Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die woorde uit die mond van 'n wyse is aangenaam, maar die lippe van 'n dwaas verslind homself – Prediker 10
TATOEËRING IS SONDE
Wat sê die Bybel oor tatoeëring?
“Julle mag ook ter wille van ʼn dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die Here” (Lev.19:28).
Niks vernietig ʼn volk se gees soos bose, volksvreemde gebruike wat posvat nie. Baie mense, veral sportlui en verhoogkunstenaars, laat hulle tatoeëer; mense wat as rolmodelle beskou word.
Tatoeëring is ʼn bewustelike ontering van die mens se liggaam as tempel van God. Dis ʼn baie ou heidense gebruik. Daar is selfs mummies met tatoeëermerke gevind.
In die OT was sulke merke ʼn teken van afgodsdiens. Afgodedienaars het hulle graag laat tatoeëer en daarmee aangedui dat hulle aan ʼn sekere afgod behoort. Keiser Konstantyn het in die vierde eeu nC alle tatoeëermerke in die gesig verbied sodat die gesig die onbesoedelde beeld van God kon weerkaats. In 767 nC het pous Adrianus alle tatoeëermerke verban, ook op die lyf.
Sommige mense wil moderne tatoeëring regverdig deur Lev.19:28 as ʼn OT verbod en deel van die uitgediende seremoniële wette te beskou. Hulle sê dat die NT dit nêrens verbied nie. Dis gevaarlik om so te redeneer. Mense kan gevaarlike aannames maak. Bestialiteit, geslagsomgang met diere, word bv. slegs in die OT verbied. Beteken dit dat die NT dit goedkeur? Allermins! Slegs die Joodse seremoniële wette en Sabbat het na die opstanding van Christus met die Nuwe Verbond uitgediend geraak.
Lev.19:28 verbied snye en tatoeëring. Heidene het hul gereeld stukkend gekerf as teken van rou en droefheid. Die Baal-priesters is ʼn voorbeeld hiervan: “En hulle het hard geroep en hulleself volgens hulle gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het” (1 Kon.18:28).
God noem in Lev.19:28 twee heidense gebruike in een asem omdat beide oor die mens se liggaam gaan. Snye en tatoeëring is van meet af eie aan alle sataniese kultusse. Lev.19:26-28 verbied sulke dinge.
Gelowiges dink baie anders oor hul liggaam as heidene. Omdat dit die siel huisves, is dit, solank as wat ons leef ʼn tempel van God: “Of weet julle nie dat julle liggaam ʼn tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie? “ (1 Kor.6:19).
God wil dat gelowiges verantwoordelik met hul liggame omgaan: “Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees…” (:20). Heidense snye en merke is niks anders as liggaamskending nie en derhalwe sonde in die oë van die Here. “Weet julle nie dat julle ʼn tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand ʼn tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig en dit is julle” (1 Kor.3:16,17).
Gelowiges se gees kom in opstand teen tatoeëring. Dit pas net so min by ʼn gelowige as ʼn standbeeld van Adolf Hitler in Jerusalem! Dit pas eerder by geweldenaars, misdadigers en onverskilliges. Getuig tatoeëermerke enigsins van ʼn verloste siel? Nee, eerder die teenoorgestelde! Die losbandigheid, demone en wreedhede wat uitgebeeld word, gee aan mense ʼn misplaaste magsgevoel. Geen oorlogskildery wen ʼn geveg nie.
Tatoeëring vlam in tye van geestesverval en die toename van heidendom op. Die geskiedenis van Suid-Afrika getuig baie duidelik daarvan. Toe die Christengrondwet in 1994 hier afgeskaf is, het die heidendom met al sy kentekens opgevlam. Dit getuig van sataniese verwarring en weerhou mense om die eer van hul lewens aan Jesus te gee. Wie Hom minag, sal enigiets anders minag.
Ons leef in ʼn tyd wat mense nie aanstoot wil gee nie. Die manie oor politieke korrektheid is een van die duidelikste bewyse daarvan. Desondanks skroom mens nie om God aanstoot te gee nie.
Ongelowiges steur hul allermins aan God. Hulle handel na goeddunke met hul liggame. Gelowiges is anders –hulle steur hul wel aan God en handel nie met hul liggame na eie wil nie. Hulle laat nie toe dat iets hul getuienis vir Jesus ondermyn nie. Dit wat gelowiges uitbeeld moet ʼn positiewe getuienis asook ʼn aanknopingspunt tot gesprek oor Jesus wees. “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ʼn lewende, heilige en aan God welgevallige offer....” (Rom.12:1).
Die heidendom spoel tans soos ʼn magtige stroom dwarsdeur ons land en sleur duisende volksgenote mee. Kyk hoe lyk baie van ons volksgenote – kleredrag, haarstyle, tatoeëermerke; net soos heidene. Iemand op die verkeerde lewenspad het geen aansporing nodig nie. Net ʼn sonde-besef laat so ʼn mens van rigting verander!