Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar sál weer 'n Nuwe-nuwe Suid-Afrika met 'n Christen-regering kom; hou vas aan hierdie belofte: "Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het, tog skaam hulle hul nie in die minste nie en weet nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder dié wat val; in die tyd van hulle besoeking sal hulle struikel, sê die HERE" – Jeremia 8:12.
STRYD TEEN VREEMDE OORHEERSING (27)
LW Bienedell
Lees reeks by Stryd teen vreemde oorheersing
Die Apartheidsera
27 Maart 1998
DIT is deesdae ’n soort van mode om na die jare 1948-1994 te verwys as die apartheidsera. Dit is, soos die meeste slagkrete wat deur kommuniste uitgedink word, nie veel meer as ’n halwe waarheid nie. Die jare 1948-1966 kan moontlik as die apartheidsera aangedui word. Die jare 1966 tot 1994 was in werklikheid die jare toe die huurlinge van die Geldmagmagnate apartheid afgebreek het terwyl hulle voorgegee het om dit te handhaaf. 1966 tot 1994 was die jare toe die kommuniste, ondersteun deur hulle verskuilde vriende binne in die regime, al meer na vore gekom het met terroriste-aksies, aksies wat daarop gemik was om met geweld die politieke mag in die land oor te neem. Dit was die tyd toe die papbroek-held, John Vorster, man vir man diegene wat werklik die kommunisme teengestaan het, in die rug gesteek het of hulle optredes verydel het. Dit was die jare toe John Vorster hoog en laag loop en spog het dat hy, man-alleen, die kommunisme “uitgeroei” het en dit ’n gevaar van die verlede is! Dit was in Vorster se tyd waar die grondslae gelê is vir die infiltrasie van kommuniste en kommunistiese meelopers in die Broederbond en vandaar na die NP en die NG Kerk. In Vorster se era is die vyfde kolonne in die Afrikanergemeenskap geïnfiltreer om absoluut seker te maak dat die wonder van apartheid vernietig sal word, soos dr. Verwoerd vernietig is.
Dit is in ons dae nodig om oor en oor te herhaal dat toe dr. HF Verwoerd op 6 September 1966 vermoor is, Suid-Afrika nie alleen ’n leierland in Afrika was nie maar op pad was na steeds groter hoogtes. Op ekonomiese vlak was Suid-Afrika nog nooit weer so welvarend nie en dit was ’n welvaart waarin almal gedeel het. Op alle lewensterreine was Suid-Afrika besig om onder leiding van die Afrikaner tot sy volle potensiaal te ontwikkel.
Dit was alles moontlik nadat die eerste sorgvuldigbeplande kommunistiese aanslag afgeweer is. Daardie aanslag, gefinansier vanuit die buiteland, het eintlik in 1963 soos ’n pap binneband afgeblaas. Daardie aanslag, soos verwag kan word, is nie gedra en gesteun deur die finansiële en ander bydraes van die swart volkere van Afrika nie. Dit is ook nie regtig gesteun deur die arbeiders in wie se naam die kommuniste so graag optree nie. Hierdie aanslag was ’n poging van die Engels-Amerikaanse Geldmag om met die hulp van ’n klomp swart kommuniste, gelei deur ’n elite blanke leierskorps, ons land polities te ontwrig. Dit het nie gewerk nie. Een van die redes waarom dit nie gewerk het nie was die feit dat onder apartheid ook die swart volke en arbeiders huise gekry het, eie onderwys gehad het, mediese versorging gratis ontvang het, meer as genoeg werkgeleenthede gehad het en werklik welvaart geken het. Dit bly nog waar dat onder “apartheid” daar meer swart huise, skole, universiteite, hospitale en klinieke gebou is as waarvan die huidige SAKP-ANC regime kan droom. Die apartheidsera was goue jare: vir die Afrikaner, inderdaad. Maar ook vir die swart volkere wat ’n nuwe ontwikkelingsmoontlikheid aangebied is was daar welvaart en vooruitgang soos hulle dit nog nooit vantevore geken het nie.
Vir die Engels-Amerikaanse Geldmagmagnate was hierdie ontwikkeling egter slegte nuus. Hulle wou nie ’n moderne nywerheidsreus in Suid-Afrika sien ontwikkel nie. Hulle wou van Afrika ’n ekonomiese kolonie maak wat die oorskot produksie van die Noord-Atlantiese fabriekslande moes absorbeer. Daarby wou die Geldmagmagnate die minerale rykdomme van Suidelike Afrika ook besit en beheer, soos hulle, met die hulp van die WO, die minerale rykdom van die Belgiese Kongo in die hande gekry het. Wat met die moord op dr. Verwoerd en daarna gebeur het, is tipies van die manier waarop die Geldmagmagnate met omkopery en korrupsie hulle doelwitte nastreef en bereik.
