Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God help gelowiges om hul lewenskip reg te stuur sodat dit die storms van die lewe suksesvol kan trotseer. Daarom skyn God se reënboog van genade altyd helder in hulle lewe. God gee hulle die genade om ‘n lig aan te skakel eerder as om die donker te verwens. Daarom oorweldig spanning hulle nie maklik nie.
SIENER VAN RENSBURG, DIE MENS (13)
Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens
Die pad is oop ...
Boy Mussmann vertel verder:
Dit is opmerklik dat ons die heeldag hier in stilte deurbring om die regeringstroepe kans te gee om van Olifantshoekdorp by ons verby te kom. 'n Afstand van 14 myI (23 km). Teen sononder sê oom Klasie ons moet trek want die pad is oop. Toe ons die tweede bult oorgaan, vind ons die regeringstroepe besig om langs die Posmasburgpad posisie in te neem. Ons begin op hulle skiet. Terselfdertyd begin Petrus Ferreira op hulle skiet van die suidekant af. Ferreira is van ons weg by Kuruman. Ons kry opdrag om die nek (bergpas) in die Langberge in besit te gaan neem. Dit is 'n pad dwarsdeur die Langberge. Dus, as die regeringstroepe ons nou wil bykom, dan moet hul by Olifantshoek omgaan.
Ferreira kom agter ons die poort in en neem stelling in by 'n plaasheininghek. Hy versteek sy perde. Die regeringstroepe kom en word lelik deur Ferreira toegetakel. Die regeringstroepe moes die aftog blaas. Hulle kar met ammunisie het in die slag gebly, maar Ferreira wis dit nie.
Toe trek ons agter Langberg af in die rigting van Grootrivier tot by Taungs. Daar kry ons water. Dan sê oom Klasie: "Ons kan maar slaap die vyand kom nie." Elkeen span sy perd uit en gaan lê en slaap. Dit is die nasleep van die terugslag wat Petrus Ferreira hulle toegedien het.
Die volgende môre sê oom Klasie: "Ons moet die manne bymekaarroep, die regeringstroepe kom." Nouliks was ons bymekaar of die vyand is daar en ons is slaags. Ons verlies was 4 dood en een gewond. Ons manne wat gesneuwel het, het drie kopskote en een deur die maag. Die rede waarom ons manne soveel kopskote gekry het is: Ons het uitgevind die regeringsmense se kenteken was 'n wit band om die arm - daarom het ons die wit band om die hoed gesit. Ons was beswaard om die wit band om die arm te sit want dit was die Roomskatolieke se kenteken by Bartolomeusnag toe die Christene vermoor is.
Net ná die begrafnis gee genl. Kemp bevel ons moet opsaal en trek. Toe die kommando ongeveer 6 myI (9 km) weg is. vra een burger aan genl. Kemp: "Waarom kom oom Nieklas nie"? Genl. Kemp sê: "Waar is hy dan?" Die man sê: "Hy is nog op Witsand."
Genl. Kemp vra: "Wat sê hy?" Die man sê hy sê "die pad is nog nie oop nie."
Op Witsand ry die spioene van 'n mag onder die Natal Lighthorse tussen ons in. Die nag Iê ons aan die Grootrivier by Kys. Op Kys sien oom Klasie Iê 'n man met militêre klere aan op sy sy, met 'n bril op en bajonet in sy hand. Daar sê oom Klasie: "Ek weet nie wat dit beteken nie."
Ons bly twee dae by Witsand oor. Goed ook, want meer as 150 man het omgedraai en gaan oorgee. Ons toestand is sleg, baie perde het agterbly. Dit is daardie jaar droog. Een geluk dat ons daar oorgehet bly was die groot getal perde wat daar geloop het. Hul kom drink ook by die Witsandkoppie water en toe het 'n goeie aantal burgers daar weer perde gevang. Ander perde het bietjie rus gekry.
Van Witsand stuur genl. Kemp twee afdelings vooruit met rapporte aan Maritz om te kom help. Die een afdeling onder Petrus Ferreira en een onder MacCharty. Na die tweede dag toe sê oom Klasie: "Die pad is oop, ons moet trek. Oom Willie Boshoff van Wolmaransstad hou diens en lees uit Josua 3:5: "Heilig julle, want more sal die Here onder julIe wonders doen." Toe wis ons oom Willie en oom Klasie is albei ouderlinge van hulle kerk op Wolmaransstad en intieme vriende. Môre sal ons iets besonders belewe. Ons trek tot die anderdag 11 uur. Toe ons die rantjies bokant die vlei by Grootrivier bereik, toe sien ons lê die vyand aan die slaap. Onmiddellik begin die skietery. Ons sien Grootrivier se water, maar die vyand verdedig vas. Gedurende die dag kry ons in Royston se saalsak sy dagboek en daarin sê hy: "Ek wag nou a1 8 dae hier in die drif vir genl. De Wet; perde opgesaal en elke soldaat met sy geweer en bajonet in die hand."
Die aand donker het ons 'n pad oopgeskiet na die rivier, toe kon ons ons perde gaan water gee en gaan drink. Toe sê oom Klasie: "Nou verstaan ek goed; die man het brille op - dit beteken dis hulle spioen en ons moet wakker loop. Tog kry ons hulle aan die slaap."
