Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hemelse Heer, dankie dat ek kan hoop omdat ek in U glo. Dankie dat die vlam van hoop helder brand in my ongeag my uiterlike omstandighede omdat ek met groot sekerheid kan staatmaak op u liefde en elke belofte in u Woord. Dankie dat U self my hoop is.
DRIE SUSTERS VAN DIE KAROO
LAND VAN ONS VADERS
(Lees reeks by Land van Ons Vaders)
Dolf van Niekerk
Ek ken hulle nie in die middag nie; ek ken hulle nie wanneer dit reën of in die nag nie – ek ken hulle nie in die fel sonlig wanneer die Karoo rittel en bewe van die hitte nie. Ek ken die Drie Susters net in die môre; kan jou vertel wat hulle doen terwyl die dag breek.
Ek het uit die Suide gekom: 'n dagbreek tevore weggespring, vóór Tafelberg sy nagkabaai afgegooi het, terwyl die oggendnewel oor Tafelberg se liggies soos gaas hang en die skelette van bote die gedagtes verskeep in die ruim van 'n spookskip wat ewig rusteloos sonder rus vaar en oppyl en oor die waterhorison verskiet.
Uit dié Kaap het ek noordwaarts gedraai sodat ek na baie omswerwinge die susters kon ontmoet. Want hulle is glo altyd tuis, en geen swerwer trek tevergeefs deur die Karoo nie, want die Karoo is nie suining vir ruimte nie.
Die pad na die Noorde, sê hulle in die Suide. En hulle glimlag, want dis vreugde om te dink aan Drakenstein en Du Toitskloof en Heksriviervallei wat vorentoe wag – net om daarna agter in jou verstand te gaan lê en altyd kort-kort verlange te word na die heide en die protea, na die ou jong bergstrome wat skerp of dof maar altyd blink in die son of skaduwee van die klowe lê, na die wingerde –skuinsprieel of dakprieel – vóór die jaar heeltemal ryp is, waar die wyn ryp is, want die son het lank genoeg daarin gelê.
Maar enkeles suid van die Heksrivierberge weet ook van die Drie Susters. Iemand praat oor die Karoo van die oertyd, van die Camdeboo en Nuweveldberge, van die stuk plat aarde van Beaufort-Wes af, die perdeskoenkom van die Karoo; die dam van tye gelede waar geraamtes van dinosauri en ander binnelandse meerdiere in die klei begrawe is – om baie later oopgestoot te word deur 'n padskaper wat 'n goeie teerpad vir die reisiger se masjiendier wil aanlê.
Praat oor die Drie Susters – hoe hulle in die boloop van dié groot Karoodam oor die water getroon en gewaak het – gestaan het as een, maar deur die tyd uitgekalwe is tot drie koppe en lywe en hange. Drie Susters wat snags of naby dagbreek weer saamsmelt en een word wanneer hulle treur oor die water wat iewers, iewers deurgebreek en weggeloop het. Miskien treur hulle in dié dae oor die reisiger wat naby hulle moet wegswaai wanneer hy oor Kimberley na die Noorde wil reis. Want vlak tussen Nelspoort en Drie Susters swenk die pad links... op 'n plato... en weg.
Maar ék het reguit aangehou, miskien omdat ek nog ingedagte was oor die honderde peerbome langs Beaufort-Wes se strate – ou peerbome met groot stamme en persoonlikheid; jong peerbome wat nog beskeie langs die oues in die plek van dooies staan... En die wit huisies wat op die kant van 'n straat sit – nie iewers diep agter bome of mure nie – astrant naby die verbygaan van mense, en hulle sê: dag, kom binne, as jou kop nie te hoog staan nie, as jy nie omgee om op die stoep te sit en praat en koffie te drink uit groot dik koppies nie, want die voorkamer se binders is af teen die hitte... En voor die huisie lê die watervoor vol blink koel water in die droogte, en 'n dogtertjie druk haar rokkie iewers in en loop in die water. Na drie uur verbeel jy jou dis verskriklik laat, maar geen tyd het verlore geraak nie, want die Karoo het nie sulke soort tyd nie.
En toe kom ek by die uitdraaipad net voor die dag breek en ek soek na die Drie Susters.
