Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons lyding op aarde vergelyk geensins met die vreugde wat vir ons in die hemel wag nie. Laat ons dus nie kla as ons ’n kruis moet dra nie. As iemand anders dit moes dra, sou hy die oorwinnaarskroon ontvang het en nie ons nie! Anders gestel: Wie geen kruis wil dra nie, verdien geen kroon nie.
DIE KEEROMSTRAAT- KLIEK (3)
Lees die reeks by Die Keeromstraat-kliek
SA STAP AF VAN GOUDSTANDAARD
Dr At van Wyk
Intussen het die toestand versleg en het Die Burger, onbewus van die nuwe wending wat voor die deur staan, nog op 27 Desember 1932 hardnekkig volgehou dat die Regering nie van goud sou afstap nie. Toe het Stanley die Britse regering reeds op 24 Desember aan die hande van "sterk dog geheel en al onbevestigde gerugte" per kabel in kennis gestel van die voorgenome afstapping van goud op 28 Desember, wanneer die banke sou heropen.
Hy was vol in die kol. Dinsdagaand 27 Desember om 10:30 reik die Suid-Afrikaanse Tesourie 'n verklaring uit. Dit is heel rustig in die redaksie van Die Burger. Daar is weinig belangwekkend om oor te berig. Die kan gemmerbier word nadergetrek. Omstreeks elfuur lewer Reuter se bode die Tesourieverklaring af. Die hoofsubredakteur, Otto du Plessis (later Administrateur van Kaapland), lees die berig en herkou die laaste, die sleutelsin. Dit meld dat die Regering toegestem het om die Reserwebank te onthef van sy verpligting om met goud vir sy note te betaal en dat sulke note 'n wettige betaalmiddel van die Reserwebank word. Hy snap dit nie mooi nie; die vertaler, JF (Kowie) Marais, ook nie.
Marais (die latere regter wat in 1977 tot LV van die PFP in Johannesburg-Noord verkies is) skryf in Keeromstraat 30 hieroor:"Ons lees dit. Ons wys dit vir dr Geyer. Ons lees dit weer. Beteken dit nie dalk dat ons van goud af is nie? O nee, so 'n belangrike stap sal nie sommer sonder enige ophef plaasvind nie... Terwyl ek die berig vertaal, kom dr Geyer weer die stuk lees. 'Nee' sê hy, ' dis maar net 'n beheermaatreël om die goudstandaard te beveiig.' "
Hiermee is die ekonome wat deur Otto du Plessis uit die bed laat haal word, dit eens. Suid-Afrika bly op goud, is die allermening, en Otto se finale kop vir die berig waarin Die Burger op 28 Desember die nuus bekend maak, lui: "Goudmunt aan Sirkulasie in Unie Onttrek."
Taamlik gerusgestel gaan die redaksielede slaap – totdat hulle later die Cape Times se plakkaat op straat gewaar met net dié twee woorde daarop: "Off Gold". Toe is dit of die aarde onder sommige van hulle padgee op 'n dag van Babelse verwarring.
Niemand wis wat die posisie presies was nie, nòg in Suid-Afrika nòg in die buiteland. Het Suid-Afrika van goud afgestap, of is hy op 'n goudwisselstandaard? In Londen skree die Britse oggendkoerante in 'n koor met die Cape Times – en sou sy standpunt bly aanhang; van die middagkoerante praat vir eers Die Burger na. In Berlyn is daar eweveel meningsverskil en verwarring, want die Duitsers staan op goud. In New York sê bankiers dat die Suid-Afrikaanse aankondiging weinig invloed sal hê op Amerika, wat steeds die goudstandaard handhaaf. In Suid-Afrika glo Patrick Duncan, SAP-LV vir Yeoville, dat die land in alle opsigte van goud af is, behalwe in soverre dat hy enige voordeel daaruit kan haal. Die Cape Times kom in die verwarring die naaste aan 'n juiste siening deur te verklaar dat die Regering trag om sy brood weerskante gebotter te kry; om binnelands van goud af te stap, dog die buitewêreld te probeer bluf dat hy die goudstandaard steeds handhaaf. "Panic has fought with pride in Pretoria."
