Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Halfhartigheid is een van ons grootste sondes. In halfhartige bekering sterf die ou mens maar staan weer op. In ware bekering met die krag van die Heilige Gees sterf die ou mens en die nuwe mens staan in Christus op. Satan probeer hard om ons in eie krag te laat opstaan sodat ons na hom kan terugkeer in sonde. Gee aan die duiwel geen plek en bely en laat staan voor die Here elke dag opnuut in sy krag.
WITMAN, WAAR IS JOU VRYHEID? (2)
Dr Willie Lubbe
VRYHEID
...sy spoor in ons geskiedenis
Die Nederlandse erfenis
Die drang na vryheid loop soos ’n goue draad deur die geskiedenis van die Witman in Suid-Afrika. Vir die Afrikaner met sy Nederlandse afkoms en sy Calvinistiese inslag het dit veral gegaan om die vryheid van die individu en die reg van opstand. Ten einde sy vryheid te verseker, het die Afrikaner die grootste mate van seggenskap in die landsbestuur vereis. Ook by die Engelse, wat in die sewentiende eeu ’n hewige stryd tussen koning en parlement beleef het, was daar ’n begeerte om ’n deel aan die landsbestuur te hê. Afgesien van die Engelse se bydrae tot die instelling van selfbestuur in die kolonies, was dit die Afrikaners wat die vryheidstryd gestry het, ’n stryd wat hy ook teen die Engelse moes voer.
HERKOMS
Die Afrikanervolk is hoofsaaklik gevorm deur die Nederlanders, Duitsers en Franse wat hulle sedert 1652 aan die suidpunt van Afrika gevestig het. Die Duitsers en Franse is vinnig deur die Nederlanders opgeneem, met die gevolg dat die Nederlandse taal en tradisies die grondslag gelê het vir die nuwe volk, die Afrikanervolk, wat aan die ontwikkel was. Die Nederlanders het ontstaan uit die Franke, die Saksers en die Friese wat aldrie Germaanse stamme was. Hierdie stamme het hulle losgemaak van die ander Germaanse stamme wat hulle in Oos-Europa gevestig het en later Duitsers geword het, en het ’n eie taal en kultuur ontwikkel.
Die inwoners van die verskillende Nederlandse state of provinsies het aanvanklik weinig seggenskap in die landsbestuur gehad. Tog was daar ’n mate van indirekte verteenwoordiging in die verskeie regerings en is dit ook waar dat die vryheid en voorregte van die volk beskerm is teen almal wat dit wou vernietig. Die Nederlanders het nie alleen ’n stryd teen sy groter en sterker bure gevoer nie, maar ook ’n stryd om bestaan in ’n land van mere, riviere en moerasse waarvan ’n groot deel laer as die see gelê het. Uit hierdie stryd is ’n volk met 'n diepe lewenserns gebore, ’n volk wat nie maklik sou tou opgooi nie.
CALVINISTE
By hierdie koersvaste mense het die godsdiens van Johannes Calvyn dadelik inslag gevind. Hy het geglo aan die opperheerskappy van God oor die hele skepping, en aan die uitverkiesing. Toegepas op die politiek, glo die Calvinis dat God groter en magtiger as enige aardse vyand is en dat diegene wat deur God uitverkies is, niks hoef te vrees nie. Die Calvinis hou ook van die republikeinse staatvorm omdat ’n koningskap voorheen makliker tot tirannie gelei het. Volgens die leer van Calvyn moet ’n onderdaan sy owerheid gehoorsaam wees, selfs al behandel die owerheid hom sleg, maar hy kan ’n bevel verontagsaam as dit in stryd met sy gehoorsaamheid aan God is. Hieruit is gebore die reg van opstand teen ’n regering wat sy onderdane onderdruk.
