk robvleis van vyf pond gekry. Die onverwagte peuseltjie het besonder harde geblaf en uitbundigheid uitgelok.

Hul dankbaarheid oor die krummels van die tafel, die spelinge in die lug en op die blou sneeuvelde van die strale van die son wat so flussies ondergegaan het, het jou in teenstelling ondankbaar en klein laat voel. Antarktika wou jou sonder lawaai deur die vertoon van nederige skoonheid bevriend. Onwillekeurig het die drang ontstaan om hom te leer verstaan. Daarvoor sou jy langer alleen wou wees, sodat die betekenis van alles ongestoord helder kon ontvou.

Vervolg...

U soek na?

  • HOU VAKANSIE IN MOSSELBAAI !

    Baie netjiese vakansie-akkommodasie in Fraai Uitsig, Kleinbrakrivier, Mosselbaai Munisipaliteit. Twee kilometer vanaf Kleinbrak en Tergniet se swemstrande en ongeveer 10 kilometer vanaf Hartenbosch. Pick n Pay binne loopafstand.
    Kliek hier vir volledige inligting en foto's: OPSOEK NA BEHUISING VIR VAKANSIE?
     
    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________
     
    SKAARS BOEKE TE KOOP
    C J LANGENHOVEN 16 VOLUMES
    FAK-SANGBUNDEL 1 VOLUME
    Hierdie 16 volume Langenhoven-stel is 'n goedopgepaste kosbare versamelstuk. Dit beslaan die volledige inhoud van Langenhoven se bundels soos Sonde met die Bure; Loeloeraai; Herrie op die ou Tremspoor; Doppers en Filistyne; en al die kosbare stories uit die pen van Langenhoven.
    Die FAK-sangbundel is ook in goeie toestand en kan saam of apart van die Langenhovenstel gekoop word.
    Eienaar moet na 'n kleiner woonplek verhuis en vra 'n redelike aanbod vir sy boeke.
    Die aanbevole waardasieprys vir die Langenhovenstel is R1600.00; en vir die FAK R100.00
    Koerierkoste sal bykomend wees.
    Kontak

    Chris Carstens

    Sel no 082 954 3383

    Epos adres

    chris.carstens

    @vodamail.co.za

    ___________
    DIGBUNDELS:
      'n Versameling van 4 elektroniese bundels - 226 gedigte @R350.00:  
    Vir alle navrae  skryf aan 
    Amanda
    @waterstrome.co.za
    Uittreksel uit:
    'n Nasie in Pyn:
    ...Saam sal die hele wêreld vir hulle bid.
    Saam sal ons met pyn in ons harte sit.
    Mag hulle berus in u wil
    Mag hulle voor U verstil.
    _________
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    'n Boek getiteld DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, uit die pen van ds AE van den Berg, het  in gedrukte vorm verskyn. 
    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.  
    DIE
    VOLMAAKTE REPUBLIEK - Christen Teokratiese Separatisme, bring helder perspektief oor rasseverskille en die natuurlike skeiding van rasse wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte aan geestelike transformasie wat landsburgers van denkrigting sal laat verander en van al die sogenaamde polities-korrekte onregte en gewaande vryheid waarmee hulle belas word, sal bevry.
    Lesers word aangemoedig om hulle daadwerklik vir 'n Christen-teokrasie in 'n volmaakte republiek te beywer deur sinvolle besluite te neem in die lig van God se Woord, en onophoudelik te bid dat dit spoedig hier aan die suidpunt van Afrika verwesenlik word. Politiek is 'n saak van erns en harde werk waardeur wet en orde gehandhaaf word en durf nie in eerlose hande gelaat word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel, iets wat op staatkundige gebied slegs in 'n Christen-teokratiese bestel tot sy reg sal kom.

     

    U kan hierdie boek bestel by
    ds AE van den Berg
    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com
    Prys: R50-00

     
  • BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    ('n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 'n Nuwe Trek (Exclusive Books) Prys: ZAR180

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is by http://tinyurl.com/lx9vrs8

    ... en loot.co.za dit verkoop teen R169 http://tinyurl.com/l26h6jl

    ... kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD


    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    JULIE 2013

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2 NOU BESKIKBAAR

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
    of skakel hom by
    074 967 5187


    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  • Kliek op DIE CHARISMATIESE GEVAAR om meer oor hierdie boek te wete te kom Lees verder...  
  • FILM OOR DR HF VERWOERD

    Kyk by hierdie skakel http://youtu.be/TcO3zPF8998

      na die kort film oor dr HF Verwoerd.   
    Dit kan ook direk bestel word by Riaan: +27823712682 of by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
     

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

 

'N BIETJIE LANGENHOVEN:

Ek sê nie al die suur mense is Fariseërs nie, maar naastenby al die Fariseërs is suur. In alle geval, solank hulle onthou om Fariseërs te wees. Want dis ook 'n inspanning.
Verbeel jou 'n wêreld sonder 'n skaterlag, sonder eens 'n glimlag. 'n Hemel op aarde, sal die Fariseër sê. Uit so 'n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die man wat ek na soek, is nie dié wat die minste foute maak nie, maar dié wat die meeste foute régmaak.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die  dogter van matigheid en die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat, en die swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns.