Iets van dié aard is inderdaad geprobeer, maar voor die volgende dag, 29 Desember, het die Reserwebank reeds alle hoop laat vaar op die totstandbring van 'n beheerde goudwisselstandaard. Dít het gebeur ná 'n onderhoud met minister Havenga wat verklaar het dat die inwisseling van 'n banknoot vir goud as die werklike toets vir die bestaan van die goudstandaard in Suid-Afrika beskou is; die feit dat die Reserwebank van daardie verpligting onthef is, sou dwarsoor die land as 'n verbreking van die band met goud beskou word.
Volgens MH de Kock, onderpresident van die Reserwebank, (president van 1945 tot 1962) was dit die eerste stap in 'n feitlik doelbewuste waardevermindering van die Suid-Afrikaanse pond. Reeds op 29 Desember 1932 het die Reserwebank hom aan die notering van wisselkoerse onttrek om die Suid-Afrikaanse pond aan homself en in die hande van die handelsbanke oor te laat – en daarmee was die waardevermindering van die pond onherroeplik aan die gang. Die Suid-Afrikaanse pond is opsetlik onder sy natuurlike waarde afgedruk.
Teen daardie tyd het Die Burger agtergekom dat hy misgetas het. Hy het op 29 Desember aangekondig dat die land sedert Dinsdag, 27 Desember, die goudstandaard verlaat het. Daar is indertyd allerweë geglo dat Tielman Roos die eer of die oneer moes kry vir wat gebeur het, na gelang van die hoek waaruit die saak betrag is.
Die Burger se reaksie verkry perspektief wanneer dit aan dié van ander gemeet word – dit is inderdaad 'n studie op sigself werd. Terwyl die Sap-koerante en Hoggenheimer gejuig het, het dr Geyer en Die Burger geglo dat daar geen finansieel-ekonomiese rede was waarom 'n beheerde goudstandaard met handhawing van die Suid-Afrikaanse pond à pari, nie aanvaar kon word nie. Hierin is hulle gesteun deur die Franse blad Le Midi, en dit was ook die mening van The Glasgow Herald en van Duitse en Nederlandse kenners. In Nederland was die heer K van den Berg, president van die Kommissie vir Nederlands-Suid-Afrikaanse Handel, diep bekommerd dat Suid-Afrika se afstapping 'n element van onsekerheid in die wêreldtoestand sou bring – en die feit dat Holland steeds op goud was het hom sekerlik in sy meningvorming beïnvloed. Net die teenoorgestelde standpunt is in Kanada gehuldig, waar die invloedryke Ottawa Evening Citizen Suid-Afrika se afstapping van goud aangegryp het om Kanada se ontkoppeling van die Amerikaanse goudstandaard te bepleit – en om só sy selfstandigheid te bewys. Dit was inderdaad net 'n omgekeerde pleidooi as dié van die Hertzog-regering tot pas tevore. Vir die Britse Daily Express het die blaam by die geldspekulante gelê. Toe Amerika 'n raps meer as 'n jaar later ook van goud moet afstap, het die blad dit gehad oor "skelm" en "lae" finansiële "uitsuiers" wat hul kennis van geldsake op 'n "veragtelike wyse misbruik" in 'n spel wat hulle nie kan verloor nie en waarin hulle die lewe van 'n ganse volk versuur. "By the side of such men Al Capone rises in dignity".
Hoggenheimer in Brits-Amerikaanse gedaante! Maar dit is opvallend dat die blad sy kommentaar weerhou het toe Suid-Afrika sy goudkrisis belewe het.
Die Burger had g'n genade vir Hoggenheimer nie, die gulsige roofdier wat sy rekkende buik vul met kos wat die volk toekom en Tielman Roos as tropleier daarvoor gebruik! Dis 'n siening wat nogal ooreenstem met dié van Patrick Duncan soos hy hom op 28 Desember uitgedruk het: "There are quite a number of men of the Rand Club Stock Exchange sort who are ready quite uncritically to shout for Tielman and take him at his face value first because he is something new and sensational. They take no real interest in politics and being bored with reading about the contests of Hertzog and Smuts are prepared to back anybody who promises them some new bill of fare."
