Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Langenhoven het goeie raad oor hoogmoed en nederigheid: jy mag maar hoogmoedig wees onder jou meerdere maar jy moet nederig wees onder jou mindere; só sal jy minstens nie jou eie waardigheid of ander s'n kwes nie. Hy herinner ons ook dat nederigheid nooit kan val nie...
HOE HET BOEKE IN SA ONTSTAAN?
SKOOLPROJEK
Lees reeks by Skoolprojekte
Sedert die eerste mense taal ontdek het, wou hulle verhale en inligting aan ander mense oordra en deur tekeninge (en later skrif) kon hulle die verhale en inligting bewaar.
Eerste boeke
Die eerste 'boeke' in Afrika was dalk die rotstekeninge wat duisende jare gelededeur die San gemaak is. Vandag kan ons nog van hul jagtogte en oorloë in daardie tekeninge 'lees'.
Leenbiblioteke
Toe Europiërs in Suid-Afrika kom woon het, het sommige van hulle boeke saamgebring. In 1761 het Joachim von Dessen 4 565 boeke nagelaat om die eerste gratis biblioteek in die land te vorm en in 1829 het die Suid-Afrikaanse Openbare Biblioteek in Kaapstad geopen. Mense wat nie boeke kon bekostig nie kon dit nou van die biblioteek leen.
Vandag is daar meer as 1 600 openbare biblioteke in ons land waar jy boeke, plate, kasette, cd's, afdrukke en video's mag uitneem. Daar is spesiale biblioteekdienste wat boeke aan mense in hospitale, tronke, die weermag en ouetehuise verskaf. Mobiele biblioteke in spesiale 'boekbusse' besoek afgeleë gemeenskappe wat nie biblioteke het nie.
Koerante en Uitgewers
Wanneer 'n boek uitgegee word, word baie eksemplare gedruk sodat die inligting daarin aan almal beskikbaar is. Die eerste Suid-Afrikaanse drukperse het koerante en pamflette uitgegee en goeie koerante is steeds 'n belangrike manier om die publiek op hoogte van nuusgebeure tehou. Thomas Pringle, 'n 1820-Britse setlaar, was die eerste redakteur van The South African Commercial Advertiser (1824) wat die eerste onafhanklike koerant in die Kaap was. Pringle was 'n toegewyde voorstander van persvryheid en het geglo dat koerante vry van alle amptelike inmenging moes wees. Anders as in 2011 in Suid-Afrika onder 'n swart kommunistiese regering wat besig is om wetgewing uit te bring om alle persvryheid weg te neem, was daar vroeër deurlopend 'n groot mate van persvryheid.
Die uitgewersvereniging van SA het ongeveer 120 lede waarvan 12 as groot, 7 as medium, en die res as klein geklassifiseer word. 'n Groot verskeidenheid boeke word in al 11 amptelik tale uitgegee. Uitgewers sluit in die Struik New Holland Groep, Peter Philip, Nasou Via Afrika, Shuter en Shooter, Ravan Press en vele ander. Bekende Suid-Afrikaanse skrwers sluit in Nadine Gordimer, wat in 1991 die Nobelprys vir Letterkunde ontvang het, Damon Galgut, Es'kia Mphalele, Mongane Wally Serote, Wilbur Smith, Njabulo Ndebele, Can Thema en talle ander.
Tantième en Kopiereg
Elke keer wanneer 'n boek uitgegee word, word 'n ooreenkoms – 'n kontrak – tussen die skrywer en uitgewer aangegaan. Daarin belowe die uitgewer gewoonlik om die skrywer tantième of outeursgeld te betaal wat 'n persentasie van die winkelprys van elke verkoopte boek sal uitmaak. Hoe meer eksemplare verkoop word, hoe meer geld kry die skrywer.
Sodra 'n boek uitgegee word, word die skrywer deur kopieregwette beskerm. Dit beteken dat niemand sonder toestemming die werk mag dupliseer nie.