Die twee dae se oorbly op Witsand het vir ons 'n dubbel doel gehad: Perde rus en perde vang. Die vyand moet eers deur die vaak wees as ons arriveer. Daar is een man van ons geskiet. Daarvandaan trek ons allangs Grootrivier af na Upington. Elke dag moet ons die vyand wegskiet van die water af. Ons kom by 'n plek met die naam Kaffirswart. Daar kom die duine tot byna teen die rivier. Hier word 6 man van ons agtergelaat as 'n wag vir die mag wat van agter langs die rivier afkom. In die poort waar die woonhuis Iê, kom baie perde, muile en donkies uit die duine om te drink. Weer maak ons ses hulle bymekaar en jaag hulle na ons laer.
Die manne vang perde, muile en donkies - al wat rybaar is. Regoor ons laer aan die oostekant, suid van Grootrivier, maak 'n regeringsmag sy verskyning. Hul begin veg. Ons vermoed dis 'n geveg tussen rebelle en regeringsmense wat daar woed. Genl. Kemp roep die krygsraad byeen. Hul besluit ons trek deur. Oom Klasie hou vol daar is geen rebellemag. Ons sê aan oom Klasie: "Royston het gesê hy wag vir genl. De Wet, en Royston kry tog die offisiële rapporte van elke rebelIebeweging ...As dit nie De Wet is nie, dan mogelik Conroy."
"Nee," sê oom Klasie: "dit is ook nie Conroy nie." Iemand vra: "Oom Klasie, is dit nie miskien Maritz nie?" Hy sê: "Ag nee, broertjie, ek het mos vir julle gesê ek groet Maritz waar hy op sy blauskimmelperd sit in Duitswes."
Daar gebeur die dag 'n liederlike ding. By Schweizer-Reneke het by ons 'n Fransmannetjie aangesluit met die naam van Russel. Hy was besonder dapper. Hy en ek stap by genl. Kemp verby, Genl. Kemp roep hom en sê: "Kyk, Russel, ek wil vir jou deurstuur na Maritz met ‘n rapport. As jy vir my 'n rapport deurneem en ek kom eendag aan bewind, dan maak ek van jou 'n grootman." Russel neem die rapport sonder om 'n woord te sê en stap weg. Ek het gesien hoe genl. Kemp die rapport uitskryf in sy sakboek. Die rapport lui. "Wat die man aan jou sê, kan jy glo."
Ek sê toe aan genl. Kemp: "Maar, genl. Kemp, dit is baie onbillik van jou. Jy weet mos hy kan onmogelik tussen die duisende vyande deurkom." Genl. Kemp sê: "Dit kan my nie skeel nie! Ek vertrou hom nie en dan is ek van hom ontslae." Ek sê: "Maar, Generaal, as hy nie bertroubaar is nie, dan gee jy hom mos volmag om Maritz in die kake van die vyand in te lei." Kemp sê weer dit sal hy nie regkry nie. En, die regeringstroepe het hom gevang, die rapport by hom gekry en hom doodgeskiet. Waarom het genl. Kemp nie liewer vir Siener gevra of hier nog 'n bont korhaan is nie?
Dit het vir ons duidelik geword die geveg oorkant Grootrivier is 'n blinde geveg om ons deur te lok. Dan was dit vir die regering maklik om net die driwwe te bewaak en sodoende te verhoed dat ons Duitswes bereik. Toe dit donker word by Kaffirswart toe sê Siener: "Ons pad is oop, ons moet trek - ry oos die duine in."
Ons trek 15 my 1 (24 km) tot by 'n plaas met die naam Diepklip.
Van die krygsraadsbesluit het niks gekom nie. Van Diepklip trek ons reg noord. Deur die duine sonder water, met net 'n klein reën. Toe was dit waarlik 'n woestyntog.
(Tydens die tog deur die Namib het dit in een stadium so haglik met die Rebelle gegaan dat hulle tonge weens gebrek aan water aan hul verhemeltes vasgekleef het, en uit radeloosheid moes hulle toe van die handperde slag en die bloed drink om nie van dors om te kom nie).
Siener lei ons regterkant van Steenkampspan verby, waar daar ’n groot regeringsmag gestasioneer was. Toe ons skaapmis opmerk tussen die duine, wis ons dat ons nie ver van die kant van die woestyn is nie. Ons het ook nie ver gevorder nie, of ons kry 'n aantal skape wat ons saamneem. Ons trek op 'n pan water by Rooidam af. Van die pan water sien ons suid (Upington se rigting) staan 'n windpomp en daar is 'n aantal regeringstroepe. Kommandant Mussmann met 17 man word gestuur om hulle te gaan verdryf. Toe ons nader kom, verwyder hulle hulself en verdwyn in die rigting van Upington. By die windpomp woon basters. Ons kry 'n slagskaap en ook meel by hulle.
Toe slaap ons lekker en soos 'n bestiering word die kommandant wakker en sê: "Kerels saal op. Kyk hoe kom die regeringstroepe aan." Die aarde was oortrek met troepe. Gelukkig het Siener by die pan water gesê: "Die pad is oop, ons moet trek." Anders was daar groot paniek. Ons bevel was, neem die kop links van die waterpan in besit. Toe ons bo-op die kop kom, bemerk ons links van die kop is net so 'n groot mag besig om ons te omsingel.
Ons 17 man slaan regs weg om weer by die hooflaer aan te sluit.
Nouliks was ons van die kop enige honderde tree weg of die bomme bars oor ons. Ons word omsingel en in 'n klein klompie vasgedruk. Ons verdedig so goed ons kan met min ammunisie tot ons beskikking.
Ons 600 man is minder as 'n handvol gereken en meer as die helfte was voetgangers. Toe die ammunisie opraak, het ons maar die geweers weggegooi. Wie kan nog 'n leë geweer oor die duine dra?
Vervolg...