Roos het baie aan hulle belowe, daarom sou 'n beheerde goudstandaard met handhawing van die Suid-Afrikaanse pond à pari hom steeds met die wapen gelaat het om die Regering tot 'n val te bring. So het minister Charlie Malan aan dr Geyer gesê. Afstapping van goud het hom daardie wapen ontneem; daarom het Geyer geglo dat die Regering nie van goud afgedwing is nie maar om politieke redes daarvan afgestap het.
Dit is slegs deels waar. In nabetragting sou dit naamlik totaal onbillik wees om te beweer dat bloot politieke motiewe die Regering eers aan goud laat vasklou het en hom uiteindelik daarvan laat afdwing het. Daar was ook sterk ekonomiese redes daarvoor. Die basiese en suiwer ekonomiese toestand gedurende 1931 en 1932 het nie die land se betalingsbalans dermate geraak dat dit die depresiasie van sy geld genoodsaak het nie. Die toestand was anders in Brittanje en Australië, waar die betalingsbalans deur die depressie nadelig beïnvloed is. Suid-Afrika is van goud afgedwing deur die stormloop na goudmunt wat deur die Roos-geïnspireerde politieke omwenteling veroorsaak is; maar dan het die politieke verwikkeling natuurlik nie los gestaan van die ekonomiese uitwerking van die handhawing van die goudstandaard nie. Daarby sou afstapping 'n nie-inflasionêre opswaai tot gevolg hê met 'n ongeëwenaarde oormaat aan geld, 'n buitengewone styging in goudaandele en 'n oplewing op haas elke ander terrein. Afstapping was 'n voordelige ekonomiese stap en die belangrikste en verreikendste wat die Suid-Afrikaanse regering sedert 1910 gedoen het.
Intussen was die hoofdebat in die nuus steeds die politieke krisis waarin Hertzog en Smuts hulle bevind het. Die Randse geldmag vir wie Roos feitlik 'n orakel geword het kon nie verstaan waarom Smuts nie onverwyld Roos se hand vat en hom so die kans bied om premier te word nie. Presies hoe sterk Roos se volgelingskap in die Volksraad was is onbekend maar dit is in nasionale kringe op sewentien gestel, wat voldoende was om die Regering tot 'n val te bring.
Die opperste vraag was of die Regering sou bedank. Genl Hertzog het in die voorafgaande 12-15 maande verskeie kere nadruklik sy politieke toekoms en dié van sy regering op die handhawing van die goudstandaard gestel. Geyer en sy assistent, Recht Malan, was van mening dat die Regering behoort te bedank. Geyer het dit spoedig betreur dat die Regering nie wel bedank het nie, en het Hertzog se verskoning in die Volksraad dat hy vrywillige afstapping bedoel het en nie 'n gedwonge stap nie, as onoortuigend verwwerp. In sy blad het hy egter die teendeel voorgestaan. Pleks van te bedank het Hertzog in sy Nuwejaarsboodskap aan Suid-Afrika verklaar dat ontrou en verraad die Regering net tot groter waaksaamheid en kragtiger inspanning sou aanspoor. Dit was 'n duidelike sinspeling op Roos, maar Hertzog self sou spoedig op 'n wyse optree wat vir ander, veral vir Die Burger, op ontrou en verraad sou dui.
Vir eers was Roos nog die alleen-skyf vir die pyle van grimmige nasionaliste. "Tielman, Tielman...," skryf P de Villiers op 31 Desember in Die Burger, "jou swakpunt was altyd vleitaal. Die Jingo-pers was oulik genoeg om die punt so te eksploiteer dat jy vandag daar totaal dronk van geword het. Gaan voort, drink diep, die ontnugtering sal bitter wees." Dosyne en dosyne briewe oor die politieke krisis sou hierna in die blad verskyn, en op grond van sy voorligting sou Hoggenheimer nie gespaar word nie.
