Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die volk in 1 Kor 10:6 se ondankbaarheid vir God se genadegawes het dit laat verander in oordeel. Dit verskil nie van ons volk vandag nie – in plaas van gehoorsaam te lewe uit dankbaarheid sondig ons volk steeds voort met dobbel, huweliksontrou, aborsie en alles wat die godlose owerheid aan ons voorhou as veroorloof.
WITMAN, WAAR IS JOU VRYHEID? (1)
Dr Willie Lubbe
"’n Bepaalde gemeenskap of volk wat wrywing of botsing wil vermy of verminder deur homself landelik af te grens - nie in eensame afsondering nie, maar in goeie naasbestaan - mag die voorreg om dit te doen nie ontsê word nie. Wanneer die blanke volk hier in Suid-Afrika, wat ’n selfstandig en erkende volk is met eie nasionale belange, byvoorbeeld vir hom ’n leefruimte wil skep, homself wil bly sonder oneerlike bybedoelings, behoort dit hom gegun te word. Dit is ook vryheid in geregtigheid en liefde."
Is daar nog ’n drang by die mens soos die drang na vryheid? Die begeerte om vry te wees, is oermenslik, is algemeen menslik, is wesensdiep in die mens se natuur ingeskape. Dit kom voort uit die suiwerste en edelste roersele van die mens se gees. Tot watter offers - van goed en bloed - het die wil om vry te wees die mensdom nie al gedryf nie! Wie het dit meer raak en roerend gesê as ons eie Leipoldt oor ons eie konsentrasiekampkind:
“Jy het van ons jou plig geêrwe –
Plig om as kind vir ons land te sterwe!
Al wat jy wen, is dat ons onthou:
Meer was die vryheid as kind of vrou!”
Die ou Romeine het al eeue gelede namens alle mense vir alle tye gesê: “Dis soet om vir die vaderland te sterwe.” Waarom is “die vaderland” iets besonders? Omdat dit die simbool, ja, die waarborg is van onbelemmerde vryheid. Eie vryheid sonder eie vaderlandsbodem kon geen volk op aarde geniet nie.
Geen wonder nie dat deur die eeue heen, ook in ons eie geskiedenis - dink maar aan die Voortrekkers en die vegters in ons vryheidsoorloë - vaderland en vryheid steeds ’n onlosmaaklike twee- eenheid in die harte van volksgenote was. En die liefde vir vaderland en vryheid - ’n onuitbluslike vuur!VRYHEID – EN CHRISTEN
“Die doeltreffendste gif om mense tot vernietiging te bring, is om hulle te laat roem in hulleself, hulle eie wysheid en wilskrag. Die enigste weg na veiligheid is om eenvoudig die leiding van die Here te volg. ” (Johannes Calvyn)
VRY - EN TOE SLAAF
God het die mens in sy oorspronklike staat gemaak na sy Beeld en gelykenis -goed, regverdig en heilig, en in staat om met menslike wil in alles ooreen te stem met die Goddelike wil. Die mens was dus in volkome harmonie met God en daarom as geskape wese ook volkome vry.
SLAAF VAN DIE SONDE
Ná die sondeval in die paradys is die mens se toestand onvry omdat die mens nou slaaf van die sonde is. (Johannes 8:34-Jesus sê vir hulle: Elkeen wat sonde doen, is ’n slaaf van die sonde.) Die mens staan nou onder ’n vreemde mag en is nie meer in diens van God nie. (Rom. 6:20 - Toe julle slawe van die sonde was, was julle nie in diens van God nie.) Sy harmonie met God is verbreek en daarmee ook sy vryheid. Die sonde voer nou heerskappy oor hom, is baas oor hom en hy gehoorsaam die begeertes van sy sterflike, aardse bestaan (Rom. 6:12,14). Waar gehoorsaamheid aan God vir hom vryheid, ware vryheid beteken het, beteken sy ongehoorsaamheid aan God nou vir hom onvryheid, selfs verslawing - verslaaf deur en aan die sonde. Hierdie ware toestand van hom - onvry in sy ongehoorsaamheid aan God - ken die sondige mens nie, tensy God dit aan hom openbaar. Die sondige mens self - onvry soos hy is -verkeer in die waan dat hy vry is. So, byvoorbeeld, sien die klassieke Griekse denke die mens as die slaaf van geeneen, aan niemand anders onderhorig nie.
