Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geen mens kom weens sy goedheid in die hemel nie, slegs deur die bekering. Dis al hoe jou naam in die boek van die lewe geskryf kan staan; geen ander manier nie. Daarom is die oordeel van die teksvers hard en duidelik: “En as dit bevind is dat iemand se naam nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp”. Wees wys en bekeer jou terwyl jy een baie belangrike ding aan jou kant het – tyd!
OPPAS VIR DIE HEBSUG
Hannes Ollewagen
Luk. 12:13-21
“En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.” (:15).
Hebsug – daardie onversadigbare sug en drang na nog en meer en meer. ’n Boosheid volgens die oordeel van God se Woord. “Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.” (Mark. 7:21-23).
God waarsku ons teen hierdie boosheid. Hy weet watter leed hierdie boosheid in ’n mens se lewe kan aanrig wanneer dit eers wortel geskiet het. Hy weet hoe maklik hierdie boosheid ’n mens in sy geloof kan laat struikel. “Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulself met baie smarte deurboor.” (1 Tim. 6:9&10).
Die mens wat gedurig na meer en meer ’n versugting het, probeer ’n leemte in sy lewe bevredig. Maar meer stoflike besittings kan hierdie leemte nie vul nie. Hierdie leemte in ’n mens se lewe kan alleen gevul word deur God se teenwoordigheid in ons lewe – daardie teenwoordigheid van Hom wat ’n tevredenheid in ons lewe teweegbring. Ons noem dit vergenoegdheid. Daardie tevredenheid met die deel wat die Here vir my in die lewe afgemeet het en ook ’n dankbaarheid daarvoor. “Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ’n groot wins. Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie.” (1 Tim. 6:6&7). ’n Mens wat vergenoegd is, is tevrede met dit wat God vir hom afgemeet het. En hierdie mens glo ook dat God in sy behoeftes in die toekoms met getrouheid sal voorsien en daarom het hy nie ’n onbeheersde drang om vir homself soveel op te gaar dat hy die sekerheid vir die toekoms in sy groot rykdom eerder as in God vind nie. “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ’n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ’n mens aan my doen?” (Heb. 13:5&6).
Uit die gelykenis van die ryk dwaas is dit ook duidelik dat die mens wat deur hebsug gevange geneem word, hoofsaaklik op sy eie begeertes fokus. Hy is die gevangene en slaaf van sy eie onversadigbare, vleeslike begeertes. Hy is die middelpunt van sy eie bestaan en vergeet in die proses van sy verhouding met en verantwoordelikheid teenoor God. ’n Hebsugtige mens beskou rykdom nie meer as ’n gawe uit God se hand wat ons met dankbaarheid kan aanneem en met verwantwoordelikheid moet gebruik nie. Nee, die hebsugtige mens beskou rykdom as sy eie wat gebruik kan word om sy eie begeertes te bevredig. Die hebsugtige mens beskou sy rykdom as die sekerheid vir sy toekoms eerder as om God met die toekoms te vertrou. En dit is duidelik in teenstelling met God se wil. “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God, wat ons alles ryklik verleen om te geniet; dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle ’n skat weglê, ’n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf.” (1 Tim. 6:17-19).
Mag ons hierdie liefdevolle waarskuwing van God wat tot ons heil strek ter harte neem. En mag ons Hom as ons grootste vreugde in ons lewe beskou en op dié wyse onsself gedurig besig hou met die dinge wat Hom behaag om sodoende eerder vir ons skatte in die hemel as hier op aarde te vergader. “MOENIE vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” (Matt. 6:19-2)