Die Burger het reeds op Oujaarsdag 'n oorskatte berekening geplaas dat, sou die Suid-Afrikaanse pond tot die sterlingvlak daal, dit aan Hoggenheimer 'n bykomende goudwins van 10 miljoen pond sou lewer. Die grootste deel daarvan het die blad vir die volk van Suid-Afrika opgeëis.
Dié eis het hy al hoe kragtiger herhaal nadat die Goewerneur-generaal, lord Clarendon, in sy troonrede by die Parlementsopening op 20 Januarie aangekondig het dat die Regering wetgewing sou indien om spekulasiewinste op wisseltransaksies te belas. Met daardie aankondiging het die poppe begin dans, aldus CR Swart, LV vir Ladybrand en later Staatspresident, wat geglo het dat Smuts en sy vriende haastige planne moes beraam om die "onverdiende oeste" van die spekulante te beskerm. Die redding is in koalisievorming gesien. In die lig van wat reeds gesê is en hierop volg, is dit egter veels te simplisties om te beweer dat die goudduiwel, ofte wel "The Cloven Hoof of Gold", die enigste en deurslaggewende faktor in koalisievorming was.
Terwyl die magnate en geldwisselaars hul winste bereken, bly die politieke vooruitsigte onberekenbaar . Wat gaan Tielman Roos doen? En Smuts? En Hertzog? Bedank die Regering tog en skryf 'n verkiesing uit, dan moet die Suid-Afrikaanse Party, vanweë Roos se aanhang daar, net so geknou word soos die Nasionale Party. Nasionaliste glo hulle word deur die Roosiete gerysmier. Om die pes te bestry, spreek die Kaaplandse Nasionale Party hom by monde van sowel sy hoofbestuur as sy koukus teen Roos se politiek uit, met die teenstem van Louw J Steytler, LV vir Albert, wat 'n koalisie met Roos voorstaan – en weldrae uit die koukus geskors sou word. En asof hy 'n voorbeeld aan sy nasionale broers in die Suide wil stel ontbind Eamon de Valera (wat die vorige jaar premier geword het) die Ierse parlement in die middernagtelike ure van 3 Januarie 1933, juis om te verhinder dat sý teenstanders 'n koalisie aan hom opdwing. Vir Die Burger is dit hoogs bruikbare nuus; daarom plaas hy dit die volgende dag op sy voorblad en wy hy 'n simpatieke hoofartikel aan die Ierse nasionale stryd.
Nasionalisme in Suid-Afrika was besig om 'n kruispad te nader, maar dis nog nie mooi besef nie. Die Burger het probeer voorbrand maak deur op 6 Januarie 1933 te beweer dat die nasionale geesdrif aan't oplaai was met die oog op die verwagte stryd; sir Herbert Stanley het daarenteen 'n verkiesing in die vooruitsig gestel met 'n neerlaag vir Hertzog teen 'n Roos-Smuts-kombinasie. Dit het dié Britse diplomaat die verblydende tekens van 'n blaaskans vir die Engelse laat sien, met daarby die permanente bewaring van Britse bande met Suid-Afrika, op voorwaarde dat die Britse state noord van die Limpopo in 'n federasie saamgesnoer word om as bindmiddel te dien. (Later sou 'n Hertzog-Smuts-koalisie vir hom die verswelging van die Engelse element inhou!).
Ook in Amerikaanse, Kanadese en Britse koerante het berigte uit Suid-Afrika verskyn waarin die val van die Hertzogbewind voorspel is. Sowel dr Malan as die Kaaplandse hoofbestuur van die Nasionale Party was 'n spoedige verkiesing te wagte. Malan het geglo dat die afstapping van goud die formulering van 'n nuwe beleid genoodsaak het waarvoor die Regering 'n mandaat sou moes kry; daarom het hy 'n verkiesing tussen Mei en Oktober 1933 verwag.
Vervolg: Nasionalisme op 'n kruispad ... 4)