Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Bid sonder ophou, bid weer en weer - Hy sal op sy tyd aandui dat sy ore nie vir ons gebede doof was nie, hoewel dit in die oë van mense lyk asof Hy dit in die wind slaan.
DIE BROEDERBOND IN DIE AFRIKANER- POLITIEK (6)
B M Schoeman
(Lees reeks by AB in die Afrikanerpolitiek )
Met die skrywe van hierdie boek in 1982 was dit nie Beaumont Schoeman se bedoeling om verdere onthullings van die Broederbond se geheime te maak nie. Sy doel was om te illustreer watter rol die Broederbond in die Afrikanerpolitiek gespeel het. Schoeman slaag daarin om aan die hand van eie dokumentasie aan te toon dat die Broederbond, in stryd met sy eie grondwet en reglement, ‘n instrument in die hand van ‘n bepaalde politieke party was ten tye van dié publikasie. Wat Schoeman toe nog nie kon weet nie is hoe ver die grense van die Broederbond se verraderlikheid sou uitbrei tot hulle op aandrang van die internasionale geldmag Suid-Afrika aan ‘n korrupte swart regering oorgegee het. Vandag opereer en skuil die Broederbond onder die naam Afrikaner Bond (AB) en is selfs meer listig as tevore terwyl hulle steeds die toutjies agter die gordyn probeer trek.
Piet Meyer en Nic Diederichs
Piet Meyer was in die veertigerjare in diens van die OB en het ook gelyktydig die pos van hulpsekretaris van die Broederbond beklee. Nic Diederichs was op daardie tydstip ’n lid van die UR en hoofamptenaar van die Reddingsdaadbond. Hulle en ander lede van die UR was egter in soveel skemas en aksies betrokke dat botsings noodwendig van tyd tot tyd moes volg. Daarby was hulle en die ander UR-lede in verskillende politieke kampe, wat die moontlikheid van botsings verder verhoog het. Soms het geldelike oorweginge ook nog bygedra om die warboel te vergroot.
Op politieke gebied het Meyer, Diederichs, Hertzog en Wickus du Plessis se denke taamlik in dieselfde rigting geloop, hoewel hulle nie oor alles eensgesind was nie. Meyer, Diederichs en Du Plessis was meer Nasionaal-sosialisties georiënteerd, terwyl Hertzog ’n groot ondersteuner van die sosialisme was. Dat hierdie verskillende strominge ’n groot belemmerende faktor in die UR moes wees, kan nie betwyfel word nie. Dit was waarskynlik een van die belangrikste redes waarom Verwoerd probeer het om al die verskillende organisasies, veral op arbeidsgebied, in een liggaam onder beheer van die UR, saam te snoer.
Die OB het ’n eie Arbeidsfront onder leiding van Meyer gehad. Dit het heelwat ooreenstemming met Hertzog se idees getoon. Op 14 Julie 1944 teken Hertzog die OB se arbeidstrategie en -filosofie soos volg aan: “In die verlede was ons volkstrewe gedra deur die Nasionale Party wat nasionaal sentimenteel was. Dit het gestreef om die nagedagtenis van Paul Kruger en Andries Pretorius te eer. Die Nasionale Party kon nooit besef dat ons stryd ‘n broodstryd is nie en hierdie broodstryd was toe maar oorgelaat aan die vakunies ... Die OB het weer die volk herenig in ’n anti- imperialistiese en anti-kapitalistiese strewe. Mens kan alleen die kapitalisme beveg met arbeid — arbeid is die enigste moontlike wapen daarteen.”
Meyer se Arbeidsfront het gebruik gemaak van lesings wat aan uitgesoekte groepe mense voorgedra is. Daarin is die organisasie se strategie vir die toekoms soos volg geskets: Alle families word saamgebind tot ’n eenheid. Hulle vorm die kommando’s van die OB. Daarnaas bestaan daar ook arbeidsfamilies in die vorm van arbeidskringe. So vorm alle persone werksaam in die boubedryf een familie; al die mense werksaam in die vervoerbedryf ’n “vervoerfamilie”; almal in die “kultuur”, soos professore en onderwysers, een “kultuurfamilie”; almal in die gesondheidswese ’n “mediese familie”. Al hierdie arbeidsfamilies moet georganiseer wees as “organiese eenhede” en hulle moes met groot mag beklee word. Verteenwoordigers van al hierdie arbeidsfamilies kan dan saam ’n sogenaamde beroepsraad vorm. Die hele arbeidsbevolking vorm op hierdie wyse ’n “arbeidslaer” en hierdie arbeidslaer sal die magtigste faktor in die nuwe staat wees. “Die eerste stap sal dan moet wees om die kapitalisme te vemietig. Dit sal die revolusie wees. Na die revolusie sal die kontra-revolusie kom, wat sal beteken die vernietiging van die kommunisme. Die derde stap sal dan wees die stigting van die Arbeidsrepubliek.”
