Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Here, oral waar ek gaan laat ek vingerafdrukke na. Op die hande wat ek aanraak, op borde, mure en boeke.
Help my Here, om vandag waar ek ookal gaan hartafdrukke na te laat. Hartafdrukke van regverdigheid en deernis, van begrip en liefde, van barmhartigheid en belangstelling. Hartafdrukke van hartlike vriendelikheid en van opregte betrokkenheid. Mag my hart 'n ander hart aanraak en 'n afdruk van u liefde laat. En as iemand sou sê: "Jou aanraking het my vandag versterk" laat hulle agterbly met die wete dat dit u Liefde was wat hul in my ervaar het.
1994: ONS VOLK GESLAG OP MEINTJESKOP (2)
Die houtperd van Meintjeskop
Dr Harry Mocke
Lees reeks by 1994: Slag van Meintjeskop
" Waaragtig, kan dit nie ook maar die verhaal van Suid-Afrika wees nie? Sal dit dalk die verdoemende verhaal van die Boerevolk word?"
Op ons reisplan staan dit duidelik dat ons ook Troje gaan besoek. Wie ken nou nie die verhaal van "Die Houtperd van Troje" nie. Maar min mense uit ons land het al ooit die geleentheid gehad om daardie stad te besoek en self die geskiedenis daar te herleef. Om in die verbeelding te sien hoe die verhaal afspeel. Om self in te klim in die reusagtige houtperd wat agterna vervaardig is en voor die ingang staan om toeriste te vermaak.
Die gids vertel ons weer die verhaal van die Houtperd van Troje. Hierdie stad, aan die Turkse kus, wat aan die Egeïese See lê, was 'n sterk vesting vir sy aanvallers van die hedendaagse Griekse eilande af, om in te neem. Toe maak die aanvallers 'n slim plan. Hulle bou 'n houtperd waarin hulle 'n klomp soldate veilig kan versteek. Hulle trek die perd tot voor die poort van Troje en vertrek. Intussen maak hulle egter net 'n draai en keer terug om weg te kruip en op die regte geleentheid te wag.
Die verbaasde Trojane sien hoe hulle vyande in hulle bote klim en vertrek. Voor die poort vind hulle 'n pragtige "geskenk". Die houtperd. Dit kan net een ding beteken. Die vyand het die aftog geblaas en laat uit waardering nou 'n geskenk agter. ('n Bietjie naïef!)
Die Trojane ontsluit die poort en sleep die perd na binne. Toe doen hulle wat alle oorwinnaars in daardie tyd gedoen het: Hulle hou 'n stewige dronkparty om hulle oorwinning te vier. Teen die agtergrond van die onkapabele soldate binne die stad en onder dekking van die nag, open die vyand die houtperd se buik, klim uit en ontsluit die poorte van Troje.
Die resultaat: die stad word deur die vyand ingeneem en die naïewe bevolking gedood of verslaaf.
Hoe lyk Troje vandag?
Troje is 'n murasie wat onder die stof en grond van die eeue verdwyn het. Die toelating van die houtperd met sy dodelike vrag was die einde van Troje. Stuk vir stuk ontbloot argeoloë vandag die murasies weer van vooraf.
Ek en Judi kyk na mekaar. Ons monde val oop. Waaragtig, kan dit nie ook maar die verhaal van Suid-Afrika wees nie? Sal dit dalk die verdoemende verhaal van die Boerevolk word?
'n Jaar voor 27 April 1994 staan die Boere-deel van die blankes in Suid- Afrika stewig en vol moed. Hulle is bereid om selfs vir hulle vryheid te veg as dit moet. Hulle mobiliseer, maak slaggereed, versamel noodvoorraad en noodenergie. Hulle berei hulself sielkundig voor vir wat ookal kom.
Boere-eenheid is hegter as ooit tevore. Dit vorm 'n muur van verset teen die ANC en die NP.
Ons vyande skrik en steier. Daar is verwarring en vrees. Hulle blanke lakeie bring slegte nuus van eenheid en krag in Boere-geledere, wat dui op gewapende teenstand om die vryheid te behou.
Hulle moet dringend 'n plan beraam.
Uit die niet verskyn 'n bonus, 'n Geskenk. 'n Trojaanse perd, wat lyk na 'n versterking van die Boere-eenheid. 'n Perd met 'n uniform aan. Dit is mos sommer 'n gerespekteerde perd, wat vir ons in ons mobilisasie baie kan beteken. Die Boerevolk aanvaar die perd met groot vreugde, open die poorte, trek dit in sy vesting in. Hy vier fees. Hy bou selfs sy hele mobilisasie rondom die perd en dink nie eers aan die lot van Troje nie.
Op die kritieke oomblik gaan die perd se pens oop en die inhoud stap uit. Netjies marsjeer hulle om die hekke oop te maak en die vyand binne die verdediging van die Boerevolk los te laat. Weerloos staan die Boerevolk. Nie alleen bars die volle nuwe Suid-Afrika op hom los nie, maar die perd het selfs daarin geslaag om 'n klomp "Trojane" aan sy kant te kry, wat nou teen hulle eie mense veg.
Hoe lyk "Troje" (die nuwe Suid-Afrika) vandag? Murasies waar jy kyk:
Ons ekonomie is 'n vervalle murasie.
Ons veiligheid is 'n murasie van misdaad, bedrog, korrupsie, moord, doodslag, diefstal, verkragting.
Ons gesondheid is 'n murasie van vigsneste as hospitale.
Ons onderwysstelsel het verval in 'n murasie sonder standaarde.
Die truuk met die Trojaanse perd het weer gewerk!!!
Hoe gaan die Boerevolk hierdie perd hanteer? Gaan hy toelaat dat argeoloë eendag ons murasies oopgrawe om by toeriste uit Turkye te spog oor hulle eie Troje?
Ek hoop nie so nie. Ek hoop dat die Boerevolk die murasies sal opbou voordat dit deur die stof en as toegewaai word. Ek hoop die Boere-deel van ons volk sal binnekort in staat wees om uit die murasies van ons eie "Troje", 'n nuwe vesting van eenheid te skep, waarmee ons kosbare vryheid herwin kan word.
Dit sal van ons eie wil, prestasie en vernuf afhang. Daarvan het die Boerevolk 'n oorvloed.