Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Alles in ons land is bedorwe; politiek, kerk, kultuur, handel, ja, alles! Nêrens gaan dit beter as in die verlede nie. Dis die gevolg van die Christengrondwet wat met ʼn sekulêre een vervang is en die Tien Gebooie met ʼn Handves van menseregte! Dit laat ʼn mens aan die woorde van Ps.2 dink: “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (:2,3). Suid-Afrika het met iets anders as die nag donker geword!
KINDERS IN DIE BYBEL (18)
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
DIE KINDERTJIES WAT NA JESUS GEKOM HET
ONS kry in Mattheus 19 die verhaal van die kindertjies wat na Jesus gekom het. Voor hierdie kindertjies na Hom kom, voer Jesus ’n gesprek oor die huwelik, dit wil sê hoe die toestande by die huis is. Hoe tree ma en pa en kinders teen mekaar op?
Hierdie gesprek vind plaas na aanleiding van die Fariseërs wat Christus wil versoek. Hulle vra aan Hom of dit geoorloof is vir ’n man om oor allerhande redes van sy vrou te skei.
By egskeiding is dit natuurlik altyd die kindertjies wat die meeste swaarkry en ly. Daarom sien ons ook in hierdie kindertjies die leiding van die Here. Hy laat hulle na Christus kom juis direk ná die gesprek oor die moeilikhede en probleme van die huwelik.
Hoe sou die ou kinderogies nie gestraal het toe hulle moeders aan hulle vertel het dat hulle na Jesus gaan. Van Hom het hulle al gehoor. Hy is mos daardie groot Man wat siek mense gesond maak. Hy laat selfs dooies lewendig word en as ’n mens lam is, moet jy net na Hom gaan.
Ewe vrolik staan hulle daar rondom Jesus, vol verwagting want Hy gaan met hulle praat. Maar dan kom daar ’n paar mans met kwaai gesigte wat hulle wegjaag.
Hulle hoor hoe hierdie mans aan hulle moeders sê: "Julle moenie nou hier met julle kinders kom staan en pla nie. Jesus is baie besig en Hy het nie tyd om nog aan julle kinders aandag te gee nie. Neem die kinders weg want hulle is in die pad. Hy kan nie nou aan hulle aandag gee nie.”
Maar Christus weet ook hiervan. Hy weet presies wat sy dissipels besig is om te doen. Kinders is nooit in sy pad nie. Hy het genoeg tyd om ook aan hulle aandag te skenk. Daarom neem Hy sy dissipels kwalik dat hulle die kindertjies wegjaag. Hy het nie net vir grootmense gekom nie. Hy het ook vir kinders gekom.
Sy antwoord aan sy dissipels is: "Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My toe te kom nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.”
Wat bedoel Jesus met hierdie woorde?
Een ding is dadelik duidelik. En dit is dat die koninkryk van die hemele nie onvoorwaardelik aan elke kind behoort nie. Dit is dus nie elke kind wat deel het aan die koninkryk van die hemele nie. Daar is ook kinders aan wie die koninkryk van die hemele nie behoort nie.
Ons moet mooi luister na Christus se woorde. Hy sê nie: "...aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” asof Hy alle kinders daarmee bedoel nie. Hy sê aan "sulkes”. Daarmee bedoel Hy dat die koninkryk van die hemele behoort aan elkeen wat soos ’n kind is.
Hiermee wil Jesus vir die groot mense wat daar rondom Hom staan, iets leer.
’n Mens moet soos ’n kindjie wees. ’n Kindjie is iemand wat glo en vertrou. Hy vra nie waar pa of ma môre gaan kos kry vir hulle om te eet of klere vir hulle om aan te trek nie. Hy bekommer hom nie eers daaroor nie. Want hy weet mos pa en ma is daar. Hulle sal daarvoor sorg.
Jesus wil hiermee sê dat elke grootmens en ook elke kind net soos ’n kind moet vertrou op ons Vader wat in die hemel is. Ons moet ons nie bekommer nie want Hy sorg vir ons.
Nou ontstaan die vraag natuurlik aan watter kinders die koninkryk van die hemele dan behoort?
Dit is natuurlik daardie kindertjies wat in Jesus glo en wat op Hom vertrou al verstaan en begryp hulle nog nie presies wat geloof en vertroue beteken nie. Want daar is ook kinders wat nie in Jesus glo nie en wat niks met Hom te doen wil hê nie. Hulle verkoop vuil en morsige praatjies by die skool. Sondag word hulle nie in die kerk gesien nie en ook nie by die katkisasie nie. Hulle bly maar daar weg omdat hulle dit vervelig vind. Hulle vind dus vir Jesus vervelig.
In die koninkryk van die hemele is daar natuurlik plek vir kinders. Want daardie helder kinderogies wat Christus aangestaar het, daardie sagte kinderhande wat hulleself so vol vertroue na Hom uitgestrek het, het Jesus ontroer.
Kinders kan die liefde van Jesus soms soveel beter en suiwerder aanvoel as grootmense.
Omdat Christus ook vir kinders gekom het, wil Hy ook graag luister na die kinderstemme. Hy wil graag luister na die gebede van kinders wat in eenvoud uitgespreek word. Hy wil ook hê dat kinders met hulle helder stemme sy lof en eer moet besing.
Daarom mag ouers hulle kinders nie van die kerk weghou nie. As ouers dit doen, is dit die taak van die kinders om hulle aan te spoor. Want ons gaan tot die Here bid en ons gaan vir Hom sing. By die katkisasie gaan ons van Hom leer.