Meyer se idees in verband met die georganiseerde arbeid het sy eie mense dikwels in die war gehad. Op 7 Augustus 1944 teken Hertzog na aanleiding van ’n gesprek met Gert Beetge, toe reeds ’n bekende in vakbondkringe, soos volg aan: “Dr. Piet Meyer is die feitlike hoof daarvan (die OB se Arbeidsfront), maar sy idees is so vergesog en akademies dat Beetge en byna al sy vriende besef dat dit onmoontlik is om daarmee te vorder. Dit mag goed wees, maar hulle as gewone lede kan dit nie verstaan nie. Beetge se dat Piet Meyer ook nie elke dag dieselfde praat nie en dat hy prontuit vir hulle sê hulle moet hom ook nie kwalik neem nie as hy een dag so sê en die ander dag so. Die een dag sê hy hulle moet die vakvereniginge verower, die ander dag praat hy asof hulle niks met die vakvereniginge wil doen nie.”
In die loop van 1944 het dr. J.F.J. (Hans) van Rensburg, hoofleier van die OB, in gesprekke met sekere UR-lede laat blyk dat hy nie ongeneë is om oor samewerking met die Party te gesels nie. By een van die gesprekke op Van Rensburg se plaas buite Pretoria het hy met ’n dokument van Wickus du Plessis vorendag gekom. Op daardie tydstip was Du Plessis steeds lid van die UR van die Broederbond. Dit was ’n konsepplan vir die skepping van ’n politieke front deur die OB. Volgens hierdie plan sou die OB ’n politieke front stig wat in die volgende algemene verkiesing kandidate sou stel. Een van die bestuurslede wat Du Plessis vir die nuwe politieke front voorgestel het, was Piet Meyer.
Soos so dikwels in daardie jare met politieke planne van Du Plessis die geval was, was hierdie een ook maar bra onbekook en gelukkig het niks daarvan gekom nie. Dit illustreer egter weer hoe sommige UR-lede altyd stroomop en dikwels lynreg in stryd met die partyleiding van destyds was. En Meyer se naam is voortdurend in daardie kamp aangetref.
Meyer se werkmetode in daardie jare was om sekretaris van verskeie organisasies te word. Aanvanklik was hy organiseerder van Hertzog se Nasionale Raad van Trustees, maar hy het later bedank en aan die leiding van die OB se Arbeidsfront gestaan. Hy was onder meer ook sekretaris van Trekmaats, ’n front van die Broederbond, en ook van die FAK. Verder het hy ook die pos van hulpsekretaris van die Broederbond beklee. Die meeste van hierdie poste was besoldigde betrekkings.
Oor Meyer se posisie destyds skryf Hertzog op 6 Oktober 1944: “Piet Meyer het aan my laat blyk dat hy aspirasies het en het begin klem daarop lê van die belangrikheid dat hy sekretarisskappe van verskillende dinge beheer. Hy het dikwels daaroor gespog van hoedat hy weet om met die UR te werk om te verkry wat hy wens. Mettertyd het hy geword sekretaris van die FAK, sekretaris van Trekmaats, ens. Deurdat Piet sekretaris was van hierdie verenigings en apart van die manier om ’n besoldiging van elkeen te kry, sodat geeneen werklikwaar ooit geweet het wat die totale van die sa arisse van Piet Meyer was nie, het hy die verenigings begin stuur soveel hy kan in die rigting van simpatie met die OB en nie met die Party nie. Hier het hy sy ondergang veroorsaak, veral toe hy gebruik maak van Trekmaats om die OB te bevorder.”
Wat gebeur het, is dat sekere “Landdroste” (leiers) van Trekmaats sterk beswaar gemaak het teen Meyer se optrede. Hulle het hom openlik daarvan beskuldig dat hy teen die belange van die HNP optree. Die saak is ook op die Bondsraad van Oktober 1944 geopper en dit was veral mnr. P.M.K. le Roux, die latere Minister van Landbou, wat sterk standpunt teen Meyer se optrede ingeneem het.
Kort hierna het die Partylede van die UR die saak verder gevoer en ernstige eksepsie geneem teen Meyer se aktiwiteite ten behoewe van die OB teen die HNP. Dit was veral Verwoerd en Dönges wat die leiding geneem en besluit het dat Meyer se vlerke geknip moes word. Hulle het aangevoer dat dit ’n ongesonde toedrag van sake was dat ’n persoon soveel poste gelyktydig beklee, aangesien dit lei tot verdeelde lojaliteit en so ’n persoon ook nie weet aan wie hy verantwoording verskuldig is nie.
