Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Nadat die Fariseërs Jesus probeer versoek het met die vraag of hulle belastings aan die keiser behoort te betaal, het Hy hulle geantwoord: 'Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom'. Want die keiser se kop was op die muntstuk en kon hy maar sy regverdige deel kry. Nou is die vraag of ons aan God betaal wat Hom toekom: nie net ons tiendes in geldvorm nie, maar Hy vra ook 'n tiende van ons tyd in diens van Hom. Maar in die lig daarvan dat alles aan God behoort, maak dit sin dat jy met dít wat Hy aan jou toevertrou het, sal doen wat Hy wil hê en nie wat jý wil hê nie.
DIE UURGLAS LOOP UIT (5)
Ds A.E van den Berg
Gee pad!
“En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openb.18:4).
Een van die aangrypendste gebeure in die OT is in Gen.19 opgeteken. Dit vertel die verhaal van God wat Lot en sy gesin aangesê het om uit Sodom pad te gee voordat Hy dit en die stad Gomorra weens die gruwel van homoseksualisme met swael en vuur verwoes het. In Openb.18 kry gelowiges ʼn soortgelyke opdrag om uit Babilon pad te gee voordat vreeslike dinge gebeur. God waarsku altyd vooraf.
Wie is hierdie Babilon? Dis ʼn stad wat dwarsdeur die Bybel met opstand teen God verbind word. Dit het met die bou van die toring van Babel (Gen.11) begin toe die inwoners gedink het dat hulle God kon onttroon. Dis sprekend van die sondaarmens wat sy eie god wil wees. Dieselfde ding gebeur later in die Babiloniese wêreldryk soos wat profete in die Bybel opgeteken het. So ook in die tyd van die Romeinse ryk toe Openbaring geskryf is.
Jesaja skryf:
“Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies!En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God .... Ek wil my gelykstel met die Allerhoogste!” (Jes.14:12-14).
Babilon is die simbool van ʼn politieke bestel wat God en sy Woord misken en met geweld teenstaan en ʼn samelewing wat op genotsug, rykdom en weelde toegespits is en waar die ergste vorm van korrupsie, uitbuiting, vertrapping en selfverryking ten koste van alles en almal die algemene gang van sake is.
In ʼn sekere sin verwys Babilon ook na Jerusalem wat Jesus laat kruisig en van die apostels doodgemaak het. In Openb.18 is Babilon ʼn beeld van die valse kerk wat aan die wêreld gelykvormig is. Sodra dit gebeur, moet gelowiges pad gee omdat die oordeel van God op hande is!
“Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God...” (1 Pet.4:17).
Hierdie oordeel is so seker dat dit in Openb. 18 reeds as ʼn voldonge feit beskryf word.
“Geval, geval het Babilon...”
Om enige twyfel daaroor uit die weg te ruim, gooi ʼn engel ʼn meulsteen in die dieptes van die see en sê:
“So, met ʼn vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit weer gevind word nie (: 21).
Babilon was so selfversekerd dat sy gedink het:
“Ek sit as koningin en is geen weduwee nie, en droefheid sal ek nooit sien nie” (:7).
Die rookwolke van haar brandende puinhope laat die mensdom verslae en niemand het medelye met haar of snel haar te hulp nie. Hulle staan ver weg en kerm en kla oor die ontsettende verliese wat dit vir hulle meebring. Regerings, nywerhede, handel, kuns en al die dinge waarop goddeloses hul verlaat het, stort in ʼn oogwink vir ewig in duie.
Die selfvoldane mensdom besef hoe klein, nietig, magteloos en verlore hul is omdat hulle hul blindelings op wêreldse dinge verlaat het. ʼn Lewe sonder God is bitter duur... met Hom ʼn eindelose hoop... sonder Hom ʼn hopelose einde!
Jesus sê:
“Want wat baat dit ʼn mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ʼn mens gee as losprys vir sy siel?” (Mt.16:26).
