Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Elkeen van ons kom soms en heel dikwels by 'n laagtepunt waar ons nie reg weet hoe om te bid nie. Al wat nodig is, is om reguit met die Here te praat: "Here, wat sal ek vir hierdie dag vra? Buiten dat u goeie wil vandag geskied, weet ek nie wat om te vra nie; maar ek sal nie bang wees nie want U is oraloor, en steeds by my. AMEN".
NUUS VAN ELKE DAG – KORRUPSIE
Korrupsie waai teen orkaansterkte in Suid-Afrika. Plaaslike nuusmedia berig deesdae daagliks van regeringslui se skandale – wapen-skandale, reisskandale, die misbruik van openbare fondse, dokumentvervalsing, omkoopgeld ens. Die nuusmedia word nie net daagliks oor hoëlui se skandale, hulle verregaande leefstyl en belaglike uitgawes oorval nie maar bedrog en diefstal van miljarde rande word nou daagliks oopgekrap. Dis die nuus van die dag! Elke dag! Ons land gaan gebuk onder politici wie se korrupte lewens boekerakke vol strek.
Korrupsie is so oud soos die berge. Saggeus was korrup, maar toe die Gees van God in hom begin werk en van sonde oortuig, sê hy vir Jesus:: “... Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug” Daarna sê Jesus “... Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom...” (Luk.19:8-9).
Ongelukkig is almal nie soos Saggeus in staat om gered te word nie. Dit sien ons die hele Afrika deur waar goddeloosheid die oorsprong van die probleem is: “Die goddelose neem ʼn omkoopgeskenk aan wat uit die boesem kom om die paaie van die reg te buig” (Spr.17:23). Naas moord is korrupsie die tweede hoogste misdaad in Afrika. Die Afrika Unie het ‘n tyd gelede bereken dat Afrika-leiers jaarliks meer as $148 miljoen steel en meer as 25% van hierdie vasteland se bruto binnelandse inkomste jaarliks weens korrupsie verlore gaan. Global Financial Integrity het bereken dat Afrika minstens $900 miljard sedert 1970 verloor het. Dis meer as die totale ontwikkelingshulp wat Afrika gedurende hierdie tyd van die buiteland ontvang het!
Die Wêreldbank het in 2012 berig dat 40% van Afrika se privaatrykdom in die buiteland bewaar word. Meer as die helfte van Afrika se mense leef van minder as $2 per dag. Dis benewens onverantwoordelike mense-aanwas ook aan korrupsie toe te skryf. Afrika ontvang al meer as 50 jaar lank oorvloedige buitelandse hulp sonder enige armoedeverligting. Dit het in effek net die diktators en hul politieke kaders ryk gemaak soos dit ook hier plaaslik gebeur. Die regering se gewaande besorgdheid oor die opheffing van armes is ʼn rookskerm. Dit is ʼn slenter om die deur vir korrupsie en selfverryking te open.
In 2012 het die ouditeur-generaal rapporteer dat meer as R20 biljoen aan ongemagtigde uitgawes in Suid-Afrika bestee is en dat minstens R30 biljoen weens korrupsie verlore gegaan het. Van die 39 staatsdepartemente het slegs drie ʼn skoon oudit gehad. ʼn Mens hoor dikwels van mense wat geld vervals maar dit gebeur meer dikwels dat geld mense vervals! Ten spyte van die meer as R600 biljoen wat die staat in belastinggeld inwin, is daar nog elke jaar ʼn tekort van inkomste. Hospitale het ʼn tekort aan medisyne en skoolkinders moet sonder handboeke klaarkom. Geen pen kan die omvang van die skade wat korrupsie Suid-Afrika aangedoen word, beskryf nie. ʼn Joernalis het dit met muise vergelyk wat in ʼn bos gevang en in beheer van ʼn kaasfabriek geplaas is! Ongelukkig het mense al so daaraan gewoond geraak, dat die skurke wat in weelde leef en geen noemenswaardige teenstand kry nie. Onverskilligheid is soos ʼn turbo-aanjaer vir korrupsie.
Korrupsie is egter nie ʼn alleenloper nie. Dis die vroedvrou van ontwrigting. Korrupsie gaan altyd met anargie, geweld, wetteloosheid en onsedelikheid gepaard, daarom is ons land gehul in geweld en moord. Korrupsie is sonde want dis diefstal, iets wat God in die sesde gebod baie duidelik verbied. Wat dryf mense daartoe om hierdie gebod te oortree? Geldgierigheid. Mense wat hulle aan korrupsie skuldig maak, is nie noodwendig arm nie. Hulle het genoeg om van te leef, maar wil nog meer hê. Let op die verskil tussen armoede en gierigheid; armoede is om dinge te benodig en gierigheid om alles te wil hê. Dit maak van korrupsie ʼn een-man strooptog en ʼn gruwel in die oë van God en wat oorhand toeneem omdat skurke nie vinnig en swaar genoeg gestraf word nie. “Omdat die oordeel oor ʼn verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen” (Pred.8:11).
Kom ons bid dat God binnekort die oordeel oor die goddelose korruptes in hierdie land sal voltrek, ons mooi land reinig, ons volk vergewe, ons herstel in ons land en dat Hy self sal kom regeer sodat ons nooit weer hierdie pad hoef te stap nie.