Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Terminale siekte laat ons opnuut besef dat ons tyd min geraak het. Tyd is nie ons reg nie; dis ‘n voorreg. Ons besit dit nooit. Dis aan ons geleen, ja, ‘n kosbare stukkie leengoed uit die hemel. Die sekerheid van ‘n ewige lewe laat ons egter berus dat ons veilig in God se hand is. Niks wat die moeite werd is, gebeur sonder opoffering nie.
SIGARETTE MAAK DIE REGERING VET...
Het u al gewonder waarom die ANC-regering so gemaklik voortgaan om die verkoop van sigarette te verbied ten spyte daarvan dat hulle miljarde rand aan belasting daarop verloor? Kom ons kyk wat agter hierdie bravade sit.
Wat is meer voordelig as die smokkel van kokaïen, heroïen, dagga of selfs wapens? Sigarette! Nie net vir die regering nie maar ook vir sekere tabakmaatskappye. Vir baie jare reeds is hierdie tabakbase met smokkelhandel besig want daarmee maak hulle groot geld. Nou het die virus-kabaal die ideale geleentheid geskep om dit grootskaals te doen.
Een manier om nog groter winste te maak is die verkoop van ‘nagemaakte’ sigarette. ‘n Nagemaakte sigaret word baie goedkoper vervaardig omdat dit uit ‘n spul gemors gemaak word. Die Internasionale Kamer van Handel het al bestanddele daarin gevind wat wissel van dooie vlieë en muf tot menslike afval. Dit bevat ook ‘n baie hoër dosis van die wettige giftige bestanddele.
Nagemaakte sigarette word onder bekende handelsmerke bemark sonder die wete van die regmatige eienaars en dis moeilik om die verskil raak te sien. Dit word gewoonlik met goedkeuring van ‘n owerheid in een land gelisensieerd vervaardig en dan net so uitgesmokkel na ander lande natuurlik sonder enige belasting daarop. Hierdie handel maak sowat 40% van die sigarethandel in Suid-Afrika uit. Tydens die Covid-19-sage het dit egter die hele mark oorgeneem omdat ander sigaretverkope verban is.
Telita Snyckers, ‘n voormalige direkteur van die Suid-Afrikaanse Inkomstebelastingdiens het ‘n boek oor hierdie sluikhandel geskryf. In Dirty Tobacco: Spies, Lies and Mega-Profits onthul sy dat selfs Big Tobacco op heterdaad betrap is toe hy sy eie produk in die sluikhandel begin verkoop het. Die verbod op sigaretverkope in Suid-Afrika het die deur vir grootskaalse smokkelary geopen waar baie meer geld gemaak word as met wettige verkope.
Snyckers het aan joernalis Pauli van Wyk vertel hoe multi-nasionale korporasies met jare se smokkel-ervaring nou tydens die grendelstaat hulle kennis hier toepas en deur middel van konsessies met die regering toestemming het om voort te gaan met die sluikhandel in sigarette. Natuurlik ook tot groot finansiële gewin vir die regering!
Snyckers sê baie groot hoeveelhede word na Botswana en Namibië gesmokkel wat telkens te veel vir daardie mark is, daarom word die oorskot weer teruggesmokkel na die Suid-Afrikaanse mark, ‘n roete wat vooraf so beplan is.
Ons land verloor sowat R35 miljard per dag aan belasting deur die verbod op sigaretverkope, geld wat vir ons land en sy mense aangewend kon word. Nou gaan die winste in slegs ‘n klein hoeveelheid persone daar bo in die regering se sakke.
Om dit alles vir die regering moontlik te maak het Tom Moyane die ondersoekafdeling van SARS ontbind asook Project Honey Badger, wat juis gestig is om lokale smokkelhandel uit te roei en op daardie tydstip besig was om ‘n R3-miljard onwettige transaksie te ontmasker. So is alle ondersoek stopgesit. Sodoende kon die ANC-regime sonder speurhonde op hulle spoor voortgaan om hulle sakke vol onwettige smokkelgeld te prop, iets wat so lank as wat hulle kan wegkom daarmee, sal voortgaan. Intussen asem rokers nou erger gif as ooit tevore in hulle longe terwyl hulle vier maal die prys daarvoor betaal, om nie te praat van die prys op hulle gesondheid nie!
Die Universiteit van Kaapstad het ‘n navorsingseenheid wat konsentreer op onnodige produkte en hoe om dit uit te skakel, die Recearch Economics of Excisable Products (REEP). Hulle het ‘n verslag oor rookgewoontes gedurende inperking in Suid-Afrika opgestel waarin hulle stel dat die huidige inperkingstaat groot skuiwergate oopgemaak het vir onwettige handel en ‘n omgewing skep wat eerder die rookgewoonte sal aanmoedig wanneer die verbod daarop gelig is. Om deur die regering toegelaat te word om sigarette vir die uitvoermark te vervaardig maar dit nie in Suid-Afrika te mag verkoop nie, moedig vervaardigers aan om dit in die sluikhandel wel in Suid-Afrika te verkoop. Vervaardigers kan hierdie versoeking nie weerstaan nie, veral omdat daar so baie opposiemaatskappye is wat met ervaring van smokkelhandel presies weet hoe om die sigarette te versprei sodat dit weer in Suid-Afrika land.
Daar gaan dus baie meer aan in die verbod op sigaretverkope in Suid-Afrika as wat ons gedink het. Om dit op te som: die regering vertel ons dat rook glo die virussiekte sal vererger, daarom verbied hulle rook. Intussen gee hulle die sigaretvervaardigers die groen lig om voort te gaan met vervaardiging en die uitvoer daarvan, en hou hulle oë toe vir die oorskot wat terugkom na Suid-Afrika want hulle sakke word al voller en ronder net soos hulle lywe!