Die UR het besluit om aan Meyer ’n keuse te stel: hy kon of aanbly as hulpsekretaris van die Uitvoerende Raad, of sekretaris van die FAK. Meyer het toe bedank en die pos by die OB aanvaar.
Dat Meyer se oordeel by meer as een geleentheid bevraagteken kon word, word bevestig deur die interessante verhaal wat mnr. Louis Wiesner, een van die eerste drie Afrikaanse omroepers by die SAUK, oor mnr. Kowie Marais vertel. Wiesner was in daardie tyd ’n lid van die OB en diep betrokke in die woelinge wat gevolg het nadat die Smuts-regering teen sekere OB-manne begin optree het. Kowie Marais, advokaat, latere regter en lid van die PFP, is in 1941 geïnterneer. Wiesner het hom tydelik uit die interneringskamp gekry op voorwendsel dat hy sy dienste benodig het as regisseur vir sy rolprent Donker Spore. Na sy vrylating was Marais feitlik ’n voortvlugtige en dit was Wiesner se taak om hom uit die hande van die polisie te hou.
Een aand het Wiesner en sy vriendin, mej. Joan Human, sekretaresse van Verwoerd en ook vroueredaktrise van Die Transvaler, in Pretoria by ’n klompie mense gaan kuier. Daar het ’n vrou Marais se skuilnaam en sy bewegings teenoor die aanwesiges uitgelap. Wiesner en mej. Human het dadelik vertrek om Marais se vrou, mev. Ciska Marais, te gaan waarsku. Die volgende oggend het Wiesner en mej. Human vroeg by die kantoor van Die Transvaler se ou gebou naby die Johannesburgse stasie gaan stelling inneem om Meyer, wat in dieselfde gebou werksaam was, te waarsku. Op daardie oomblik was Marais op Vredefort en Wiesner sou hom binne enkele dae na sy volgende wegkruipplek op ’n plaas by Mooi Nooi vervoer.
Meyer was nie baie bekommerd oor Marais se veiligheid nadat Wiesner hom van die vorige aand se voorval in Pretoria vertel het nie. Wiesner het voorgestel dat hy dadelik Vredefort toe ry en Marais wegneem, maar Meyer het egter volgehou dat dit nie nodig was nie. Hy het gesê Wiesner is “alarmisties”. Daardie selfde middag teen twee-uur is Marais in hegtenis geneem.
Meyer het voor sy aanstelling as voorsitter van die SAUK se Beheerraad ’n klompie jare by Rupert se Rembrandt-organisasie gewerk. Dit is bekend dat Meyer se vriend Hertzog baie te doen gehad het met sy aanstelling by die SAUK, maar dit is ook bekend dat hy nie Verwoerd se keuse was nie. In 1959 toe ’n nuwe voorsitter van die SAUK gesoek is, was Hertzog reeds Minister van Pos- en Telegraafwese. Toe Verwoerd die saak met Hertzog bespreek het, is die naam Piet Meyer aan hom genoem. Hertzog self skryf dat Verwoerd gevoel het dat Meyer nie die regte keuse sou wees nie. Hy het ander name in gedagte gehad, onder meer mnr. M.C. Botha, die latere Minister van Bantoe-administrasie en Ontwikkeling, en dr. L.I. Coertze, die destydse LV vir Springs.
Sonder om Verwoerd te raadpleeg, het Hertzog vir Meyer oor die aangeleentheid gaan pols. Dit het Verwoerd baie omgekrap. Die saak het toe so verloop dat Verwoerd uiteindelik genoodsaak was om dit aan die Kabinet voor te lê. Die teenkanting teen Meyer het verras. Die oorgrote meerderheid van die kabinetslede was teen Meyer se kandidatuur. Dönges, Paul Sauer, Eric Louw, Frans Erasmus en Ben Schoeman was onder die kabinetslede wat teen Meyer se aanstelling was. Die besware wat teen hom geopper is, was sy gebrek aan sakekennis en sy vroeëre OB-verbintenis.
Verwoerd het gesê hy soek na ’n sterk man as hoof van die SAUK en dat hy graag die pos uit die geledere van die LV’s wou vul. M.C. Botha was sy eerste keuse. Daar is toe ooreengekom dat as Botha sou weier, die pos aan Meyer aangebied sou word. Uiteindelik is Meyer in die pos aangestel nadat M.C. Botha die aanbod van die hand gewys het. So het Meyer dan binne die bestek van ’n klompie maande voorsitter van die SAUK en ook voorsitter van die Uitvoerende Raad van die Broederbond geword toe prof. H.B. Thom die voorsitterskap van die AB neergelê het.
