Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Nêrens word ons verbied om te lag of versadig te wees of nuwe besittings by die ou besittings van ons voorvaders te voeg of om wyn te drink nie. Dit is weliswaar so; maar waar daar 'n oorvloed is waarin jy jou aan plesier oorgee en waarin jy kan verswelg, waarin jy jou verstand en hart met die genietinge van hierdie wêreld beskonke kan maak en altyd na nuwes kan hyg – sulke dinge is ver van die regmatige gebruik van die gawes van God.
DIE DERDE VRYHEIDSOORLOG
Op 16 Desember 1961 het die ANC-SAKP, in Januarie 1962 die PAC, en in Mei 1964 sekere linkse Blankes ‘n oorlog teen Blanke-en Afrikaneroppergesag oor Blank Suid-Afrika begin. Dié Oorlog het in September 1984 tot openlike binnelandse oorlogvoering ontwikkel. Gedurende die loop van 1987 is ‘n sogenaamde Presidents Committee (PC) in die lewe geroep deur sekere lede van die National Executive Committee (NEC) van die ANC, wat almal ook lede van die SAKP was.
Die PC het besluit om hulle toekomstige aktiwiteite, wat interne en eksterne komponente gehad het, onder die kodenaam Vula te dryf. Die doel van Operation Vula was om ‘n interne struktuur en ‘n aantal ondergrondse basisse in ons land te skep sodat ‘n “People’s Army” op die been gebring, opgelei en van sekere logistiek voorsien kon word ten einde ‘n “People’s Revolt” te begin.
Die interne vleuel van Operation Vula is beheer deur drie lede van die NEC wat almal ook lede van die Sentrale Komitee van die SAKP was naamlik Mac Maharaj, Ronnie Kasrils en Siphiwe Nyanda. Ander lede van die PC in beheer van Operation Vula was Oliver Tambo, Joe Slovo, Ivan Pillai en Archie Abrahams.
Gedurende die loop van 1989 het Mac Maharaj en Ronnie Kasrils die land onwettig binne gekom met die doel om ondergrondse strukture te skep. Binne ‘n kort tydperk is die volgende tot stand gebring:
• ses “veilige huis” en twee ondergrondse kantore in die Durban-area;
• drie “veilige huise’ in die Johannesburg-area;
• drie “veilige huise” in die Kaapstad-area;
• ‘n uiters gesofistikeerde kommunikasie-sisteem landswyd bestaande uit redenaars, modems, pagers en bandopnemers wat met uiters komplekse enkodering- en ontsyferingsmetodes gefunksioneer het;
• die verdeling van Natal in “zones” en “areas” met”commanders”; en
• militêre opleiding, net soos dié wat ANC-lede in Angola, Tanzanië en Oos-Duitsland ondergaan het, is in Mei 1990 in Natal begin.
‘n Hoogs geheime SAKP Consultative Conference het op 7 Mei 1990 by Tongaat in Natal begin. Almal wat teenwoordig was, was van mening dat die vryheid van die beweging wat deur De Klerk vir hulle geskep is met sy toespraak op 2 Februarie1990, tot die ANC-SAKP se voordeel benut moes word deur rewolusionêre magstrukture te skep om ‘n opstand in ons land te begin. Na dié konferensie, en na die ondertekening van die Groote Schuur-minuut in Mei 1990, het Maharaj en Kasrils weer die land onwettig verlaat om dit daarna openlik en op ‘n wettige wyse binne te kom.
In die eerste kwartaal se uitgawe van die JOURNAL OF THE SOUTH AFRICAN COMMUNIST PARTY van 1990 het Siphiwe Nyanda, alias Gebuza, alias Carl, onder die naam Tebogo Kgopo die volgende strategie aan die Swart massas voorgehou:
• dat die politieke mag met geweld verkry moet word;
• dat die regering verplig was om met die ANC-SAKP te begin onderhandel omdat laasgenoemde deur sy militante optrede ‘n sekere mate van mag verwerf het; en
• dat “’n vonk ‘n veldbrand kan begin,” bedoelende dat hulle net vir die regte gebeurtenis moet wag of moet skep om in opstand te kom.
In Julie 1990 het ons land se Veiligheidsmagte egter van Operation Vula bewus geword en Maharaj, Kasrils en Nyanda gearresteer. Groot hoeveelhede plofstof, landmyne, handgranate, vuurwapens, elektroniese en meganiese tydmeganismes, radio’s en komponente vir motorbomme is gevind. Verder is ook op dokumentasie beslag gelê wat daarop dui dat grond-tot-lugmissiele en vuurpyllanseerders asook ander plofstof, landmyne, handgranate, vuurwapens en tydmeganismes aangevra is.
Na dié arrestasies is ‘n geënkodeerde boodskap gevind wat Mac Maharaj (in Johannesburg) op 24 Junie 1990 aan Siphiwe Nyanda (in Durban) gestuur het, 13 dae voor die Veiligheidsmagte op die Vula-leiers toegeslaan het. In dié boodskap blyk dit duidelik dat daar ‘n “enemy group” in die ANC bestaan, dat daar ‘n “hit list” is van mense wat geëlimineer moes word en dat daar ‘n sameswering is om Madiba (Nelson Mandela) te vermoor.
Dit het die Veiligheidsmagte laat vermoed dat daar Vula-beplanning bestaan om Mandela (of ‘n ander belangrike ANC-SAKP-leier) te vermoor wat as “vonk” sou dien om die “veldbrand” (People’s Revolt) te begin. Inligting tot die Veiligheidsmagte se beskikking het daarop gedui dat die strategie in elk geval op een of ander stadium in die toekoms deur die Vula-beheer geïmplimenteer gaan word ten einde ‘n rewolusionêre situasie in ons land te skep waartydens die “people” alle mag sou oorneem.