SLAAF VAN DIE WET
Die mens se ware toestand openbaar God aan die mens wanneer God sy Gebooie of Wet aan die mens voorhou (Rom. 3:10). In sy Wet druk God sy wil vir die mens uit - sy standaard vir gehoorsaamheid. En nou sien die mens eers werklik hoe ver hy afwyk van God's wil, hoe groot sy ongehoorsaamheid is, en hoe onmagtig hy is om God's wet na te leef. Hy staan onder die wet (Rom. 6:14) en word slaaf van die wet.
GEBONDE AAN DIE DOOD
Die gebod van God wat bedoel was om vir die mens lewe te bring, beteken nou vir hom die dood (Rom. 7:14), want dit veroordeel hom. Die vrug van die mens se sonde - die uiteinde daarvan - is die dood (Rom. 6:21). Die sondige mens is dus nie net slaaf van die sonde en slaaf van die wet nie maar ook gebonde aan die dood - ’n ewige dood waar hy van God verlate is.
VRYGEMAAK
Om weer vry te wees, moet die mens dus vrygemaak word - uit die slawerny van sonde, wet en dood, vrygemaak vir God en tot die lewe. Hierdie vrymaking geskied deur die ingrype van God deur Jesus Christus en die mens se geloof in die verlossing van Christus. Die mens as slaaf van die sonde word deur Christus weer vrygemaak (1 Kor. 6:20; 7:23 en Openb. 5:9). So word mense nou diensknegte van God en is die slawerny van sonde, wet en dood deur Christus verbreek (Rom. 7:25). Lewendig vir God beteken julleself vrywillig as slawe tot beskikking stel tot vrywillige gehoorsaamheid aan God (Rom. 6:16)
NUWE STATUS - NUWE DRYFVEER - NUWE VERMOË - NUWE BESTEMMING
By die nuwe status (vrygemaakte) ontvang die mens dus ’n nuwe dryfveer van God: die nuutgemaakte wil en begeerte om God te gehoorsaam en God te behaag. Daarby skenk God uit louter genade aan die mens ’n nuwe vermoë deur die krag van die Heilige Gees, wat die vrygemaakte, nuutgemaakte mens bekragtig tot ’n nuwe lewe in God. Deur die oorwinning van Jesus Christus en met die krag van die Heilige Gees staan die vry mens voor God almagtig.
Hierdie vry voor God bring die gelowige voor ’n nuwe bestemming. Rom. 6:22 - “Maar nou - julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe.” Nie meer ewige dood nie, maar ewige lewe by God en met God - dis waar vryheid heen lei.
GEREGTIGHEID EN LIEFDE
Hierdie gehoorsaamheid aan God sluit ook in geregtigheid en liefde: teenoor God en teenoor die medemens. Want liefde vir God en vir die naaste is die samevatting van God's wet; liefde is ook die vervulling van God's wet. En geregtigheid beklemtoon die trou of getrouheid aan die regte verhouding, die liefdesverhouding, met God en met die naaste.
Vryheid in gehoorsaamheid aan God beteken dus ook vryheid in geregtigheid en liefde jeens God en jeens die medemens. En is daar ’n meer verhewe vryheid denkbaar?
VRYHEID EN VEELVOLKIGHEID
In ’n veelvolkige samelewing, soos in Suid-Afrika, is die saak ingewikkeld wanneer vryheid in geregtigheid en liefde deur almal nagestreef moet word. Die Christen se verantwoordelikheid is baie groot in so ’n samelewing waar ook baie nie-Christene voorkom. Om te beantwoord aan die Goddelike eis van vryheid in geregtigheid en liefde moet ’n toestand gesoek word waar ongeregtigheid en onmin sover moontlik uitgeskakel is. Almal stem tog saam dat daar noodwendig botsende nasionale belange in ’n veelvolkige gemeenskap is. Gedurige botsing en wrywing is vrugbare teelaarde om die mens weer onvry te maak sodat hy God en sy naaste uit die oog verloor. Hy kan weer slaaf van mense word, en so in stryd met God en naaste verval dat daar geen sprake van geregtigheid en liefde meer is nie. Wrywingsvlakke moet op ’n christelike manier sover moontlik uitgeskakel word sodat ’n lojale, onbeangste reg en liefde uitgeleef kan word.
