Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ongelowige leiers het die Satan as meester. Daarom pleeg hulle onreg en doen wat verkeerd is in die oë van God. Met sulke volke kan dit nooit goed gaan nie!
GESEËNDE LENTE
Die winter met sy kloue wat dood bring en verderf,
het met die windvlaag koue die landskap vaal geverf.
Toe, nuutgewek, het ingetrek die liewe skone lente in die land,
met voëlgesang die heeldag lang in weergalose soet refrein.
Al die mense is nou vrolik – heerlike lente na die koue winterweer;
al die mense is nou vrolik, niks kan ooit die lentevreugde keer!
Wie van ons oueres ken nie hierdie pragtige lied nie! Hoe laat dit ons aan ons onbesorgde jeugdae dink, wek dit heimweé na jonkheid blye môre, na laggies lank verlewe. Dan voel ons ook die traan in ons oë staan, en ons fluister: Here, vergewe! Hoe helder klink die vrolike sang van jongmense en kinders in die lente:
Al die veld is vrolik, al die voëltjies sing.
Al die kriekies kriek daarbuit', elke sprinkaan spring.
Al die koggelmannetjies kom om fees te vier.
Hier galop 'n goggatjie, daarso dans 'n mier.
Ja, die lente is hier, met sy herlewing. Die bome bot al helder groen en breek in die weelde van bloeisels van allerlei kleur uit. Orals jubel die blomme in helder kleure dit uit: Die lente is hier! Die diere bokspring oor die veld van louter vreugde Dit laat mens vrolik word, wek jou tot lewensblyheid, tot hartsvrolikheid - tot geloofsvreugde. Ons as gelowiges verbly ons in die skoonheid van God se skepping. Ons verkondig met hart en mond sy lof. Hoe kan ons stilbly, hoe kan ons onverskillig wees as plant en dier vrolik is!
Binnekort is die lentereën hier en spoel dit al die stof van ons wonings en ons harte af, word die veld in al sy wonderlike skepping weer groen en skoon, en verlig ons gemoedere na ‘n bitter moeilike jaar sover van siekte, onderdrukking, onreg en liggelowigheid. Hoe heerlik sal dit wees om die weer te hoor dreun, daarin die stem van ons hemelse Vader eerbiedig te hoor en ons geloof daarmee te versterk. Hoe heerlik is dit om die sagte reën te sien, die heerlike reuk daarvan in te adem en die geruis daarvan te hoor terwyl jou hart van dankbaarheid teenoor die HERE swel! En as die donderstorm in grootsheid en magtigheid kom en die donker wolke giet stortreën uit, miskien selfs haelkorrels, oorskadu dit die storm in jou hart, en aanskou jy hoe albei storms verder trek en die stilte en rustigheid oor jou kom in die wete dat Hy wat die donderstorms oor ons stuur ook weer die genade van rus gee, in ons land maar veral in onsself. Selfs as die stormweer die oes vernietig, die woning beskadig, weet ons dat Jakobs God ons Rotsburg is wat nooit beswyk nie (Psalm 46:4) en dat Hy ná die storm stilte, genade, genesing en uitkoms bring sodat ons weer sal opstaan na hierdie tyd van ‘n wêreldwye aanslag teen God se kinders, ‘n tyd van bekommernis oor ons land en ons geliefdes en ons toekoms.
Mag ons Vader in die hemel op ons gebede sy Hand open (Ps 145) sodat daar deur die vlytige hand van ons dapper boere wat deesdae ‘n bedreigde spesie geword het, voedsel vir mens en dier kan kom. Hoe mooi, hoe teer besing Totius dit in Psalm 126:
Wie wenend, onder leed en smaad, die korrels uitstrooi van die saad
sal in die hooggehalmde graan eerlang verblyd die sekel slaan.
Al wenend saai hy oor die akker; maar vrolik word die saaigraan wakker.
En eind'lik dra sy yw're hand die volle gerwe van die land.
Al kom alles uit die hand van die HERE, ook al ken Hy ons node en behoeftes beter as wat ons dit self ken (Matt 6), wil Hy dat ons tot Hom bid, ons afhanklikheid van Hom erken. Die Heilige Gees verseker ons deur die apostel Jakobus (hfs 5:16-18): Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag. Het Elia dit nie bewys toe hy eers gebid het dat dit nie moet reën nie en dit het 42 maande lank nie gereën nie. Toe het hy weer gebid en dit het gereën. En die Heilige Gees spreek deur die profeet Maleagi (hfs 3:10): Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in My huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie. Erken My as die voorsienige God uit Wie en deur Wie en tot Wie alle dinge is, en ek sal My hand vir julle open!
Die HERE sluit toe, maar die HERE maak ook oop wanneer sy kinders biddend tot Hom kom in ootmoed en sondebesef. Daarvoor moet ons sonder ophou bid dat ons land gespraar sal bly van die sataniese planne van die Een Wêreldregering, dat die Here Suid-Afrika soos ‘n witbroodjie sal beskerm en kom reinig van al sy vyande want hulle is ook ons vyande, en dat Hy self sal kom regeer tot Jesus ons kom haal. Dan kan ons verseker wees dat, nieteenstaande die sonde wat nog in ons oorbly, die enige en waaragtige God ons gebede terwille van ons borg en middelaar Jesus Christus wil verhoor. Die Here Jesus Christus belowe Self (Joh 15:16): Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in My Naam vra, Hy julle dit kan gee.
Laat ons dan soos die lente vrug dra, sodat die Here Suid-Afrika teen sy hart sal beskerm en ons weer in Christus vry sal wees soos die galoppende goggatjies en die dansende miere in die mooi ou liedjie hierbo.
‘n Geseënde Lente!!