TAGTIGJARIGE VRYHEIDSTRYD
’n Goeie voorbeeld van so ’n opstand is die Tagtigjarige Oorlog, die vryheidstryd van die Nederlanders teen Spanje. Toe Fillips II die Nederlanders wou onderdruk, het hulle die wapens opgeneem en tagtig jaar lank vir godsdienstige en staatkundige vryheid geveg. In 1581 het die verenigde Nederlande ’n republiek geword. Die regeringsmag was nog in die hande van die aristokrasie, maar daar was nogtans meer vryheid van geloof en spraak as in enige ander land in Europa. Vir die geharde Nederlandse vryheidsvegters was hulle liefde vir vryheid en ’n republiek ’n kosbare erfenis wat hulle nasate ook in Suid-Afrika soos ’n kleinood sou bewaar.
Vir vryheid en reg aan die Kaap
Aan die Kaap het die burgers geen seggenskap in die bestuur gehad nie. Hulle het die politieke onvryheid aanvaar, maar was ontevrede oor die onderdrukkende ekonomiese beleid van die owerheid. Dit was veral die amptenare wat sedert 1657 van diens vrygestel is om as Vryburgers te gaan boer, wat van hulle vryheid van spraak gebruik gemaak het om van tyd tot tyd versoekskrifte, waarin hulle besware en versoeke aangeteken het, aan die owerheid te rig. In ’n klagskrif teen goewerneur W.A. van der Stel in 1705 het die burgers hulleself beskryf as vrygebore mense wat erger as slawe behandel word, en het hulle gewaarsku dat onderdrukking tot opstand kan lei.
Van der Stel se goewerneurskap is beëindig, maar die politieke en ekonomiese onvryheid het voortgeduur. Die ekonomiese maatreëls het dit onmoontlik gemaak om uit die landbou ’n behoorlike bestaan te maak. Gevolglik het baie burgers na veeboerdery oorgeslaan en na weiveld in die binneland gaan soek. Op hierdie wyse het die Kaapse volksplanting in die agtiende eeu geweldig uitgebrei. Die uitbreiding is naderhand gestuit deur droë gebiede in die noordweste, die Boesmans in die noorde en die Xhosas in die ooste. Nuwe politieke en ekonomiese probleme het so ontstaan. Die grensbewoners het kontak met hulle moederland verloor en geleer om in hulle eie behoeftes te voorsien. Hulle het ’n volk met ’n eie identiteit en ’n eie verlede begin word. Ook die Nederlandse taal het in die rigting van Afrikaans begin afwyk. Aan die Oosgrens sou die kontak met die Swartman probleme skep wat die Witman in botsing met sy owerheid sou bring.
VRYHEIDSRAMMELINGE ELDERS
Dit was juis in hierdie tyd dat gebeure elders nie alleen in Nederland nie, maar ook aan die Kaap nuwe politieke sienings na vore gebring het. In 1776 het die Amerikaners hulle vry verklaar en Britse gesag verwerp. Dit het invloed uitgeoefen in Nederland waar die Patriotte, ’n hervormingsparty, hulle daarop beroep het dat die hoogste gesag by die volk berus. Dit sou navolging vind in die Kaap, waar die Kaapse Patriotte verskeie geskrifte oor die magte en vryhede van die landsburgers rondgestuur het en ook versoekskrifte om beter bestuur aan die owerheid voorgelê het. Die Franse Rewolusie, wat in 1787 begin het, sou die vryheidsgees nog verder aanwakker.
