Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons Skepper het uit niks alles volgens hulle soorte geskep; jy en ek is ook unieke skepsels van God – Hy het nie net een lewende selletjie geskep waaruit alles vanself ontwikkel het soos die evolusie-hipotese wil leer nie. En ons mense se roeping is om as 'bestuurders' van God se skepping op te tree maar die moderne mense het egter vernietigers geword. Kom ons begin hierdie jaar met die ideaal om weer die bewaarders en versorgers te word van God se wonderlike Skepping.
TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (15)
V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
Die hofsaak in die Kaap
Die jaar 1931 was weer vir Totius ’n "lydingsjaar”. Om hom na sewe jaar op die afgesonderde Krugerskraal weer van nuuts af in die gewoel op die Bult van Potchefstroom aan te pas, was nie maklik nie. Hy moes weer voltyds sy teologiese klasse behartig en die maalstroom van die kerklike lewe het hom weer so ingetrek dat dit byna sy kragte ooreis het. Versoeke om oral in gemeentes en op die volksterrein op te tree, het eenvoudig ingestroom, want "Totius is weer terug”. Ook familiesorge het byna te veel geword. In ’n brief aan sy goeie vriend prof. Van Gelderen stort hy sy nood uit - een van die weinige briewe waarin ons Totius ooit hoor kla: "Wat my verhinder het om te skrywe is dat ons die laaste ses weke meer geswerf as geleef het. My vrou moes twee keer gedurende Julie na Bloemfontein om my suster wat al 20 jaar lank teringlyer is, te verpleeg. Nêrens kan ons vir haar ’n inrigting vind nie. Daarby was haar vriendin, by wie sy so lank ingewoon het, self senuweesiek, sodat sy die huishouding moes opbreek . . .” Die suster van wie hy hier praat, was Marie, iemand wat soms vir tye by Totius-hulle op Potchefstroom ingewoon het en wie se toestand dikwels groot kommer veroorsaak het. Na ’n bitter lyding het sy begin September 1931 gesterf. "Nou lê sy begrawe by ons twee kindertjies in die familiegraf,” skryf hy verder aan prof. Van Gelderen. "Pas was dit verby, of ek het weer ’n geweldige aanval gehad van migraine, ten gevolge van die geweldige spanning.” Intussen het die seun Dirk op die plaas ook so siek geword, dat hy met sy vrou vir ’n tyd lank by hulle op die dorp moes kom inwoon. Dit was nodig, want soms moes Totius in die nag na Dirk, so skryf hy verder.
Maar in daardie jaar het daar ook onverwags ’n nuwe, hewige spanning gekom - die groot hofgeding tussen die N.G. Kerk en professor J. du Plessis van Stellenbosch. Op 10 Oktober 1931 ontvang prof. Du Toit ’n brief van ds. A. J. van Wyk, skriba van die Moderatuur van die N.G. Kerk van die Kaap, waarin hy versoek word om getuienis af te lê ter verdediging van die N.G. Kerk. Op 28 Oktober word dit opgevolg met ’n finale versoek en meteens was Totius in ’n nuwe krisis gedompel. Menslik gesproke het hy eenvoudig nie kans gesien nie. Hy het nog skaars weer sy voete op Potchefstroom gevind, en om dan binne ’n maand na kennisgewing gereed te wees vir die saak wat op 24 November in die Hooggeregshof sou begin? En dit in ’n geskil wat soveel beroering en so ’n buitengewone belangstelling gaande gemaak het! Om van die rustige, afgesonderde werk van Bybelvertaling meteens in die openbaar ’n apologeet van die kerklike leer te wees . . . Om meteens van die klein teologiese kateder oorgeplaas te word na die openbare getuiebank in die Hooggeregshof - dit was vir Totius na alles in die jaar baie moeilik!
Die saak het daaroor gegaan dat prof. J. du Plessis, hoogleraar aan die Kweekskool op Stellenbosch, hom op die burgerlike hof beroep het teen sy ontslag uit sy professorale amp en as predikant van die N.G. Kerk. Hy was naamlik deur ’n sinode van 1930 skuldig bevind weens beweerde onregsinnigheid in die leer van die kerk. Dit was ’n kerklike geskil wat destyds baie beroering veroorsaak het. Die klag teen prof. Du Plessis was dat hy die volgende geleer het:
1. dat die Heilige Skrif nie in al sy dele onfeilbaar geïnspireerd is nie;
2. dat die kritiese rekonstruksie van die geskiedenis van Israel die regte is, waardeur die gang van die geskiedenis, soos dit in die Bybel gegee word, gewysig en ontken word, sowel as die outeurskap van Moses;
3. dat Christus by sy menswording sy goddelike eienskappe afgelê het en dat Hy, wat die geskrifte van die Ou Testament betref, onkundig was en geen gesaghebbende oordeel daaroor kon vel nie;
4. dat ’n leraar die reg het om gevoelens voor te staan wat strydig is met die belydenisskrifte sonder om hulle eers aan die sinode bekend te maak.
In die hofgeding sou veral twee aspekte sterk na vore kom, nl. die leerkwessie en die prosedure van die kerk met prof. Du Plessis. En nou is Totius ingeroep om veral die gereformeerde leer namens die N.G. Kerk te verdedig.
