Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ongelowiges kan nooit goeie volksleiers wees nie omdat dit wat vir die Evangelie skadelik is, ook vir ‘n volk skadelik is.
SIENER VAN RENSBURG, DIE MENS (18)
Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens
In die gevangenis
Na die mislukte Rebellie van 1914 beland Siener van Rensburg as selmaat saam met die joernalis, Harm Oost, in die tronk op Boksburg, en sy eerste woorde aan die koerantman was: "Ek het geweet ons sal mekaar sien." Toe kyk hy op en voeg by: "Ek kon dit nie verstaan nie. Daar het 'n swart muil aan my mou gelek, en ek moes deur 'n digte doringbos gaan. Maar ek het anderkant uitgekom ..." Die 'swart muil' was die tronkowerheid en die 'digte doringbos' die smaad en lyding wat hy moes deurmaak.
Die verskriklike swerftog wat Siener kort tevore saam met genl. Kemp en 600 Rebelle Duitswes toe aangepak het, het hom fisies so geknou dat hy nooit weer heeltemal sou herstel nie.
Ondanks (dalk juis as gevolg van) die roem wat hy sedert die Boereoorlog as 'siener' verwerf het, het oom Nieklas van die tronkowerheid geen greintjie genade ontvang nie.
Soggens is hulle vir kort rukkies toegelaat om in die 'klipjaart' 'n bietjie litte los te maak, en soms het oom Nieklas dan op sy rustige manier aan Harm Oost vertel van die visioene wat hy die vorige nag gehad het (ek noem slegs enkeles):
- Ek sien jy bly agter wanneer die ander vrygelaat word.
- 'n Paar maande later: Jou tyd is nou naby om te gaan.
- En toe skielik een oggend: My vrou wil my kom besoek, maar ek het aan haar laat telegrafeer sy moenie, want ek sal al op die trein wees huis toe voordat sy hier kan uitkom.
Mnr. Boy Mussmann, skryf aan 'n vriend:
Ek het in die koerante gevra dat persone wat oom Nieklas geken het, my alles vertel sodat ek die waarheid in my boek kan publiseer. Ek kry toe 'n brief van ene mev. Van Wyk van Kroonstad. Sy vertel dat toe die Rebelle-offisiere in 1914 in die Fort was, toe gaan sy om haar broer kommandant Van Niekerk te sien. Daar loop sy toe die vrou van genl. De Wet raak wat net van die Fort afkom. Mev. De Wet sê toe aan haar sy moet seersekerlik ook vir Siener van Rensburg gaan besoek.
Mev van Wyk sê toe sy ingelaat word in die Fort, toe sien sy 'n man met 'n lang bos baard staan. Dié tree toe nader en vra aan haar of sy hom wou sien. Sy vra toe: "Is oom die Siener?" Hy sê toe: "Ja," en wys na 'n bankie en sê dat hulle daar moet gaan sit. Mev. Van Wyk sê haar hart voel so seer en sy dink nooit, nooit sal die Afrikaners hier uitgelaat word nie. Sy vra ook aan die Siener: "Oom, sal jul ooit hier uitkom?" Siener sê: "Ja, ek dink binnekort." Hy verduidelik dit toe so aan haar: "Ek het op hierdie dieselfde bankie gesit toe sien ek hier voor my 'n put en uit die put kom ons kosmandjies. Ek verstaan toe nie wat die gesig beteken nie. Maar ons sal nog hier uitkom, want daar is 'n middel (die leer) ... - ek (Siener) sien my nuwe hoed lê by my huis op die tafel. Toe verstaan ek ons ellende is die Fort (die put), maar ons maak ons kosmandjies vol en ons gaan op reis huis toe, want my nuwe hoed sit ek op en trek my beste klere aan huis toe." Oom Nieklas gaan toe voort en sê: "Toe ek die put sien waarin ons verkeer, toe sien ek by my in die put staan 'n leer, en ek staan met my voet op die eerste sport van die leer. Die put was die haglike toestand waarin ons verkeer het. Daar was nie nog 'n Koos de la Rey, 'n Beyers of 'n De Wet in die veld met mausers wat redding kon bring nie, maar ons moes uit die diepte van die put regop kyk na Bo om redding."
Onder plaas-arres
Na afloop van die Rebellie vertel genl. Jan Kemp van sy laaste dag saam met ou Siener in November 1914 toe sy rebellekommando by Kuruman deur regeringsmagte gevange geneem is. Hy was bitter kwaad en het woedend teen die Siener uitgevaar: "Ja, en wat nou? Jou profesieë was toe almal verkeerd!"
Oom Nieklas het hom egter onverstoord aangeky k: "Ek het laasnag weer 'n gesig gehad, Generaal..." het hy begin, maar genl. Kemp het hom ergerlik in die rede geval: "Ek is siek en sat van jou gesigte!"
"Wees asseblief net geduldig, Generaal," het die ou profeet gepleit. Laasnag het ek 'n rooi kasteel gesien. Aan die voorkant was 'n tuin met groen gras en rooi blomme. Ek sien ons kom by die kasteel aan. Dit was nie vir ons nodig om te klop nie. Terwyl ons nog daar staan, gaan die deur oop en word ons ingeneem. Daarbinne kry ons toe mans wat besig is om kos te maak en hulle het ons van klere en onderdak voorsien."
Genl. Kemp vertel dat hulle enkele dae later na die Fort in Johannesburg gebring is. Daar sien hy toe dis ‘n groot, vierkantige rooi baksteengebou. Aan die voorkant van die gebou was ‘n tuin met groen gras en malvas in volle blom. Skielik het die deur oopgegaan en hulle is binnetoe geneem.
Daar kry hulle toe ook die mans wat besig is om pap te maak. Nadat hulle daarvan geëet het, is bandietklere aan hulle uitgedeel. Hy wou toe sarkasties by die Siener weet of dit nou die 'rooi kasteel' is wat hy gesien bet! Maar oom Nieklas het nie gelyk of hy hom hoor nie. Dieselfde nag nog is hy in 'n klipsel saam met die joernalis, Harm Oost, opgesluit. Die spot en verguising wat hy van die Engelse tronkwagte moes verduur, was egter vir oom Nieklas nie naastenby so ontstellend as die feit dat hulle sy Bybel by hom weggevat het en die volgende dag sy baard afgeskeer het nie.
Op 'n dag kry hy besoek van 'n vrou wat kom verneem of daar iets is wat sy vir hom kan bring, iets waaraan hy 'n behoefte het. Oom Nieklas sê toe bewoë: "Ek het nie 'n Bybel of Gesangeboek nie .... " 'n Paar dae later bring sy toe vir hom 'n Bybel, asook Gesangeboek, en oom Nieklas was so oorstelp van dankbaarheld dat hy nie kon praat nie. Voor in die ou Bybel het sy weldoener geskryf: "Aan oom Siener van Rensburg, van Kate Kock, Germiston."
Net soos die ander Rebelle moes oom Nieklas ook 'n afkoopboete betaal voordat hy op 20 Desember 1915 uit die tronk vrygelaat is. Maar hy was nog lank nie 'n vry man nie, want genl. Smuts het hom onmiddellik weer onder plaasarres gesit, en tot 1923 kon hy nie eens 'n kerkdiens bywoon as hy nie vooraf eers 'n permit van die magistraat gekry het nie.
Vervolg...