AFGRENSING GEOORLOOF
’n Bepaalde gemeenskap of volk wat wrywing of botsing wil vermy of verminder deur homself landelik af te grens - nie in eensame afsondering nie, maar in goeie naasbestaan - mag die voorreg om dit te doen nie ontsê word nie. Wanneer die blanke volk hier in Suid-Afrika, wat ’n selfstandig en erkende volk is met eie nasionale belange, byvoorbeeld vir hom ’n leefruimte wil skep, homself wil bly sonder oneerlike bybedoelings, behoort dit hom gegun te word. Dit is ook vryheid in geregtigheid en liefde. Aan die anderkant, wie meewerk tot die ondergang van ’n volk se bestaan, ontken die beginsel van vryheid in geregtigheid en liefde.
VRYHEID EN VERANTWOORDELIKHEID
Soos reeds gesien, het die mens ware vryheid verkry deur die versoeningswerk van Jesus Christus. Sy opstanding het die sondemag en die dood oorwin. Die mens het egter nie daardeur die reg op absolute vryheid gekry nie, maar God verwag dat die vrygemaakte mens uit dankbaarheid op hierdie genadegawe met gehoorsaamheid sal antwoord. Om werklik vry te wees (Gal:l), moet die mens gehoorsaam wees aan sy wil. Die mens wat onafhanklik van God wil voortlewe, verval in selfverheffing en onvryheid. Wanneer die mens sy ware vryheid in gehoorsaamheid aan God vind en uitleef, leef hy ook sy vryheid met verantwoordelikheid uit. Want niemand kan méér verantwoordelik optree as die mens wat aan God gehoorsaam is nie.
MENSLIKE VRYHEIDSIDEES
Die vryheidsgedagte word vandag wêreldwyd gehoor en gepropageer met slagspreuke wat onverantwoordelike vryheid verkondig in ongehoorsaamheid aan God se wil. Sulke propaganda wil die gewetensvrye mens in die middel plaas. Sy persoonlike vryheid mag deur niks aan bande gelê word nie: hy kan dink wat hy wil, liefhê wie hy wil, vry assosieer met wie hy wil, vry vergader waar hy wil, vry besit en woon waar hy wil.
Die Bybel word verwater en verbuig solank die “mens” daardeur geheilig kan word. Gehoorsaamheid aan God skuif na die agtergrond. Norme en waardes, word gesê, is tradisioneel en kan na goeddunke verander word. Die gewetensvrye mens moet met sy verstand alles bevraagteken, en woorde soos “oopgesprek” en “eksperiment” word kwistig gebruik. Daar is nie so iets soos ewige waardes nie, terwyl die vry mens die maatstaf vir alles is. As die mens so wil, kan hy die oue omvergooi en nuwe norme skep. Of hierdie nuwe norme sal werk, sal die gemeenskap en die ondervinding wel leer. Goed, volgens hulle, is wat die gewetensvrye individu goed vind, veral as die meerderheid vrye individue daarmee saamstem. Dit is onafhanklik leef van God. Afhanklik leef, volgens Jakobus.(4:13-17).
Alles wat met hierdie onverantwoordelike denkpatroon in stryd is, word deur hierdie mense met onchristelike veragting bejeen. Woorde soos sedelikheid, verantwoordelikheid, volk, vaderland, nasionalisme, moedertaal, ensovoorts word in die sterkste taal veroordeel.
Hierteenoor leer die Bybel: ware vryheid vind die mens alleen in gehoorsaamheid aan God.
CHRISTENE EN NIE-CHRISTENE
Ten slotte, twee gedagtes vir ons as gelowiges hier in ons Suiderland. Ons het ’n verantwoordelikheid in ’n samelewing waar ook baie nie-Christene voorkom. Ons moet ’n voorbeeld stel in geregtigheid, liefde en verantwoordelikheid sodat die ware vryheid (in gehoorsaamheid aan God) gesien kan word.
Voorts moet ons steeds met ons lewensvoorbeeld duidelik toon: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan mense” (Hand. 5:29) en daardeur die ware vryheid demonstreer. Mag God ons daartoe help.
Vervolg...