Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moenie dat jou ouderdom jou arm maak omdat jy berou oor jou verlede het nie. Daar is die wonder van berouvolle sondebelydenis voor God. Jesus sê: “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee”.
JESUS HET AAN DIE KRUIS SY LOSSINGSREG OPGENEEM
Waarom het Jesus nie Lucifer se woorde in Lukas 4:6 betwis nie?
Hy het daar aan Jesus gesê: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.”
Het jy al ooit gewonder waarom Jesus nie Lucifer se stelling weerlê het nie, toe hy aan Hom gesê het dat al die koninkryke van die wêreld aan hom gegee is en dat hy dit kan gee aan wie hy wil? Die Bybel sê tog baie duidelik dat Jesus die “Koning van die konings en die Here van die heersers is” (Op. 19:16). Paulus sê die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping (Kol. 1:15).
Jesus self noem vir Lucifer die owerste van hierdie wêreld (Joh. 12:31). Paulus noem hom die vors van die onsigbare magte (Ef. 2:2) en aan die Korintiërs skryf hy dat die ongelowiges deur die god van hierdie wêreld verblind is (2 Kor. 4:4).
As die Here Jesus Christus dan verhewe is bo die hele skepping, waarom noem Hy vir Lucifer die owerste van hierdie wêreld, en waarom het Hy hom nie reggehelp toe hy beweer het dat al die mag en majesteit van die koninkryke van die wêreld aan hom behoort om te kan weggee soos wat hy wil nie.
Het jy ook al ooit gewonder waarom Jesus Christus ons Verlosser genoem word?
Die antwoord vir hierdie vrae vind ons in Jeremia 32. Daar lees ons ʼn vreemde gedeelte waarin die profeet Jeremia aan koning Sedekia vertel dat sy neef Ganamel vir hom gevra het om sy stuk grond in Anatot te koop omdat Jeremia volgens die lossingsreg die reg het om dit te koop. Hy het toe die stuk grond gekoop. Die kontrak is geskryf en die seël is daarop gesit. Dit is ook deur getuies geteken. Die koopkontrak met die seël en ook die afskrif sonder die seël, is toe in die teenwoordigheid van die getuies wat dit geteken het, asook ander Judeërs, in ʼn kleipot geplaas vir bewaring. In antieke Israel was daar dus altyd twee kopieë van ʼn koopkontrak. Die kontrak wat verseël word, bly in besit van die oorspronklike eienaar van die eiendom sodat sy familie hulself altyd kan identifiseer. In Levitikus 25:25-55 kan ons die hele beginsel van lossingsreg lees. God sê daar dat geen grond ooit permanent verkoop mag word nie, want die land behoort aan Hom.
Daar was drie vereistes waaraan ʼn losser moes voldoen volgens die Ou Testament:
- Hy moes bloedfamilie wees (Lev 25:25; 49)
- Hy moes dit kon bekostig om die losprys te betaal (Rut 4:6)
- Hy moes gewillig wees om as losser op te tree. (Rut 4:6-11)
In antieke Israel het God gedeeltes van die land aan verskillende stamme gegee. Spesifieke stukke grondgebied is dus aan spesifieke bloedlyne gegee.
Die oorspronklike, verseelde titelaktes het altyd in besit van die oorspronklike families gebly sodat hulle kon bewys dat dit aan hulle bloedlyn behoort, en die onverseelde afskrifte is aan die nuwe eienaars gegee. In die hersteljare moes die oorspronklike eienaars weer hulle grond in besit neem (Lev. 25:13). Die hersteljare is ook jubeljare genoem en ons kan alles daaroor lees in Levitikus 25:8-55.
Daar was ook twee regte, naamlik die reg van oorerwing en die lossingsreg. Wanneer die persoon wat die grond gekoop het, sterf, dan gaan dit terug na die oorspronklike eienaar sodat dit binne die bloedlyn kan bly, volgens die reg van oorerwing. Die lossingsreg is toegepas wanneer iemand in die familie die grond wil terugkoop voordat die persoon wat dit gekoop het, sterf. Dit kon slegs deur ʼn losser gedoen word wat aan al die vereistes voldoen het. Hy moes ʼn familielid wees van die familie wat oorspronklik die grond besit. Hy moes ʼn goeie prys daarvoor kon betaal sodat hy dit na die oorspronklike familie wat dit verloor het, kon terugbring, en hy moes vrywillig as losser optree.
Die gedeelte in Jeremia 32 het dus twee betekenisse. Eerstens is daar die historiese betekenis waar God vir Jeremia sê dat hulle uit die land weggeneem gaan word na Babel, maar Hy belowe ook dat hulle die land weer gaan terugkry. Dit is die moeite werd vir Jeremia om grond daar te koop, want God sal hulle erfporsie weer herstel.
