Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hou op om te wonder wat mense van jou dink wanneer jy dit of dat doen; doen ALLES vir die HERE en jy sal vind dat jy die regte dinge vir die regte mense op die regte tyd gedoen het.
TRANSPORTRY (1)
ONS BOEREVOLK DESTYDS
(Lees reeks by Ons Boerevolk destyds)
Ons gaan in drie artikels hieroor uitwei
Die wa is die skip vir Suid-Afrika
As die beroemde digter Da Costa die kameel die lewende skip noem, wat die koers hou deur die groot sandwoestyne, dan kan ons die ossewa die skip noem wat oor die vlaktes, berge en bulte van Suid-Afrika gedien het as die enigste middel om swaar vragte te vervoer. In die dae van die goewerneurs is die osse al ingespan om te dien as trekdiere, wat uitnemend geskik was vir die vervoer van swaar vragte in ons land.
Toe die Engelse setlaars in 1820 gekom het, is hulle huisraad, landbougereedskap en al die ander benodigdhede landwaarts vervoer met ossewaens en toe die boere met die Groot Trek nuwe streke vir die beskawing geopen het, was dit steeds die ossewa wat as vervoermiddel moes dien.
Begin van die transport
Na die vestiging van die Trekkers ten noorde van die Oranje- en Vaalriviere en na die uitlê van enkele dorpe en die oprigting van besigheidsplekke in die vernaamste middelpunte van die bevolking, moes gereeld winkelgoedjies van die Baai af gehaal word en moes die geruilde velle, olifanttande en ander uitvoerartikels weggery word Baai toe. Dit was die begin van die transportryery na die Baai en omgekeerd van die Baai na die binnelande van Transvaal en Vrystaat. Met die ossewaens is dan lang togte gemaak en die mense wat die togte onderneem het, het met die ry dikwels baie geld verdien. Maar elke keer het die reis in ‘n ander rigting gegaan en elke keer ‘n ander dorp as eindpunt gehad. Vanaf 1829 is ‘n begin gemaak met die aanlê van ‘n spoorwegnetwerk in ons land en elke keer as die spoorlyn weer verder die land ingebou is, moes die transportryer weer ‘n ander roete volg.
Die handelaar en die transportryer
Die eerste transportryery was van die spoorlyn na die winkels in die binneland en was eintlik die aanvanklike oefenskool vir die latere langer togte. Die boere het begin vragte ry vanaf Queenstown na die suidelike deel van die Vrystaat, en van Durban en Maritzburg na die noordelike of middel Vrystaat, maar hulle moes dikwels ontdek dat hulle nie opgewasse was teen die besigheidsmense nie. Vir elke vrag het hulle ‘n vragbrief gekry, waar die ware en die gewig van die vrag op aangegee is, maar dit het soms gebeur dat die vragbrief melding gemaak het van net 6 000 pd gewig en die boer met die aflaai ontdek dat hy 9 000 pd vervoer het. ‘n Slim boer het dan geweier om die 3 000 pd wat te veel op sy wa gelaai was, af te gee, of hy het hiervoor dubbel transport gevra. ‘n Karweier wat nie so slim was nie, het maar sonder om te weeg, laat aflaai en het dan veels te min geld ontvang.
Maar die transportryers het gou almal hiervan te hore gekom en daarna het elkeen met die aflewer die vrag wat hy vervoer het, eers laat weeg. Daarom was die vragry van en na die winkels ‘n goeie oefenskool.
Behalwe vir enkele boere in die noorde, het die eerste rapportryers veral van die inwoners van Grahamstad en Natal gekom. Hulle het ten minste die wa en osse gekoop en die vragte aangeneem, maar het verder net in die ontvangs van die vraggeld belang gestel. Langs die pad moes die k ....swartes maar opdons soos hulle lekker kry. Die arme osse moes dit ontgeld. Die rooiswartes uit die Kolonie was baie wreed teenoor diere. Die boere het maar min of meer altyd 8 000 pd laat laai, wat in die reënjare van vroeër ‘n tamaai vrag was vir ‘n sterk span osse, maar die 'rooi swartes' het die vrag laat trek deur net agt maer trekdiere.