Suid-Afrikaanse Boeke vir Kinders
Een van die eerste en bekendste boeke vir jong lesers was 'Jock of the Bushveld' deur sir Percy FitzPatrick wat in 1907 verskyn het. Die FitzPatrick-toekenning vir die skrywer van 'n SA-kinderboek van hoogstaande gehalte is nog net 'n paar keer toegeken.
Vir baie jare was Suid-Afrikaners aangewese op boeke wat in Engeland of Amerika uitgegee is. Die werk van skrywers soos Freda Linde, Hester Heese, Elsabé Steenberg en Rona Rupert is eers net in Afrikaans uitgegee, maar deesdae het baie kinderboeke in beide tale verskyn. Gewilde skrywers is Marquerite Poland, Lesley Beake, Maretha Maartens, Dianne Case, Peter Slingsby en Cicely van Straten. Suid-Afrika het ook uitstekende boek-illustreerders, waaronder Niki Daly, Alida Bothma, Cora Coetzee, Joan Rankin en vele ander.
Hoe 'n Boek Ontstaan
'n Boek begin met 'n skrywer se idee. Nadat die skrywer die boek geskryf het, word die manuskrip na 'n uitgewer gestuur waar die redakteur besluit of dit gepubliseer gaan word. Die redakteur bring die nodige veranderinge en korreksies aan en 'n boekontwerper beplan en maak 'n uitleg van die bladsye. Op hierdie stadium is die produksiekoste van die boek ook reeds bepaal. Deesdae gebruik uitgewers rekenaars om 'n elektroniese kopie van die boek te maak. Hierdie elektroniese kopie word na 'n drukker gestuur. Nadat dit opgemaak en in die omslag ingebind is, gaan die voltooide boek na die boekhandelaar waar jy dit kan koop.
Verskuifbare Letters
In die vroegste tye is boeke een vir een met die hand geskryf. Dit was 'n moeisame proses om veelvuldige kopieë van 'n boek te maak en kon baie jare neem. Later is boeke gekopieer met gebruik van houtblokke. 'n Kopie van elke bladsy van die boek is gemaak deur die agtergrond weg te kerf sodat net die letters of illustrasie uitstaan. Die houtblok is dan met ink behandel en velle papier is daarop gedruk om kopieë daarvan te maak.
Johann Gutenberg van Mainz in Duitsland word beskou as die uitvinder van moderne drukwerk omdat hy in 1640 die drukpers met verskuifbare drukletters ontwikkel het. Sy pers het vervangbare metaalletters en leestekens gebruik wat maklik met gietvorms gemaak kon word en dit het die wêreld verander. Boeke kon nou vinniger en goedkoper vervaardig word sodat meer mense dit kon bekostig.
Die Dewey-Desimale Klassifikasie
In die meeste biblioteke word boeke volgens 'n nommerstelsel, die Dewey-desimale klassifikasie, gerangskik. Die nommers wat gebruik word is die volgende:
000-099 – Algemene werke; alle ensiklopedië en katalogusse.
100-199 – Filosofie: hoe en waaroor ons dink.
200-299 – Godsdiens: Die Bybel, die Koran, ens.
300-399 – Sosiale wetenskappe: ons lewenswyse, regering en opvoeding, ens.
400-499 – Taal: woordeboeke, taalkunde.
500-599 – Suiwer Wetenskappe: fisika, skeikunde, geologie, natuurlewe, sterrekunde, biologie, ens.
600-699 – Toegepaste Wetenskappe: boukunde, kookkuns, geneeskunde, boedery, ingenieurswese, ens.
700-799 – Die Kunste: musiek, sport, stokperdjies, ens.
800-899 – Letterkunde: digkuns, drama, alle fiksie wat dan alfabeties volgens naam van skrywer op aparte rakke geplaas word.
900-999 – Geskiedenis, aardrykskunde, biografië – mense en plekke van alle lande en alle tye.