Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe – Prediker 3:12
KINDERS IN DIE BYBEL (6)
SAMUEL
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
HY was ’n besondere kind. Letterlik beteken Samuel se naam: Deur God gehoor.
Hanna, sy moeder, het self duidelik verklaar hoekom sy aan hom hierdie naam gegee het. By sy geboorte het sy gesê: "Ek het hom van die Here gebid.”
In Samuel se naam hoor ons dus van gebedsverhoring. God het geluister na ’n gebed. Dit is dan ook die stempel wat van jongs af op die lewe van Samuel gedruk word.
Samuel se naam is dan ook die eerste tekening wat ons van hierdie kindjie kry.
Hoe oud Samuel presies was toe sy moeder hom na die tabernakel in Silo gebring het, vertel die Bybel nie aan ons nie. Al wat die Bybel aan ons sê, was dat hy nog jonk was.
Gewoonlik is ’n kind daardie tyd in Israel op drie-jarige leeftyd gespeen. Soos so baie kinders, wat reeds op sesjarige leeftyd moet koshuis toe gaan, moes Samuel reeds op ’n vroeë leeftyd van sy ouerhuis weggaan. Heel waarskynlik al op vyf- of sesjarige leeftyd.By die tabernakel in Silo is hy in die hande en sorg van Eli gelaat. Eli moes hom grootmaak en opvoed. Onder die leiding van Eli word Samuel daar in die heiligdom grootgemaak en ingelei in die heilige dinge.
Hy is dus reeds van sy prille jeug af in die onmiddellike nabyheid van die heiligdom.
Die mense van sy tyd sou seker gesê het dat Samuel nou op die regte plek is. Daar by die tabernakel waar die priesters is en die Ark van die Here is, daar in die nabyheid van die heilige dinge is daar nie so baie versoekinge vir ’n jong seun nie.
Maar dit was juis waar die mense van Samuel se tyd die groot fout gemaak het. Want juis daar by die tabernakel was alles nie pluis nie. Juis daar het die grootste versoekinge op Samuel gewag. Juis daar het die gevaar bestaan dat hy die pad kon byster raak en heeltemal afdwaal.
Daar het hy elke dag die goddeloosheid van die priesters Hofni en Pinehas, die seuns van Eli, gesien. Hier moes hy aanskou hoedat hierdie twee seuns hulle heilige amp nie waardig was nie want deur hulle optrede was hulle veragters van God en sy heilige dinge. Deur hulle optrede het hulle gemaak asof daar nie ’n Here bestaan aan Wie hulle verantwoording sal moet doen nie. Eerbied vir die heilige dinge het hulle nie geken nie.
Vir ’n jong opgroeiende seun was hierdie dinge beslis nie tot ’n voorbeeld nie. Selfs die optrede van Eli onder wie se sorg en leiding Samuel groot geword het, was vir Samuel nie tot ’n voorbeeld nie. Die optrede van sy seuns het Eli wel gehinder, maar verder het dit nie gekom nie. Hy het nie met hulle oor hulle skandelike gedrag gepraat nie. Hierdie optrede van sy seuns was tot ’n groot mate ook Eli se eie skuld.
Hy het hulle hopeloos te slap groot gemaak. Hy was miskien ’n goeie mens met ’n sagte hart, maar ook dit het hom nie verontskuldig nie.
Daarom kan ’n mens verwag dat daar in sy opvoedingstaak nie veel invloed op Samuel uitgegaan het nie.
Skaamteloos het die sonde in Samuel se omgewing geheers. So jonk as wat hy was, het Samuel dan ook in baie opsigte alleen gestaan. Hy was ver van die huis van sy vroom ouers wat hom seker die regte opvoeding sou gegee het. Hy kon hulle slegs een keer per jaar sien wanneer hulle hom kom besoek het.
Samuel was oop en bloot aan die genade van die duiwel en sy versoeking oorgelewer.
Dit sê baie vir Samuel dat hy sy godsdiens vasgehou het en die God van sy ouers en sy gebooie nie verlaat het nie. Dit verbaas ’n mens eintlik dat hy nie in die versoekings van die sondige lewe by die tabernakel in Silo verval het nie.
Baie kinders het al by baie ligter versoekings tot ’n val gekom.
Miskien sien jy op skool, by die bioskoop of op straat baie van hierdie sondes raak. Miskien is jy ook nog jonk en is jy alreeds in die koshuis. Daar is gedurig soos dit onder kinders gebeur, losbandige praatjies in omloop. Baie losbandige dinge word miskien deur jou gesien en gehoor. Die verleiding lok van alle kante.
Om dan vas te staan en nie agter die stroom aan te gaan nie kos baie moed, geloofsmoed. Alleen kan jy dit nie doen nie. Slegs jou geloof en jou liefde vir Christus kan jou dan help. Maar dan moet jy ook bid om die krag daartoe.
Die vraag sal natuurlik by jou ontstaan: Hoekom is die Christelike godsdiens dan die godsdiens van moenies? Gedurig word jy gewaarsku en gedurig word daar aan jou gesê jy mag nie dit doen nie en jy mag nie dat doen nie. Jy mag nie aan skinder, vloek of leuens vertel nie, jy mag nie dobbel nie, jy mag nie dans nie, jy mag nie na verkeerde partytjies gaan nie. By hierdie dinge is daar sommer nog baie ander dinge wat jy ook nie mag doen nie.
Op bostaande wil ek antwoord dat die Christelike godsdiens nie ’n godsdiens van moenies is nie. Maar jou hele optrede moet bepaal word deur een ding: Jou liefde vir Christus.
As ek Christus waarlik liefhet, sal ek myself eers altyd afvra: Wil Hy hê dat ek na die of daardie partytjie gaan? Wil Hy hê dat ek aan allerhande goddeloosheid moet deelneem, dinge waardeur sy Naam en sy eer gelaster word?.
Swak kerkbesoek, swak katkisasiebesoek, ’n gebrek aan ywer is altyd tekens dat daar met die liefde vir Christus iets skort.
Samuel het God en sy gebooie liefgehad.
Daarom kon hy deur die genade van die Here vasstaan teen die versoekings.