Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is 'n egte manier om jou rykdom te meet: moet dit nie meet aan wat jy besit nie maar meet dit aan dié dinge wat jy nooit vir geld sal verruil nie.
DIE HUT VAN DAWID...
... en die Herstel van Christus se Koninkryk op aarde
Jan Schlebush
Daar is ‘n profesie in Amos 9 hieroor.
Die profesie begin met die Here se aankondiging oor die straf en vernietiging van Israel. Hy sê selfs in Amos 1:8 “Kyk, die oë van die Here HERE is gerig teen die sondige koninkryk, en Ek sal dit van die aardbodem verdelg; maar Ek sal die huis van Jakob nie heeltemal verdelg nie, spreek die HERE.”
Nou moet ons verstaan dat hierdie uitspraak van die Here in lyn is met sy Verbondsbeloftes wat Hy op baie plekke in die Bybel uitspel – en ek vra dat u spesifiek Dt 28 en Jes 1 lees waar die Here uitspel hoe Hy sy volk sal seën as hulle as volk voor hom wandel en Hom gehoorsaam. Aan die ander spel Hy ook die strawwe en vloeke uit wat Hy oor hulle gaan bring as die volk afvallig word en Hom nie met blydskap en vreugde dien nie. En hierdie beloftes van God is ‘n sentrale tema in die Bybel en veral in die profetiese boeke. Ons lees dit ook in Rom 1.
Nou lees ons in Amos 9 hierdie profesie oor die koninkryk van Israel, dat Hy dit van die aardbodem gaan verdelg – maar nie heeltemal nie.
En dan sê die profesie in verse 11 en 12: “In dié dag sal Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig, en Ek sal sy skeure toebou en sy puinhope herstel, en Ek sal dit opbou soos in die ou tyd;
:12 om in besit te neem die oorblyfsel van Edom en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat dit doen.”
Nou moet ons die teks hier ontleed, want in ons Bybelvertaling lees die teks “sodat hulle in besit kan neem …”, maar dit is ‘n vrye vertaling wat ‘n misverstand veroorsaak. Die direkte vertaling is soos ek dit hier gegee het. Dit is nie Israel wat die ander volke in besit moes neem nie. Dit is die Hut van Dawid wat die ander volke in besit moes neem. Die Joodse Fariseërs het dit verkeerd verstaan. Hulle het die fisiese herstel van die koninkryk van Israel verwag – en die hoofstroom-kerke verstaan dit nog steeds so.
Die Nuwe Testament werp baie duidelike lig op die herstel van die Hut van Dawid, maar ook hier het ‘n belangrike saak in die slag gebly met verstaan van die vertaling.
Die Nuwe Testament is oorspronklik in Grieks geskryf – en om hierdie onderwerp te hanteer, moet ons nader ondersoek instel oor die Griekse woord ‘ethnos’, wat in ons Bybel:
- soms met ‘volke’ vertaal word;
- soms net met ‘volk’;
- soms met ‘nasies’; en
- soms met ‘heidene’
Die betekenis van die Griekse woord ethnos volgens Strongs se Lexicon G1484
: a race (as of the same habit), that is, a tribe; specifically a foreign (non-Jewish) one (usually by implication pagan): - Gentile/heathennation,/people.
Die korrekte vertaling van ‘ethnos’ is dus ‘heidense volke’ (spesifiek nie-Israelitiese volke)
Terloops moet ons ook noem dat die Hebreeuse Ou Testament ook ‘n term gebruik wat op heidense volke dui. Die woord is Goj (Strongs se Lexicon H1471)
Die korrekte vertaling van beide die woorde Goj en ethnos is dus “heidense, nie-Israelitiese volk/volke”.
In die tekste wat ons hier hanteer vertaal ons dus ‘goj’ en ‘ethnos’ met ‘heidense volke’.
Nou weet ons dat die Jode verwag het dat die Messias die koninkryk van Israel sal herstel. Dit is waarom Jesus se dissipels Hom (eintlik in desperaatheid) net voor sy hemelvaart gevra het:
Hd 1:6,7 “Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig? En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.”
Nou is dit belangrik dat ons moet verstaan waarvoor hulle krag moes ontvang – om wat te doen? – om Koning Jesus se opdrag in Mt 28:18,19 uit te voer: “En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die heidense volke, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
Die sendingsopdrag gaan dus primêr oor die Koninkryk van Christus – oor sy Heerskappy oor alle volke. En dit is nie net op Israel gerig nie, maar baie uitdruklik ook op die heidense volke.
Dit is ook hoe ons Koning Jesus se vemaning in Mt 6:33 moet verstaan: “... soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Ja, ons as mense moet ons aan sy heerskappy onderwerp; en ons moet ook ons huisgesinne aan sy heerskappy onderwerp; maar die belangrikste is dat ons ons volk aan sy heerskappy moet onderwerp – en dan ook ander volke moet oproep om hulle aan sy heerskappy te onderwerp – sodat sy koninkryk oor die hele wêreld uitgebrei word! Dit is ‘n dwaling om die sendingsopdrag net individualisties te beskou.
