Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die gelykenis van die ponde in Lukas 19 vertel dat God ons nie almal ewe veel talente gegee het nie. Maar wie baie gekry het is veronderstel om net soos dié wat min gekry het, met alles daarvan te woeker, dit wil sê in die Here se diens hier op aarde te gebruik; daarvoor sal ons eendag voor die Troon verantwoording moet doen. Die verantwoordelikheid is vir sommiges net groter as ander s'n – span u al u talente in om ook hierdie volk tot Christus te laat terugkeer?
REISIGER NA DIE KOELTE
LAND VAN ONS VADERS
(Lees reeks by Land van Ons Vaders)
Dolf van Niekerk
Jy wil hê ek moet aan die lente raak... en jou vertel hoe dit in mý land bot. Want, so sê jy mos, alle paaie lei na koelte, en elke rit het sy boom, en elke boom kry nou sy blaar. Ek weet – jy hét gesien toe die witstinkhout op die spruit se wal nou die dag spikkelgroen uitslaan. Of het die wilde salie vanjaar éérste ingespring? Want so gebeur dit mos: wanneer die dag stil raak, wanneer die son en die geluide gaan lê, dan kom die skemerluggie en roer aan die geure van die wêreld; hy krap in die spruit rond, stoot die saliegeur los, en dié ry loshand op die stilte tot by jou.
Maar ek sal jou sê: ek het gedroom dat die soetdoring se swart stam skielik uit die niet 'n groeisel aanhet – dié soort groen wat net die natuur kan meng: dié groen waarin jeug se hart, die oog van vreugde, 'n skewe glimlag van die skoonheid en stuifmeel van die liefde saamgeroer is. En elke boom ken dié genade van die seisoen: wanneer die eerste warmte, selfs sonder vog, hom aangeraak het. Tot die mees beskeie boom wat in my land groei. Daarom sal ons op dié rit seker altyd koelte hê tot in die hart van die Kalahari.
Laat my toe om in die Karoo te droom – langs 'n braksloot of 'n lopie – in die koelte van 'n karee. Eenkant lê die boerbok, en ek sit en slaap en kou aan 'n blaar of 'n bessie. Want wie in die Karoo kou nie aan die karee se blaar of sy bessie nie? Of ek soek skuiling onder 'n gharriebos, en bo my kop werk die bye een stryk deur – want van toeka se dae af maak die by van gharriebos suiwer sandsuikerheuning soos jy dit nêrens anders kry nie. My ouma het geglo dat die bye die sandsuikerkristal net so van die ghwarriebos afhaal.
Somermiddag op die vlakte waar niks behalwe 'n melkbos of 'n vaalbos groei nie. Kruip dan maar met jou kop onder die bos in as die son te kwaai raak oppad huistoe – en dis nog myle ver. Daarom het ons voorouers goeie name vir plekke gekies: soos Rusbos waar die laat vye 'n bietjie kan rus en waar 'n mens miskien eet of iets drink opkoers van die skoolaf plaastoe. Later was daar perde om die kar te trek, en ons het minder stilgehou. En toe die motor kom, het die rusbos en die koelte én die leer van die natuur se binneste vergete geraak.
My reis sal dadelik na al die broers van die doringboomfamilie toe lei. In Noord-Transvaal proe ek die koelte van die Anaboom, byna negentig voet hoog. Van hom af speel ek al langs die Apiesdoring, Rooidoring, Kameeldoring... 'n Groot familie wat dwarsdeur die land sy koelte gelaat het.
Miskien moet ons hier 'n bietjie vertoef om vas te stel watter rol die boom in die voorgeslagte se lewens gespeel het. Dink maar aan die plekname – en jy wonder of die wêreld ryk aan die bome was, en of die plase na die enkele boom vernoem is: Boekenhoutskloof, Olienhoutkraal, Spekboomrivier, Naboomspruit, Sederberg, Keurboomsrivier.
'n Boom wat skaduwee gegee het toe dit bitter warm was – of 'n boom soos die Karee op De Wildt.
Teen die rooi sand van die Kalahari staan die vaalkameeldoring, ook genoem die basterkameel, volstruiskameel of kaboom. Watter boom in dié land het meer takkrale gemaak as die doringboom? Takkraal teen die roofdier en tweebeenvyand by die laer. Watter ander boom se takke moes meer verspoeling keer as dié van die doringboom? En hoe het swart én wit nie die bas van die wortels vir medisyne gebruik nie? Weinig kinders ken deesdae die lekker skoon smaak van die doringboom se gom.
Al met die name langs. Tot in Natal se laeveld waar die raasblaar my beskut het. Raasblaar of niklaasklapper, raasbos... Die Transvaler heet Kierieklapper. Elkeen het sy eie koelte. In die Oos-Kaap het 'n jong nieshoutboom hom oor my ontferm. Dis glo die hardste hout wat in Suid-Afrika groei – of die onverganklikste. Of Hardekool sy tier is, weet ek nie.
Ek sien die nieshoutpale van my jeug – hoekpale van die koeikamp – en elkeen wat 'n knipmes besit, grawe elke dag sy nies uit die paal soos 'n ou gebruiker van snuif. Die Xhosas snuif die hout om hoofpyne te verdryf. Die Vendas van Noord-Transvaal noem dit die boom wat sleg na hekse ruik. In die Transkei heet hy plek-plek umThati – en so het Umtata en Umtati die nieshout se naam aan die land gekoppel.
