Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer ons na Jesus kyk en ’n God van liefde raaksien, word ons opnuut bewus van ons eie bedorwenheid. Dat dit die Skepper gekos het om mens onder ons te word sodat ons die ewige lewe kan verkry, gaan ons verstand te bowe!
WAARHEIDS- MEMORANDUM (15)
TEMA 4: ROOMSE MISLEIDING
Lees reeks by Waarheidstryders
U word vriendelik versoek om hierdie memorandum aan soveel persone moontlik te versprei. U word ook hartlik uitgenooi om u mening oor die inhoud te lig. Stuur dit gerus aan die webmeester by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
OORLEWERINGS EN DIE ROOMSE TRADISIE
’n Rots staan baie vas. Daarom verwys die OT dikwels na God as ’n rots: “Want wie is God buiten die HERE en wie is ’n rots behalwe onse God?” (Ps.18:32). Die NT skets Jesus as die rots waarop die kerk gebou is. So vertel Jesus van ’n wyse man wat sy huis op ’n rots gebou het (Mt.7:24-29).
Petrus skryf aan die gelowiges in die verstrooiings: “ Kyk, Ek lê in Sion ’n uitverkore en kosbare hoeksteen en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie” (1 Pet.2:6). Paulus skryf soortgelyk: “...gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is” (Efes.2:20).
Die Christelike kerk verkondig al meer as 2000 jaar lank dat die kerk op Jesus, die Rots van die eeue, gebou is. Die Roomse Kerk glo dit nie. Petrus is vir hulle hierdie rots; nie Jesus nie. Hierdie mistasting is aan ’n foutiewe interpretasie van Mt.16 te wyte. As Jesus vir Petrus sê: “Jy is Petrus en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou….” (:17) verwys Hy na die belydenis wat Petrus uitgespreek het: “…U is die Christus, die Seun van die lewende God” (:16).
Hiervan het Satan niks gehou nie en die Roomse Kerk mislei om te glo dat daardie rots ’n mens is. So is Petrus as die eerste pous gehuldig en as onfeilbaar beskou. So ook sy opvolgers deur die eeue. Wanneer ’n pous amptelik (ex cathedra) spreek, heg die Roomse Kerk soortgelyke gesag as dié van die Skrif daaraan. So het ’n vername bron van goddelike kennis in Roomse midde ontstaan - tradisie (pouslike uitsprake).
Vir gelowiges is daar net een bron van goddelike kennis - die Skrif alleen (sola Scriptura). Die Bybel plaas nêrens menslike oorlewerings op gelyke voet met die Skrif nie, maar leer ons eerder om God se woorde te eerbiedig: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense” (Pred.12:13).
Niks vergelyk met God se Woord nie: “...want julle is wedergebore nie uit onverganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly” (1 Pet.1:23). “Want die Woord van God is lewend en kragtig en skerper as ’n tweesnydende swaard en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg en is ’n beoordelaar van al die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Heb.4:12). Dit kan nooit van menslike oorlewerings gesê word nie!
God Self het opdrag gegee dat die Bybel geskryf moes word. “Gaan dan nou in, skryf dit op ’n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in ’n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid” (Jes.30:8). Nadat Moses die Wet ontvang het, gee God hom nog 603 gebooie om neer te skryf. “En Moses het al die woorde van die Here opgeskrywe…” (Ex.24:4). Moses het telkens opdrag ontvang om die woorde wat God hom meegedeel het neer te skryf.
“Luister dan nou, Israel, na die insettinge en die verordeninge wat ek julle leer om te doen… Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie en julle mag daar niks van weglaat nie...” (Deut.4:1,2). Dieselfde waarskuwing word in Openbaring herhaal: “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe” (Openb.22:18,19). Wat ’n oordeel wag daar nie op die Roomse Kerk nie!
