Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Weet jy dat jy jou hele lewe kan verander deur jou houding en gesindheid te verander? Probeer dit gerus in die positiewe sin!
OUERS VANDAG PLEEG KONTRAKBREUK
Ds AE van den Berg
“En kyk, Ek is met jou en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het” Gen.28:15 .
Die verhaal in Genesis 28 is ’n vreemde verhaal. Dat God met iemand soos Jakob bemoeienis maak, maak nie so mooi sin nie. Hy is die laaste persoon met wie ons reken God iets mee sou kon uitrig. Jakob was alles behalwe ’n goeie mens. Van sy geboorte af het dinge verkeerd geloop. Daarbenewens beteken sy naam in Hebreeus bedrieër - presies wat hy was!
Jakob het op slinkse wyses God se beloftes bekom om homself te bevoordeel en te verryk. Hy het nie eens sy bejaarde vader ontsien nie en openlik bedrieg om sy broer se seën te steel. Jakob was selfgesentreerd, egoïsties, impulsief en eiegeregtig. As ’n sielkundige verslag oor Jakob se persoonlikheid opgestel kon word, sou daarop gestaan het - psigopaat!
Eiegeregtige mense buig nie voor God nie. Jakob kon vir die saak van God afskryf word. Desondanks het God hom vêr van sy ouerhuis opgesoek en kragtig in sy diens gebruik. Waarom? Omdat God in ’n verbondsverhouding met Jakob se pa (Isak) en sy oupa (Abraham) gestaan het; iets wat sy lewe omgekeer het. As jy jou kinders in die vrees van die Here opvoed, sal jou kleinkinders ook reg loop. God help jou daarmee.
Die Here se weë is nie ons weë nie. Ons skryf mense maklik af en dan teken die Here hulle weer tot ons skaamte aan. Somtyds skryf ons onsself af! Hoor hoe probeer Jesaja homself verskoon as God hom tot diens roep: “… Wee my, ek is verlore! Want ek is ’n man onrein van lippe en woon onder ’n volk wat onrein van lippe is” ’n Gebrekkige selfbeeld kniehalter ons geestesvermoëns!
Jakob vlug omdat hy drooggemaak het. Maar dan versper God sy weg. Hy kom letterlik in Jakob se pad staan, nie dat Jakob daarvoor gevra het nie. Om die waarheid te sê, is God die laaste Een na wie Jakob op daardie stadium soek! Jakob soek nie na God nie. God soek na Jakob, vir geen ander rede as dat hy ’n verbondskind is nie. Die Verbondsgod is ’n opsoekende God!
Dieselfde ding gebeur 1900 jaar later toe ’n vooraanstaande Jood openlik teen die volgelinge van Jesus van Nasaret optree en die pad na Damaskus aandurf om hulle uit te snuffel en na Jerusalem te bring om vervolg te word. Terwyl hy in die versengende hitte ry, kry hy ’n klap uit die hemel; bo van sy perd af, hard op moederaarde, WANT DIE HERE HET HOM GEKIES. Waarom? Saulus is ’n verbondskind. Hoor hoe getuig hy later daarvan: “Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het” (Gal.1:15). God het Paulus van sy geboorte af vir sy diens opsy gesit en van hierdie verbondskind die grootste sendeling gemaak.
Waarom het God twee skynbaar nikswerd mense (Jakob en Paulus) se lewens so ingrypend omgekeer? Omdat God sy deel van ’n goddelike kontrak nakom. God het met Jakob se oupa Abraham 2000 vC ’n kontrak gesluit. Hy het Abraham se nageslag as volk uitverkies en hulle geseën sodat die heidennasies sou weet dat Hy die enigste ware God is.
Israel moes van hulle kant God alleen dien en so afgesonder leef, dat mense kon sien dat hulle vir God opsy gesit is. Hulle moes ’n heilige volk wees en ’n lig in die heidense duister. Hierdie kontrak is aanvanklik met die besnydenis en in later in die NT met die doop onderteken.
As God met die vlugtende Jakob praat, sê Hy vir hom: “Ek is die God van Abraham en Isak”. Kragtens hierdie kontrak, het God na Jakob kom soek al het hy afgedwaal. God het hom teruggebring. Dit laat ’n mens aan Jesus se gelykenis dink van die goeie herder wat die 99 skape laat staan het om na die een wat afgedwaal het te gaan soek. Dis die hart van die verbond – God maak bymekaar wat by mekaar hoort!
Jakob het lelik afgedwaal, maar die Verbondsgod haal hom in en gee aan hom dieselfde verbondsbeloftes as vir Abraham en Isak. God het vir Abraham gesê dat hierdie kontrak tot sy nageslag se voordeel sou strek. Hy soek gelowiges se afgedwaalde nageslag op om hul te seën. Dis ’n deurlopende verbondslyn. Wat ’n verbysterende liefde het God nie vir sondaars nie! Ons sou Jakob lankal afgeskryf het, maar nie God nie. Hy bly getrou aan sy verbond!