Maar die mooiste koelte van my jeug het ek van die olienhoutboom ontvang. 'n Grysaard onder olienhoute, half eenkant op 'n klipkoppie. Kort en gespierd, die ou, knokkig en sonder aansittery. Ek sit met Oupa se kierie teen sy stam en klop – 'n kierie wat Oupa in sy jeug van dieselfde ou olien gesny het – sit en praat met die tydlose ou klipsteen terwyl die skape wei... En vanaand gaan sit ek opsetlik op die stoel wat Oupa vir sy broer gemaak het, sit en vryf aan die vlamme in die hout wat deur die ouderdom blink gemaak word.
Oral in die groot Karoo staan murasies van opstalle, en naby die murasie – asof dié plek 'n ewige plek is – sal daar 'n yslike peerboom staan. Die murasie en die halftreurige peperboompie langs die muur, alles sal deur die uitbarsting van peperbloeisels oorheers word. Die bye sal daar wees, en die peerblomgeur sal dik hang asof honderde mense uit die murasie gaan kom om te ruik soos lentemiddae van lank gelede.
Iemand vra my hoe die wilgerbome hulle pad deur die land gevind het. Die vreemde wilgers wat ons eie geword het, net soos die eiebome vandie Boland. Maar die wilger: waar die voorvaders gegaan het, het die wilger gegaan; van een wasplek na die ander, van een waterplekkie na 'n ander klammigheidjie. Want die vrou van die huis moes skaduwee hê waar sy wasgoed was. En die eerste jare word die wilgerstompie omhein teen die donkies en ander honger diere, tot die boom sterk genoeg is om sy koelte te beskerm. En nou staan die ou enkeles oral op die vlaktes – sodat al die vlaktes 'n lappie groen kan hê.
Maar nou kry ek groot verlange na ou Rietrivier se wilgers – mooier as die ander, digter, frisser. Nêrens kan jy op 'n somermiddag makliker lê as onder hulle nie – ná swem, of sommer net op 'n dik tak wat ver oor die water gegroei het, soos 'n likkewaan in die warm koelte lê en byna-slaap terwyl jou arms weerskante van die stam in die water hang...
Wie ken 'n tent onder 'n njalaboom of 'n jakkalsbessie, 'n middagslapie onder 'n mopanie of 'n waterbessie teen 'n wal?
En waar sal ek weer koelte kry soos in die Boland? Hele strate vol koelte, lane skaduwees... Niks word met 'n eikeboom vergelyk nie – die eik wat Van der Stel spesiaal vir die gerief van tortelduiwe ingevoer het. Selfs in die genadigste boom in mý wêreld het ek nog nooit tortelduiwe hoor koer soos in 'n eikeboom nie. Waar 'n tortelduif jou koel roep met die roep wat hy net in die Boland, net in 'n eik kan roep. En ken jy tarentale teen die effense lig voor skemer in 'n bos soetdorings?
Ek sal tevrede wees met die klein populierbos se spreeus en vinke. Want ek is daarvan oortuig dat die vaalpopulier ook saam met die voorouers getrek het. En oral waar die geringste belofte van 'n klammigheid is, gaan staan die populier en maak 'n bos.
Waar is die slaprandhoed van jou jeug – en die loop tot jy stokflou is – loop agter lammerskaap aan? Wanneer die son sy kwaaiste uithaal slaan jy byna neer onder die bloubos naby 'n klipkoppie – onder die lae takke in om van die son af weg te kom.
'n Harde stuk van die land waar 'n ordentlike boom 'n wonderwerk is. As mens Pafuri en ander streke van Noord-Transvaal ken – die njala en die jakkalsbessie en die olifantsoor – dan sien jy die ligtes en die jonges nouliks raak; en die walle van die Limpopo – waar die wildevye 'n hoë dak soos 'n natuurwerk se koepel oor jou hou, waar die anderwêreldse kremetart jou laat swyg omdat hy nooit klaar wonder oor sy herkoms en geaardheid nie. September is die maand wanneer die rooiboekenhout blom – blomme in digte are soos kwassies wat ondertoe hang. Rooiboekenhout in die sandplekke van Waterberg en Soutpansberg. Mooi hout ook, maar dis 'n beskermde boom.
'n Reisiger na die koelte. In die Laeveld slaan die hitte wat die bewoners van die plato met sy skerp vlug vasdruk en versmoor. Op so 'n dag het ek onder die boom te lande gekom wat die swartes "hemelse geneurie" noem – die witsering – een van die mooiste bome in die Laeveld. Later sou die rooi-ivoor en die laventelboom ook tussen my en die son staan.
Die uitspanning is naby – en daar is bome. Daar sal dae kom wanneer die koelte ver bly lê, wanneer jy ure lank tussen skaduwee en skaduwee sal reis.
Maar die koelte ís daar... iewers... iewers in dié land wat nie ryk aan bome is nie. Maar ek sou sê: terwyl die land arm aan natuurlike bosse is, laat óns ryk wees aan liefde vir die enkeles wat ons nog besit. En as jy twyfel of dié liefde goed is, soek dan net sy koelte wanneer jy dit bitter nodig het. Nie dat hy jou wil omkoop nie – net maar omdat hý die beste gee wat hy het sonder om te vra wat jou naam is. En wie weet, miskien herberg sy takke nog die nes van 'n dagbrekertjie of 'n kokkewiet – en kry jy moontlik musiek vir die koelte.
Wat mý betref: ek sou graag in elke boom se koelte wou lê.