Die “kook hoi” en die osse
Van veraf het ‘n mens al die “kook hoi” gehoor - woeps, woeps! Die “kook hoi” was ‘n soort sweep van ses voet lank en ‘n duim dik aan ‘n kort stok van vyf of ses voet lank. Of die osse swak was of sterk, of die wa bo-op die grond geloop het of in die modder sak tot op die nawe, die swartes het nie gekyk nie maar die osse geslaan tot hulle die wa uittrek. Die Natal-swartes was ewe wreed en hardvogtig teenoor die arme diere. Al was ‘n os so maer dat hy bly lê het, het hulle hom nog laat trek. Hulle het die osse een na die ander opgehelp en teen die trektou laat hang tot almal op was en dan geskreeu en geslaan tot die wa weer rol. Eers as daar so baie van die osse van die behandeling dood is dat dit onmoontlik is om verder te trek, is die base gewaarsku en moes die baas ander osse stuur en kom kyk wat aangaan. Maar as ons reken dat vir transport 20 sjielings per honderd pond gewig van Maritzburg na die winkels in die binneland of van Queenstown na Bethulie betaal is, en terug net weer so’n groot vrag gelaai is, kan ons begryp dat die base nie omgegee het as ‘n paar osse omkom nie, want die osse was baie goedkoper as in ons dae en met een tog word 160 pond gemaak. Later het die boere wat in dié dae vragte aangeneem het, probeer om in groepies saam te ry. Dan was daar altyd geleentheid om op moeilike plekke mekaar te help. Dan het hulle sonder om die osse te moor maklik gevorder en aan die einde van die reis het hulle met al hul osse huistoe gegaan en ‘n mooi klompie geld verdien.
Die transportryery na Kimberley
Maar die eintlike transportryery het eers begin floreer ná die ontstaan van die diamantvelde by Kimberley. Toe die diamante ontdek is, het so baie mense diamantkoors gekry dat uit alle oorde van die wêreld fotuinsoekers soontoe getrek het om hulle geluk te soek. Elkeen het natuurlik iets nog gehad vir sy gebruik, sodat daar gereeld ‘n groot klomp waens in die pad moes wees om al die nodige goedjies te vervoer. Dikwels moes nie net alleen die eintlike vragte vervoer word nie, maar van die mense het ook met die waens saamgery. Die poskoets van Kaapstad na Kimberley het die afstand afgelê in veertien dae en as passasier moes ‘n mens ‘n hele handvol geld betaal. Met ‘n wa het dit van Port Elizabeth na Kimberley maar 22 dae geneem en met die wa was dit baie goedkoper. ‘n Transportwa wat feitlik net mense vervoer, kon baie vinnig ry, want op die moeilike plekke het die mense gou afgeklim en die osse het die leë wa altyd maklik baasgeraak. Met die swaar goed wat vir die bou van die huise nodig was, of die stukke masjinerie of die gereedskap, het mense oor dieselfde pad, in plaas van 22 dae soms ses weke gery, altyd teen betaling van min of meer twintig sjielings per 100 pond gewig. Wanneer ‘n datum vir aflewering van die vrag bepaal is, kon die transportryer ook ‘n buitengewone prys vra. Dit is jammer dat sommige boere hulle laat kul het toe hulle met Kimberley se besigheidsmense te doen gekry het. Met die oplaai van die vrag en die teken van die vragbriewe, was daar mense wat ‘n bietjie agtelosig was en bedroë daarvan afgekom het en in plaas om ‘n mooi klomp geld huis toe te bring, met die aflaai van die vrag nog moes inbetaal. Dit het soms selfs so erg gegaan dat die arme mense moes toesien dat hulle wa en osse met trekgoed en al verkoop word en dan nie eers ‘n dubbeltjie daaruit kry nie.
Gevaarlike transport
Die mees ongunstigste en gevaarlikste soort transportrytransaksies het plaasgevind wanneer iemand skriftelik onderneem om binne ‘n bepaalde tyd sy vrag op Kimberley af te laai, waarby dan ook aangeteken word hoeveel hy verloor vir elke dag wat hy later aankom.
Dit het gebeur dat ‘n man wat met twee waens met sterk spanne osse in die pad val in die hoop om met ‘n vol beurs huis toe te gaan, deur ‘n klein teenspoedjie alles verloor. Hy kry langs die pad onenigheid met sy swartes sodat dit op ‘n vegparty uitloop en die swart werkers wegstap. Die man moet nou alleen met twee waens en twee spanne osse sukkel. Van mense wat terugkom, kry hy hulp om die twee waens agtermekaar vas te kry en span die twee spanne osse voor die voorste wa. Dit gaan nou natuurlik baie stadig en treurig en die hoop om betyds te kan aflaai, het hy maar opgegee. Hy het egter nie kon dink dat die som wat hy sou moes inbetaal so hoog sou wees dat die twee waens en die twee spanne osse dit nie sou opmaak nie. Alles is op die markvendusie getrek en opgeveil en toe het die man nog soveel kortgekom dat hy uit vrees om in die tronk gestop te word vir skuld, in die nag uit Kimberley gevlug het en as ‘n brandarm man en onder ‘n vals naam in Transvaal gaan werk soek het.