Reeds op die oggend van 20 November word ’n buitengewoon swaar, lywige trommel tot op die voorste stoep van Totius se huis gedra. Die twee seuns Japie en sy maat Kierie Schoeman sweet daarmee - en netnou moet hulle nog daarmee help stasie toe. "Jy sê dis alles boeke,” sê Kierie met ’n sug. "My pa stel nie in ander goed belang nie,” antwoord Japie droogweg. Sorgvuldig het Totius die belangrikstes vir die hofsaak uitgesoek. Hy ken sy boeke, en as dit aankom op die verdediging van die gereformeerde leer, word hulle sonder moeite uit sy rak getrek. Dit is die rede waarom die trommel so swaar is, want o.a. is daar Bavinck se stel Dogmatiek, Kuyper se Dogmatiekdiktate; Rutgers, Jansen en Bouwman se boeke oor die Kerkreg. Die eerste drie skrywers wat hier genoem is, was dan ook sy eie leermeesters. Dan ook nog Voetius se vier dele van sy Politica ecclesiastica in Latyn. Ook nog Calvyn se Institusie in Latyn. Die Hebreeuse en Griekse Bybels moet ook saam. Verder nog ’n menigte boeke en brosjures met betrekking tot die leerkwessie in geding.
Die hofsaak begin op 24 November 1931 in die Hooggeregshof, Kaapstad. Vroeg reeds is die lokaal stampvol en vir die pers is dit die belangrikste gebeurtenis van die dag. Oor die hele land, maar veral in kerklike kringe, is die belangstelling gaande, want nog nooit tevore was daar so ’n opspraakwekkende hofsaak waarin 'n kerk betrokke was nie.
Pynlik is dit vir Totius dat hy en een van sy mede-Bybelvertalers in die hof in twee kampe moet wees: hyself tree as getuie vir die N.G. Kerk op en prof. B. B. Keet vir die eiser, prof. Du Plessis. Moeilik is dit ook vir Totius dat hy beskou word as "die vernaamste getuie om die leer van die N.G. Kerk aan die hof duidelik te maak”. (F. S. Malan, Ons Kerk en prof. Du Plessis, Kaapstad, 1933, bl. 212.)
Op Donderdagmiddag, 3 Desember, word prof. J. D. du Toit na die getuiebank geroep. Adv. H. A. Fagan neem hom namens die verweerders (N.G. Kerk) onder verhoor. Met die kruisverhoor die volgende dag is dit weer adv. N. J. de Wet wat die getuienis lei.
Die woordelike hofverslag van Totius in die getuiebank beslaan ongeveer 30 kolomme en was dit nie vir adv. De Wet en soms ook die regter se pogings om telkemale te maan om kort te ant woord nie, sou dit sekerlik baie langer gewees het. So paraat en so volledig is die teologiese uiteensettings dat regter Gardiner sommer vroeg alreeds moedeloos word vir die diepgaande geleerdheid: "U moet asseblief nie so lank spreek nie. Ons wil nie lang uiteensettings hê nie, maar saaklike antwoorde op vrae . . .” Later begin adv. De Wet besef dat sy strategie om prof. Du Toit met sitate uit teologiese werke te peper hopeloos faal, en hy gee moed op:
"Ek het hier nog heelwat sitate, maar u hou sulke lang diskoerse dat ek bang is om hulle aan u voor te lê.”
Adv. De Wet was in werklikheid reg-. Totius se deeglike en volledige kennis oor die Gereformeerde teologie en met name die standpunte oor die kennis van Christus as mens en die gesag van die Bybel is so onuitputlik dat dit elke keer uitloop op ’n "diskoers”. Selfs hier in die hofsaal kan hy hom nie losmaak van die teologiese klaskamer nie — dit is Totius die professor op sy beste. Lang "diskoerse” wel, maar nêrens omslagtig nie. Soms is sy antwoord nie alleen skerpsinnig raak nie, maar dit ontmasker ook ’n naïewe vraag; bv. toe die advokaat aan hom gevra het wat die kennis van engele is: "Ek het so min kennis van die engele, dat ek my liewer bepaal by my eie kennis...” Ondanks die pogings om die kerk se optrede en die Gereformeerde leer te verdedig, was die uitspraak van die Hooggeregshof op Vrydag, 15 Januarie, ten gunste van prof. J. du Plessis. Die getuienis van die kerkleër is nog nooit tevore so duidelik in die openbaar in ’n hofgeding gestel nie, maar die prosedure van die kerk in die behandeling van die saak was volgens die regters verkeerd. Die hofsaak wat meer as twee weke geduur het, was eintlik nie vir Totius goed nie. Sulke dinge pas net nie in sy aard nie. Die maalstroom van mense-gewoel maak hom spoedig terneergedruk. En dan nog die spanning van kerklike stryd in ’n wêreldse hof - so sou hy dit nooit wou hê nie. Sy kollegas in die N.G. Kerk was egter vir hom baie goed en hulle waardering vir wat hy gedoen het, was buitengewoon. Tot op die laaste toe hy weer met sy groot trommel boeke met die trein moes vertrek, was die innige hartlikheid en dankbaarheid meer as wat onder woorde gebring kon word. Maar toe die trein weer uit Kaapstad se stasie na die noorde stoom, breek die heimweë na stilte en eensaamheid soos 'n vloed in hom deur:
As ek maar net alleen kan wees,
en voor my velde oordek met gras;
ver in die verte ’n waterplas,
daaragter dan weer velde wyd
wat wegsmelt in die deins'righeid.
Die mensewêreld is daar nie wat eind’loos dryf en dreig en jaag;
geen storm wat deur die stilte breek, die voetstap net van vriend of maag ,
met wie ’k van hart tot hart kan spreek.
"Geen storm wat deur die stilte breek ...” - so was daardie jaar, 1931, vir Totius soos ’n storm wat deur die tydperk van sewe jaar se Bybelvertaling gebreek het.
Vervolg...