Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy dink jy sal die sin en betekenis van jou lewe sommer net vind op 'n dag sonder om jou hele aardse lewe met al sy fasette aan die HERE te koppel, gaan jy baie lank soek...
STUDIE- HANDLEIDING – MATTEUS 24
’n Studiehandleiding by die lees van die Nuwe Testament
Die Evangelie van Matteus
Anita Joubert
Inleidend
Ons het reeds gesien dat dit een van Matteus se groot vermoëns en talente was, om groot hoeveelhede inligting te versamel en dit te orden en te rangskik. In hoofstuk 24 kan ons sien dat hy alles wat Jesus oor die toekoms gesê het en ook die toekomsprofesieë wat Hy uitgespreek het, bymekaar gevoeg het. Omdat hy egter nie seker was presies watter profesie op watter gebeurtenis van toepassing is nie, is dit vandag vir ons effens moeilik om hierdie hoofstuk te verstaan. Dit is makliker wanneer ons dit indeel:
- In verse 1 tot 2 verwys Jesus na die vernietiging van Jerusalem en die tempel wat tot op die grond afgebreek sou word. Verse 15 tot 22 vertel vir ons van die verskriklike tyd toe die beleg van Jerusalem deur die Romeinse generaal, Titus, in 70 n.C. plaasgevind het. Dit was een van die ergste gebeurtenisse in die Jode se geskiedenis.
- Verse 6 tot 8 en 29 tot 31 skilder vir ons die prentjie van die verskriklike “dag van die Here,” soos wat die Jode dit gesien het. Hulle het geglo dat hierdie huidige tydperk met sy boosheid en hopeloosheid, net deur die toetreding van God herstel kan word. Wanneer God dan toegetree het, dan sal die goue tydperk aanbreek. Tussen die twee tydperke, gaan die “dag van die Here” plaasvind, wat ’n tyd van absolute verskrikking gaan wees. In die Ou Testament kry ons ook baie verwysings na hierdie gebeure wat baie beeldryk beskryf word. Dit gaan ’n dag van nood en benoudheid, storms, verwoesting en duisternis wees. (Sef. 1:15).). Die aarde gaan donker word en die maan bloedrooi (Joël 2:31). Die hemel sal geskud word en die aarde sal uit sy plek geruk word (Jes. 13:13).
- Verse 9 tot 10 handel oor die vervolging wat die volgelinge van Jesus Christus sal moet verduur.
- Verse 4 tot 5, 11 tot 13 en 23 tot 36 handel oor die gevare wat die voortbestaan en die suiwerheid van die kerk gaan bedreig.
- Verse 3, 14, 27 en 28 handel oor die wederkoms van Jesus Christus. Dit is belangrik om daarop te let dat, wanneer ons dan nou hierdie verse bespreek, dan doen ons dit nie soos wat die verse op mekaar in die Skrifgedeelte volg nie, maar soos wat dit hierbo ingedeel is.
Matteus 24:1-2 Die profetiese rede: die tempel sal afgebreek word
Die dissipels het waarskynlik nie dikwels in Jerusalem gekom nie. Hulle was Galileërs en vissermanne wat die platteland en die See van Galilea baie beter as die stad geken het. Hulle moes verstom gewees het deur dit wat hulle gesien het in Jerusalem. Op die Sionsberg was ’n baie groot plato waarop die tempel gebou was. Dit was met wit marmerblokke gebou en met goudplate beslaan, en het so geblink dat ’n mens moeilik daarna kon kyk. Dit was so indrukwekkend, dat dit geen wonder was dat die dissipels Jesus se aandag daarop wou vestig nie. Jesus se antwoord was profeties toe Hy gesê het dat nie een klip op die ander sal bly nie; alles sal afgebreek word. In 70 n.C. het sy woorde letterlik waar geword. Die Romeine het Jerusalem beleër, en alles verwoes. Een komma een miljoen Jode is doodgemaak, en sewe en negentig duisend is gevange geneem as slawe. Die tempel is aan die brand gesteek, en omdat Titus die goud wou hê waarmee dit beslaan was, is die klippe een vir een afgebreek om die goud daaraan te verwyder.
Jesus het geweet dat enige volk of individu wat nie God se wil uitvoer nie, tot ondergang gedoem is – selfs op materiële gebied. Elkeen wat God se droom vir hom weier, sal vind dat sy eie droom ook verpletter word.
Matteus 24:15-22 Die profetiese rede:die groot verdrukking
Die beleg van Jerusalem was een van die ergste beleërings in die geskiedenis. Jerusalem was ’n baie moeilike stad om te oorwin omdat dit teen ’n heuwel geleë was en dit deur godsdienstige fanatici verdedig is. Titus, die aanvoerder van die Romeinse Leër, was dus gedetermineerd om die inwoners uit te honger.
Niemand het geweet wat die ding was wat ’n gruwel is vir God en wat verwoesting sou aanrig nie. Jesus verwys hier na Daniël 12:11. Daar word gesê dat dit in die tempel sou staan. In ongeveer 170 v.C het Antiogus Epifanus, die koning van Sirië, ’n ernstige poging aangewend om die Joodse Godsdiens te vernietig en die Griekse afgodediens en -gebruike aan Judea bekend te stel. Hy het Jerusalem ook aangeval en die tempel verontreinig deur ’n altaar vir die Griekse god Zeus in die tempel op te rig en varkvleis daarop te offer. Hy het die priesters se kamers en die tempelvoorhowe in openbare bordele ingerig.
Jesus het geprofeteer dat dieselfde verskriklike ding weer sou gebeur en dat die heilige plek weer so onteer sou word. Dit het inderdaad net so gebeur. Die groot verskil was dat daar nie toe ’n Judas Makkabeër sou wees wat vir hulle sou veg nie en dat daar nie weer bevryding en reiniging van die tempel sou wees nie. Hierdie keer sou dit algehele vernietiging meebring.
Die Joodse geskiedskrywer, Flavius Josefus, skryf dat die beleg van Jerusalem ’n ontsettende verskrikking was. Die hele stad was vol dooie liggame. In sommige huise het die hele gesin saam gesterf van die honger. Die wat langer as die ander bly leef het, was later nie meer in staat om die dooies te begrawe nie. Josefus het selfs melding gemaak van die geval van ’n vrou wat haar eie kind geëet het. Die Romeinse soldate wat na die beleg die stad binne gekom het om die huise te plunder, was so met afgryse vervul deur die gesig wat hulle moes aanskou, dat hulle weer net so weg gegaan het.
Net die vroeë Christene in die stad wat Jesus se woorde onthou het en, toe hulle sien dat die Romeinse Leërs begin om die stad te omsingel, na die berge gevlug het, het met hulle lewens daarvan afgekom.
Omdat ons reg deur die Bybel sien dat profesieë se vervulling ’n patroon van herhaling het, en omdat die engel Migael aan Daniël inligting oor die eindtyd meegedeel het (Dan 12:9), kan ons met sekerheid weet dat hierdie woorde van Jesus ook heel aan die einde, tydens die regering van die antichris, weer ’n keer in vervulling sal gaan. In Openbaring 13:14-15 sien ons dat die dier uit die aarde (die vals profeet) aan die bewoners van die aarde opdrag gee om ’n beeld te op te rig vir die antichris. Almal wat nie die beeld gaan aanbid nie, gaan dood gemaak word.
Matteus 24:6-8, Rampe en vervolging (vervolg)