Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
'n Dosis gif wat jy sluk kan net vir jou, en jou net een maal vergiftig; 'n slegte boek of film kan jou intellek en jou hele nageslag s'n bly vergiftig – sorg dat jy die regte stof lees en kyk!
STRYD TEEN VREEMDE OORHEERSING (20)
LW Bienedell
Lees reeks by Stryd teen vreemde oorheersing
Jaap Marais striem Pik Botha oor Kommuniste
1 April 1994
AS die persoon wat die voorste skreeuer in die NP was dat Kommunisme dood is, is dit dieselfde mnr. Pik Botha, Minister van Buitelandse Sake, wat nou in NP verkiesingsadvertensies waarsku teen die gevaar van Kommunisme.
In ’n skerp bewoorde brief neem mnr. Jaap Marais mnr. Pik Botha kwalik dat hy die publiek op hierdie wyse aan die neus probeer lei. Buitendien voer hy aan dat mnr. Botha se feite nie iets nuuts is nie, maar direk uit mnr. Marais se dokument oor die Kommunisme oorgeneem is.
Die volledige brief lees as volg:
“Dit was om meer as een rede ’n verrassing om te sien dat jy by ’n nuuskonferensie op 24 Maart “onthul” het hoeveel Kommuniste daar onder die ANC se eerste 50 kandidate is.
“Die eerste rede waarom ek verras was, is dat ek reeds in die eerste week van Maart deur ’n ontleding van die boonste 40 ANC-kandidate die Kommunistiese oorwig aangetoon en dit in ’n publikasie aan talle persone in Suid-Afrika gestuur het, waaronder ook regeringslui. Ek neem geredelik aan dat dit langs dié weg onder jou aandag gekom het. Jou “onthulling” drie weke daarna is amper te toevallig om toevallig te wees, en is dus hoogs waarskynlik ’n navolging en naprating van die HNP-publikasie.
“Dat jy verwys na die eerste 50 kandidate, terwyl ek die eerste 40 bespreek het, sou natuurlik nodig wees as die spore van politieke plagiaat effens doodgevee moes word.
“Nog ’n rede waarom jou “onthulling” aan die HNP-publikasie verbind word, is natuurlik dat jy en jou party maandelank elftalig geswyg het oor die Kommunistiese beheer van die ANC. Daar moes ’n baie dringende rede gewees het om hierdie stilswye te gebreek het. En die HNP-publikasie het dit blykbaar verskaf: daar moes gekeer word dat net die HNP die feite onder die aandag bring en die NP se versuim beklemtoon.
“Die derde rede waarom jou onthulling verrassend is, is dat jy die persoon was wat wyd en syd en luid verkondig het: die Kommunisme is dood, daarom kon die ANC en die SAKP ontban, Mandela en ander vrygelaat, en terroriste toegelaat word om Suid-Afrika binne te kom. Maar nou is die Kommuniste volgens jou ’n groot gevaar! Een ding is seker: of jy het nie geweet waarvan jy praat nie toe jy verklaar het Kommunisme is dood, of jy het politieke misleiding van die ergste graad gepleeg. Jy kan miskien onthul watter een van die twee dit was.
“Daar is nog ’n vierde rede waarom jou “onthulling” oor die getal Kommuniste in die ANC se boonste geledere verrassend is. Dit is die Kommunistiese dokument: Between the People’s Offensive and Regime Crisis: Prospects for a Democratic Victor and Advance to Socialism. Hierin word verwys na die Kommuniste se suksesse sedert 1991. Dit skryf hulle toe aan onder andere “die strategie wat gevolg word deur die ‘dominante standpunt’ binne die regime”. Hierdie kriptiese frase (“dominant position”) dui op elemente in die NP-regering wie se strategie die Kommuniste help om sukses te behaal.
“Ter bevestiging hiervan word verder in die dokument verklaar: “Ons kan in alle nugterheid sê dat ons die laaste myle saam met minstens ‘die dominante standpunt’ in die regime loop”. En: “Ons moet aanhou om die ‘dominante standpunt’ binne die regime te dwing om hulle volle krag in te werp agter die vreedsame skikking...”
“Die Kommuniste sou dus klaarblyklik nie gevorder het nie as dit nie weens hierdie sogenaamde ‘dominante standpunt’ in die regering was nie.
“So vertroulik was (is) die verhouding tussen hierdie groep in die NP- regering en die Kommuniste dat in die dokument verklaar word: ‘Die optrede aan die kant van elemente in die regime strek byvoorbeeld tot die voortdurend ontwrigtende aksies deur die regime se Nasionale Intelligensiediens teen die Konserwatiewe Party en Inkatha, sowel as elemente binne die Suid- Afrikaanse Weermag. Trouens, die implikasie van sulke aksies is aan ons bekend gemaak deur sommige van hierdie regime-elemente”.
“Dit is ondenkbaar dat sulke aksies teen politieke opponente sou aangegaan het sonder dat dit met kennis en goedkeuring van die Kabinet geskied het.
“Ek kan nog meer aanhaal om te toon hoe daar samewerking was (en is) tussen “elemente in die regime” en die Kommuniste om die Kommuniste se strewe te bevorder, maar dis nie nodig in die lig van wat hier geskryf is nie.
“Al wat oorbly is om te bespiegel oor wie die “elemente in die regime” is wat so ’n goeie verhouding met die Kommuniste het. As dit nie een van u Kabinetskollegas is nie, moet dit amptenare wees wat met die sake te doen het. In eersgenoemde geval sal dit niemand verbaas nie as die “dominante standpunt in die regime”, waarna die Kommuniste verwys, verteenwoordig word deur die Kabinetslede wat sedert Februarie 1990 die ANC se Freedom Charter en Harare-deklarasie in hoofsaak hulle beleid teen die Blankes van Suid-Afrika gemaak het. Onder hulle wys mnr. FW de Klerk, Roelf Meyer, uself, Leon Wessels en Dawie de Villiers hulle self aan. As dit nie hulle is nie, beteken dit dat hulle te onkundig en onbevoeg is om beheer te hê oor amptenare wat die Kommuniste help in hulle strewe.
JAAP MARAIS
“Naskrif: Ek verkies om die voornaamwoorde “jy” en “jou” in hierdie geval te gebruik, omdat ek nie ’n valse indruk van eerbied wil skep deur die gebruik van “u” nie.”
Vervolg...