Daar is ook ʼn veel dieper betekenis agter hierdie opdrag. Ons moet onthou dat Paulus aan die Romeine geskryf het dat alles in die Skrif opgeteken is om ons te leer (Rom.15:4). Aan die Kolossense sê hy dat dit alles net ʼn skaduwee is van wat sou kom; die werklikheid is Christus (Kol. 2:17). Jeremia 32 is dus ook ʼn skadu van Christus wat sou kom om as Losser van die mensdom op te tree.
Toe Lucifer die Here Jesus in die woestyn versoek het deur aan Hom mag en majesteit aan te bied in ruil daarvoor dat Jesus voor hom buig en hom aanbid, het hy ten volle reg gehad om dit te doen.
God, ons Vader, het alles geskep. Hy is dus die oorspronklike eienaar van alles en die heerskappy oor die aarde bly in sy familie – die Vader, die Seun en die Heilige Gees.
In Genesis lees ons dat God vir Adam en Eva geskape het. Hy het aan hulle die heerskappy oor die aarde gegee en hulle moes as sy verteenwoordigers en gevolmagtigdes optree (Gen. 1:28), solank as wat hulle aan God gehoorsaam was. God het die verseelde titelakte in sy besit gehou, want die aarde, en alles daarop, behoort aan Hom, ons Vader. Adam en Eva het hierdie heerskappy verloor toe hulle gesondig het en Eva haar ore vir Lucifer uitgeleen het. Die mens se heerskappy is oorgedra aan Lucifer self en hy het die reg gekry om alle mense wat dieselfde sonde as hy doen, naamlik opstand teen God, te misbruik en te mislei. Deur Adam en Eva se ongehoorsaamheid is die aarde vervloek, die mens sou met moeite ʼn bestaan kon maak en hulle liggame sou sterf.
Jesus kon dus nie vir Lucifer korrigeer toe hy in Lukas 4 aan Hom gesê het dat al die koninkryke van die wêreld aan hom behoort nie, want hy was heeltemal reg. Deur al die eeue, tot en met Jesus se wederkoms, word elke aardse koninkryk en regering deur die mag van Lucifer beheer.
Omdat Jesus ons Verlosser is, het Hy sy Lossingsreg opgeneem en die mensdom aan die kruis kom verlos. Paulus skryf aan die Galasiërs dat Jesus as Mens gebore is om ons los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kan word (Gal. 4:4-5).
Jesus het Homself ons Broer genoem (Heb. 2:11-12), en Paulus skryf aan die Romeine dat ons verkies is om gelykvormig te wees aan die Seun sodat Hy baie broers kan hê waarvan Hy die Eerste is (Rom 8:29). Daarom het Jesus aan al die nodige vereistes voldoen om as Verlosser van die mensdom op te tree:
- As ons oudste Broer, is Jesus dus ons bloedfamilie.
- Hy was volkome mens, want net ʼn mens kon sterf vir ʼn verloregaande mensdom se sonde. Hy was ook volkome God tydens sy aardse lewe en daarom was Hy sondeloos.
- Hy het gewillig, uit liefde vir ons, as Losser opgetree.
Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy met sy bloed die losprys betaal om die aarde en alles daarop terug te koop en die heerskappy en outoriteit terug te bring na die oorspronklike familie.
In Openbaring 5 lees ons dat Johannes ʼn boekrol met sewe seëls gesien het. Hierdie boekrol, die titelakte van die aarde, wat aan die voorkant en die agterkant volgeskryf was, moes oopgemaak word. Die hele hemel was bymekaar vir hierdie grootse geleentheid, maar daar was niemand te vinde wat waardig was om die boek oop te maak en daarin te kyk nie, en Johannes het baie daaroor gehuil. Een van die ouderlinge sê toe vir hom: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak” (Op. 5:5).
ʼn Nuwe lied word daar gesing: “U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle ʼn koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer” (Op. 5:9-10).
Dit is waarom Jesus vir die heel eerste keer,na sy opstanding uit die dood, gesê het: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde” (Matt. 28:18). Die enigste familielid aan Wie die lossingsreg behoort het, het sy reg tot verlossing uitgevoer. Die heerskappy is aan Hom teruggegee en in Lukas 10:19 sê Hy: “Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.” Jesus het ook aan ons as sy volgelinge gesê dat Hy die sleutels van die koninkryk van die hemel aan ons gee, en wat ons op aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat ons op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly. (Matt. 16:19).
Met Jesus se woorde in Matteus 28:18 waar Hy sê dat alle mag in hemel en op aarde aan Hom gegee is, vertel Hy vir sy dissipels dat Hy dít wat aan Lucifer behoort het, nou teruggekoop het en Hy gee dit aan al die kinders van God, aan al sy familie. Hy stuur ons daarmee na al die nasies toe om dissipels vir Hom te gaan maak; hulle te doop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, en om hulle alles te leer wat Hy beveel het. Hy sluit sy opdrag af met die belofte dat Hy altyd by ons almal sal wees – tot aan die voleinding van die wêreld.