Ons leef 4000 jaar ná Abraham met wie God die verbond gesluit het. Hoe kan ’n verbond wat in Israel met ’n Semiet aangegaan is ons in 2013 enigsins raak? “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal.3:29). As ons tot Jesus bekeer, verbind ons onsself tot hierdie kontrak; al sy voorwaardes en beloftes. Nie net vir onsself nie, maar ook ons kinders. “Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar vêr is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Hand.2:39). Daarom doop gelowiges hul kinders. Ons bevestig ons geloofsverbintenis met Christus. Daardie kontrak maak ons geestelik familie van Jesus. Met die doop sê ons : “Here, dis wonderlik om deel van U familie te wees!”
Verbondsbeloftes is die wonderlikste beloftes van almal omdat dit deur ’n magtige God gemaak is wat nooit verander nie. Luister wat sê Hy vir Jakob: “Ek sal jou hierdie land gee. Jou nageslag sal so baie soos die stof van die aarde wees. Al die nasies sal in jou nageslag geseën wees (Christendom) . Ek sal jou bewaar. Ek sal jou nie verlaat nie. Ek sal by jou staan”.
As mens kan ons nie verstaan dat die Here na ’n bedrieër kom, een wat Hom nie soek nie en geskenke voor sy deur aflaai en vir hom sê: “Ek sal, Ek sal, Ek sal…” Hierdie toeseggings word gemaak terwyl Jakob se lewenspad lynreg weg van God af is! En wat sê Jakob? God boul hom pens-en-pootjies: ”Waarlik, die Here is op hierdie plek en ek het dit nie geweet nie” (Gen.28:16).
Die doop is ’n verbondsteken met ’n sigbare teken. Dis nie ’n reddingsteken soos in Charismatiese kerke voorgehou word nie. Die fondament van die verbond is GEHOORSAAMHEID en die gevolge seëninge. Daarom het ’n kind wat gedoop is, ’n geestelike voorsprong in die lewe. Daarom sê die Doopformulier dat kinders van gelowiges gedoop moet word.
Gen.28 leer ons dat God selfs verbondskinders wat afdwaal, opsoek en na hul geestelike familie laat terugkeer. Let op Jakob. God soek hierdie ongure karakter om geen ander rede op as die verbond nie. En wat ’n ommekeer het dit nie in Jakob se lewe gebring nie! As God Hom daarna aan Israel bekend maak, sê Hy nie net dat Hy die God van Abraham en Isak is nie. Luister wat sê hy vir Moses tydens sy roeping: “Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob…” (Ex.3:6).
Deur die doop word ons in die familie van God ingetrek, met al die voordele van ’n liefdevolle, opsoekende God. Dit mag ons egter nie onverskillig maak nie. God lê sekere verbondsverpligtinge op elke ouer wat sy kind ten doop bring. Hoe lank is dit geldig? Totdat hulle die huis verlaat? Onthef God my dan van my verpligtinge? Geensins. Wanneer dan? Totdat ek my laaste asem uitblaas! Ek staan, wat my kinders betref, in ’n ewige verbond met God.
As my kind, ongeag hoe oud, dinge doen wat God nie behaag nie, moet ek hulle vermaan omdat my liefde vir God en sy Woord my daartoe dring. “...dat jy die HERE jou God kan vrees om al sy insettinge en gebooie wat ek jou beveel, te hou – jy en jou kind en jou kindskind al die dae van jou lewe…”(Deut.6:2).
As jy jou kind nie vermaan nie, pleeg jy kontrakbreuk en moet die straf van God te wagte wees. As jy die kontrak eerbiedig en toesien dat jou kinders en kleinkinders daarin wandel en nie skroom om hulle te vermaan nie, sal God jou seën. Sy genade is so groot dat Hy selfs die afgedwaalde een sal gaan opsoek en van ’n uitskotproduk ’n meesterstuk maak.
Ons land het baie probleme. Een van die grootste probleme is ons gesinslewe wat uitmekaarval omdat ouers hulle kant van die verbond nie nakom nie en kontrakbreuk gestraf word! Wat ’n wonderlike land sal Suid-Afrika nie wees indien ouers hul verbondsverpligtinge begin nakom nie!
Verbondskinders verskil van ander kinders soos lewendes van dooies. Die wyse waarop ’n kind opgevoed word, bepaal sy toekoms. As ons vir hulle stewige wortels gee, sal God hulle vlerke vir die toekoms gee. Daarom behoort elke kind die lewe deur die goue hek van verbondsouers in te gaan. Sulke ouers is padwysers na die hemel.
Amen!