Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar bestaan uiteindelik twee dinge wat wel belangrik is vir 'n mens, ongeag wie hy is: die liefde en begrip van sy gesin. Alle ander dinge wat hy voortbring, is onbelangriker.
VERWYDER DIE BANGOED UIT JOU LEWE
Hannes Ollewagen
Josua 7:1-26
“Staan op! Heilig die volk en sê: Heilig julleself teen môre; want so sê die HERE, die God van Israel! Jy sal nie kan standhou voor jou vyande totdat julle die ban onder julle uit verwyder het nie.”
Ons sien in die gelese gedeelte wat die verpletterende gevolge van Agan se ongehoorsaamheid was. Agan het sy hand uitgesteek na die bangoed van Jérigo waarvan God hulle belet het om te neem. Die prys van sy ongehoorsaamheid was ses-en-dertig krygsmanne van sy volk, sy hele huishouding met al sy geliefdes en sy totale besitting asook sy eie lewe!
Dit is maklik om hierdie gedeelte te lees en by onsself te dink dat Agan baie dwaas gehandel het om só ‘n duur prys te betaal vir so ‘n geringe begeerte. Alvorens ons ‘n oordeel na Agan slinger, moet ek en u vasstel of ons onsself nie dalk ook skuldig maak aan soortgelyke optrede nie. Is daar nie dalk ook bangoed in my en u lewe vandag wat ons ook liefs vir God probeer wegsteek nie?
Dit is so onnodig dat ons daagliks duur pryse moet betaal a.g.v. ons doelbewuste ongehoorsaamheid aan God se Woord. Daar is soveel mense wat dag-na-dag duur pryse van ongelukkige huwelike, gesinne, opstandige kinders, ongelukkige werksomstandighede, siekte en dies meer betaal ter wille van die koestering van bangoed in hul harte. Sommige van hierdie bangoed wat insluit bitterheid, vrees, ongeloof, opstandigheid en wederstrewigheid lê in soveel mense se harte só diep begrawe om dit sodoende heimlik te probeer verberg sodat ander mense nie daarvan moet weet nie.
Ek wil u vandag uitnooi om al daardie bangoed in u hart te gaan uitgrawe en dit voor die Aangesig van God te bring. Dit is nie nodig dat u lewenslank daarmee rondtrek nie. Dit is nie nodig om met die hele sak patats waaroor u dalk skaam voel na die predikant of een of ander “heilige” te gaan sodat hy vir u versoening kan bepleit nie. U kan u eie ongeregtighede in opregte gebed en smeking met belydenis voor die voete van Jesus Christus neerlê. Hy is die Een wat die volle prys van die sondeskuld vir God se kinders betaal het en daar is derhalwe niemand beter as Hy wat weet om u skuld te verreken en dit vir ewig af te los nie! Sy vergifnis vir sondaars wat ware berou het en met opregtheid hulle skuld bely, is VOLLEDIG. “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” (Jesaja 1:18).
Dit is onnodig om te wag om eers met die roede en met vuur besoek te word alvorens u begin om werk te maak van die bangoed wat u dalk in die geheim in u hart koester. As opregte kinders van God is ons veronderstel om vrywillig voortdurend besig te wees om die heiligmaking van ons lewens na te streef. “Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie, “ (Heb. 3:7&8) “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;” (Heb. 12:14).
Wanneer u vandag u hart en lewe gaan meet aan die volmaakte standaard van die Woord van God wat tot in die siel sny en meet, sal u dalk baie ontevrede voel met die kromheid daarvan. “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” (Heb. 4:12).
Die belangrik vraag vandag is egter nie of u volmaak is nie, want geeneen van ons is volmaak nie. Die belangrike vraag is eerder of u tevrede is met ‘n krom lewe en hart wat vol bangoed is en of u in ootmoed en met geloofsvertroue gaan begin om hierdie bangoed uit u midde te verwyder? Gaan u al hierdie dinge na Jesus Christus neem met opregte en afhanklike versugtinge aan Hom om in sy alwysheid u hart te herskep sodat ook u hart en lewe vir Hom geheiligde eiendom kan wees?