Hierdie Skrifbeskouing word dan ook duidelik in ‘n verskeidenheid Nuwe-Testamentiese tekste:
- Mt 21:33-45 die Gelykenis van die Landbouers (neem in ag dat Jesus hier met die leiers van die Joodse volk praat – die Owerpriesters en die Fareseërs:
Luister na ‘n ander gelykenis: Daar was ‘n sekere huisheer wat ‘n wingerd geplant het; en hy het ‘n heining daarom gesit en ‘n parskuip daarin gegrawe en ‘n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan.
En toe die vrugtetyd nader kom, stuur hy sy diensknegte na die landbouers om sy vrugte te ontvang.
Maar die landbouers het sy diensknegte geneem en een geslaan en ‘n ander een doodgemaak en ‘n ander een gestenig.
Weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes, en hulle het met dié net so gemaak.
Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien.
Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem.
En hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak.
Wanneer die eienaar van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie landbouers doen?
Hulle antwoord Hom: Die slegte mense—hy sal hulle ‘n slegte dood laat sterwe en die wingerd verhuur aan ander landbouers wat hom die vrugte op die regte tyd sal gee.
Jesus sê vir hulle: Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë?
Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan heidense volke gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.
En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.
En toe die owerpriesters en die Fariseërs sy gelykenisse hoor, het hulle begryp dat Hy van hulle spreek.
Dan lees ons nog ‘n sleutelteks in Hd 15:13-18 wat handel oor die uitleg van die Amos 9 se profesie waar ons geles het van die herstel van die hut van Dawid.:
‘En nadat hulle geswyg het, antwoord Jakobus en sê: Broeders, luister na my! Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ‘n volk uit die heidense volke vir sy Naam aan te neem. En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is: Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die heidense volke oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen. Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend.’
Hy verwys na die profesie hierbo:
Amos 9:11,12 ‘In dié dag sal Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig, en Ek sal sy skeure toebou en sy puinhope herstel, en Ek sal dit opbou soos in die ou tyd; om in besit te kan neem die oorblyfsel van Edom en al die volke oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die HERE wat dit doen.’ (Let op: Die Here profeteer al deur Amos dat sy Naam is uitgeroep gaan word oor heidense volke!)
En as die tyd dan aangebreek het herhaal die apostel Jakobus dit: “elke heidense volk waaroor sy Naam uitgeroep is”. Kan daar dan enige twyfel wees dat Godvresende nie-Israelitiese volke Verbondsvolke is?
En dan gaan ons na Hd 17:26,27 waar ons die Here verduidelik waarom Hy die Sataniese plan om ‘n multukulturele, imperiale stleselop te rig, verydel het en die :volk van mekaar geskei het, as Hy in Hd 17:26,27 sê: En Hy het uit een bloed al die volke van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het,
Act 17:27 sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie;
En dan verduidelik Hy die hele saak in Rom 11: net ‘n paar verse - mens moet eintlik ten minste Rom 10 en 11 lees om die hele prentjie te kry. Onthou net dat, waar ons Bybel dit vertaal het met heidene, is die korrekte vertaling: Heidense volke.
Hy verwys ook na die volgende profesieë:
Jes 49:6 ‘Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die volke, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.’
Gen 22:18 ‘En in jou nageslag sal al die ‘heidense volke’ van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.’
Ps 117:1 “Loof JHWH, alle ‘heidense volke’! Prys Hom, alle volke!”
Nog tekste: Ps 148:11; Jes 9:6; Eseg 17:22-24; Luk 1:69,70; Mk 11:10
Ps 22:27 Die ootmoediges sal eet en versadig word; húlle sal die HERE prys wat na Hom soek; mag julle hart vir ewig lewe!
:28 Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die HERE bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid.
:29 Want die koninkryk behoort aan die HERE, en Hy heers oor die nasies.
:30 Al die grotes van die aarde sal eet en aanbid; almal wat in die stof neerdaal, sal voor sy aangesig kniel en hy wat sy siel nie in die lewe kan hou nie.
:31 ‘n Nageslag sal Hom dien; dit sal vertel word van die HERE aan die volgende geslag.
:32 Hulle sal aankom en sy geregtigheid verkondig aan die volk wat gebore word; want Hy het dit gedoen
- Dit is duidelik uit hierdie skrifgedeeltes dat ons primêre doel hier op aarde is om te ywer vir God se Koninkryk. Ons moet gedurig daarmee besig wees. Christus se Koninkryk en Heerskappy moet:-
- Die doel wees van ons daaglikse werk;
- die basis wees van ons omgang met ons naaste en die vreemdeling (Mt 10:33,34);
- voorop in ons gedagtes wees in ons gesprekke met vriend en vyand;
- die hoofdoel wees in ons kinders se opvoeding;
- die hoofdoel van ons gesin wees;
- Die hoofdoel van ons volkwees en ons ywer vir volksherstel – Ja, knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.
Daarom moet ons persoonlike lewe, ons gesinslewe en ons volkslewe gerig wees op die eer van God.
Daarom moet ons gehoorsaam wees aan die Bybelse opdragte in ons daaglikse interaksie met ons meerderes en minderes, ons kollegas by die werk en ons gemeentelewe.
Daarom moet die doel van ons ywer vir volksvryheid wees om God daarmee te verheerlik en sy Koninkryk uit te brei.