’n Goeie verhouding het later tussen Verwoerd en Meyer ontwikkel, veral vanweë Meyer se posisie by die Broederbond. Anders as Strijdom het Verwoerd, nadat hy premier geword het, steeds ’n noue verbintenis met die Broederbond gehandhaaf. As egter geoordeel moet word aan die uitlatings van Meyer aan die beginjare van Vorster se premierskap, kan dieselfde nie van hom en die nuwe Eerste Minister gesê word nie. In een stadium, nadat Vorster reeds ’n rukkie Eerste Minister was, het hy by geleentheid van ’n partytjie vir AB-amptenare by sy huis in Emmarentia, in Johannesburg, opgemerk: “Die eerste taak van die Broederbond is nou om van Vorster ontslae te raak.”
By ’n ander geleentheid het Meyer hom in dieselfde skerp terme teen Vorster uitgespreek. Dit was in Februarie 1968. Wyle Daan Goosen, in daardie tyd sekretaris van die Akademie vir Wetenskap en Kuns, vertel dat Meyer hom en ’n paar vriende na sy huis in Johannesburg genooi het. Dit was een oggend baie vroeg na die sogenaamde “vakansie-episode” van die vorige jaar en Vorster se aanval op S.E.D. Brown en die SA Observer by Koffiefontein. Baie mense in die Broederbond het na aanleiding hiervan ernstige gesprekke gevoer en die paar man wat Meyer daardie oggend gaan spreek het, het dus ’n veel wyer kring verteenwoordig. Benewens Goosen was mnre. J.A. Marais, en W.T. Marais, albei Volksraadslede, en dr. A.J. van Wyk, van die Afrika- Instituut, ook teenwoordig. Almal was op daardie tydstip ook lede van die Broederbond.
Meyer het aan sy besoekers gesêdat hy na die Koffiefontein-toespraak ’n brief aan Vorster geskryf het waarin hy hom baie emstig aangespreek het oor sy aanval op Brown en hom meegedeel het dat die dinge waaroor hy Brown aangeval het, totaal onwaar was. Hy het aan hulle gesê hy beskou dit as ’n groot onreg wat Vorster teenoor Brown gepleeg het en daarom sal sy brief aan Vorster eendag nog openbaar gemaak moet word.
Toe het Meyer betekenisvol opgemerk dat hy oor “baie vertroulike inligting” beskik wat hy nie openbaar mag maak nie, maar wat daarop dui dat as nie vinnig van Vorster ontslae geraak word nie, dit verby met die Witman in Suid-Afrika sal wees. Daarom het hy soveel waardering vir die werk wat sekere mense in Pretoria doen. Hy het ’n ernstige beroep op die marine daardie oggend in sy kantoor gedoen om voort te gaan met hulle werk. Hy weet van hulle loop gevaar om hulle poste te verloor, maar hy wil by hulle pleit om voort te gaan.
Toe het Meyer ook aan hulle gesê dat die Bondsraad van Oktober van daardie jaar op ’n openlike konfrontasie met Vorster gaan uitloop. Hy het hulle meegedeel dat Vorster vir Piet Koornhof na hom gestuur het om hom te vra om as voorsitter van die Broederbond te bedank. Meyer het Koornhof meegedeel om aan Vorster te gaan sêdat as hy hom nie meer as voorsitter van die Broederbond wil hê nie, hy hom sal moet laat uitstem.
Die Bondsraad het heeltemal anders verloop as wat Meyer in die vooruitsig gestel het. Die verrigtinge was reeds aan die gang toe Vorster daar opgedaag het. Die persone wat daardie oggend in Februarie by Meyer aan huis was, het gewag op die botsing wat Meyer beloof het, maar niks het gebeur nie. Later in die Bondsraad, nadat Vorster ’n politieke toespraak van sowat ’n uur gelewer het, het Meyer ’n nota aan Goosen gestuur waarin hy hom meegedeel het dat hy van strategie verander het.
Dit was na die Bondsraad dat sake heeltemal anders begin verloop het. Meyer het nie weer ’n skewe woord oor Vorster gesê nie en dit het mettertyd duidelik geword dat Vorster daarin geslaag het om Meyer volkome agter hom te laat inswaai. Daarmee was die inpalming van die Broederbond ook voltrek en sou dit in die daaropvolgende maande en jare gedienstig alles doen wat Vorster van hom verwag het. Die strategie het inderdaad verander.
Vervolg...