Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
GOD PRAAT DEUR SIEKTE MET JOU
LUISTER NA SY STEM!
Siekte is 'n manier waarop God met sy kinders praat, sê Job in hoofstuk 33:19: "Hy spreek die mens aan met ernstige siekte."
Dit is nie 'n teken van God se onmag as iemand nie gesond word nie, maar die middel tot God se almagswerke, sodat ons vir Hom getuies kan wees; sodat ons weer kan besef, al word ek elke dag afgetakel, daar is niks wat my van God se liefde vir my kan skei nie.
Daar op jou siekbed kyk jy met nuwe oë na jou eie lewe, veral na die dinge wat jy nog so graag wil bereik; na die mense wat jy liefhet en geen waarborg het dat hulle môre nog by jou sal wees of jy by hulle nie. Dan besef jy elke minuut wat jy nog krag en tyd oorhet, moet maksimaal benut word omdat elke oomblik genadetyd is.
Jy besef ook weer dat jou lewe hier op aarde net 'n klein deeltjie van God se plan is, dat jou eintlike lewe nog voorlê, dié lewe wat vir jou by God wag. En dan word jy dankbaar om te lewe al sien jy uit om na Hom te vertrek.
Hierdie verhoog waar jy tydens siekte verkeer is meermale die podium van waar ons geloof aan die wêreld sigbaar word. Hierdie dinge werk soos die swart fluweel-agtergrond waarteen juweliers so graag hulle goud en diamante juweliersware uitstal – ons geloof behoort só te blink teen die donker agtergrond van siekte. God praat met jou deur jou siekte – luister na sy Stem!
ONS VOLK SE WORTELS
Soos dit hier in Suid-Afrika die geval is, is daar talle lande waar ‘n regering die land in die afgrond in bestuur het, en oral waar ʼn regering nie daarin kon slaag om ʼn sinvolle toekoms vir sy burgers te skep nie, is ook die geskiedenis afgetakel. Straatname is verander en standbeelde is beskadig, skole se leerplanne is verander deur die inhoud van vakke soos geskiedenis totaal te herskryf, alles in ‘n poging om die geskiedenis van die land te probeer ongedaan maak.
Die geskiedenis kan egter nie verdwyn nie want wat gebeur het, het gebeur. Dit kan wel vergeet word wanneer nageslagte nie die moeite doen om dit te bestudeer nie wat ‘n groot leemte in ‘n volk veroorsaak want die geskiedenis leer die mensdom om nie foute te herhaal nie en verantwoordelik met die toekoms om te gaan. Daarom bewaar die geskiedenis nie net die groot dade van die verlede nie, maar is dit ook ’n voorbeeld en leermeester van die hede sowel as ʼn waarskuwing vir die toekoms. Daarom verdien ʼn volk wat sy rug op sy geskiedenis draai, om onder te gaan. As hy nie uit die geskiedenis leer nie, word hy daardeur vernietig.
Ongelukkig stel baie van ons volksgenote nie in hul volksverlede belang nie. Geskiedenis is vir hulle niks anders as ’n register van die misdade, dwaashede en rampe nie - mislukte planne en teleurstellende verwagtings. Om so daarna te kyk is rampspoedig want die geskiedenis is lewendig. Dis ’n gesprek sonder einde.
Afrika se geskiedenis lyk egter anders. Dit herhaal homself eers as ’n tragedie en daarna as ’n klug. Dis ʼn aanhoudende ontkenning van onomstootlike feite en geskiedkundige bewyse. En telkens as die geskiedenis hom hier herhaal, gaan die prys op. Afrika verstaan baie duidelik nie die helfte van die geskiedenis nie. Die ander helfte verwar hulle net!
Sonder kennis van sy herkoms, geskiedenis en kultuur het ʼn volk geen wortels nie. Laat ons as Boerevolk vorentoe beweeg sonder om ons verbintenis met ons trotse geskiedenis te verbreek. Kom ons hou opnuut aan die beproefde dinge van die verlede vas. Dit durf nooit vir die onsekerhede van die toekoms verpand word nie. Laat ons die onsekere toekoms binne-ry deur gereeld in ons truspieël te kyk. En waar tans nie moontlik vir ons kinders in die staatskole is om ons ware geskiedenis te leer nie, is dit lewensnoodsaaklik dat ons die moeite doen om dit op ander plekke te gaan opspoor en bestudeer.
Diegene wat die geskiedenis van ‘n volk ignoreer, sal ‘n duur les leer wanneer hulle flaters van die toekoms hulle gebrek aan kennis daarvan uitwys!