Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die woorde uit die mond van 'n wyse is aangenaam, maar die lippe van 'n dwaas verslind homself – Prediker 10:12
KEN JÝ DALK ‘N NARSIS?
Die lewe is ’n verhoog, en wanneer die gordyn ná ’n bedryf sak, is dit klaar en vergete. Die leegheid van so ’n lewe kan ’n mens jou nie indink nie. - Alexander Lowen in sy beskrywing van die bestaan van ’n narsis.
“Daar is niks fout met jou nie; jy is iemand wat ander se behoeftes ver bo jou eie stel: die narsis het jou met die hand uitgesoek”. Riëtte Rust.
Narsisme of narsissisme is die soeke na bevrediging deur ydelheid, of die egotistiese bewondering van ’n mens se eie fisieke of geestelike eienskappe wat ontstaan uit ’n arrogante trots. Die term het ontstaan uit die mite van Narsissus in die Griekse mitologie wat verlief geraak het op sy eie spieëlbeeld in ’n waterpoel.
As narsisme te ver gedryf word, kan dit as ’n geestesteuring geklassifiseer word. Die steuring kom voor in die Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesteurings. (DSM).
Inhoud
1.1 Sewe dodelike sondes van narsisme
- Eienskappe en tekens
Vier dimensies van narsisme as ’n persoonlikheidstrek is al geskets: leierskap/outoriteit, superioriteit/arrogansie, selfbeheptheid/selfbewondering en uitbuiting/geregtigheid.
1.1 Sewe dodelike sondes van narsisme
Die Amerikaanse psigiaters Hotchkiss en Masterson het ’n paar goed geïdentifiseer wat hulle noem die sewe dodelike sondes van narsisme:
- Skaamteloosheid: Narsiste is dikwels openlik skaamteloos; hulle laat hulle nie keer deur die behoeftes en wense van ander nie. Narsiste verkies skuldgevoel bo skaamte, want ’n skuldgevoel laat hulle toe om hul dade van hulself te distansieer – dis net hul dade wat verkeerd is, terwyl hulle self perfek bly.
- Magiese denke: Narsiste beskou hulself as perfek deur verwringing en illusie bekend as magiese denke. Hulle gebruik ook projeksie om skaamte op ander af te skuif.
- Arrogansie: ’n Narsis wat afgeblaas voel, kan weer hul gevoel van selfbelang "opblaas" deur iemand anders te verkleineer, verlaag of verneder.
- Jaloesie: ’n Narsis kan ’n sin van meerderwaardigheid behou in die aangesig van iemand anders se vermoëns deur die ander persoon se sukses met minagting te verklein.
- Geregtigheid: Narsiste het onrealistiese verwagtings van spesiale behandeling en outomatiese vervulling van behoeftes omdat hulle hulself as spesiaal beskou. As hulle nie tevrede gestel word nie, beskou hulle dit as ’n aanval op op hul meerderwaardigheid, en die "oortreder" word as ’n "onbeholpe" of "moeilike" persoon beskou. ’n Miskenning van hul begeertes is vir die narsis ’n krenking wat narsistiese woede kan ontlok.
- Uitbuiting: Kan baie vorme aanneem, maar het altyd te doen met die uitbuiting van ander sonder om hul gevoelens of belange in ag te neem. Dikwels is die ander persoon in ’n onderdanige posisie wat teenstand moeilik of selfs onmoontlik maak. Soms is die onderdanigheid eerder veronderstel as werklik.
- Slegte grense: Narsiste erken nie dat hulle grense het nie. Ander bestaan om in hul behoeftes te voorsien, of hulle kan net sowel nie bestaan nie. Mense wat die narsis van narsistiese voorraad voorsien, word behandel asof hulle deel van die narsis is en daar word van hulle verwag om aan die narsis se verwagtings te voldoen. In die gedagtes van ’n narsis is daar geen grens tussen die self en die ander nie.
Hoe beskryf ‘n forensiese psigiater narsiste en psigopate
Met die eienskappe van ‘n Narsis en ‘n psigopaat wat baie ooreenstem, is dié kykie na psigopate insiggewend.
Alle psigopate is nie moordenaars of verkragters nie. Hulle kom in verskeie vorms – Die sjarmante man wat hom nederig hou en jou oortuig dat jy hom geld moet leen vir sy nuwe, grandiose geldmaakplan en dan met jou geld verdwyn, of die sakeman wat elke jaar nog tien persent van sy werknemers laat afdank vir groter winsgrense, of die goedversorgde vrou met die sagte stem wat almal so perfek om haar pinkie draai dat niemand agterkom dat sy almal manipuleer nie, is almal psigopate.
Narsisme kan weliswaar hand aan hand kan loop met psigopatiese gedragspatrone (waar sjarme, manipulasie maar ook gradiose planne inderdaad hoog op die lys kan wees van eienskappe), maar as iemand selfgesentreerd of selfsugtig is, is hy/sy beslis nie noodwendig ‘n Narsis nie en beslis nie noodwendig ‘n psigopaat nie. Iemand kan tydelik selfsugtig optree omdat hy/sy seergekry het, of hartseer is, of ‘n swak selfbeeld het, of geboelie is. Maar as dit nie ‘n tydelike voorkoms het nie moet jy dieper ondersoek instel voordat die skade aan jul verhouding te groot is.