Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Suksesvolle leier is aanpasbaar. As hy nie meer brandhout bymekaar kan maak nie, maak hy sy vuur kleiner. Met God by hom, is geen terugslag te groot nie. Dis mos nie hóe ‘n matroos die hawe uitvaar wat van hom ‘n gesoute seeman maak nie, maar hóe hy na ‘n storm daarheen terugkeer. Kalm water maak geen matroos vaardig nie.
VOLKSVERRAAD (17)
Adv PJ Pretorius
Lees volledig by Volksverraad - die boek
DIE COUP D'ETAT(STAATSGREEP):
INLIGTINGSKANDAAL WORD DEUR DIE CIA-POLITIEKE HOOFSTROOM GEBRUIK OM VAN VORSTER ONTSLAE TE RAAK EN MULDER TE BLOKKEER OM PREMIER TE WORD
Die geheime projekte van Inligting is beskerm en om die kollig weg te hou van die subversie agterliggend tot sommiges van die projekte, is die fokus verplaas na intriges op die finansiële terrein. Hoewel al hierdie projekte geheim gehou was, het daar tog met verloop van tyd iets uitgelek. Toe die Ouditeur-Generaal teen die einde van 1976 aandring op besonderhede oor bepaalde uitgawes van senior amptenare by Inligting, het Rhoodie geweier om enige gegewens te verstrek. Hy het hom beroep op geheimhouding. Uit gegewens wat onder die aandag van die Ouditeur-Generaal gekom het, was dit vir hom duidelik dat die Departement van Inligting hom kan skuldig maak aan verkwisting van staatsgelde.
Sedert April 1977 het die Departement van Inligting se klandestiene propaganda-aanslag begin inmekaartuimel toe die nuus die rondte doen dat Rhoodie en sy 'vriende' geheime staatsfondse vir eie voordeel gebruik het: familievakansies na die Seychelles, winsgewinde beleggings, rugbykaartjies en so meer. Namate Rhoodie se propaganda-aanslag begin uitrafel het onder druk van die pers (in besonder die liberale Engelse pers van die Rocke feller-CIA-konneksie), het Van den Bergh gepoog om spore van verdagmaking uit te wis asook om Mulder se politieke loopbaan te beskerm.
In Julie 1977 het die Ouditeur-Generaal sy vermoede ook vertroulik aan Vorster meegedeel. Vorster het daarop L. Reynders van die Buro vir Staatsveiligheid, gevra om ondersoek in te stel na die besteding van die Departement van Inligting se geheime fondse.
Sommige onreëlmatighede in die Departement van Inligting is vroeg 1978 in die Volksraad ontbloot toe die Ouditeur-Generaal se verslag ter tafel gelê is. Die Ouditeur-Generaal het bevind dat die betrokke Departement in die boekjaar 1976-1977 ongemagtigde uitgawes van R396 560 aangegaan het Rhoodie is daarop voor die Volksraad se Gekose Komitee vir Openbare Rekeninge gedaag om die onreëlmatighede te verduidelik. Connie Mulder het die kritiek op hom en sy Departement besweer deur op 3 Mei 1978 aan te kondig dat hy sy Departement gaan reorganiseer en dat twee bepaalde senior amptenare afgedank gaan word. Op 5 Mei 1978 het Rhoodie 'n verklaring uitgereik waarin hy meld dat die betalings wat hy uit die geheime fonds gemaak het deur die kabinetskomitee goedgekeur is.
Die Sunday Times onthul dat Thor Cummunicators, 'n geheimsinnige maatskappy wat na bewering noue bande met Rhoodie gehad het, in Oktober 1976 drie miljoen dollar uit Switserland ontvang het. Op 10 Mei 1978 het J.D. du P. Basson in die Volksraad aan dr. Mulder gevra of dit waar was dat The Citizen met staatsgeld gepubliseer word. Mulder het dit op versoek van Vorster ontken.
