Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kom ons kyk weer na hoe die mees besonge onderwerp in die wêreld regtig lyk: Die Liefde. Ware liefde is egter nie daardie romantiese gevoel wat een mens teenoor 'n ander koester en oormôre verdwyn soos in die miljoene sekulêre liedjies besing word nie; 1 Kor 13 vertel hoe ware liefde lyk: dit is vriendelik, opreg, geduldig, eerlik, regverdig, getrou en bestaan vir ewig. Dit is hierdie liefde wat ons moet nastreef tot ons eendag werklik volwasse is en nie meer soos 'n kind hieroor dink, redeneer en praat nie.
LEER UIT GOD SE REDDENDE GENADE
Hannes Ollewagen
Titus 2:11-15
“WANT die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,”(:11&12).
Die reddende genade. Hierdie genade is onbeskryflik groot. Die genade wat God die Vader aan ons bewys het om ons uit die sondemag te red. Hierdie genade van God wat in Christus Jesus aan ons openbaar is. Hy het ons begenadig deur die straf vir ons sondes op Hom te laat neerkom sodat ons met God die Vader versoen kan word. Ek herhaal – sodat ons met God versoen kan word. “Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.” (Efés. 2:13).
Hierdie boodskap van Christus se koms na die aarde en sy sterwe word wyd verkondig. Maar ongelukkig word hierdie boodskap ook menigmaal baie skeef verkondig. Dit word aangebied op ‘n wyse wat mense in die gehoor sal streel deurdat alle verantwoordelikheid vir ons redding op Christus afgeskuif word. En hierna is al wat oorbly ‘n lewe waarin ek salig my eie geluk en hartsbegeertes kan navolg in die rustige wete dat Christus mos vir my sondes gesterf het. Ek is daarom reguit na die hemel onderweg, ongeag hoe my geloof en lewe verder daaruitsien. Dit is wat dwaalleraars aan mense leer.
Maar dit wat ons uit God se Woord leer, klink anders. Luister weer mooi na die woorde uit Titus. Wat leer dit ons? Dat die koms van Christus ons van alle geloofsverantwoordelikheid ontneem het? Dat die koms van Christus vir ons die “vryheid” kom gee het om in sonde voort te leef? Beslis nie! Kom ons luister mooi wat die Woord van die HERE aan ons leer.
Die Woord stel aan ons dat die reddende genade van God aan ons verskyn het en juis aan ons kom leer het om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën. Ons kan mos daarom nie die goddeloosheid en begeerlikhede van hierdie wêreld omarm en onsself probeer verontskuldig dat Christus gesterf het om ons van hierdie sonde te verskoon nie. Hy het nie gesterf sodat ons in groter sonde kan leef nie! Hy het ook nie gesterf dat ons meer gerus oor ons sonde kan wees of met groter gemak sonde kan bedryf nie. Hy het gesterf om die prys van ons sondeskuld te betaal en ons van die mag van sonde los te koop.
Hy het gesterf om ons met God die Vader te versoen, ja om die vyandskap tussen ons en die Vader tot niet te maak. En hierdie vyandskap sal nie tot niet gemaak word as ons sou verkies om in vriendskap met die goddeloosheid en wêreldse begeerlikheid te leef nie. Dit word tog vir ons duidelik in Jakobus 4:4 uitgespel. “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van hierdie wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.” En daarom moet ons die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede in ons lewens verloën, want dit is wat Christus se reddende genade, aan ons leer.
Hierdie reddende genade van God leer ons verder om ingetoë, regverdig en vroom in die teenswoordige wêreld te leef. Dit is tog ‘n duidelike opdrag. En hierdie opdrag word ewe duidelik in 1 Joh. 2:6 aan ons bevestig. “Hy wat sê dat Hy in Hom bly, behoort self ook te wandel soos Hy gewandel het.” Ons behoort die voorbeeld van Christus se regverdige, vrome lewenswandel in ons lewe na te volg. Sy lewe en sterwe dien tot ons voorbeeld en nie tot ons verontskuldiging nie!
Die reddende genade leer volgens die woorde uit Titus vir ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikheid te verloën. Ons moet derhalwe die sonde in ons lewens verloën deur Christus wat in ons woon en nie vir Christus verloën deur die sonde wat in ons woon nie!
Amen.