Met handlangers en huurlinge in die plaaslike Geldmag en met die hulp van omgekoopte politici het die Geldmagmagnate, daarin gesteun deur die Geheime Dienste van Amerika, Engeland en ander sosialistiese state, die wonderwerk van apartheid omgedop na die ongelooflike, rampspoedige gemors waarin ons land nou verkeer. Laat ons dan ten eerste boekstaaf dat die Bybelse waarheid nie weerspreek kan word nie: ’n kameel sal makliker deur die oog van ’n naald kruip as wat ’n ryk man ’n plekkie in die koninkryk van God sal kry. Dit is ten tweede nogal ironies om in gedagte te roep hoe die hemel-dragondertjies van veral die NG Kerk met die boodskap van “naasteliefde” daarin geslaag het om kerk en volk uit te lewer aan slawerny onder ’n kommunistiese bewind. Die derde saak wat ons moet onthou is dat die huidige SAKP-ANC regime verplig is om in ’n koor saam met hulle meelopers te skreeu teen apartheid. Dit alleen om die aandag af te trek van die al groter wordende chaos waarin hulle die land gedompel het en nog steeds dompel.
Miskien is dit tog nodig om, in die oorweging van die voortreflikhede van die apartheidsera, die volgende opmerking te maak. Gedurende die apartheidsera was die NG Kerk ’n magtige invloed ten goede. Maar vanaf 1964 is die kerk geïnfiltreer deur kommuniste en daarvandaan het sy amptelike vergaderings ’n onbenydenswaardige rekord van dubbelpratery opgebou. So het die leidinggewende vergaderings ’n besonder belangrike faktor geword om die Afrikanervolk te ondergrawe en te mislei.
Die Algemene Sinode van 1994 was so tevrede met wat hulle bereik het, dat hulle toe die eerste kommunis-president van die RSA na hulle vergadering genooi het en hom uit volle bors toegesing het: “Laat Heer U seën op hom daal.” Mens vra jouself af of die Algemene Sinode nog dankpsalms sing oor die NG Kerk se dalende lidmatetal, sy steeds groterwordende ekonomiese probleme en sy verflenterde geloofwaardigheid. Dit is alles simptome van sy lidmate se afkeer van die feit dat die kerklike leiding so entoesiasties die SAKP-ANC regime as “verlossers” aanvaar het. Betreklik onlangs het die Sinodale Kommissie met groot trots verklaar dat die NG Kerk nou uiteindelik “die albatros van apartheid” van sy nek afgegooi het. In ruil daarvoor dra hulle nou die brandmerk van verbroedering met die kommuniste en ’n verwerplike ywer om die oorblyfsels van ’n Christelike selfbewussyn en lewensorde onder die Afrikaners af te breek.
Dit is tog opvallend hoeveel Afrikaansgebruikende instansies saamspeel in die orkes wat die apartheidsera as ’n donker tyd moet voorspeel. As mens mooi na die werklikheid kyk, is dit maar propaganda-leuens dat apartheid ’ n tyd van “onderdrukking” was. As mens wil weet wat onderdrukking is, gaan kyk dan wat gebeur in Vryburg in daardie skool. Daar moet die Afrikaanse skool tot op die grond afgebreek word, dit moet ’n Engelse skool word met Afrika-standaarde en die Afrikaner-kinders moet eintlik verwilder word. Intussen staan die swart skool in die lokasie feitlik leeg. Dit is die vreugdes wat FW die Griek, die NG Kerk, die Broederbond en die NP oor die Afrikanervolk gebring het.
Natuurlik moet daar in daardie kringe nou geskel en gevloek word op apartheid. Dit sal voortgaan... ook in die sport. Van die Maori of twee wat glo nie saak sou gemaak het nie staan ons nou op die drumpel van sportspanne wat gekies gaan word om die demografie van die demokratiese Suid-Afrika te weerspieël. En dan sommer basta met meriete. Miskien moet dit maar so gou as moontlik gebeur sodat die Afrikaner verlos kan word van sy verknogtheid aan ’n tydverdryf wat hom sy vryheid gekos het.
In ons dae moet ons met kennis, insig en wysheid na die gebeure van die dag kyk sodat ons kan besef: die Afrikaner se leefwyse van apartheid is al manier waarop daar vrede, veiligheid en voorspoed sal wees. Ons sal dus moet volhard in ons stryd teen die vreemde besettingsmag, ons sal moet bly strewe na vryheid, selfbeskikking en ’n eie vaderland. Ons sal alles in ons vermoë moet doen om ons te ontworstel van die greep van die SAKP-ANC en sy lewenswêreld, om so op die beproefde Pad van Suid-Afrika te bly.