Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Christus van God is nie ’n baba in die krip met ’n stralekrans of embleem van die songod om sy kop en voorgestel deur poppe en prentjies nie — dis niks anders as afgodery nie. Christus word nie ouer nie. Hy is ewig en het geen verjaarsdag nie. Hy is die ewige Koning wat aan die regterhand van sy Vader sit, wat as Regter op die laaste dag sal kom om te oordeel die lewendes en die dooies.
STAATSGREEP, NOU?
Daar is sonder twyfel tans ‘n versnelde pas in ontwikkeling van politieke sake te bespeur. Dit is duidelik dat die huidige regime spartel om beheer te behou. Van alle kante breek onstabiliteit los – regeringslui is wantrouig teenoor mekaar, die ANC as party is erg verdeeld, die Swart bevolking raak opstandig en kriewelrig met hul regering, buitelandse beleggers verloor belangstelling in die NSA se sukkelende ekonomie met beurtkrag wat sake tienvoudig vereger.
Maar die grootste enkel bekommernis vir Ramaphosa moet sonder twyfel die geldmag wees. Hy is immers deur hulle grootgemaak – geskool en afgerig vir die pos wat hy tans beklee. Hy is daarom met hulle onderduimse planne en groot mag geensins onbekend nie. En, soos met Zuma die geval was, is die gety besig om ook vir Ramapôs verkeerd te draai. Diegene wat hom aan bewind geplaas het is kennelik besig om te oorweeg of die alternatief wat hulle sedert 1994 in die hoed hou, nou in werking gestel moet word. En Ramaphosa maak nie deel uit van daardie planne nie.
Die Afrikanerbond, wat voor 1994 as die Afrikaner Broederbond bekendgestaan het, was die argitekte van die Nuwe Suid-Afrika – die gemors waarin ons ons tans bevind. Hulle het hoogverraad gepleeg deur alreeds in 1985 in persoon van hul destydse voorsitter, prof. Pieter de Lange, in New York met die toe verbanne en onwettige ANC geheime samesprekings te voer. Dit, nadat hulle op eie erkenning reeds vanaf die middel 70’s (skaars ‘n dekade nadat dr. Verwoerd uit die pad gehaal is) binne die Broederbond begin samesprekings voer het oor die (on)volhoubaarheid van die apartheidsbeleid. In dieselfde jaar van hul huigelagtige en verraderlike samesprekings met die ANC verskyn die eerste dokument uit hul binnekring wat ‘n nuwe bedeling bepleit. Reeds in 1986 laat hulle ‘n dokument die lig sien wat ‘n Swart regering vir Suid-Afrika in die vooruitsig stel en dit ook so aanbeveel.
In die Broederbond-binnekring is die NP-regering se denke en beleid gevorm. Deur hulle toedoen is die klimaat en voorwaardes geskep vir oorgawe van mag aan ‘n kommunistiese regime.
Hierdie selfde verraderlike organisasie is nou weereens betrokke by die beplanning van ‘n nuwe bedeling. Hiervoor is hulle ingebind in ‘n nuwe organisasie by name die Afrikaner-Afrika Inisiatief(AAI). Die AAI stel hom by monde van sy sameroeper, Chris Opperman, ten doel om “die Afrikaner as inheemse gemeenskap in gesprek te laat tree met Afrika” en “Terwyl ons moet erken dat ons groot foute in die verlede gemaak het, is ons verbind tot ‘n toekoms in Afrika”.
Die medevoorsitter van die AAI is dr. Theuns Eloff – voormalige voorsitter van die FW de Klerk-stigting. Hy het in 1989 die predikantberoep verlaat vanweë die feit dat hy deel was van verdere geheime, onwettige samesprekings met die toe nog verbanne ANC daardie jaar, hierdie maal in Dakar. Hy het gehelp met fasilitering van die “vredesooreenkoms” met die ANC in 1991, was deel van Kodesa en hoof van die administrasie van die Veelparty Onderhandelingsproses in 1993/4 – hy was dus instrumenteel in die versekering van oordrag van mag na ‘n Swart regering.