Op 28 Mei 1978 berig Rapport onder die opskrif Moord en miljoen — Pretoria vat oor dat die polisie ondersoek instel na 'n moontlike verband tussen die Departement van Inligting se geheime projekte en die moord op dr. Robert Smit en sy eggenote. By nadere ondersoek, het dit tog aan die lig gekom dat Pik Botha se Departement van Buitelandse Sake bepaalde informasie aan die polisie deurgegee het. Botha het dit heftig ontken, maar nie die hoof van Polisie se Speurdiens nie. Dit was 'n veldtog van Pik Botha self om Mulder swart te smeer. Die veldtog het 'n belangrike deel van die leierskapstryd in die Nasionale Party gevorm. Mulder se aanspraak op premierskap is toe reeds deur die dramas en skandale wat om sy Departement gewoed het, "vemietig". As Mulder nog enige hoop gekoester het om Vorster op te volg, was dit op 15 Junie 1978 vernietig.
Vorster het op 15 Junie 1978 aangekondig dat die Departement van Inligting ontbind word en deur 'n Buro vir Nasionale en Internasionale Kommunikasie vervang word in 'n poging om die storm van kritiek om die Buro van Inligting te laat bedaar. Hy het ook bekend gemaak dat Rhoodie op 1 Julie 1978 uit die staatsdiens sou tree en dat die hoof van die Buro vir Staatsveiligheid, genl. Van den Bergh, 'n waardebepaling van die Buro van Inligting se geheime projekte sou doen. Die Verligte Aksie-beweging het ook op daardie stadium agter die skerms gepoog om die nuwe Buro vir Nasionale en Internasionale Kommunikasie nie onder Mulder te laat ressorteer nie en dat Pik Botha in beheer van Inligting sal staan.
Van den Bergh het intussen verneem dat Vorster besluit het om weens gesondheidsredes te bedank. Die vraag wie Vorster gaan opvolg, het meteens belangrik geword. In 'n poging om Mulder se kandidatuur te bevorder, het Van den Bergh (volgens die Erasmus-kommissie) druk op Reynders uitgeoefen om sy verslag oor die Departement van Inligting se geheime fondse te voltooi. Reynders het 'n sertifikaat uitgereik met die strekking dat hy geen wanbesteding van fondse teëgekom het nie. Hierdie sertifikaat het Van den Bergh op 19 November 1978 aan Vorster oorhandig.
Op 20 September 1978 het Vorster, wat 'n tyd lank siek was, aangekondig dat hy gaan uittree. As rede het hy aangegee dat sy liggaamskragte nie meer voldoende was vir die taak wat hy moes verrig nie. Hy het egter terselfdertyd bekend gemaak dat hy hom verkiesbaar sal stel vir die amp van Staatspresident, wat op daardie tydstip vakant was as gevolg van die afsterwe van dr. N. Diederichs in Augustus 1978.
Die gedeelte van Reynders se sertifikaat wat daarop dui dat daar geen wanbesteding van fondse in die Departement van Inligting was nie, is aan Die Transvaler gelek en hierdie koerant het dan ook 'n berig in die verband gepubliseer. Die openbaarmaking van Reynders se bevinding dat daar niks onreëlmatig in die Departement van Inligting was nie, het daartoe gelei dat een van Rhoodie se vertrouelinge, adv. Retief van Rooyen besluit het om Pik Botha te gaan inlig oor die onreëlmatighede waarvan hy kennis gedra het. Adv. Van Rooyen het toe op 'n Saterdagmiddag vir Pik Botha in Pretoria gaan opsoek. Pik Botha het op sy beurt ander lede van die kabinet ingelig. Saam met P.W. Botha, Chris Heunis en Alwyn Schlebusch het Pik Botha vir John Vorster gaan konfronteer. Later op 'n kabinetsyergadering het die rol van laksman op Pik Botha se skouers geval.
Vorster het op 26 September 1978 die kabinet vir die eerste keer ingelig dat The Citizen in werklikheid met staatsfondse uitgegee word. Op 28 September 1978, die dag waarop hy as premier uitgetree het is Vorster ook deur die koukus yan die NP aangewys as sy kandidaat vir die Staatspresidentskap.
Vervolg...