Om ʼn kind van God te wees en gewas in die bloed van die Lam is ʼn rykdom wat alle rykdom oortref. Rykdom sonder God en die sug daarna is tevergeefs. Luister maar na die klaagtone wat deur Openb. 18 oor die gevalle Babilon weergalm. Skielik is daar niks meer oor om van te lewe nie, asook oor om voorte lewe nie!
Goddeloses moet verslae toekyk hoe alles waarvan hulle lewe afgehang het voor hulle oë waardeloos word. Op daardie dag sal iemand ʼn diamant vir ʼn brood wil ruil, maar niemand sal daarin belang stel nie. Daar sal buitendien geen brood meer wees nie!
God vra gelowiges om uit Babilon pad te gee dat hulle nie van haar plae ontvang nie. Die valse kerk gaan baie mense mislei:
“... en omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word“ (Mt.24:12, 3).
Gelowiges moet met dit wat God in hul lewe beskik,tevrede wees.
“Want geldgierigheid is ʼn wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor (1 Tim.6:11).
Johannes waarsku:
“Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie.... die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig”(1 Joh. 2:15-17).
Desondanks leef mense asof hul hele behoud van die dinge wat die wêreld bied,afhang!
Gelowiges glo daarenteen dat hulle in maar nie van die wêreld is nie. God verwag nie van ons om uit die wêreld te vlug nie, maar nooit daarin verstrengel raak nie. Gelowiges leef anders as goddeloses.
“....gaan weg... raak nie aan wat onrein is nie... reinig julle... Want julle sal nie baie haastig weggaan en nie soos vlugtelinge vertrek nie; want die HERE trek voor julle uit, en die God van Israel is julle agterhoede” (Jes. 52:11,12).
Dit laat ons aan Israel se uittog uit Egipte en hoe God hulle deur die vuur -en die wolkkolom voor en van agter beskerm het.
Gelowiges moet juis deur hul rustigheid hul andersheid in hierdie dae toon en nie paniekerig word nie. Al bars die hel aan hul voete los, laat God sy kinders nie in die steek nie. Moenie dat Babilon jou verlei en wegrokkel nie. Daar is in Babilon geen ware geluk te vinde nie, slegs teleurstelling en ontnugtering. Ongelukkig verstaan die mensdom dit nie omdat hulle die merk van die dier op hulle kop en hand het; hulle dink (kop) en doen (hand) soos hulle deur die Antichris gebreinspoel is!
God gee aan sy uitverkorenes deur sy Gees en Woord die ware insig. Wat ook al in die wêreld gebeur, is met ʼn doel – God se doel. Hy is en bly in volle beheer. Net soos wat Hy die wêreld vir die verdoemenis laat ryp word, berei Hy ook sy kinders vir die nuwe Jerusalem voor. Hy voer alles volgens sy plan uit. Daar is geen onduidelikheid nie. Alles is in Openbaring opgeteken.
Saam met Hom is ons in Jesus Christus altyd aan die wenkant en, trouens, meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het, soos wat die Bybel sê. Hou goeie moed en moenie deur valse kerke besoedel word nie; gaan uit Babilon uit!
Ons is God se brandwagte. Moenie mense aan hul eie geestesellende oorlaat nie.
“As Ek die swaard oor 'n land bring, en die mense van die land neem 'n man uit hulle kring en stel hom as wag vir hulle aan, en hy sien die swaard aankom oor die land en blaas met die basuin en waarsku die mense — as dan iemand die geluid van die basuin hoor, maar hom nie laat waarsku nie, en die swaard kom en neem hom weg, dan is sy bloed op sy hoof. Hy het die geluid van die basuin gehoor, maar het hom nie laat waarsku nie: sy bloed is op hom. Maar as hy hom laat waarsku, dan red hy sy siel. As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard kom en neem 'n siel uit hulle weg — dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis”.
Jy is jou broer se wagter, moenie sit en niks doen nie!