Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
U hoor my stem; verberg u oor nie vir my ontboeseming, vir my hulpgeroep nie. U kom nader die dag as ek U aanroep, U sê: Wees nie bevrees nie! - Klaagliedere 3:56-57
M O S E S... (16)
...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het
Dr JP Botha
Lees reeks by MOSES
BILEAM
Balak, die koning van die Moabiete, het gehoor hoe die Israeliete die Amoriete se sake vir hulle gewerk het en toe skrik hy en stuur boodskappers na die waarsêer Bileam en vra hy moet asseblief die Israeliete kom vervloek, want as Balak dan teen hulle veg, mag hy dalk wen. Die Here het egter vir Bileam belet om Israel te gaan vervloek. Balak se boodskappers het dit vir hom gaan sê, waarop Balak groter vergoeding vir Bileam belowe het, as hy sou besluit om te kom. “Ek sal vir jou gee net wat jy vra. Kom tog nou en vervloek hierdie volk vir my.
Maar daardie nag het die Here weer aan Bileam verskyn en vir hom gesê hy kan maar na Balak toe gaan, maar hy moet net doen wat die Here vir hom sê.
BILEAM SE DONKIE
Die volgende oggend het Bileam op sy donkie geklim om na Balak toe te ry. Die Here het vir hom kwaad geword omdat hy gegaan het en ‘n engel gestuur om hom langs die pad voor te keer. Die donkie het die engel gesien en van die pad af, die veld in geloop, want die engel het ‘n swaard in die hand gehad. Bileam het hom geslaan om hom na die pad terug te bring. Toe gaan staan die engel in die smal opening tussen twee wingerdmure. Die donkie probeer langs die engel verbyskuur en druk Bileam se voet teen die muur vas en kry weer ‘n paar houe van Bileam. Die engel gaan staan toe op ‘n baie nou plek waar niks by hom kon verbygaan nie. Die donkie het die engel gesien en gaan lê met Bileam op sy rug. Dit maak hom woedend. Hy gryp ‘n stok en begin om sy ou eseltjie te slaan.
Die arme ou donkie begin toe praat: “Wat het ek aan jou gedoen dat jy my nou al drie keer geslaan het?" vra hy.
Bileam antwoord: “Jy maak my belaglik. As ek ‘n swaard gehad het, het ek jou nou doodgemaak!"
“Ek is dan jou ou donkie waarop jy nog altyd gery het. Is dít hoe ek altyd met jou maak?”
Toe sien Bileam eers die engel in die pad staan met ‘n swaard in die hand. Van skrik val hy toe vooroor op die grond. Die engel sê hy het gekom om hom te keer, want hy is onverskillig teenoor God.
Bileam bely toe voor die engel: “Ek het ‘n fout gemaak. As dit verkeerd is dat ek gaan, sal ek liewer omdraai.”
“Gaan nou maar saam met die mans, maar net wat ek vir jou voorsê, mag jy sê.”
Bileam is toe saam met die amptenare. Toe Balak hoor dat Bileam kom, het hy hom naby die Arnon-rivier kom ontmoet. Balak sê: “ Waarom kom jy nou eers? Glo jy nie dat ek jou kan beloon nie?”
Bileam antwoord: “Maar ek het mos nou gekom. Ek kan net dit sê wat God my meegedeel het.”
Die volgende oggend is Balak met Bileam na Barnot-Baäl toe. Bileam kon hiervandaan sien waar Israel gestaan het. Hy het gevra dat daar eers geoffer moet word. Daarna het hy ‘n pragtige boodskap van seën en voorspoed oor Israel uitgespreek.
Toe Balak dit aanhoor, sê hy: “Wat maak jy met my? Ek het jou gebring om my vyand te kom vervloek, maar jy staan en seën hulle!”
Bileam se antwoord was: “Ek kan net sê wat God my meegedeel het.”
Balak neem hom toe in die vlakte van Sofim na die Pisgaberg toe, waarvandaan hy die Israeliete beter sou kon sien, met die hoop dat hy hulle daarvan sou kon vervloek. Maar die Here het vir hom nog ‘n pragtige boodskap gegee. Hy het dit ook aan Balak gerig. Dit het só begin: “Staan op, Balak, luister! Hoor mooi wat Ek vir jou sê, seun van Sippor! God is nie ‘n mens dat Hy sal lieg nie. Hy is nie ‘n mens wat ekskuus sal sê nie. . .” en dan volg die heerlikste woorde van seën aan Israel.
Balak het toe nog nie moed opgegee nie. Hy het vir Bileam gesê: “As jy hulle nie gaan vervloek nie, moet jy hulle tog nie seën nie. Bileam antwoord: “Het ek dan nie vir jou gesê ek moet alles doen wat die Here vir my sê nie?”
Balak het Bileam toe na Peorberg toe gevat, wat oor die woestyn uitkyk. Daar het ook presies plaasgevind wat op die ander plekke gebeur het. Toe Bileam sy mond daar oopmaak, het dit weerklink: “Hoe pragtig is jou tente, Jakob! Israel, hoe mooi is die plek waar jy bly!” en baie meer.
Balak het baie kwaad geword en onder andere vir hom geskree: “Maak dat jy wegkom na jou huis toe!” Bileam het toe ook geen vergoeding gekry nie. Hy het volgehou daarmee dat hy net gesê het wat die Here aan hom gegee het. Toe het hy vir Balak vertel wat Israel in die toekoms aan sy volk gaan doen: “ ’n Ster kom uit Jakob, ‘n septer kom uit Israel. Hy verpletter Moab se voorkop. Hy verwoes Set se nageslag. Edom sal oorwin word. Seïr sal oorlogsbuit word vir sy vyande. Israel sal met mag oorwin,” ensovoorts.
Bileam het toe huis toe gegaan. Balak het sy eie koers ingeslaan.
Vervolg...