Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Here, ek weet nie wat ek van U moet vra nie. U alleen weet wat ek nodig het. U het my liewer as wat ek myself kan hê. Vader, gee asb aan u kind wat hy self nie weet hoe hy dit van u moet vra nie. Ek bring maar net my hart na U en maak dit voor U oop. Amen.
BOEKE TE KOOP
PARADIGMAS, WETENSKAPSREWOLUSIES, DISKONTINUÏTEIT EN KONTINUÏTEIT BY DIE STUDIE VAN DIE EUROPESE VOORGESKIEDENIS
M.T. DU TOIT
Die outeur
Die outeur, Mike du Toit, was beskuldigde nommer 1 in die Boeremag hofsaak. Hy is in Julie 2012 aan Hoogverraad skuldig bevind omdat hy na bewering die ANC-regering omvêr wou werp.
Du Toit het verskeie akademiese kwalifikasies aan die Universiteit van Pretoria verwerf, naamlik:
- BA(Ed),
- BA(Honneurs)(Geskiedenis),
- BA(Honneurs)(Filosofie), en
- MA(Filosofie) cum laude.
Terwyl hy in die gevangenis was, het Du Toit sy DLitt et Phil in Filosofie aan UNISA verwerf.
Voor sy gevangeneming was Du Toit ‘n dosent in geskiedenis aan Vista Universiteit en ‘n deeltydse dosent in argeologie aan die Universiteit van Pretoria.
Lesersmark
Die boek is by uitstek gerig op die volgende mense:
■ argeologie- en geskiedenis-studente wat meer te wete wil kom omtrent die paradigmas in terme waarvan die Europese voorgeskiedenis bestudeer was en tans nog steeds bestudeer word;
en
■ wetenskapsfilosofie-studente wat belangstel in die werking van paradigmas en die voorkoms van wetenskapsrewolusies in 'n bepaalde vakgebied.
Die skrywer is dan ook van oordeel dat indien die boek 'n belangstelling in die studie van ons Europese voorgeskiedenis kan aanwakker en argeologie studente kan help om bepaalde filosofiese- en metodologiese uitgangspunte te formuleer in terme waarvan die voorgeskiedenis bestudeer kan word, dan het die boek in sy doel geslaag.
Paradigmas en wetenskaprewolusies
Die skrywer begin deur te verduidelik wat ‘n paradigma is en hoe wetenskapsontwikkeling volgens sekere wetenskapsfilosowe, te wete Thomas Kuhn, Karl Popper, Imre Lakatos, Paul Feyerabend en andere, geskied.
Daarna word in die lig van dié wetenskapsfilosofiese insigte gekyk na hoe die argeologie as ‘n vakwetenskap tot stand gekom het en in terme van watter paradigmas die Europese voorgeskiedenis bestudeer is en nog steeds bestudeer word. Aandag word gegee aan die ewolusionistiese-, kultuurhistoriese-, funksionalistiese-, Marxistiese-, kultuurproses-, strukturalistiese-, kontekstuele- en neomarxistiese paradigmas. Daar word ook aangedui of paradigmas mekaar opgevolg of verby gesteek het op grond van rasionele oorwegings of wetenskapsrewolusies en nie-wetenskaplike faktore.
Die mite van die "ex oriente lux"
Ons het almal in 'n tradisie opgegroei waar ons geleer is dat "die beskawing" 'n enkele oorsprong in die Ou Nabye-Ooste het en dat omtrent al die elemente wat 'n beskawing kenmerk, daarheen herlei kan word. So byvoorbeeld word geglo dat die oudste klipgeboue die piramides van Egipte is; dat skrif sy oorsprong in Sumerië het en dat die begin van landbou-aktiwiteite, metaalbewerking en die tem van diere herlei kan word tot die Ou Nabye-Ooste. Vandaar sou hierdie "ontdekkings" deur middel van diffusie na Europa en die res van die Ou Wêreld versprei het.
Hierdie beskouing, bekend as die "ex oriente lux", vind ook neerslag in handboeke oor die oorsprong van die Westerse beskawing. So byvoorbeeld beweer die skrywers van
GESKIEDENIS VAN DIE WESTERSE BESKAWING: DEEL I: OORSPRONG TOT INTELLEKTUELE REWOLUSIE op bladsy twee dat "die Westerse beskawing ontwikkel het uit 'n historiese proses van integrering en samesmelting van idees, institusies, gebruike en beskouinge op die Europese vasteland wat uit die Ooste en Nabye-Ooste afkomstig was". Op bladsy vier gaan die skrywers nog verder met die volgende bewering: "Die oorsprong van ons Westerse beskawing is dus te vinde in dit wat die Egiptenare, Assiriërs, Chaldeërs, Perse, Hebreërs, Sumeriërs, Babiloniërs, Hetiete en Fenisiërs oor eeue heen tot stand gebring het". Volgens die skrywers van die handboek kan die oorsprong van die Westerse beskawing dus herlei word tot alles en almal behalwe die Europeërs self.
In handboeke oor die oorsprong van die Westerse beskawing word daar dan ook gewoonlik verskeie hoofstukke gewy aan al hierdie nie-Europese volksgroepe terwyl daar as 'n reël nooit na die Beskawing van Oud-Europa, die Megalitiese Kultuur van Noordwes-Europa, die Proto-Indo-Europeërs, die Indo-Europeërs of die Kelte verwys word nie. In uitsonderlike gevalle word wel soms na die Germane verwys, maar dan as "barbare" of as "minderwaardige" mense wat die val van die Romeinse Ryk veroorsaak het en verkieslik in nooit meer as 'n bladsy of twee nie.
Die vraag is dus of die idee van die oorsprong van "die beskawing" in die Ou Nabye-Ooste en die daaropvolgende diffusie daarvan na Europa korrek is al dan nie en hoekom sekere volkere en hulle kultuuruitinge tot in die fynste besonderhede bestudeer word, terwyl ander heeltemal geïgnoreer word. Die enigste slotsom waartoe mens kan kom is dat ons hier te doen het met 'n bepaalde verwysingsraamwerk oftewel paradigma wat 'n bepaalde blik op die werklikheid het en wat "feite" op 'n bepaalde manier interpreteer en ander “feite” vermy.
Die ontwikkeling van die koolstofdateringstegniek word in die boek bespreek asook die gevolge wat die ontdekking gehad het. Die koolstofdateringstegniek het bewys dat die "ex oriente lux" uitgangspunt foutief is. Dit beteken dat alle geskiedenisboeke wat vanuit hierdie oogpunt geskryf is, dus ongeveer 95% van alle geskiedenisboeke, netsowel weggegooi kan word, aangesien die basiese aanname waarop dit gebaseer is, gefalsifiseer is.
Boek grootte A5, skrifgrootte Times New Roman 10, 181 bladsye, lys van definisies van alle wetenskapsfilosofiese begrippe wat in die boek gebruik word, bronnelys, indeks.
Reëlings met betrekking tot die aankoop van die boek
Die boek se prys is R160 (posgeld nie ingesluit nie).
Outeur kan die boek na u toe stuur via:
- Pep-store / PAXI (R100)
- Alternatiewelik kan u persoonlike reëlings met my tref
U kan die geld oorbetaal in die volgende rekening:
M. T. du Toit
Capitec spaarrekening
Global One Account
1719557371