Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Een groot bron van ongelukkigheid by mense is die gewoonte om jou lewe uit te stel na 'n toekomstige datum. Meeste mense is gedurig besig om hulself ongelukkig te maak omdat hulle vandag se mooi dinge en geleenthede verloor terwyl hulle besig is om op die toekoms te fokus. Gebruik elke dag, gryp die dag wanneer jy opstaan – Carpe Diem!
S I M S O N (1)
Die unieke metodes wat die Rigter Simson aangewend het om Israel van Filistynse oorheersing te bevry.
Dr JP Botha
Lees reeks by SIMSON
ISRAEL EN AFGODEDIENS
Gedurende die tyd van die rigters is Israel verskeie kere verdruk deur die heidense volke wat nog oral in en rondom die land Kanaän gewoon het. By hierdie heidense volke het Israel geleer om afgode te aanbid. Dan het hulle vergeet om die Here te dien en het nie meer onthou hoe Hy hulle voorvaders uit hul Egiptiese slawerny verlos het nie. Dan het die Here toegelaat dat een van hierdie goddelose heidense stamme die land oorstroom en die volk in hul eie land verdruk.
DIE TYDPERK VAN DIE RIGTERS
Gewoonlik het Israel dan hard tot die Here geroep om hulp en het Hy hulle weer jammer gekry en een van hulle as ‘n rigter aangestel om hul uit die hand van hul vyand te verlos. Daar was dapper rigters wat die volk gelei het, soos Ótniël, Ehud, Samgar, Debora en Barak, wat die volk uit die hande van die Kanaäniete en Filistyne verlos het. Die dapper Gideon het hulle van die Midianiete en die Amalekiete verlos. Tola, Jaïr en Jefta moes teen die Filistyne en Ammoniete veg. Daarna het Ebsan, Elon en Abdon die volk teen sy vyande gelei, voordat Simson op die toneel verskyn het
FILISTYNE VERDRUK ISRAEL
Na al die verlossingswerk van die genoemde rigters deur die jare heen, het die liewe Israel maar weer die Here vergeet en hulleself lustig in afgodediens gedompel. Die Here het gereeld sy volk oor hulle sondes gestraf. Hierdie keer het Hy die Filistyne gebruik om hulle te verdruk. Hy het hulle oorgegee in die hand van die Filistyne, veertig jaar lank. Die Filistyne het in die land van Israel geboer, strooptogte uitgevoer en kwaad gedoen.
SIMSON SE GEBOORTE AANGEKONDIG
In hierdie tyd was daar ‘n man uit die geslag van Dan, met die naam Manoag. Hy het nie kinders gehad nie, want sy vrou was onvrugbaar. Die Engel van die Here het aan hierdie vrou verskyn en vir haar gesê: “Jy sal swanger word en ‘n seun baar. Al kon jy nie kinders kry nie, sal jy binnekort verwag en ‘n seun hê. Jy mag geen wyn of sterk drank drink nie. Moenie iets eet wat onrein is nie, want die seun sal ‘n nasireër van God wees; hy sal vanaf die dag van sy geboorte tot sy dood aan God gewy wees. Jou seun se hare mag nooit geskeer word nie. Hy sal die Israeliete uit die hand van die Filistyne bevry.”
Toe die Engel van God verdwyn, het die verbaasde vrou onmiddellik haar man gaan opsoek en hom die uitsonderlike nuus van die Engel se besoek meegedeel. Sy het vir haar man gesê: “Dit was vreeslik! Dit het gelyk of dit ‘n engel van God kan wees. Hy het nie vir my gesê waarvandaan hy kom nie of wie hy is nie.”
Toe vertel sy aan Manoag alles wat die Engel vir haar gesê het.
Manoag was maar ‘n eenvoudige man, maar hy en sy vrou het die Here opreg gedien en haar stamelende relaas oor wat die Engel alles vir haar gesê het, het hom laat besef dat dit ‘n baie belangrike besoek uit die hemel was. Hy het neergeval en begin bid: “Here, laat tog asseblief die man van God wat U na ons gestuur het, weer na ons toe kom om vir ons te kom vertel wat ons alles met die kind moet doen wat gebore gaan word.”
DIE ENGEL VERSKYN AAN MANOAG
Sy gebed is verhoor. Onderwyl die vrou in die veld was, het die Engel van God weer na haar toe gekom. Sy het onmiddellik huis toe gehardloop en haar man gaan haal. Manoag vra vir hom: “Is jy die man wat met my vrou gepraat het?” Hy antwoord: “Dit is Ek, ja.” Manoag wou toe weet: “As jou beloftes waar word, hoe moet die kind lewe en wat moet hy doen?
Die Engel van die Here het hom geantwoord: “Sorg dat jy alles doen wat ek vir jou vrou gesê het. Sy mag nie iets eet wat van druiwe af kom nie. Sy mag nie wyn of sterk drank drink nie. Sy mag niks eet wat onrein is nie. Sy moet alles doen wat Ek vir haar gesê het.”
Manoag wou toe baie beleef en dankbaar wees en sê: “Wag ‘n bietjie hier. Ek wil vir jou ‘n bokkie gaan gaarmaak om te eet.”
“Ek sal hier wag, maar Ek sal niks eet nie. Maar jy kan ‘n brandoffer vir die Here gereedmaak.”
Manoag het nog nie mooi weg geweet met wie hy te doen het nie en vra vir die Engel: “Wie is jy? Wanneer dit gebeur soos jy gesê het, wil ons graag jou naam vereer.
“Hoekom wil jy weet wie Ek is? Dit is te groot vir jou.”
Manoag is toe huis toe om ‘n bokkie gereed te maak en dit saam met ‘n graanoffer op ‘n klip vir die Here te offer. Toe gebeur daar iets wonderliks. Onderwyl Manoag en sy vou staan en kyk hoe die vlamme uit die altaar opskiet die lug in, het die Engel van die Here in die vlamme opgestyg. Toe Manoag hulle dit sien. het hulle met hul gesigte teen die grond neergeval. Hulle kon die Engel nie meer sien nie. Toe besef hy met skrik dat dit eintlik die Engel van die Here was en sê vir sy vrou: Ons sal beslis nie bly leef nie. Ons het dan vir God gesien!”
Sy het egter meer geloofsvertroue as haar man gehad en sê: “As die Here ons wou doodmaak, sou Hy nie ons brand- en graanoffer aanvaar het nie. Hy sou ook nie aan ons verskyn het en ons al hierdie wonderlike dinge vertel het nie.”
Natuurlik wou God nie vir Manoag en sy vrou doodmaak nie. Hy wou hulle gebruik om vir Hom ‘n man in die wêreld te bring wat as rigter weer sy volk sou verlos van die Filistynse onderdrukking waaronder hulle gebuk gegaan het, want die Here het sy volk 40 jaar lank aan die Filistyne onderwerp as straf omdat hulle weer kwaad gedoen het.
Vervolg...