Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Suid-Afrika het sedert sy Christelike grondwet vernietig is, in ’n tipiese Grieks-heidense denkwyse verval. Volgens hierdie denkwyse is die mens selfstandig genoeg om te weet wat reg en wat verkeerd is. Gelowiges het egter die Bybel met die Tien Gebooie as riglyn vir ’n vreedsame samelewing nodig. Wie dit gehoorsaam, leef in vrede. Wie dit minag, leef in vrees, soos in die Nuwe Suid-Afrika!
KINDERS IN DIE BYBEL (20)
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
PAULUS
PAULUS se naam was ook Saulus. Saulus is ’n Joodse naam en beteken "die begeerde”. Paulus is die Latynse vorm van die naam Saulus en hierdie naam beteken letterlik die kleine”. Of Paulus werklik klein van gestalte was, weet ons nie.
Hy is in Tarsus gebore, min of meer in die jaar 2 ná Christus. Heelwaarskynlik het hy later in sy lewe ook vir Jesus gesien en gehoor. Sy vader was 'n Benjaminiet afkomstig uit die stam van Benjamin. Heelwaarskynlik het Paulus se ouers een of ander tyd van Palestina na Tarsus getrek.
In die dae van Paulus was Tarsus ’n baie belangrike handelstad. Dit was ’n hawestad waar allerhande skepe aangedoen het. Seker ook maar soos ons hawestede van vandag waar ’n mens allerhande soorte mense en karakters sien.
Behalwe die feit dat Tarsus ’n hawestad was, het die grootpad uit die Ooste ook deur die stad gegaan. Karavane uit die Ooste het in die stad aangedoen met die gevolg dat Tarsus ’n redelike besige stad in daardie tyd was.
In Tarsus is daar nie net handel gedryf nie. Daar is ook aandag aan die geleerdheid gegee. In die tyd van Paulus was daar in Tarsus ’n Griekse universiteit. In Tarsus het die mense egter nie net geleer nie. Hulle het ook aandag aan hulle godsdiens gegee want daar was heidense tempels in die stad. Verder was daar ook die opelugteaters waar allerhande opvoerings gehou is. Ons moet onthou dat die mense in daardie tyd nog nie bioskope gehad het nie.
Alles wat die Grieke dus gesoek en bewonder het, was in Tarsus te vind.
Al hierdie dinge moes seker ’n diep indruk op Paulus gemaak het. Dit is tog onmoontlik om ’n jong seun van hierdie dinge weg te hou.
Paulus moes natuurlik ook skoolgaan soos ons reeds in die gedeelte oor Jesus gesien het. Hier moes hy die Joodse gewoontes en gebruike en ook dit wat die ou profete gesê het, leer.
In sy ouerhuis het hy heelwaarskynlik Aramees gepraat omdat dit die taal was wat die Jode in daardie tyd gebruik het. Maar wanneer Paulus met sy maats gespeel het, moes hulle Grieks praat, want die meeste van sy maats was seker jong Grieke. Al was hulle dalk van ’n ander nasionaliteit sou hulle Grieks met mekaar moes praat om mekaar te verstaan, want Grieks was in daardie tyd die wêreldtaal. As jy Grieks kon praat, kon almal jou verstaan.
Soos die gebruik in daardie tyd was, moes Paulus ook een of ander werk met sy hande leer doen sodat hy later vir homself kon sorg. In Tarsus is daar in daardie tyd veral weefwerk gedoen met bokhare. Daarom is dit vanselfsprekend dat Paulus ook as kind hierin opgelei moes word. As gevolg hiervan kon hy in later jare, soos ons in die Bybel lees, vir homself sorg met die maak van tente.
Op twaalfjarige leeftyd stuur sy vader hom na Jerusalem waar hy by ’n getroude suster van hom loseer. Hier gaan hy skool by die beroemde Gamaliël. Dat Paulus nie sy tyd verspeel het nie, maar goed geleer het, blyk uit sy sendbriewe. Alles dui daarop dat hy ’n geleerde man was. Hy het die Joodse gebruike en veral die wet goed geken.
Hy sê dit self in Galasiers 1 :14: dat ek in die Jodedom vooruitgegaan het bo baie van my leeftyd onder my stamgenote ...
Nou is daar sommige mense wat wil beweer dat Paulus se bekering op pad na Damaskus ’n plotselinge bekering was. Maar uit sy lewensgeskiedenis as jong seun blyk dit dat die Here hom toe al voorberei het om hom in sy diens te gebruik. Hy is toe al voorberei vir die taak wat op hom wag om as apostel van die heidene op te tree. Want hy kon die Griekse taal goed lees, skryf en praat.
Juis hierdeur was hy dan ook so uitnemend in staat om die Evangelie oor die hele wêreld uit te dra.
As mense dus aan jou sê dat jy jou moet bekeer en die dag en die uur van jou bekering kan aanwys, moet jy hulle wys op Paulus. Hulle sal jou natuurlik ook wys op Paulus se plotselinge bekering. Maar jy kan hulle daarop wys dat Paulus se bekering in werklikheid tog nie so plotseling was nie. Christus het persoonlik aan hom verskyn nadat die Here Paulus reeds in sy kinderjare voorberei het vir sy taak.
Uit Paulus se lewe sien ons dat ons nooit mag wonder en vra wat die doel van die Here met ons lewens is nie. Met elkeen van ons se lewens het die Here ’n doel. Hoe snaaks die verloop van jou lewe ook al mag wees.
Die Here plaas jou soms in ’n siekbed of ’n rystoel omdat Hy weet dat jy daarvandaan Hom beter kan dien.
Of die Here maak miskien van jou ’n groot sportman of sportvrou. Hy doen dit juis om jou so in aanraking met ander mense te bring sodat jy daar ook sy Naam kan verheerlik.
Miskien het die Here aan jou baie verstand gegee sodat jy goed kan studeer en miskien is jou ideaal om ’n groot wetenskaplike te word. Onthou net dat die Here jou daar ook wil gebruik.
Jy moet gedurig besef dat alles wat jy van die Here ontvang, net genade is. As jy dit besef, sal jy weet dat die Here jou wil gebruik waar Hy jou plaas.