Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Oorwinning in die lewe is nie daarin dat jy nooit mag struikel nie; dit lê suiwer in die feit dat jy elke keer opstaan wanneer jy gestruikel het.
DIE VROU SE ROL IN DIE SAMELEWING ...
... DEUR DIE OOG VAN ‘N TIENER
Watter vooruitsigte is daar vir 'n jong Afrikanermeisie vandag? In hierdie artikel wys een van die ANB se jong lede, RENTIA VORSTER, daarop dat hierdie vraag regtig 'n ernstige saak aanspreek, waarvoor 'n oplossing nie sonder die Bybel gekry kan word nie. Net soos dit ook nodig is om na ons geskiedenis te gaan kyk.
In die Bybel leer ons al aan die begin: die vrou is die sede bepaler van die volk. Lees Genesis 3:6: "...en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet." Eva sondig, en Adam betig haar nie, inteendeel hy doen mee. Wat lees ons 'tussen die lyne'? As die vrou haar begeerte bo haar taak stel, is die saak al halfpad verlore. Op die ou end is die volk geknak. So het vele nasies deur die eeue groot skade gelei.
Hiervan is die Portugese 'n goeie voorbeeld. Hulle was ontdekkingsreisigers in woord en daad. 'n Vrou kon nie saamgaan op 'n skip nie, en moes dus tuis bly. Die bediendes (waarvan daar sekerlik meer as genoeg was) doen al die takies waarmee 'n vrou haar gewoonlik besig hou, en al wat sy nou nog kan 'doen' is om die kleremodes slaafs na te volg. Uiteindelik duur die reis waarop hul mans weg is te lank en begin hul flankeer met hul bontkleurige bediendes. Vandaar die agteruitgang van die Portugese volk.
Aan die begin word Afrikaanse dogters tuis aan die hand van die Bybel geleer skryf, lees, huis en naaldwerk doen, deur meester en moeder. Satan het dus aanvanklik al sy dae om ons Afrikanermeisies te verlei. Hy kom met soveel bedreigings waarmee hy probeer om hulle moed en geloof te breek, aan die Oos-grens en op die Trekpad na die Noorde. Bloedsweet en trane vloei oor vermoorde broers, susters, mans en kinders. Maar deurdat hulle hul swakheid ken, groei hulle krag in die geloof.
Nou kom Satan met die gedagte van meisieskole. Daarheen stuur vele Afrikaanse ouers, in die Kaap maar selfs ook vanuit die ZAR en Vrystaat, hul dogters, om kastig fyner, Engelse "manners" te leer maar ook "om hulle ouers te minag, hulle sedes en gewoontes te bespot, hulle ou vriende die rug toe te keer en hulle godsdiens vaarwel te sê..." (Dr. O’kulis in Doppers; bl 72). Dr O’kulis vertel van hierdie jonge dames: "...Hulle het sulke duur rokke laat maak dat hulle nie geld genoeg gehad het om die rokke heeltemal klaar te maak nie..."
Vandag se Afrikaanse meisies staan voor dieselfde keuse: Aanvaarbaar vir die wêreld of diensbaar vir haar volk?
'n Goudgierige Engeland verklaar oorlog en vir amper drie jaar lank word Afrikanermoeders en -dogters in konsentrasiekampe en tronke gemartel en verhonger. Sommige verkoop hulle eer om die lewe te behou – terwyl hul dit juis op geestelike wyse so verloor. Maar soveel meer vrouens tree as geestelike oorwinnaars uit die stryd, al verloor ons volk fisies die oorlog. Die Afrikaanse vrou behou haar goeie sedes en adel in die Tweede Vryheidsoorlog deur die Bittereinders op die gevegsfront te inspireer met hul moed en deursettingsvermoë.
Na die oorlog kry Satan baie kans om verder te verniel. Plase is verwoes en baie mans moet in die myne gaan werk en jongmeisies in klere-fabrieke vir 'n hongerloon. Daar kry hulle te doen met mense soos Charles Harris en Solly Sachs, egte kommuniste wat hulself voorstel as beskermhere van myn- en fabriekwerkers. Baie Afrikaners word mislei deur die kommuniste. So ook word Afrikanermeisies versoek om as geselskapdames hulle sedes te verloën en gaan selfs so ver om Sachs se voete in die openbaar te soen. Hul sedes is grootliks vernietig, en hulle is van geen waarde meer vir hul volk nie. Maar al is hierdie meisies vir ons volk verlore, kom daar weer beter dae.
In 1938 dra die herdenking van die Groot Trek en die gepaardgaande nasionalistiese oplewing baie daartoe by dat Afrikanermeisies weer hul selfrespek en gevoel van kuisheid herwin.
Later, in 1948, toe die Nasionale Party aan bewind kom, is een van die eerste sake wat hulle aanpak die kwessie van die opbou van die armblanke en die skepping van beroepsmoontlikhede vir Afrikaner-jongmense. In die sestigerjare is dit al so ver dat baie meisies hul nie meer beperk voel tot die beroep van onderwys of tikster nie, en gaan studeer in wat ook al haar belangstelling is. Die uitgangspunt is egter hoofsaaklik om eendag vir haarself en haar kindertjies te kan sorg as haar man dalk te sterwe sou kom of nie in staat is om te werk nie.
