Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus het ons vry kom maak van alle onnodige aardse voorskrifte en rituele. Leef dan soos 'n bevryde mens in sy liefde en beskerming met dankbaarheid en gehoorsaamheid aan sy Gebooie.
BID VIR NUWE LEIERS
Misdaad vier hoogty, geweld neem toe, vrouens en kinders word daagliks verkrag en vermoor. Mense leef in vrees vir hul lewens, selfs in hul eie huise. VIGS rig verwoesting aan, barbaarse optrede het gangbaar geword, dwelmverslawing neem epidemiese afmetinge aan. Politici plunder die staatskas en werk saam met die geldmagte ter wille van enorme omkoopbedrae; korrupsie is aan die orde van die dag, selfverryking het mode geword en verantwoordelikheid het verdwyn. Gesonde werksetiek het skaars geword en werkloosheid neem toe. Die landsadministrasie gaan sienderoë agteruit en onderwys het ’n laagtepunt bereik. En die ergste van alles is dat ’n geslag van jongmense besig is om sonder kennis van die Bybel groot te word!
Die gevolg van hierdie teologiese rewolusie aan die suidpunt van Afrika is dat Suid-Afrika in ’n morele moeras beland het. Die mens wil sy eie God wees en self besluit wat reg en wat verkeerd is. Van objektiewe, bindende voorwaardes soos in die Bybel vervat is, wil hy niks weet nie. Hy sal self besluit wat reg of verkeerd is en hoe hy die Skrif wil verstaan. Hy wil ’n god maak soos hy Hom wil hê. Dieselfde ding het met Israel tydens die maak van die goue kalf gebeur – ’n god na hulle smaak.
Geen wonder dat Christenskap ná die 1994 bewind-prysgawe by baie mense in onguns verval het nie. Dit verkeer sedertdien op dieselfde voet met die heiden godsdienste. Die morele lugleegte wat dit laat ontstaan het, is deur allerlei booshede gevul waaronder ons daagliks steier.
Die Bybel is nie net die kerk se fondament nie, maar ook die morele kompas van die samelewing. As teoloë hierdie kompas se korrektheid bevraagteken, raak die kerk se profetiese stem onvermydelik stil. Waarheen gaan die land? En in watter rigting vaar ons? Is ons soos ’n skip sonder rigting?
Die agteruitgang in die meeste Suid-Afrikaanse kerke hou verband met die liberalisering van die Gereformeerde teologie. Dieselfde ding het ook in Europa gebeur. Vandag het die Gereformeerde kerke daar geen gesag nie.
’n Kerk se gesag hang van sy verbondenheid aan die Skrif af. As sy vertroue in die Bybel verloor, verloor sy haar gesag. Kerke is nie veronderstel om lidmate se vertroue in die Bybel te ondermyn nie. Sulke kerke doen die Satan se werk vir hom: “Is dit ook so dat God gesê het ….Julle sal gewis nie sterwe nie…” (Gen.3:1,4).
Laat ons egter positief wees. Alles is nie verlore nie. Toe Elia by geleentheid by God kla dat hy die enigste een in Israel is wat nie die knie voor Baäl buig nie, bemoedig God hom dat daar 7000 is wat nie die knie voor Baäl buig nie. Talle volksgenote volhard in die geloof. God gebruik hulle om die waarheid van die Woord uit te dra en mense se lewens geestelik te verryk. Mense kom toenemend tot ’n herontdekking van die waarheid van die Woord. Dis die rigsnoer van ons volk se terugkeer na God.
Die vraag is: Kan die Boerevolk herstel? Kan ons uit hierdie nagmerrie wat as demokrasie aangeprys word, ontwaak? Ja, maar dan moet ons doen wat Juda o.l.v. Hiskia gedoen het en ons godsdiens begin herstel. Godsdiensherstel sal volksherstel verseker. Maar dan moet ons eers weet hoe groot die verval is. Dis net soos met sonde. Voordat ons van sonde ontslae kan raak, moet ons eers weet hoe groot dit is.
Ons staan op die drumpel van ’n groot hervorming. God het dit ook vir Siener van Rensburg laat sien. Hierdie hervorming moet soos in Juda, by die huis van God begin. Die Woord van God moet weer die rigsnoer vir die kerk en die samelewing wees. Daarin is die volmaakte beginsels van God vir die kerke en samelewing vervat. En met die Woord in die hand, sal die Boerevolk moet begin skoonmaak.
“….Luister na my, Leviete! Heilig julle nou en heilig die huis van die HERE, die God van julle vaders en bring die onreinheid uit die heiligdom uit . En die priesters het binne-in die huis van die Here ingegaan om dit te reinig en al die onreinheid wat hulle in die tempel van die HERE gevind het, uitgebring ….”
Laat ons baie ernstig bid vir nuwe leiers wat soos die Leviete van ouds die tempel sal reinig deur alles wat onheilig is, uit te dra. Daarna sal die volk gesond word!