Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hierdie boodskap geld ook vandag vir Suid-Afrika: "...So spreek die HERE HERE aangaande die inwoners van Jerusalem, in die land Israel: Hulle sal hul brood met kommer eet en hul water in stomme smart drink, sodat hulle land, van sy volheid beroof, woes sal lê van weë die geweldpleging van almal wag daarin woon." Eségiël 12:19
PINKSTERWEEK 1-6 JUNIE
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Pinkster 2014
IN GOD SE OEFENSAAL
Geloofsgemeenskap
Skrif: Hand.2:37-47
Sang: Ps.119:1+7; Ges.228:1 +3
Teks: “En hulle het volhard in die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die van die brood en in die gebede” (:42).
Om geestelik te groei, moet gelowiges bewustelik oefen: “Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels en oefen jou in die godsaligheid” (1Tim.4:7). Benewens gebed, meditasie en sang, is geloofsgemeenskap een van die beste geloofs-oefeninge in God se oefensaal en word in Grieks koinonia genoem. Dit beteken om aktief (handelend) aan iets deel te neem. Een van die vyf vrae waarop nuwe lidmate bevestigend moet antwoord is of hulle beloof om aktief aan die werksaamhede van hul gemeente deel te neem. Hulle verbind hulle met ’n plegtige belofte voor God en die gemeente tot koinonia.
Omdat Christene graag saam verkeer, doen hulle graag dinge saam. Lukas skryf in Handelinge hieroor. Christene het gereeld saamgekom om te bid en te sing en saam te eet omdat hierdie geloofsgemeenskap vir hulle kosbaar was.
’n Groot samelewing-probleem van vandag is mensgesentreerdheid, nie net op sekulêre vlak nie, maar ook op kerklike gebied. Baie kerkgangers geniet nie hul tyd saam met medegelowiges nie. Dit word aan die sporadiese bywoning van eredienste gesien, so ook die versuim om ander kerklike byeenkomste by te woon of aan Bybelstudies deel te hê. Wat is die rede daarvoor? Mense is selfsugtig en vind slegs belang by dinge wat op hulle betrekking het. Sulke mense het weinig belang by ander mense se behoeftes. Dit is fataal vir ’n kerk!
Christus verwag van Sy volgelinge om hulself te verloën; nie te verhef nie. Niemand is vol van God se Gees en terselfdertyd ook vol van homself nie! Daarom is selfsug een van die lelikste kenmerke waarvan ’n mens gered moet word. Om aan jouself verslaaf te wees, is die ergste van alle verslawing. Die Bybel sê dat ons nie vir onsself bestaan nie, maar vir ons medemens.
Selfsug lei tot lelike dinge soos verkragting, diefstal, aanranding en moord. Dit laat ook drank- en dwelmmisbruik toeneem soos wat mense aan die werklikheid probeer ontsnap. Op kerklike gebied soek selfsugtige mense eerder na die gevoelsgodsdienste as na die waarheid. Hierdie kerke laat hulle goed voel; die eie ek! Daarom stroom mense na die charismatiese kerke.
Ten spyte van tegnologiese wonders soos rekenaars, selfone, e-posse en Skype wat mense nader aan mekaar bring, bring dit geen sinvolle menseverhoudings nie. In sommige gevalle het dit selfs vir mense makliker gemaak om afgesonder van mekaar te leef!
God het ’n wonderlike oplossing vir selfsug – geloofsgemeenskap. Daarom is dit goed dat gelowiges gereeld byeenkom om mekaar te vermaan, aan te spoor en te bemoedig: “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan” (Heb.10:24.25). Daarvoor is die bywoning van eredienste, Bybelstudies en ander geestelike geleenthede onontbeerlik. Wanneer gelowiges byeenkom, beoefen hulle geloofsgemeenskap en word hulle fiks in God se oefensaal.
In die tyd van Paulus het sake in Korinte lelik skeefgeloop. Mense het tydens samekomste in brabbeltaal begin praat en voorgegee dat dit hemelse tale was wat die Heilige Gees hulle laat praat het. Dit was ’n lelike dwaling waarmee Satan die eenheid in die gemeente wou vernietig. Hierdie tale-spreek het die gemeente nie gestig nie, maar eerder ernstig ontstig! Paulus spreek dit aan: “Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ’n psalm, of ’n lering of ’n taal of ’n openbaring of ’n uitlegging – laat alles tot stigting geskied” (1 Kor.14:26).
Die hoofdoel van geloofsgemeenskap is om gelowiges te versterk. Paulus skryf aan die Romeine: “wat ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee te deel, sodat julle versterk kan word” (Rom.1:11).
By geleentheid sê Jesus vir Petrus: “Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk” (Luk.22:32). Bekeerd dui op Petrus se vervulling met die Heilige Gees. En wat ’n geestelike metamorfose het Petrus nie beleef nie! Sy sendbriewe het die gelowiges van sy tyd asook diegene daarna altyd versterk.
Vir geloofsgemeenskap is Bybelkennis onontbeerlik. Kennis van die Bybel lei tot kennis van God Drie-enig en kennis van Hom tot geestesverryking en geestesverryking tot geestelike fiksheid. Soos wat ’n mens nie in ’n oefensaal sonder apparate fiks kan word nie, so ook nie sonder kennis van die Bybel nie. Daarom is dit hartseer om te sien hoe gebrekkig baie kerkgangers se Bybel-kennis is! Daar is by baie mense geen behoefte aan kennis van hierdie wonderlike Boek uit die hand van God self nie!
Die vroeë Christene het dikwels in huise vir Bybelstudie byeen gekom. “En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie en die evangelie is verkondig dat Jesus die Christus is” (Hand.5:42). Paulus praat met die ouderlinge van Efese: “hoe ek niks agtergehou het van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar en in julle huise” (Hand.20:20). Tuis Bybelstudies is ’n wonderlike geleentheid vir geloofsgemeenskap.
Geloofsgemeenskap is wonderlike oefening.
(i) Daardeur kom ons geestelike verpligtinge teenoor mekaar na: “En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly” (1 Kor.12:26).
(ii) Deur geloofsgemeenskap stig ons mekaar: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here” (Kol.3:16).
(iii) Deur geloofsgemeenskap dien ons mekaar in liefde: “Want julle is tot vryheid geroep, broeders, gebruik net nie julle vryheid as ’n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde” (Gal.5:13).
(iv) Deur geloofsgemeenskap bid ons vir mekaar: “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag” (Jak.5:16).
(v) Deur geloofsgemeenskap keer ons dwaling: “Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer, laat hy weet dat die een wat ’n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ’n siel uit die dood sal red en ’n menigte sondes sal bedek” (Jak.5:19,20).
(vi) Deur geloofsgemeenskap leer ons om gasvry te wees: “Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer” (1 Pet.4:9).
Geloofsgemeenskap het ook ’n ander sy - ander gelowiges help jou.
Ons het ander se onderskraging en bemoediging nodig om getrou te bly:” Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag … sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie, want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb.3:12-14).
Ons het troos en onderskraging in tye van beproewing baie nodig. “Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op…” (1 Thess.5:11). Samevattend: God onderskraag ons van twee kante - direk en ook indirek deur mense.
Uit die woord geloofsgemeenskap lei ons duidelik af dat dit nie ’n ding is wat alleen gedoen word nie. Pasop dus op vir die gevaar van mensgesentreerdheid en ’n eiegeregtige afsondering in die geestelike lewe. Waardeer eerder die waarde van geloofsgemeenskap soos wat ons bely: “Ek glo aan die gemeenskap van die gelowiges” .