Die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóu liefhê.

'n Man wat werklik oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word. Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Kla net oor jou kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my 'n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek dit nog op 'n manier reg.

Jy sê "ja" waar jy moes "nee" gesêhet omdat jy die ander nie wil aanstoot gee nie. Maar eken hoe het hy jou aanstoot gegee met sy versoek!

Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek uit as om vir hom vir 'n baadjie borg te staan. Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die vriendskap wat jy moet koop is 'n duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy dit van die hand wil sit nie.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie – jy bederf albei.

'n Man wat nie vyande het nie deug nie vir 'n vriend nie.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

'n Skare is 'n versameling van eensames.

Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.

Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.

Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen dit wat die misverstand jou sou gekos het.

Het die ryk man nodig om so suinig te wees? Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie; hy is 'n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op die bene bly.  As hy tot niet gaan, kom daar dalk 'n sterke in sy plek.

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES (7)

(Lees die reeks by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

  • Die adderbyt van naberou is verskriklik (Naberou is ontstellend.)
  • Hy het hom in 'n addergebroedesel begewe (Hy was tussen 'n groep nydige, aanvallende mense.)
  • Sy het hom adieu toegeroep (Sy het vaarwel gesê.)
  • 'n Adres van adhesie is 'n geskrif waarin instemming betuig word met 'n versoek.
  • Jy is nou by die verkeerde adres (Jy soek die oorsaak van die kwaad by die verkeerde persoon.)
  • Dit was advokatery (Dit was regskundige uitoorlêery.)
  • Hy sal die werk weer afbroddel. (Hy sal knoeiwerk of slordige werk verrig.)
  • Sy wil elke takie afbrom (Sy kla die hele tyd terwyl sy werk.)
  • Jy kan nou maar afdans (Jy kan nou maar skoert.)
  • Moet hom nie op sy verdienste afdwing nie (Moet hom nie verkleineer nie.)
  • Die ou werkie draf ek gou af (Ek sal dit sommer gou afhandel.)
  • Hulle wil die rusie afdrink (Hulle wil vrede maak.)
  • Sy het soms baie affêrinkies (Sy is dikwels vol nukke en nonsens.)
  • Hy sal wel weer geld van haar affutsel (Hy sal dit op 'n oneerlike manier van haar kry.)
  • Daar kan niks van afgaan nie (Dit kan nie ontken word nie.)
  • Hy sal 'n afgehekste loesing kry ('n deeglike pak slae.)
  • Sy is 'n afgelekte meisie (Sy het al baie kêrels gehad.)
  • Jy lyk so afgesak (Jy lyk baie moeg.)
  • Hy het afgetop gelyk (Hy het verleë gelyk.)
  • As jy iets van hom wil hê sal jy dit moet afgoël (Hy is so suinig!)
  • So 'n afhaler is onnodig ('n Onnodige belediging.)
  • As dit afhang moet ons dit maar opbind (Skertsend wanneer iemand gedurig begin met "Dit hang af..."
  • Na elke partytjie is hy babalaas ( dan ly hy aan die gevolge van te veel alkohol).
  • Daar was 'n Babelse gegons van stemme (Almal het gelyktydig gepraat).
  • Dit was 'n Babelse verwarring (Dit was baie deurmekaar).
  • Hy sal weer mooi broodjies kom bak (Hy sal kom vlei en mooipraat om sy doel te bereik),
  • Hulle eet nie uit een bak nie (Hulle is nie vriende nie).
  • Sy het hom 'n bak gewys (Sy het hom onvriendelik tereggewys).
  • Gou by die bak maar lui by die vak (Hy is eerste daar waar iets te ete is maar traag as hy moet werk).
  • Hy maak sy hande bak (Hy kom bedel iets).
  • Ons moes bak staan (Ons moes hard werk).
  • Dit was sommer 'n bakerpraatjie (Dit was 'n skinderstorie).
  • Jerusalem is die bakermat van die Christelike Kerk ( Dis waar dit begin het. 'n Bakermat was 'n mandjie waarin die baker – die vrou wat 'n pasgebore baba versorg het – die kindjie op haar skoot voor die vuur versorg het).

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 2463 gaste aanlyn