Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Bybel maak dikwels melding van kwaadsprekery onder mekaar wat soveel broederlike twis en onmin veroorsaak. Onder kwaadsprekery verstaan ons haatlike beskuldigings, gebore uit kwaadwilligheid, en die lus om mekaar se goeie bedoelings te ondermyn. Ons moet daarteen waak om die goeie wat God in iemand gewerk het met woorde te verdraai.
MY MAN IS ‘N NARSIS
'n Leseres skryf hieronder oor die hel van ‘n jarelange huwelik met ‘n man wat later as ‘n narsis geïdentifiseer is. Daar is talle sulke verhoudings in ons lewens en die grootste probleem is die onkunde daaroor. Daarom sal ons in ‘n volgende artikel meer oor die eienskappe van narsisme uitbrei. Dit is waar dat nie net mans narsiste kan wees nie, wel ook vroue, alhoewel dit in die minderheid voor kom. Leer die tekens ken en maak betyds ‘n ingeligte besluit sodat u nie ‘n leeftyd van hel soos die leseres hieronder in ‘n verhouding deurbring waarvan die letsels veral die kinders ewig skaad nie – Red.
Dis nie so lank gelede nie dat ek besef het my hoogs intelligente, suksesvolle beroepsman is 'n narsis. Dit was 'n onbekende term tot dusver vir my maar danksy 'n vriendin se raad het ek begin navorsing doen en na ‘n tweejaarlange pad wat ons moes stap weet ek nou dat ék niks makeer nie, soos hy sou graag wou hê ek moes glo. Ek was net die slagoffer van 'n man met 'n siekte waaraan hy niks kan verander nie. Soos Riette Rust in haar boek dit beskryf: "Daar is niks met my verkeerd nie; ek stel ander se behoeftes altyd ver bo myne, daarom het hierdie narsis my met die hand uitgesoek".
Wel, dis die storie van my lewe; hy kry altyd sy sin ten koste van almal rondom hom, hy kon mens in die oë kyk en blatant lieg, en gewoonlik daarmee wegkom.
Ek het geweet my man is briljant, het 'n baie hoë dunk van homself en dat hy belangriker en slimmer as ander is. Soos hy my dikwels vertel het, het hy ook die prestasies om dit te bewys. Hy teer op bewondering en oral sorg hy dat hy tussen vriende en kollegas 'n voedingsbron vir sy ego het. Tussen hulle het hy nooit sy humeur verloor nie maar wanneer ons alleen was moes ek op eiers loop want sy woede-uitbarstings was vreeslik. Dikwels wou ek hom verlaat maar het hy my gedreig dat hy my finansieel sou vernietig en almal teen my sou opmaak. Ek en ons kinders het nooit geweet wat die liefde van 'n man of pa is nie want hy het dit nooit gesê of gewys nie maar bly maak asof ek die liefdelose, hardvogtige persoon is. Hy het ‘n behae daaruit geput om my emosioneel in 'n donker gat te hou, dus kon ek nooit my probleme met hom deel nie. Net sy lewe en sy sake was belangrik.
Tog het hy 'n onderliggende afsku in homself gehad en ek weet dit omdat ek hom so goed geken het – na buite was hy daardie foutlose, belangrike man maar hy was bitter onseker diep in sy binneste.
Hy het ook die vermoë gehad om mense blitsvinnig op te som en tot sy eie voordeel te gebruik waarna hy hulle met 'n meerderwaardige houding en afbrekende kritiek eenkant gestoot het. Geen opregte empatie was ooit by hom sigbaar nie maar hy sou ander kon bluf want hy kon emosies namaak. Ek wat weet hoe hy sekere persone agteraf afgekraak het en dan voor hulle so opreg kon voorkom was die enigste wat dit besef het. Sou ek hom daaroor uitvra het hy dadelik die argument teen my gedraai. Hy was altyd reg en sou niemand omverskoning vra nie. Sy uitgangspunt was dat mens niemand omverskoning vra as jy altyd reg is nie. Tog het hy so maklik leuens vertel en sy beloftes verbreek sonder dat dit hom gepla het, want hy "was dan ook reg" het hy geglo.
Nog 'n eienskap van hom was dat hy homself verskriklik gedryf het in sy eie belang. Alles wat hy aangepak het moes die beste wees, net soos alles wat hy wou besit die beste moes wees want ander mense moes hy beïndruk, kom wat wil. Hy was altyd aan die woord in uitgelese geselskap want hy was belangriker as die ander daar en moes die aandag en komplimente kry.
Vandag weet ek dat ek nie die verskriklike mens was wat hy wou hê ek moes glo nie, inteendeel. Ek weet vandag ook daar is ‘n God met liefde en ware empatie wat kan genees wat so vreeslik stukkend gemaak is. Maar dan moet ek ook aan elke vrou en ma sê: Stap weg die oomblik wat jy weet dat jou man ‘n narsis is, en spaar jou kinders die hel want hulle word nie net sonder ‘n aanwesige pa groot nie, maar ook onder ‘n selfsugtige, onveranderbare monster, wat sulke diep letsels laat dat net God se genade dit kan herstel.
Want die kern van die saak is: DIT KAN NOOIT GENEES NIE! Hy sal altyd dieselfde siek mens wees.