OPSTAND
Intussen het die grensboere by die owerheid op beskerming teen die Swartes aangedring. Omdat die owerheid dit nie verleen het nie, het die distrikte van Graaff-Reinet en Swellendam in 1795 in opstand gekom en hulle onafhanklik van die Kaapse owerheid, die Oos-Indiese Kompanjie, verklaar. Hulle het hulle nog onderdanig aan Nederland beskou, maar was vasbeslote om hul laaste druppel bloed vir hulle vryheid te stort. Skaars het dit gebeur of die eerste Britse besetting van die Kaap het gevolg. Die Graaff-Reinetters het geweier om ’n eed van trou aan die Britse koning af te lê. Getrouheid aan hulle land was vir hulle genoeg, en hoe kon ’n persoon wat die Hemelse Koning aanvaar het, ook ’n aardse koning nodig hê? Noodgedwonge moes die Graaff-Reinetters naderhand die handdoek ingooi. Nietemin het hulle jaloers oor hulle voorregte gewaak en verwag dat die owerheid na hulle begeertes moes omsien - die owerheid was daar om die onderdaan se onthalwe en nie andersom nie, het hulle geglo. Die owerheid het egter hulle begeertes verontagsaam en die Van Jaarsveldrebellie het in 1799 gevolg. Ook in 1801 was daar beroeringe in Graaff-Reinet en is selfs ’n paar skote gevuur. Eers toe die Bataafse Republiek in 1802 die bewind oorgeneem het, is die belange van die volk weer in ag geneem. Die Bataafse bestuur was egter van korte duur, want in 1806 het die Britte ’n tweede keer die Kaap in besit geneem.
Die trek na vryheid
Die teenwoordigheid van Brit en Afrikaner in een land het ’n botsing meegebring. Teen 1806 was die sowat 25 000 Afrikaners aan die Kaap reeds ’n volk met 'n eie vaderland en ’n eie verlede. Hulle was nie meer Nederlanders nie en die koms van die Britte het hulle band met Nederland finaal verbreek. Met die Britse bewind sou hierdie vryheidsliewende Afrikaners algou oorhoops le. Die outokratiese wyse waarop hulle regeer is en die pogings om hulle te verengels, het hulle vryheidsgees aangetas, maar dit sou veral die verwikkelinge aan die Kaapse Oosgrens wees wat die Afrikaners sou laat trek om sy vryheid elders te gaan soek.
AAN DIE OOSGRENS
Aan die Kaapse Oosgrens het die Britse owerheid probeer om die Afrikanerboere teen die Swartes te beskerm, maar daar is heel dikwels teenstrydig met die grensboere se begeertes opgetree. Daarby was daar ’n botsing oor rasseaangeleenthede tussen owerheid en onderdaan. Vir die Afrikaner was daar geen sprake van gelykstelling tussen ’n Christen en ’n heiden nie. Hierteenoor is die Engelse beïnvloed deur nuwe denke in Europa oor die edele barbaar en sou hulle in die rigting van gelykstelling tussen die rasse beweeg. Die grensboere was verder van mening, en hulle het dit by die Swart kapteins waargeneem, dat mag die enigste taal was wat die Swartman geken het. Hierteenoor het die owerheid geglo aan ’n beleid van mooipraat en onderhandeling.
EINDELIK VRYHEID
Die botsing tussen Boer en Brit het tot die Groot Trek gelei. Die Afrikaner wou in die vreemde na ’n land gaan soek waar hy vryheid kon ondervind, ’n land waar hy deur deelname aan die bestuur oor sy eie lotgevalle kon besluit. Hierdie voorreg is hom aanvanklik nie gegun nie, want die Brit het die Voortrekker nie met rus gelaat nie. Die Republiek Natalia het skaars tot stand gekom of Brittanje het dit in 1843 geannekseer. Toe talle Afrikaners na vrugtelose onderhandelings met die owerheid besluit het om Natal te verlaat, het die Brit dit probeer verhoed deur in 1848 ook in die Vrystaat sy tentpenne in te slaan. Slegs Transvaal het oorgebly vir diegene wat vry van vreemde oorheersing wou wees, maar ook hier is die Britse bedreiging gevoel. Omstandighede het Brittanje egter gedwing om hom uit die binneland te onttrek. Aldus word die onafhanklikheid van Transvaal in 1852 erken en word Britse gesag in 1854 uit die Vrystaat onttrek. So ontstaan twee onafhanklike Boererepublieke en eindelik vind diegene wat aan die Groot Trek deelgeneem het die vryheid waarna hulle gesoek het. Ook in die twee Britse kolonies van die Kaapkolonie en Natal sou die inwoners mettertyd selfbestuur ontvang. Vir die Afrikaner het die stryd om vryheid egter nog nie geëindig nie, al het dit so gelyk.
Vervolg...