In hierdie tyd begin die 'Woman's Lib' weer al meer betoog vir die regte van die (verontregte) vrou en word kommunistiese, liberale neigings bevorder op veral universiteite waar jong studente, ver van ouerhuis af, vir hulself moet besluite neem. So dryf die algemene denke in die rigting wat die ou Satan dit wil hê. Met die hippie-beweging in die jare 1960’s en 1970’s in volle swang, gee die volgende geslag jong meisies hul net soveel makliker oor aan die versoeking van die sogenaamde "vryheid vir die vrou".
Popmusiek, en alles wat daarmee gepaardgaan – dwelms, sedeloosheid, drankmisbruik – dit alles dien die jong Afrikanermeisies 'n gedugte knou toe. Is dit dan verbasend dat vandag se moeders, geen rigting aan hul eie dogters kan gee nie? Buite-egtelike saambly en kuiery oor die kleurgrens, babatjies wat vermoor word... ek wil nie al die vreeslikhede opnoem nie – ons volk is in 'n yslike moeilikheid...
Soveel vrouens verontagsaam hul werk as sedebepaler. Sy respekteer nie haar man of haarself nie en daarom word sy ook nie deur haar man gerespekteer nie en is as't ware nie meer beskerming werd nie. Die manlike drang om te beskerm en te bewaar word dus gesmoor en daarom heers willoosheid en belangeloosheid by die manlike geslag terwyl moord en onreg hoogty vier in ons land.
Die vraag is: Watter vooruitsigte is daar vir 'n ordentlike jong meisie in vandag se tyd? Nou vra ek ook: Behoort sy nie haar eie vooruitsigte te skep deur haar volk so goed sy kan te dien nie? Hoe kan sy ten beste haar volk tot diens wees? Sy behoort, meer as ooit tevore, alles te toets aan die Bybel en so getuienis te lewer. Want deur die beeld wat sy uitdra lewer sy die grootste bydrae tot haar volk se heropbou. Sy kan begin deur haar taal lief te hê in woord en daad.
Dit lyk miskien asof dit geen verskil sal maak as een Afrikanermeisietjie weier om haar taal te meng nie, maar tog prikkel dit die wat rondom haar beweeg, positief of negatief. Dikwels begin mense onwillekeurig self suiwerder praat, omdat dit soveel mooier klink. Sy moet daarop let om netjies vroulik te wees in haar optrede. Eintlik behoort dit nie nodig te wees om uit te spel hoe 'n vrou haar behoort te gedra nie.
Maar dis ontstellend om te sien dat Afrikanermeisies alle natuurlike gevoel van skaamte en ordentlikheid verloor het. Dit wat vroeër nie eers in die geselskap genoem is nie (met rede), is vandag sommer algemene gespreksonderwerpe. Is dit nou regtig nodig dat, sodra jy as volwasse beskou word, jy oor sulke onderwerpe moet gesels en lag?
Hoe sy aantrek is hoogsbelangrik. Die man is nou maar eenmaal gemaak om op te let na die kleredrag en houding van meisies rondom hom. Wulpse kleredrag en uitlokkerige gedrag (dit gaan outomaties saam), lok net verkeerde aandag van verkeerde mans en versterk dus die negatiewe en breek die volk net verder af. Die ordentlike meisie wil tog nie weer die verbode vrug vir die man aanbied nie. Wil sy? Nee, eerder wil sy, met fyn en vroulike drag en maniere, die gevoel wek by die man dat hy haar wil beskerm en respekteer.
Beroepsvooruitsigte? In plaas van om te fokus op watter beroep sy wil volg en watter universiteit sy wil besoek, is dit dalk juis nou nodig om te fokus op die ewigheidswerk wat sy behoort te verrig en waarvoor die Here haar unieke gawes geskenk het nl. kinders grootmaak in die vrese van die Here, en haar man tot steun en hulp wees. Hiervoor moet sy haar voorberei en gedurigdeur groei, miskien deur akademiese studies, maar veral ook deur die aanleer van praktiese vaardighede. (Om te kook, bak en klere te maak is 'n groot eer en geen onreg nie.) Dan het sy 'n doel om voor te lewe, en vooruitsigte spruit sommer vanself daaruit voort.
So bied sy die aanslag van die vyand op haar volk ten beste die hoof: "...versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid... soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke...", deur te "... leer (by ouer vroue) om versigtig te wees, hulle mans en kinders lief te hê, kuis, huislik, goed, aan hul eie mans onderdanig, sodat die woord van God nie belaster word nie..." (1 Timotheus 2:9, 1 Petrus 3:1)
Laaste maar nie die minste nie: eerder as om vir Adam 'n struikelblok te wees, behoort Eva hom met sagte voorbeeld op die regte pad te begelei. In Titus 2:4,5 staan: "...sodat, as sommige (mans) aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word."
Evasgeslag, word wakker en neem jou taak op met erns!