Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Langenhoven het 'n baie waar uitdrukking gehad dat 'n man van weining woorde se solder te klein is vir 'n klomp kaf. Daarby moet ons onthou dat iemand wat loop en skinder en laster, baie meer oor homself daarme sê as oor sy slagoffer...
VERTROUE IN SY NAAM
Hannes Ollewagen
Ps. 9:1-21
“So is die HERE dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ’n rotsvesting in tye van benoudheid. En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE!” (:10&11).
Hoe groot en kosbaar is die waarde van ’n goeie naam nie. Ons weet dikwels met die aanhoor van iemand se naam watter eienskappe, deugdes of vaardighede ons van die persoon kan verwag. Ja, ’n goeie naam is seker die bondigste getuigskrif van ’n persoon. Die waarde hiervan wat ook in Spr. 22:1 vir ons gegee word. “’n NAAM is verkiesliker as groot rykdom, guns beter as silwer en as goud.” En is daar ’n NAAM onder die ganse hemel groter as dié van ons Drie-enige God wat is en wat was en wat kom? Die Een wie se majesteit en krag oor die ganse heelal strek.
Hoe gepas is die lofsang in Ps. 143:12 nie in hierdie verband nie. “...laat hulle die Naam van die HERE loof! Want sy Naam alleen is hoog; sy majesteit is oor aarde en hemel!”
Dink maar hoe bemagtig en gerus ons nie voel wanneer ons ’n stryd tegemoetgaan onder die leiding van iemand met ’n goeie naam nie. Dit is die geval of dit nou ’n stryd teen siekte is saam met ’n baie bekende en bekwame geneesheer, ’n oorlog onder ’n baie bekwame millitêre leier of welke ander stryd ookal. Die goeie naam van hierdie mense wat van hul bekwaamheid en ook betroubaarheid getuig, stel ons gerus. En tog is hulle steeds maar net mense soos ek en u wat nie die waarborg het dat hulle die son more sal sien opkom nie. Daarenteen het ek en u as gelowige kinders van God die voorreg om Hom – die ewig-lewende te ken. En in vertroue op sy Naam kan ons die toekoms tegemoetgaan. Nie ek of u weet wat die toekoms inhou nie, maar ons kan seker wees dat Hy daar is en dat ons ook vir die toekoms op Hom kan vertrou. En dit is juis hiervan wat Dawid in Psalm 9 ook getuig. Hy stel dit duidelik dat diegene wat God waarlik ken met ’n geruste hart op Hom sal vertrou omdat hulle sal weet dat Hy nie alleen almagtig is en op geen wyse aan vermoë tekortskiet nie, maar ook dat daar in die ganse heelal geen wese so betroubaar as Hy is nie. Ja, hierdie vaste en sekere geloofsvertroue van Dawid is ook in Ps. 23 duidelik. “Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” (Ps. 23:4).
Hierdie vaste geloofsvertroue van Dawid het ook nie alleen in woorde bestaan nie. Dit is vir ons op verskeie geleenthede duidelik, maar ek dink nou spesifiek aan daardie dag wat Dawid vir Góliat die stryd aangesê het. En hierdie reus wat ’n groot naam onder die Fillistyne gehad het as ’n geweldige en vernuftige krygsman, word die stryd aangesê deur ’n man wat heeltemal onbekend selfs onder sy eie mense was. Hy gaan die Fillistyn egter nie met sy eie vernuf of eie krag tegemoet nie, maar stel dit pertinent dat hy vir Góliat die stryd in die Naam van die HERE aansê – m.a.w. dat hy as Dawid maar net ’n gesant van die Een is wat eintlik vir Góliat die stryd aansê. “Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met 'n swaard en met 'n spies en met 'n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die Here van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het.” (1 Sam. 17:45).
Ons lees dan ook in Handelinge 3 waar Petrus en Johannes ’n man wat kreupel gebore was, genees. En hierdie genesing vind op geen ander wyse plaas as die bevel wat gegee word as gesante van God wat in sy Naam optree nie. En in Handelinge 4 stel hulle dit duidelik dat hierdie wonderwerk nie uit hulself of hul eie krag bewerk is nie, maar dat hulle as diensknegte van God hierdie werk gedoen het. “...as ons vandag ondervra word oor 'n weldaad aan 'n siek man, waardeur hy gesond geword het, laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan.” (Hand. 4:9&10).
Ek dink dat die toekoms vir die Fillistyne, vir Israel sowel as vir koning Dawid veel anders gelyk het die oomblik voordat Góliat verslaan is. Eweneens het die toekoms van die man wat kreupel gebore was voor sy ontmoeting met Petrus en Johannes baie anders daaruitgesien. Maar dan sien ons die krag van hierdie Naam – hierdie gedugte Naam wat die toekoms eensklaps kan verander en uiteindelik die toekoms bepaal.
Ons moet minder dinge in ons eie krag en vermoë probeer aanpak om te probeer om ons eie toekoms te bepaal en eerder met ootmoed as gesante van Hom in sy Naam optree. Ek dink die toekoms wat deur Hom bepaal word, sal veel beter daaruitsien as daardie toekoms wat ons self wil bewerk. God verwag nie van ons om die toekoms te bepaal nie, maar om Hom daarmee te vertrou. Mag ons gehoorsame optrede as sy kinders ook van hierdie vertroue wat ons in sy Naam stel, getuig.
“En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.” (Kol. 3:17).