Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die sukses van die lewe is nie om ‘n goeie hand kaarte te ontvang nie, maar om ‘n slegte hand goed te speel. En dis ‘n uitdaging!
ONDERSOEK JOU EIE DENKE
Johan Dorfling
Ons moet dikwels na onsself kyk en oplet hoe ons vertolkings doen. Dit is vertolkings van wat ander mense met hulle meedelings bedoel en of ons dit reg verstaan, of ons eie verkeerde betekenis daaraan koppel. Soms maak ons bewerings wat deur ander reg begryp word volgens die boodskap wat ons oorgedra het, maar ons het die verkeerde woorde gekies. Gewoonlik besluit jy dadelik dat jy reg is en die ander verkeerd, tog verskil jou beginsels op een gebied van jou beginsels op 'n ander gebied. Om toe te lig wat ek bedoel, gaan ek jou wat hier lees, persoonlik aanspreek sodat jy dit nie op ander mense van toepassing maak nie. Lees asseblief die waarheid met 'n oop gemoed.
Die kerk waarvan jy lidmaat is, is in streng beginsel teen kommunisme gekant omdat kommunisme God nie erken nie. Nogtans stem jy in 'n verkiesing vir die DA wat kommunisties is, oorspronklik deur Helen Suzman aan die gang gehou en het intussen verskillende naamveranderings ondergaan as misleiding van die party se kommunistiese inslag. Dan vra jy vir wie jy moet stem omdat almal kommunisties (Godverloënend) is. Hoekom moet jy stem as jy God daardeur verloën? Dit is 'n verouderde geykte uitdrukking om te beweer dat dit elkeen se plig is om te stem. Wegbly van die stembus is 'n sterk beginsel om aan te dui dat jy jouself van kommunisme en uitbuiting distansieer. Die DA en die ander is volkvreemd en misbruik jou net totdat die betrokke party aan bewind kan kom. Ook word jou stem misbruik om vir iemand te stem sodat hy op die soustrein kan ry, al kan hy niks teen die oorgrote meerderheid bereik nie.
Jy glo aan apartheid in jou kinders se skool en in jou woongebied omdat God dit in die Bybel vereis. Buitendien het jy reeds bevestiging gekry dat vermenging afgedwing word en 'n mislukking is wat tot nadeel van blankes strek. Jou kinders se skool verengels. Gelyktydig hiermee ondersteun jy die teenoorgestelde in gemengde sport en koop kaartjies om gemengde sport geldelik winsgewind te maak. As jy die kykkassie gebruik, grootliks om sport op 'n betaalkanaal te volg, betaal jy steeds geld aan afvalliges. Hoekom het jy verskillende beginsels?
Baie uitgesproke wil jy graag Afrikaans as taal bewaar en regstreekse Engelse woorde en Anglisismes daaruit hou. Luister na jouself en kyk na wat jy self geskryf het. Wat een sogenaamde beginselvaste Afrikaanssprekende in drie minute in 'n gesprek gesê het, is ongemerk deur sy vriend opgeneem, byna 'n A4- grootte bladsy getik. Nadat die vriend dit getik en die nege Engelse woorde gemerk het, kon die spreker sy eie woorde nie glo nie. Na luister van sy eie stem, was hy verstom. Let op jou eie woorde en jy sal dieselfde ervaar. Slegs ongeveer 10% Afrikaanssprekendes praat suiwer Afrikaans, maar 90% praat ernstig oor die handhawing van Afrikaans. Met 10% druip jy hopeloos en is jy nie trots op jou taal en jou voorouers se harde werk nie omdat jy dit verkeerd uitleef. Stel asseblief hierdie sake by jouself reg, want jy is die skuldige.
Daar verskyn 'n berig dat 'n klompie mense ingespring het om 'n gemors in hulle omgewing op te ruim en onderneem om dit gereeld te doen. Iemand se huis is beroof en sommige mense het onmiddellik gehelp deur voorraad soos komberse en klere aan hulle te voorsien, asook geld en 'n yskas en stoof. In albei hierdie gevalle en ook in talle ander juig jy openlik in woorde en prys die mense wat soveel doen om hulle omgewing netjies te hou en hulle naaste te help.
Dankie vir jou mooi woorde, maar wat doen jy van jou kant af? Doen jy iets om saam te werk om jou omgewing skoon te hou of om leiding te neem? Stuur of gee jy 'n bydrae om verliese draagbaar te maak? Is jy 'n stoepsitter? Wat help jou komplimente? Waaruit bestaan jou eie denke? Wat jy van ander waardeer, moet jy self ook doen. Help jou eie volkgenote voed en klee en onderwys te laat kry, al is dit met broodnodige geld. Volkshulp 2000 sal dit in besonder waardeer omdat Afrikaanse koerante en ook private Afrikaanse radiostasies hulle naam nie wil noem nie. Volkshulp 2000 diskrimineer glo omdat net volkgenote gehelp word. Die volkvreemde regering verleen in so 'n geval geen hulp nie, maar wel aan ander volke.
Jy is gou om daarop te wys dat ons mense nie kan saamwerk nie. Dit is onwaar. Jy is die een wat nie met ons mense wil saamwerk nie en dan beskuldig jy ander. Ons wat saamwerk wag vir jou om te kom help, maar jy gooi net klippe. As jy nie wil saamwerk nie, moenie ons mense beskuldig nie. Weer eens, wat doen jy om saam te werk? Of moet ander mense met jou saamstem en dan hou jy jouself eenkant?
Gonswoorde wat algemeen in gebruik is, is positief en negatief. Jy moet positief wees en nie jou mede-volkgenoot kritiseer nie. Goed en wel ja, maar jy moet mos jou afgedwaalde mede-volkgenoot reghelp. Reghelp beteken in privaatheid en omsigtig sonder om dit aan die groot klok te hang. Die verskil is goeie gesindheid en met liefde. Wees net versigtig om nie van 'n nietigheid 'n berg te maak nie. Weer eens, die verskil tussen kritiek en reghelp is in hierdie geval negatief en positief.
Moenie jou medemens kritiseer nie. Beperk jou tot die onderwerp en los persoonlikhede uit. Stel jou eie siening omsigtig sonder om ander te betrek. Doen tog iets! Jy is mos Afrikaner in murg en been.