God eis van gelowiges: “En julle moet die Here julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister…” (Deut.13:4). Die Bybel is God se stem. In die Gelykenis van die Goeie Herder waarsku Jesus teen valse herders wat Hom gaan buikspreek om die kudde te mislei, maar sê ook dat Hy hulle sal bewaar: “Hulle sal ’n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie” (Joh.10:5).
Wie die stem van vreemdes (dwaalleraars) geniet, is nie deel van die heilige kudde nie! “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie ons almal is nie” (1 Joh.2:19).
Die Woord van God was vir Israel ’n wegwyser na die lewe: “Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat Ek jou vandag beveel moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op die pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deut.6:5-7).
Hierdie opdrag is nooit in die NT gewysig nie: “...want ek gee aan julle goeie lering, verlaat my onderwysing nie” (Spr.4:2). “...een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê” (Tit.1:9).
Kan menslike oorlewerings ’n lewenspad suiwer hou? Nee,slegs die Woord van God: “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord” (Ps.119:9). Waarom slegs die Woord? “Elke woord van God is gelouter…” (Spr.30:5). Dit kan nooit van tradisie/oorlewerings gesê word nie. Jesus sê: ” Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het” (Joh.15:3). Oorlewering/tradisie maak niemand rein nie.
Nêrens het die Bybel ’n goeie woord oor tradisie nie. Waar kom die Roomse Kerk daaraan? Deur hul eie kerk. Die Bybel leer dat die kerk op die leer van die apostels gegrond is. Die Roomse Kerk leer dat die apostels se leer eerder op die kerk gegrond is. Hulle sê dat baie van hul tradisie mondelinge oorlewerings van die apostels afkomstig is. Dis onsin! As dit kwansuis so belangrik is, waarom is dit nooit aangeteken nie?
Die woord oorlewering (tradisie) kom 14 keer in die NT maar nooit in die OT voor nie. Jesus praat agt keer daarvan, maar nooit in ’n positiewe sin nie. “Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is, want terwyl hulle die gebod van God nalaat, hou hulle aan die oorlewering van mense vas… En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Mark.7:7-9). Mense het God se woorde aan mensewoorde gelykgestel.
Menslike wyshede het in die Skrifgeleerdes se lewe die botoon gevoer en die gesag van die Woord ondermyn. Gevolglik het die Woord van God weinig uitwerking op hulle gehad: “ Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is, want terwyl hulle die gebod van God nalaat, hou hulle aan die oorlewering van mense vas… En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Mark.7:7-9).
Sodra oorlewerings op gelyke voet met die Skrif geplaas word, geniet dit aandag en word die Skrif op ʼn syspoor gerangeer. Die Skrif word selfs aan die hand daarvan herinterpreteer. Die skade wat dit oud-Israel aangedoen het, word al eeue lank in die Roomse Kerk herhaal!
Die Bybel is alleen God se woord. Paulus sê: “… om nie te dink bo wat geskrywe is nie…” (1 Kor.4:6). In Joh.10:35 sê Jesus dat die Skrif nie ongedaan gemaak kan word nie. Jesus het altyd die Skrif as die enigste bron van gesag gebruik en gelowiges aangemoedig om getrou daaraan te bly.
In die NT kom “Het julle nie gelees nie” en soortgelyke uitdrukkings 92 keer voor. Mense is aangemoedig om die Skrif self te lees, maar hulle was lui en alles wat die rabbi’s gesê het, vir soetkoek opgeëet; hetsy Skrif of oorlewering. Daarom het hulle gedwaal. “… Julle dwaal omdat julle die Skrifte nie ken nie...” (Mt.22:29).
Wie Jesus liefhet, het sy Woord lief: “ As julle My liefhet, bewaar my gebooie…. As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar …. Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woord nie… (Joh.14:15,23,24). Jesus het geen goeie woord vir oorlewerings gehad nie. So ook nie Petrus of Paulus nie. “Pas op dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van mense… en nie volgens Christus nie” (Kol.2:8). ʼn Oorlewering wat nie Bybelse grond het nie, moet vir gelowiges ʼn vervloeking wees (Gal.1:8).