Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy jou BYBEL soos koek vir spesiale geleenthede gebruik, sal jy op 'n plek kom waar jy verhongerd staan omdat jy dit nie as Brood vir elke dag gebruik het nie.
VOLKSREGERING (10)
Lees reeks by VOLKSREGERING
Natuurlik – Doelmatig
Beskrywing van die enigste regverdige politieke bedeling
vir enige volk, hetsy klein in getalle of groot
Dirk Denker
GESKIEDENIS IS BELANGRIK
Van die vroegste tye af het verwante mense familiegroepe gevorm omdat hulle dieselfde agtergrond, beginsels en lewenswyse het. Duisende jare gelede het dit tot die vorming van volke gelei. Denkwyses, eiesoortige betekenis van begrippe, beskrywings, gesegdes, gewoontes en gebruike van een familiegroep of stam (volk) verskil van 'n ander volk, daarom voel volkgenote meer geredelik gemaklik met mekaar as met mense van ander volke. Hulle weet hulle sal nie per abuis of moedswillig misverstaan word nie.
Wat opvallend is, is dat die mens 'n onweerstaanbare drang het om te weet waar hy vandaan kom, wie sy voorgeslagte was, hoe hulle geleef het, hoe dit op sy huidige lewe betrekking het, en watter kennis uit sy verlede vir hom nuttig kan wees. Die mens wil nie die wiel weer ontdek as dit reeds bestaan nie, maar daarop probeer verbeter.
Die verlede is 'n vaste grondslag wat nie verander kan word nie, en bied 'n steunpunt vir ontwikkeling. Dit verleen standvastigheid waarop die hede staan en waarop voortgebou kan word. Die wyse president Paul Kruger het op 29 Junie 1904 geskryf:
"Want wie zich een toekomst scheppen wil, mag het verledene niet uit het oog verliezen. Daarom: zoekt in het verledene al het goede en schoone, dat daarin te ontdekken valt, vormt daarnaar uw ideaal en beproeft voor het toekomst dat ideaal te verwezenlijken."
Die oudste aangetekende geskiedenis vind ons in die Bybel. Deur die Bybel te lees kan 'n mens meer kennis en wysheid opdoen as in enige ander boek. Geskiedenis kan mondelings oorgelewer word of skriftelik, maar mondelingse oordrag is onbetroubaar. Dikwels raak besonderhede vergete of onware stertjies word bygevoeg.
Tydens mondelingse oorlewering van geskiedenis, gaan meer inligting verlore as wat oorgedra word. Sou alle mense hulle Bybels vir vyf jaar wegpak, sal hulle daarna moeilik Bybeltoetse slaag, en die jonger kinders sal weinig van die verlede weet om nuttig daarvan gebruik te kan maak. Die Bybel bevat hoofsaaklik geskiedenis, hetsy in dade, wette of wyshede wat aangeteken is. As dit nie vir aangetekende geskiedenis was nie, sou die Bybel nie bestaan het nie en 'n magdom kennis het verlore gegaan. Wat weet ons byvoorbeeld vandag van die piramides?
Die begrip en oordrag van geskiedenis van ouers na kinders verskil van volk tot volk. Elkeen heg sy eie vertolking aan gebeure wat hy ervaar het en die redes soos deur 'n besondere volk vertolk. Afrikaners hou by hulle afkoms en leiers en helde soos Jan van Riebeeck, Andries Pretorius, Paul Kruger, Christiaan de Wet, Koos de la Rey en latere uitnemende volkleiers. Dit was leiers om op trots te wees.
Daar kan nie van ander volke verwag word om ons leiers en helde voorop te stel nie. Hulle stel heeltemal tereg meer in hulle eie geskiedenis belang, hulle eie helde en afkoms en ontwikkeling. Daar heers juis ernstige twispunte oor dorps– en straatname in Suid-Afrika. Een rede is waar bewerings gemaak word wat nie geskiedkundig korrek is nie en ook nie as geldig bewys kan word nie. Sodanige bewerings het geen bestaansreg.
Wat die krag van geskiedenis sterk beklemtoon, is die waarheid van eer jou vader en jou moeder (jou voorgeslag), want dan sal jy voorspoedig wees. Hou vas aan die geskiedenis van jou voorgeslag se betroubare getoetste beginsels; die wysheid van die grysheid is onbetwisbaar. Dit is die geskiedenis wat bevestig waar voorgeslagte sukses behaal het en waar hulle foute gemaak het wat ons kan vermy.
Een van die mooi dinge in volksgeskiedenis is sekerlik volkstrots en volkstrou en in hart en siel bly te wees oor hoe jou volk (en jy) presteer en met die prestasies volhard. Groot is die pyn en smart en skade vir 'n volk wanneer volkgenote teen sy eie bloed sondig. Volkstrewes gaan nooit verby nie. Elkeen stel sy eie volk eerste. Ook hy wat 'n ander volk na waarde oordeel, het sy trots vir sy eie volk en moet aldus 'n ander volk ook so respekteer al sou hy van hulle verskil. 'n Voorouer bly immers jou voorouer, of dit jou vader, grootvader of verder terug is. Jou geskiedenis bevestig jou geregtigheid.