Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hemelse Heer, dankie dat ek kan hoop omdat ek in U glo. Dankie dat die vlam van hoop helder brand in my ongeag my uiterlike omstandighede omdat ek met groot sekerheid kan staatmaak op u liefde en elke belofte in u Woord. Dankie dat U self my hoop is.
GEHOORSAAMHEID AAN HOM
Hannes Ollewagen
Gén. 26:1-35
“En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word; omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het.” (:4&5).
Geliefdes, hierdie gedeelte laat my aan ’n algemene verskynsel in die lewe dink. Ons sien ouers wat in hul lewens hard werk en goeie besluite neem en aan hul kinders die goeie gevolge daarvan nalaat – ’n lewe makliker as hul eie. En dan sien ons ongelukkig ook meer gereeld die teendeel – mense wat swak en verkeerde besluite maak en daardeur nie alleen die lewe vir hul nageslag geensins makliker maak nie, maar ook menigmaal die goeie besluite en harde werk van vorige geslagte uitwis. Ons sien uit Spreuke 13:22 dat die wyse Salomo ook hierop gelet het. “'n Goeie mens laat sy kindskinders erwe, maar die vermoë van die sondaar word vir die regverdige weggebêre.”
Die gedeelte uit Génesis 26 herinner ons vandag aan ’n verskriklike belangrike saak, nl. dat ons nageslag se toekoms ook in God se hande is. Maar ook dat ons optrede ’n invloed daarop het. En ons optrede teenoor God het ’n veel groter impak as wat ons eie planne, ons eie geld, ons eie vermoë op ons of ons nageslag se toekoms kan hê. God is met ons nageslag lank wanneer ons nie meer daar is nie! Kan u uself ’n groter gerustheid, ’n beter toekoms vir u nageslag indink as om met sekerheid te weet dat God enduit hul lewenspad met hul sal wees? Dit is die wonderlike versekering en gerustheid wat Abraham gehad het. “En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as 'n ewige verbond, om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag ná jou.” (Gén. 17:7). En God was duidelik hieroor dat hierdie belofte die wonderlike gevolg van Abraham se gehoorsaamheid aan God en liefde vir Hom was. Natuurlik het koning Dawid, wat God innig liefgehad het en gehoorsaam was, ook hiervan getuig. “Mem. Wie tog is die man wat die Here vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies. Noen. Hy self sal vernag in die goeie, en sy nageslag sal die land besit.” (Ps. 25:12&13). En luister verder na die mooi getuienis uit Ps. 112:1&2. “ HALLELUJA! Alef. Welgeluksalig is die man wat die Here vrees, Bet. wat 'n groot welbehae in sy gebooie het. Gimel. Sy nageslag sal geweldig wees op die aarde; Dalet. die geslag van die opregtes sal geseën word.” Dit is duidelik uit al hierdie mooi beloftes dat dit die deel is van hulle wat God liefhet, vrees en gehoorsaam.
Die teendeel is egter ook waar. Wanneer ons ongehoorsaam aan God is en Hom minag, is ons nie alleen met ons eie lewe onverskillig nie, maar ook met die toekoms van ons nageslag. Ons nageslag sal ook die gevolge van ons ongehoorsame en verkeerde optrede erf. Luister na die duidelike waarskuwing van God uit Deut. 28:58-61. “As jy nie sorgvuldig al die woorde van hierdie wet hou wat in hierdie boek geskryf is, om hierdie heerlike en gedugte Naam, die Here jou God, te vrees nie, dan sal die Here oor jou en oor jou nageslag buitengewone plae bring, groot en aanhoudende plae, en kwaadaardige en aanhoudende siektes; en Hy sal weer op jou bring al die kwale van Egipte waarvoor jy bang was, sodat hulle jou aanklewe. Ook allerhande siektes en allerhande plae wat in die boek van hierdie wet nie geskrywe is nie, dié sal die Here teen jou laat opkom totdat jy verdelg is.” Dit beteken nie dat daar nie vir ’n nageslag wat hul voor God verootmoedig en hul tot Hom bekeer, nie genade en redding is nie. Maar, soos wat God nie alleen met ‘n individu handel nie, maar ook in volksverband met ons handel, so strek sy handeling ook oor geslagte heen.
Die gevolge van vorige geslagte wat God die rug gekeer het is ook vir ons vandag in ons Vaderland nie onduidelik nie. Ons het genadiglik ook ’n volksgeskiedenis waarin mense geleef het wat God waarlik liefgehad en gehoorsaam het. Ons het genadiglik die belofte van Bloedrivier wat Hom herinner aan sy belofte aan ons volk om ook vir ons ’n God te wees. Maar hiermee saam het ons as sy volk ook die verantwoordelikheid om daarna te streef om na sy welbehae te leef.
Mag ek en u daarna streef om God volgens die voorbeeld van Abraham te gehoorsaam, sy ordening, gebooie, insettinge en wette te onderhou en lief te hê. En mag ons Hom deur ons ootmoedige en gehoorsame optrede en lewenswandel, eerder as deur woorde, herinner aan sy belofte om vir ons en ons nageslag, ons God te wees. En mag ons ootmoedige, gehoorsame en liefdevolle optrede eendag, selfs nadat ons die laaste asem uitgeblaas het, vir ons nageslag en vir God ’n kosbare herinnering bly.