By hierdie organisasie, die Afrikaner-Afrika Inisiatief is die Afrikanerbond ingeskakel om weer opnuut planne daar te stel vir ‘n nuwe bedeling. Die verbasende is egter die politieke bedmaats wat saam met hulle hierdie reis onderneem: Ja, ons verwag om die FAK, die Thabo Mbeki Foundation, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en kuns en natuurlik die Afrikanerbond hier te sien. Hulle is immers almal ou bekende liberale organisasies, geswore vyande van die Afrikanervolk, almal meelopers van en aktiewe medewerkers aan die mislukte huidige bedeling. Maar baie insiggewend is die volgende organisasies wat vir sommige as verrassing sal kom: Solidariteit en sy meelopers soos Afriforum, Saai, Sakeliga en dan ook die Vryheidstigting van Carel Boshoff van Orania.
Ja, aan jou vriende word jy geken. Die vriende van hierdie “regse Afrikanerorganisasies” vertel die volle verhaal van hulle eintlike doelwitte, wys kristalhelder hul ware kleure!
Nogeens, soos in die laat 70’s van die vorige eeu gekonkel is om ‘n bewindsrewolusie te bewerkstellig, is hierdie gespuis nou opnuut besig om ‘n alternatiewe regering vir die ANC daar te stel. En daarin lê vir die Afrikaner en sy vryheidsideaal geen heil nie.
In 2022 verklaar die Afrikanerbond dat ‘n burgerlike samelewing nie meer vir die regering wag nie, maar self die leiding moet neem om dienste te lewer en instellings te vestig. En wie besing hulle in hierdie verband? Die Solidariteitsbeweging wie se nuwe kernkrag elektrisiteitsplanne deur hulle hoë lof toegeswaai word. Hulle verklaar verder: “dit (is) nou noodsaaklik dat burgerlike organisasies en gemeenskappe regoor Suid-Afrika moet saamwerk om alternatiewe oplossings vir die land se vele uitdagings waaronder misdaad, lae ekonomiese groei, staatsverval en gebrekkige dienslewering te vind.”
Op dieselfde trant bepleit dr, Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus in Rapport van 24 Julie 2022 die daarstel van ‘n breë gemeenskapsfront, wat saamgestel moet word deur politieke partye, burgerlike organisasies, kerke, sakelui, akademici ensomeer.
In Oktober 2022 hou die Erfenisstigting ‘n gespreksessie. Die sprekers is Barend du Plessis, oudminister van finansies, Koos van der Merwe, oud-KP-LV en Stoffel van der Merwe, oudminister van onderwys, Pieter Mulder, voormalige leier van die VF Plus, Flip Buys, voorsitter van Solidariteit, met ‘n ander Afrikanervyand, ds. Cassie Aucamp as gespreksfasiliteerder. Almal voorheen aandadig aan die ondergang van Blank Suid-Afrika. Die sentrale tema van hul toesprake: “ons sal self” en “Afrikaners sal nou moet selfdoen”.
Terwyl hierdie woelinge onder sogenaamde Afrikanerorganisasies (dalk eerder Afrikaanse organisasies) voortgaan, stu die onrus onder die Swart bevolking reëlmatig voort. Sporadiese protesoptogte en voorvalle van geweldpleging soos dié in Parys sowat ‘n week gelede word grootliks in die media verswyg, maar is kennelik aan die toeneem. Die magte daaragter kan heel waarskynlik by Groot Geld gesoek word. Die klimaat moet geskep word vir die omverwerping van die huidige bewind. Dit bring mee dat Ramaphosa benoude kabinetskommellings maak om sy eie posisie te verstewig. Hy vrees om die land te verlaat en het daarom nie eers Davos bygewoon nie – moontlik vrees vir ‘n staatsgreep? Daarbenewens word vriende soos Rusland en China genooi om met oorlogskepe ‘n magsvertoon te lewer, soos wat weer in Maart beplan word.
Wanneer die bestel inmekaarstort wil die AAI se manne gereed staan om ‘n alternatiewe regering daar te stel – Siener se Doringbos-regering.
Laat daar by die volbloed Afrikaner geen twyfel bestaan oor die beweegredes en duistere motiewe van hierdie onheilige alliansie nie. Moet u nie laat mislei dat die doel is om van die ANC ontslae te raak en dit daarom goedgepraat kan word nie. Die duistere motiewe van hierdie mense wat ons voorheen met hul geheime planne in die huidige gemors laat beland het bepaal dat hulle vorentoe ook nie vertrou kan word nie. Staan vas in u geloof, in die wete dat ons hulp en redding van Bo kom. Beginsels staan vas en word nie deur omstandigheid gedikteer nie. Afrikaner-vryheid lê nie in “gesprek en samewerking met Afrika” nie, maar soos Jaap Marais gesê het: na binne, en na Bo!