Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mense is soos getinte ruite. As die son skyn, glinster almal. Maar as dit donker word, verraai net ʼn lig wat binne brand, dat daar lewe in die huis is.
DIE ROOMSE GEVAAR (3)
Lees reeks by DIE ROOMSE GEVAAR
Ds. A.E van den Berg
PROTESTANTE SWIG VOOR ROME
ʼn Bose moeder
1. ʼn Moederkerk
Die Bybel waarsku teen ʼn valse kerk wat aan die einde van die tyd groot aanhang gaan verkry en op sewe heuwels geleë is:
“ ...Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit” (Openb.17:9).
Rome is nie toevallig op sewe heuwels gebou nie. Daarbenewens beskou die RK haarself as die moederkerk. Die eindtyd Babilon word interessant genoeg ook ʼn moeder genoem; ʼn bordeelhoudster wat haar dogters gebruik om mense te bedwelm:
“...en op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde.... En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde (Openb.17:5,18).
2. Kerkeenheid
Die RK ywer vir ʼn kerkeenheid met haar aan die hoof. Die Bybel praat egter van geen sigbare geestelike eenheid voor die wederkoms van Jesus nie. Dit verwerklik eers daarna:
“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thess.4:16,17).
Gevolglik is ekumene ʼn valse kerkeenheid. Op 29 Maart 1994 het Evangelicals and Catholics Together: The Christian Mission in the Third Millennium in die ekumeniese wêreld verskyn. Dis deur talle vooraanstaande Protestantse kerklui onderteken en word as baie belangrike baken op pad na sigbare kerkeenheid gesien.
Die betrokke dokument sien die verskil tussen Protestantisme en RK as filosofies-polities van aard wat met onderhandelinge uit die weg geruim kan word. Dis onsin! Die verskil is suiwer teologies van aard en raak die hart van die evangelie nl. redding. Kernverskille word nêrens aangespreek nie maar bewustelik vermy.
Die grootste deel van die dokument handel oor gemeenskapsordening. Dit span ʼn afgewaterde evangelie ter wille van tydelike, kulturele en politieke sake vir ʼn bose doelwitte in. Dis so eie aan ʼn kerk wat met leringe en gebruike vreemd aan die Skrif.
Die RK se leer en liturgie verdof die groot Bybelse waarheid dat sondaars slegs deur genade en nie deur goeie werke gered word nie. Paulus waarsku baie duidelik teen goeie werke as gronde vir regverdigmaking want dit maak die genade van God as’t ware nietig. As redding op enige ander manier as deur die bekering verkry kan word, het Christus tevergeefs gesterf.
“... terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie... want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe” (Gal 2:16,21).
Oud-Israel het dieselfde fout as die RK gemaak deur te glo dat geloof en goeie werke redding verseker:
“... terwyl Israel, wat die wet van die geregtigheid nagejaag het, die wet van die geregtigheid nie bereik het nie. Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot” (Rom.9:31,32).
3. Roekelose godsdiens
Gelowiges bevind hul in ʼn stroom van roekelose godsdiens weens hoofstroom Protestantse kerke se gebrek aan profetiese visie en onderskeidingsvermoë. Al hoe meer Protestantse kerke val by Rome se geringskatting van Skrifwaarheid in wat Protestantisme tans die laagste punt na die Hervorming laat bereik het.
Ekumeniese dokumente handel geensins oor teologie of kerkleer nie. Dis ʼn karikatuur van godsdiensvryheid. Krities morele en gemeenskapsake soos aborsie, homoseksualisme, pornografie, geweld of rassehaat word nêrens aangespreek nie. Ekumene probeer eerder ʼn breë broederskap op die dunste moontlike geloofsbelydenis bevorder. En dis ʼn kweekhuis vir roekelose geloof!
Ekumeniese dokumente beskou leerstellige verskille tussen Protestantisme en Rome nie van ewigheidsbelang nie. Dit is juis die punt! Dis oneerlik om voor te gee dat die dokumente nie oor leerverskille gaan nie. Die ontkenning van Bybelse waarhede het dan juis die breuk veroorsaak en is tot vandag toe nog die teelaarde van dwaalleer.
Met die Hervorming was die genoegsaamheid van die Bybel ʼn groot twispunt. Protestante het nooit met die RK swaarde oor die onfeilbaarheid van die Skrif gekruis nie, maar wel oor die genoegsaamheid daarvan. Die RK beskou die Bybel nie as genoegsaam vir redding nie en voeg apokriewe boeke, die Megesterium (die kerk se gesag om die Skrifwaarheid te vertolk), die Pous se ex cathedra uitsprake en ʼn hele kaboedel kerktradisies by.
Jesaja het in sy tyd ook kennis daarmee gemaak:
“Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir dié wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is? Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ’n bietjie, daar ’n bietjie. Ja, Hy sal deur lippe wat hakkel, en deur ’n vreemde tong met hierdie volk spreek, Hy wat aan hulle gesê het: Dit is die rus, gee rus aan die vermoeides, en dit is die verkwikking. Maar hulle wou nie luister nie. Daarom sal die woord van die HERE vir hulle wees gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ’n bietjie, daar ’n bietjie, sodat hulle kan heengaan en agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word” (Jes.28:9-13).
Protestante aanvaar dat leraars die Bybel deur studie en bystand van die Heilige Gees reg vertolk. Die kerk het geen vertolkingsrol nie. Alhoewel Protestante ook belydenisskrifte het, is dit altyd aan die Skrif ondergeskik en nooit met dieselfde gesag beklee nie.
Vervolg...