Asof dít 'n teken is, stoot 'n klein stukkie rooidag in die Ooste op – net 'n skrefie, sodat ek die susters se koppe kan sien... en die sluiers wat wil bedek. Maar ek sien net twee koppe... En wie staan voor en wie agter? Die Saterdagmôre gaan groter oop, en dis of die twee susters in my gesigsveld na mekaar toe gaan. Is dit die aarde wat draai... of hoe sny die pad dan hierlangs? Maar die een suster lê met haar kop op die ander suster se skouer... en sy huil. Ek verbeel my dit nie – sy huil soos wanneer 'n meisie huil, 'n meisie wat binnekant toe huil; miskien oor liefde... of sommer net. En die oudste suster troos haar, hulle koppe is naby mekaar en dit lyk of álbei huil. Die derde suster staan iewers waar ek haar nie kan raaksien nie. Moontlik is sy skaam in die môre; moontlik weet sy dat die ander twee altyd hartseer is, hou sy wag om hulle te waarsku wanneer vreemdelinge aankom. Skielik skei die hartseer susters, die derde suster kom nader, dis of sy voor staan, of sy die ander twee beskerm en vra waarom ek hulle nie met rus laat nie, hulle is moeg, hulle wil slaap. Maar hulle slaap mos tyd na tyd, dink ek, maar hulle lyk nou hartseer en ek stry nie.
Ek hoor weer die grysaard se stem – ek hoor hom vertel van dié nag baie jare gelede; miskien sal ek dan begryp waarom die drie susters teen dagbreek vol weemoed is. Dit was nag – twee-uur se kant, sê die grysaard. Hulle was op koers na die Suide- miskien na die Noorde. Die maan het sy lig op die Karoovlakte laat ry – myl na myl. Toe sien hulle die drie... En terwyl hulle nog kyk en besluit om stil te hou sodat hulle die gesprek tussen die Karoomaan en die Drie Susters kan hoor, sluk die motor en raak stil – doodstil soos motors maak wanneer die brandstof gedaan is. Hulle kom tot stilstand en toe hulle opkyk, staan die Drie Susters daar. Hulle word effens bang, nie juis bang nie, eintlik net klein voor dié drie gestaltes. Die maan is skerp aan 'n skoon hemel en die Drie Susters swem in die ligdam van die groot Karoomeer. Die reisigers stap stasie toe. Die susters verlaat hulle nie. Die nagvoorman beduie: iewers naby woon 'n persoon wat moontlik brandstof het, want hy wat voorman is, ry net trein. Die reisigers stap waar die maanlig wys – aan die voet van die ousus – en hulle weet dié tyd van die nag is 'n vreemde tyd vir 'n mens wat haastig is, want die maan en die susters speel en die spel is nie van dié eeu nie. Hulle loop vinniger, stiller. Naderhand sien hulle 'n flou ligskynsel en almal begin gelyktydig te praat van verligting. Maar net so skielik raak hulle stil, en haastiger.
Hulle klop hard aan die deur, klop nog harder wanneer daar nie oopgemaak word nie, want die ewigheid staan regop langs hulle – die ewige Drie Susters. Die deur gaan oop. 'n Man staan bleek en grys voor hulle... en sy gesig en oë en ore is gereed om te hoor.
Ons petrol is...
Moenie hard praat nie.
Ons wil net sê...
Bring júlle die tyding?
Watter tyding? Ons petrol is op, ons wil net...
Moenie hard praat nie – ek wag om te verneem.
Wat verneem?
Dan bring julle nie die tyding nie.
Ons brandstof is op. Ons het verneem dat u moontlik kan verkoop. Ons moet nog ver ry vannag...
Moenie – asseblief- moenie so hard praat nie. Ek is nie gereed om harde woorde aan te hoor nie.
Wat makeer dan?
Ek sit en wag – Hulle sal my kom sê... Daarom brand die kers... My broer sterwe – ek wag... Hulle sal die boodskap stuur... Ek kan nie teenwoordig wees nie... Maar ek het 'n bietjie petrol – julle kan dit vat...
Toe loop hulle later saam met die Drie Susters tot by hulle ryding... en hulle leer van die Karoo iets wat hulle nie dadelik verstaan het nie...
Só het ek aan die grysaard gedink toe die dag dáár by Drie Susters wou breek. En die môrester sit glad bewoë en knik – miskien omdat die son hom netnou van die uitspansel af gaan verjaag. Want die son werk hard in die Ooste om op te kom. Die susters word nou vinnig groot hulle is klaar oud wanneer die lig oor hulle straal – oud maar elke môre jonk in die doulug soos eeue gelede toe hulle jonk was en die groot Karoodam vol water gestaan het en elkeen van hulle 'n groen rok gedra het, en die rok elke môre nuut was in die son wat nooit op hulle voete geskyn het nie.
Drie Susters van die Karoo – by die hek, by die voordeur na die perdeskoendam van die voortyd – kyk oor die vlaktes asof daar 'n geliefde sal kom, drie minnaars... of die water van weleer. Want die Karoo is droog en die susters is droog... en die reën is te weinig om hulle gestaltes te verander. Maar skielik raak die son aan hulle koppe en hulle bloos soos jong meisies. Dit is dag...